Die Ou Kerk-museum, Tulbagh

Groenbergskool, dist. Wellington
January 19, 2018
De Wet-huis, Tulbagh
January 19, 2018

Net anderkant die skilderagtige Tulhaghkloof draai die pad links en gaan naby die spoorwegstasie oor die spoorweg. Daar kom ons in die Tulbaghkom, voorheen die Land van Waveren. Dit is ’n streek ryk aan geskiedenis waarvan die ou kerkgebou, tans ’n museum, eintlik die beste vertolker is.

Weens die onbegaanbaarheid van die ou passe het die eerste veeboere alhier in groot afsondering gewoon, verstoke veral van kerklike en kulturele voorregte. Bowendien het veeboere wat langs die Breërivier afgetrek het, buite bereik van kerk en staat geraak. Oortuig dat die kerk een van die kragtigste behoudende faktore vir ’n gemeenskap is, het kommissaris Gustav van Imhoff aanbeveel dat daar meer kerke in die binneland opgerig moet word. Daarom is dan ook in 1743 die gemeente van Roodezand gestig. In dieselfde jaar het ds. Arnoldus Mauritius Meiring, die stamvader van die Meirings in Suid-Afrika, na ’n veelbewoë skeepsreis waarop hy sy vrou verloor het, uit Nederland aan die Kaap aangekom en aan hom is die gemeente Roodezand toegewys.

Ds. Meiring se allereerste taak was om Van Imhoff se aanbeveling om ’n kerkgebou alhier op te rig, uit te voer. ’n Eenvoudige kruiskerkie is beplan. Die boumateriaal is grotendeels uit Holland ingevoer met inbegrip van die so tipiese sg. Bataafse baksteentjies. Die vloer is met leiklip gelê. Die bouwerk is hoofsaaklik deur die gemeentelede Jacs. Theron en Francois du Toit gedoen en nie alleen die steenwerk nie, maar die stewige timmerwerk is ’n bewys van hulle onmiskenbare vaardigheid.

In 1796 is die kerk ietwat vergroot deur die voorste gedeelte drie meter uit te bou en ’n galery daarin te plaas. Terselfdertyd is die pragtig versierde gewel aangebring en ’n aantreklike ringmuur rondom die kerk en begraafplaas gebou.

Ds. Meiring het die gemeente tot sy dood op 23 April 1757 bedien. Die kerkie met sy oorspronklike preekstoel is tot 1878 gebruik. Na ds. Meiring se dood is hy opgevolg deur ds. R. Harders, 1758-1774; ds. J.A. Kuys, 1777-1787 en 1789-1794; ds. M.C. Vos, 1794-1802; ds. H.W. Ballot, 1803-1814; ds. J.J. Kicherer, 1814-1825; dr. George Thom, 1825-1833; ds. Robert Shand, 1834-1871, en ds. W. Robertson, 1871-1883.

Na 1878, toe ’n nuwe en groter kerk in gebruik geneem is, is die “ou” kerk as ’n skool asook vir die hou van basaars en ander ondernemings gebruik. Hoofsaaklik deur die ywer van wyle sir Meiring en lady Beck wat albei afstammelinge van die eerste leraar was, is die gebou herstel en in 1925 as volksmuseum geopen. Dit bevat tans ’n besonder interessante en waardevolle versameling oudhede en dokumente.

(Geproklameer 1940)

Foto: Die Ou Tulbaghkerk • A.F. Trotter: Old Cape Colony

Foto: Die Ou Tulbaghkerk • A.F. Trotter: Old Cape Colony

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 95-96.