Die Ou Ned. Geref. Kerkgebou, Somerset-Wes

Groot Paardevlei, Somerset-Wes (Geen toegang)
January 31, 2018
Die Ou Brug oor Lourensrivier, Somerset-Wes
January 31, 2018

Tussen Kerk- en Victoriastraat, nie ver van die Hoofstraat nie, is hierdie ou Ned. Geref. Kerkgebou geleë.

In 1819, drie jaar voor die totstandkoming van die dorp Somerset-Wes, is die gemeente van Hottentots-Holland gestig. Onder die stigters pryk die name van bekende Somerset-Wes-families: Morkel, De Vos, Brink, Meyburgh, Malan, De Villiers, e.a.

Vir die bou van die kerk het Dauwe Gerbrand Steyn ’n stuk van sy historiese plaas Cloetendal aan “de grote algemene wagen weg” aan die gemeente afgestaan. Die plaas was oorspronklik een van die vier dele waarin Vergelegen opgedeel is nadat Willem Adriaan van der Stel die land verlaat het. Daar moes onmiddellik met die bou van die kerk ’n aanvang gemaak gewees het, want in 1820 word dit deur die konsulent, ds. Meent Borcherds van Stellenbosch, plegtig ingewy.

Kort na die inwyding is ernstige skade deur oorstromings aan die gebou aangerig. Die jong gemeente was nou nog so behoeftig dat hy nie sy voorleser kon betaal nie en nog minder die herstel kon bekostig, en die goewerneur moes R450 aan hom leen om sy nuwe kerk te herstel. In 1822 het die gemeente sy eerste predikant gekry toe ds. Johannes Spyker hier deur die regering aangestel is.

Jare lank het die gebou onveranderd gestaan, maar uiteindelik in 1862 gedurende die bediening van ds. J.F. Reitz is uitvoerige herstelwerk daaraan gedoen. Die dak, die plafon, die deure en die vensters is almal vervang. Ongelukkig het daar groot onenigheid tussen die boukontrakteur en die boukommissie ontstaan. Toe die moeilikheid nou bygelê is “stortte in den buitengewoon guren winter de noordergevel in en rukte ook nog een gedeelte van het voltooid werk van dak en plafon mede.” Die volgende jaar is die gewel weer opgebou en die herstelwerk voltooi sodat die kerk op 12 Mei 1863 ingewy kon word.

Na meer as ’n honderd jaar se diens het die kerkgebou vir die gemeente te klein geword en in 1941 is ’n nuwe kerk voltooi. Aanvanklik is die ou gebou nog vir verskillende gemeentelike doeleindes gebruik, maar dit het in onbruik en in verval geraak. Stemme vir die restourasie en behoud van die gebou het opgegaan, want nie slegs was dit ’n gebou ryk aan geskiedenis en kerklike tradisie nie, maar sy driehoekige timpaan-styl het hom argitektonies byna enig in sy soort in ons land gemaak. Daarbenewens is gevoel dat die ou begraafplaas rondom die kerk, waarin o.a. Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) en so baie ander persone uit bekende Hottentots-Holland-families begrawe lê, nie aan die vergetelheid behoort prysgegee te word nie.

Aan die begin van die jare sestig het die kerkraad dus besluit om die ou gebou te restoureer en vir gebruik aan die sendinggemeente beskikbaar te stel. ’n Restourasiekomitee onder voorsitterskap van mnr. Charles Louw het die moeilike taak met liefde en geesdrif aangepak. Met die herstel is geen moeite gespaar nie. Selfs die kloktoring is ooreenkomstig ’n ou foto, wat in die Kaap opgediep is, herbou. Die klok is onder ’n klomp rommel uitgevis, in ere herstel en kon op 12 Mei 1963 met trotse geskal ’n nuwe era in die geskiedenis van die ou kerk inlui.

(Geproklameer 1963)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 101-102.