Die Ou Fort en Begraafplaas

Die Graf van luit. J.S. King
January 21, 2019
Die Voortrekkerkamp, Congella
January 21, 2019

In die hartjie van Durban aan Umgeniweg net agter die poskantoor is hierdie ou hoogs interessante fort en begraafplaas geleë.

Aan die begin van 1837 het die Voortrekkers oor die Drakensberge Natal binnegetrek. Die Kaapse goewerneur, sir George Napier, het dit beskou as indringing op Bantoegebied en het die onderdrukking van die Zoeloe deur die Boere gevrees. Bowendien het hy ongraag die pragtige hawe van Port Natal in vreemde en vyandige hande gesien. Die beskerming van die Bantoe en die Britse besit van die hawe het dus die anneksasie van Natal gebiedend gemaak. Die Britse Minister van Kolonies weier egter om sy toestemming daartoe te verleen. Napier het dus in November 1838 op eie gesag ’n troepemag onder majoor Charters gestuur om Port Natal te beset. Toe die Voortrekkers dus van hul oorwinning by Bloedrivier terugkeer, moes hulle tot hul groot teleurstelling verneem dat die Baai in besit van maj. Charters was. Gelukkig het die Britse regering geweier om Napier se optrede goed te keur en hy moes Charters terugroep.

Die Voortrekkers het nou hul Republiek van Natalia gestig. Napier het egter sy begeerte om die gebied en die hawe vir Engeland te bekom, nie prysgegee nie. Gebeurtenisse wat hom die geleentheid tot inmenging sou gee, het hul weldra voorgedoen soos o.a. ’n strafekspedisie van die Trekkers teen die rowerstammetjie, die Baka; die besoek van vreemde handelskepe aan Port Natal, en die gerugte van die ontdekking van steenkool in Natal. Met die toestemming van die Britse regering stuur hy dus kaptein Thomas C. Smith met ’n mag van 260 man om Port Natal weer te beset.

T.C. Smith, wat reeds vroeër met die oog op so ʼn gebeurlikheid na Pondoland gestuur is, het vanaf die Umlazirivier al langs die kus gemarsjeer en het Port Natal op 4 Mei 1842 bereik. Hy het sy kamp opgeslaan op die Ou Fort nou geleë is. Sy mag het bestaan uit twee afdelings van die 27ste (Inniskilling-) regiment, eenhede van die Koninklike Artillerie met ’n houwitser en twee veldkanonne, sappeurs, genietroepe en ’n paar van die Cape Mounted Riflemen.

Onder aanvoering van genl. A.W.J. Pretorius het ’n Boerekommando weldra in Port Natal verskyn en hul kamp by Congella opgeslaan. Pretorius het geëis dat Smith sy troepe oor die grens moes terugtrek. Toe hy weier, het Pretorius op 22 Mei die vee wat Smith vir die voeding van sy troepe meegebring het, laat wegvoer. Op die nag van 23 Mei doen Smith ’n aanval op die Boerekamp, maar hy word met die verlies van 17 gesneuweldes, 31 gewondes, drie vermistes, en twee kanonne teruggedryf. Hierop het Pretorius die Punt beset en die Engelse kamp ingesluit.

Die toestand van die Engelse mag was weldra erbarmlik. Die Boere het onafgebroke met die gebuite kanonne op die kamp gevuur, terwyl dit ook geblyk het dat hul langer roers, verder geskiet het as die Britse muskette sodat hulle die Engelse voortdurend onder die vuur kon hou, terwyl hulself buite trefafstand bly. Hul kos het skaars geword sodat hulle later perdevleis moes eet.

Die oorlogvoerdery teen goedgewapende en verskanste Blankes was vreemd aan die Boere en hul insluiting van die Engelse fort was so swak dat Dick King met sy bediende Ndongeni te perd daaruit ontsnap het, sy beroemde tiendaagse rit van 960 km na Grahamstad afgelê het en hulp aan Smith ontbied het. Die Engelse bevelvoerders in die Kaap het onmiddellik versterkings gestuur en op 24 Junie het kol. Josias Cloete met H.M.S. Southampton en die skoener Conch die 25te Regiment na Durban gebring. Hoewel die Boerekommando nou reeds tot 600 man aangegroei het, was Pretorius tog verplig om die beleg te staak.

Nou eers het die ellendige omstandighede geblyk waarin die verdedigers verkeer het en die ontsettende ontberinge wat hulle moes verduur. Die waens en die tente was voos geskiet; die gewondes is in dwarsslote tuisgebring; die vegtendes moes in die loopgraaf agter die waens hulle verblyf hou en die onmoontlikheid om die afval en vullis te verwyder het ’n ondraaglike stank veroorsaak.

Na die anneksasie van Natal deur Engeland is die 45ste Regiment in Durban gestasioneer. Dit het sy intrek in die Ou Fort geneem, waar toe kasernes, ’n kruitmagasyn en ander militêre geboue opgerig is. In 1858 is hierdie geboue op hul beurt gesloop en deur die teenswoordige geboue vervang.

In 1859 is die 45ste Regiment vir ’n kort rukkie deur die 85ste vervang, maar in 1863 is die 45ste weer in die Fort terug. Dit het dan ook tot die terugtrekking van die Imperiale troepe in 1885 die hoofkwartier van hierdie troepe gebly. Hierna het die Kolonie van Natal dit vir militêre doeleindes in gebruik geneem. In 1897 is dit ontruim.

Uiteindelik het die Royal Durban Light Infantry die Ou Fort onder sy toesig geneem. Die binneplaas is in ’n tuin en die magasyn in ’n gedenkkapel omgeskep. Daarin is o.a. te sien geskiedkundige vlae, gedenkplate ter ere van kapt. Allen F. Gardiner en kapt. T.C. Smith. Die ou militêre begraafplaas, waarin die gesneuweldes tydens die beleg van 1842 begrawe is, maak deel van hierdie gedenkwaardigheid uit.

(Geproklameer 1936)

Luit. Gibb • Ou fort en begraafplaas 1842 • Killie Campbell-versameling

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 231-232.