Die Oude Pastorie-Museum, Paarl

Die eerste drosdykantore, Hoofstraat 188, Paarl
January 18, 2018
Die Drukpers van die Genootskap van Regte Afrikaners, Paarl
January 18, 2018

Simon van der Stel se Kolonie van Drakenstein het vinnig langs die vallei van die Bergrivier af uitgebrei. Aan weerskante van die pad wat van Franschhoek met die vallei deur Simondium, Paarl en Wellington loop, is daar plase en sierlike ou Kaaps-Hollandse woninge met name wat aan hierdie vroeë tyd herinner – Bien Donne, L’Arc d’Orleans, La Paris, Laborie, La Concorde, La Provence en in Paarl self, regs van die hoofweg half verskuild agter die Noorder-Paarl Ned. Geref. kerk, die “Ou Pastorie” of Hugenotemuseum, tans die Oude Pastorie-Museum.

Die digste nedersetting het ontstaan in wat vandag as die Paarl bekend is. In Desember 1691 het hier ’n nuwe gemeente Drakenstein (Paarl) tot stand gekom. Die nuut gestigte gemeente moes jare lank sonder ’n kerk en pastorie klaarkom. In 1714 het die landdros en heemrade van Stellenbosch uiteindelik ’n stuk grond vir die bou van ’n pastorie gekoop. Dit was ’n klein plasie van 51 ha wat van die Bergrivier tot teen Paarlberg gestrek het, en het behoort aan die burger P.J. Marseveen aan wie dit op 28 Februarie 1699 deur Simon van der Stel toegeken is.

Die eerste gebou is waarskynlik in 1715 of 1716 opgerig en het die volgende smalende kommentaar van die heemrade uitgelok: “Dit is die huis van ’n Drakensteinse predikant, waaraan groot bedrae bestee word. As die Kerkraad hom daarvan bewus is met watter vernielsug hulle die nageslag daarmee vervul, sou hulle heel waarskynlik suiniger te werk gegaan het.” Die gebou was dan ook ’n uiters pragtige voorbeeld … van die jongere ‘koloniale’ styl waarin dekoratiewe effek verkry is deur ’n blote herhaling van groot vensters sonder om op die een of ander wyse ’n indruk van styfheid te verwek.

In die middel van die eeu het daar groot twis en tweedrag in die gemeente geheers met die gevolg dat die Ou Pastorie erg verwaarloos is. In 1784 is ds. R.N. Aling as predikant bevestig en hy het weldra daarin geslaag om die twis te besweer. In 1786 is daar besluit om die predikantswoning deeglik te laat herstel. Die werk is aan twee diakens, albei Abraham de Villiers, opgedra. Dit het geblyk dat die gebou te bouvallig was om te restoureer. Dit is dus tot op die fondamente gesloop en ’n nuwe gebou, gedeeltelik uit materiaal van die ou gebou, is teen ’n koste van 19 000 guldens opgerig.

In die ou en in die teenswoordige gebou het daar van omstreeks 1715 tot 1872 11 predikante van die Paarl gewoon. Onder hulle was ds. Petrus van der Spuy (1753-1781), die eerste gebore Afrikaner wat predikant geword het, en die welbekende ds. G.W.A. van der Lingen (1831-1869) wat ’n groot rol in die Paarl op kulturele en onderwysgebied gespeel het. Die laaste bewoner was ds. Gilles van de Wall (1870-1872), en na sy vertrek was die pastorie tot 1924 in private besit van die familie Thom. Dit is toe deur die gemeente Noorder-Paarl aangekoop en in 1939 aan die Paarlse stadsraad verkoop om as Hugenotemuseum ingerig te word. Vir die doel is die gebou deur die stadsraad deeglik herstel en vernuwe. Die voorste gewel moes herbou word en is ’n goeie replika van die oorspronklike, maar die sygewels, wat identies met die voorgewel was, is deur holbolgewels vervang.

(Geproklameer 1940)

 

Foto: A.F. Tratter • Die Oude Pastorie-Museum • William Fehr-versameling

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 88-90.