Die Ou Kerkklok, Genadendal

Die Beinbrecht-brug oor die Riviersonderend, Genadendal
January 31, 2018
“The Rectory”, Bredasdorp
January 31, 2018

George F. Angas • Genadendal, c. 1845

Oor die ou historiese brug oor die Riviersonderend loop die pad van Caledon die Baviaanskloof binne. Hier in ’n berghoek met verruklike natuurskoon lê Genadendal, een van die skilderagtigste en bekoorlikste dorpies in die Overberg. Die hart van hierdie dorpie is die ou sendingstasie met ’n kompleks van geboue van die allergrootste historiese en kulturele betekenis. Daar is die kerk, die pastorie, die skoolgebou, die watermeul en, les bes, die groot ou kerkklok in sy elegante kloktoring.

Georg Schmidt se werk is in 1792 deur die Morawiese sendelinge Hendrik Marsveld, Daniel Schwinn en Johann Kühnel in die Baviaanskloof hervat. Destyds was die merkwaardige en alomgerespekteerde Jan Marthinus Theunissen, of baas Theunis, soos hy algemeen onder die Hottentotte bekend gestaan het, in bevel van die Kompanjiespos, Oude Post, op die plaas Rietvallei, oos van Swellendam. As veldkornet het hy die belange van die Hottentotte soseer op die hart gedra dat hy deur sy medeburgers spottenderwyse “Hottentotsgod” genoem is.

Baas Theunis het dan ook die drie nuwe sendelinge grootliks bevriend. Hy het hulle nie alleen vanuit Kaapstad na Baviaanskloof vervoer nie, maar het gehelp om hulle daar te vestig.

In Oktober 1793 was baas Theunis weer in die Kaap. Op ’n verkoping in Hottentots-Holland het hy met geld wat deur vriende in Kaapstad geskenk is, ’n groot kerkklok vir die sendingstasie vir 40 rds. gekoop. Aanvanklik is dit sommer in ’n boom gehang, maar sy klank is hier in die klowe met sy eggo’s gou gesmoor. Op grond van verskil in leerstellinge het die N.G. Kerk hom nog altyd teen die toelating van “vreemde” kerk- en sendinggenootskappe aan die Kaap verset. So is aan die Lutherse Kerk eers na ’n langdurige stryd vergunning verleen om sy eie kerkgebou op te rig, en toe nog sonder ’n toring en sonder ’n klok. Met die koms van die Morawiese sendelinge het ds. Meent Borcherds, predikant van Stellenbosch, binne wie se gemeente Genadendal geval het, dan ook by die Politieke Raad daarop aangedring dat die uitbreiding van hierdie “sekte” bekamp moes word. Hy kon die gelui van die klok, wat volgens hom in Stellenbosch gehoor kon word, nie duld nie en gedurende ’n lang tyd is die lui daarvan sonder toestemming van die owerheid verbied.

In 1795 is die Kaap vir die eerste keer deur Groot Brittanje beset. Volgens die Dagboek van die sendelinge was “die Kaap nou Engels” en lord Macartney het verlof verleen dat hulle die klok kon gebruik “ten einde de leerlingen uwer Gemeente aan de Baviaanskloof by een te roepen”. Skulpe, kalk en sand vir die bou van klokpilare is deur die gemeentelede byeengebring en in Maart 1798 het ’n spesiale messelaar die pragtige pilare opgerig. Nou het die sendelinge die klok vir alle moontlike doeleindes, ja tot nege keer op ’n dag, gelui. Langer as ’n anderhalwe-eeu dien die ou klok nou reeds die gemeenskap en hoewel hy ’n barsie het, is sy stem nog helder.

(Geproklameer 1957)

R. Cocking • Sendinghuis, skool, kerk en kerkklok, Genadendal • C.I. Latrobe: Journal of a visit to South Africa

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 105-107.