Die Ou Hooggeregshof

Die Groote Kerk
December 12, 2017
Die Kompanjiestuin en sy Gedenkwaardighede
December 12, 2017

Die Ou Hooggeregshof aan die bopunt van die Heerengracht (Adderleystraat) is ’n merkwaardige gebou. Vanweë sy geskiedenis, sy argitektoniese waarde en sy simboliese betekenis is dit enig in sy soort in Suid-Afrika.

Sedert die aankoms van die eerste slawe in Kaapstad op 28 Maart 1658 het hul huisvesting ’n probleem opgelewer. Eers is hulle binne Van Riebeeck se Fort gehuisves, toe is vir hulle ’n woning, Corenhoop, net buite die Fort, gebou en in die jare sestig is hulle nader aan hul werk verskuif na ’n slawelosie net onderkant die Kompanjiestuin op die plek waar die Ou Hooggeregshof nou staan.

Hierdie losie was egter weldra weer te klein en bowendien so vervalle dat besluit is om langsaan “op d’ nieuwe afsnijdings van den selven thuijn” ’n groot nuwe losie in die vorm van ’n reghoekige enkelverdiepinggebou met ’n oop binneplaas op te rig. Dit sou tussen 500 en 600 slawe huisves en bowendien as ’n soort newevesting van die Kasteel dien. Daar is in Februarie 1679 met die bou van hierdie losie begin. Voordat dit nog in dieselfde jaar voltooi is, is die ou losie deur vuur verwoes.

Die nuwe losie is deur kommissaris Van Rheede as ’n sterk en stewige bouwerk geroem. Die huidige Hooggeregshof staan vandag gedeeltelik op dieselfde fondamente. Vanselfsprekend het hierdie losie, wat byna net so oud as die Kasteel is, in die loop van byna drie eeue belangrike strukturele sowel as funksionele veranderinge ondergaan. Dikwels was dit in verval, en net dikwels is dit deur sloping bedreig, maar elke keer is die nodige herstelwerk gedoen en het die gebou krisisse met groter waardigheid te bowe gekom.

Byna 131 jaar het die gebou die Kompanjieslawe gehuisves. 1n 1716 was dit vir die groot aantal slawe weer te klein, en na lang gesloer is dit uiteindelik in 1732 herstel en vergroot. Toe is ook die moontlikheid van die oprigting van ’n tweede verdieping op die gebou, ondersoek. In 1752 word dit weer eens herstel en vergroot. Die noordelike muur (Burostraat) word tot teenaan die ringmuur van die kerkhof en die westelike muur tot teenaan die grag van die Kompanjie se hospitaal in die Heerengracht verskuif. ’n Tweede verdieping word gebou en die gebou kry ’n plat, gepleisterde dak.

Deur hierdie verbouinge het die gebou dus min of meer sy huidige omvang gekry. Dit was egter nie die einde van die vormveranderinge aan hom nie. Die deel aan die Heerengracht het die eerste aan die beurt gekom. Hierdie aansig is deur die beroemde argitek LM Thibault ontwerp en deur die bekende boumeester H Schutte uitgevoer. Daardeur is aan hierdie gebou, wat reeds so ’n prominente plek in die hoofstraat ingeneem het, ’n vername en waardige uiterlik gegee.

Van die begin van die 19de eeu is die ou gebou vir totaal ander doeleindes gebruik. In 1807 is op aanbeveling van graaf Caledon die meeste slawe in die losie verkoop.  In 1809 is besluit om dit tot staatskantore om te skep. Begryplikerwyse het dit belangrike strukturele veranderinge, wat in 1810 uitgevoer is, beteken. Eers is die oostelike of Parlementstraat-aansig verander. Weer eens is die konstruksie sowel as die versiering deur Thibault ontwerp en Schutte die bouer. Die fronton met die Leeu, wapenskild en sinspreuke is deur die bekende beeldhouer Anton Anreith vervaardig. Ten tweede is nou ook die gebou opgerig wat agter hierdie oostelike aansig en kamers geleë is en waar die Wetgewende Raad later sou vergader. Thibault word ook as die argitek van hierdie gebou aanvaar. Ten derde het Schutte die noordelike of Burostraat-aansig van ’n ingang en groot vensters voorsien terwyl hy die slawekwartiere in kantore omgeskep het. Sommige van die kantore sou later as poskantoor dien. Ten slotte is daar ook kamers vir die regters ingerig.

Na die voltooiing van die gebou is agtereenvolgens verskillende openbare dienste daarheen oorgeplaas: die Geregshof, die Weeskamer, die Ontvanger van Inkomste, die Prokureur-generaal, die Poskantoor, die Goewermentsekretaris, die Fiskaal, die bank, die Openbare Biblioteek, e.s.m.

So ’n opeenhoping van dienste moes noodwendig verdere aanbouing meebring. So kry Thibault dan ook reeds op 31 Januarie 1811 opdrag om die oprigting van ’n hofsaal in die middel van die gebou te beplan.

Die hofsaal is egter eers op 19 Januarie 1815 in gebruik geneem toe sir John Truter dit “aan de Regtvaardigheid toegeweid” het. Dit het honderd jaar lank as hofsaal gedien. Vandaar dan ook dat die gebou as die Ou Hooggeregshof bekend geword het.

Nie alleen sou die gereg sy setel in hierdie ou gebou vind nie, maar dit sou ook die wieg van die Suid-Afrikaanse parlementêre stelsel word. In die Raadsaal of Record Room in die boonste verdieping van die reeds genoemde gebou van Schutte, aan die oostelike kant van die binneplaas, het die Raad van Advies van 1827 tot 1834, die Genomineerde Wetgewende Raad van 1834 tot 1854 en die Verteenwoordigende Wetgewende Raad van 1854 tot 1884 gesit.

Afgesien van sekere veranderinge binne die gebou sou dit ná 1884 nog twee ernstige verminkinge ondergaan. Die suidelike aansig teenoor die Parlementsgebou, waarvan die onderste muur uit 1670 en die boonste uit 1733 gedateer het, het tot 1885 onaangeraak bly staan. Met die oprigting van die Parlementsgebou is ’n poging aangewend om dit by die styl van laasgenoemde te laat aanpas deur die aanbring van ’n nuwe vensterorde en balustrades in die Victoriaanse styl, volkome in stryd met die karakter van die Ou Hooggeregshof. Maar nog erger: In 1926 is die Adderleystraat-aansig 13,4 meter teruggesit. Hoewel dit met die grootste noukeurigheid gedoen is en beweer word dat die huidige front nie sleg, identies is met Thibault se werk nie, en net so goed, het dit tog onherstelbare skade meegebring. Saam met ’n aantal vertrekke, waaronder die biblioteeksaal van die ou Wetgewende Raad, het die pragtige ovaal vestibule van Thibault verdwyn, terwyl dit ook heelwat veranderinge in die Hooggeregshofsaal nodig gemaak het.

Hoe dikwels die ou Hooggeregshofgebou ook al gedurende sy bestaan van twee en ’n half eeu bedreig is, nooit was die gevaar van sloping groter as in die jare vyftig van hierdie eeu nie. Onder die eise wat die motorverkeer aan Kaapstad gestel het, was die verbreding van Burostraat. Taamlik gevoelloos en roekeloos is daar aan die hand gedoen dat ’n deel van die Ou Hooggeregshof gesloop word om die verkeerstregter te verwyder.

Die Historiese Monumentekommissie, wat die bewaring van hierdie gebou reeds vroeër bepleit het, het nou daarop aangedring dat die ou gebou in sy geheel behou moet word en het aan die hand gedoen dat Burostraat verbreed moet word deur die sloping van die Konsistorie-gebou daarteenoor. Nog nooit het die H.M.K. ’n meer verdienstelike saak gehad nie, en hy het die entoesiastiese ondersteuning van belanghebbende liggame, kunsverenigings en die openbare mening geniet.

Tans staan hierdie gebou met sy pragtig gebalanseerde verhoudinge, met sy twee voorkante in sinryke verhouding tot mekaar en in sy geheel verfynd, waardig en eenvoudig, daar nie alleen as monument van die vaardigheid en vernuf van die beroemde trio: Thibault die argitek, Anreith die beeldhouer, en Schutte die boumeester, nie, maar as simbool van die evolusie van Suid-Afrika van ’n klein Nederlandse nedersetting tot ’n moderne staat, as die verpersoonliking van die groei van ’n eie reg- en parlementêre stelsel.

 

(geproklameer 1967)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 10-12.