Kaaps-Hollandse boustyl
February 5, 2015
Godsdienstige gebruike
February 5, 2015

Tydens die Groot Trek was die ossewa die Trekkers se tuiste. Die ossewa het dieselfde doel gedien as vandag se karavaan. Gesinne het gewoonlik twee tot drie ossewaens gehad. In een van die waens het die Voortrekkers ’n ekstra buikplank ingesit en die ruimte volgepak met velsakkies vol kruit en stawe lood. Dit was nodig om die skietgoed só weg te steek, omdat die landdros hulle belet het om lood en kruit die land uit te neem.

Ossewa
Die waens is verder volgepak met die huisapteek, meelkiste, trommels met brood en beskuit, slope vol droë ertjies en boontjies, stene seep en erdepotte vol vet en koffers vol klere. Gewere is aan die binnekant van die watent vasgemaak en die kruithorings saam met sakkies vol koeëls is daar opgehang. Bo-op die koffers is wakatels (riempiebeddens) ingepas met die verebulsakke (soos ’n duvet) en matras daarop. Komberse en kussings is opgerol, in slope gestop en eenkant aan die tent vasgebind. Langs die kante van een van die waens is plat sakkies opgehang met naalde en gare, kamme, borsels, spelde, naalde en allerhande klein goedjies wat hulle elke dag sou nodig kry.

Agterop die trappe was hoenderhokke. Onderaan was nog kissies met potte, panne, ketel en ander kombuisware. Groot tafels en stoele is langs die kant vasgemaak. In die wakis is die kosbaarste besittings gehou, soos die Statebybel en die skoolboeke.

Tydens die trek het die Trekkerkinders nie lekker in die wa gesit en bene swaai nie. Nee, elkeen het sy werkie gehad en moes met alles help. Die seuns pas die vee op en jaag hulle aan op reis. Die dogters help vir Ma om die klein babatjies op te pas of water te kook en kos te maak. Soms moes ook meisies die tou voor die osse neem en as touleier dien. Andries Pretorius se touleier het een nag weggeloop, en toe hulle die anderdagmôre moes wegtrek, was daar niemand om die tou te vat nie. Sy dogtertjie was maar 12 jaar oud, maar sy sê dadelik: “Pappie, ek sal die tou vat!” Vir dae aaneen was sy die touleier. Daar was nie paaie nie; sy moes die wa tussen klippe, bosse en slote deur lei en veilig oor berge neem. Ongelukkig het die een vooros op ’n dag kwaai geword en sy horing dwarsdeur haar arm gesteek. Sy moes die toulei staak totdat haar arm weer gesond was.

’n Reis per ossewa het lank geduur, want ’n ossewa het maar ongeveer 32 kilometer per dag getrek. Toe die Trekkers by die Oranjerivier (of Grootrivier, soos hulle dit genoem het) kom, was dit net ná groot reëns en die rivier was vol. Dit was ’n groot teleurstelling. Hulle was haastig om deur te kom, want dan is hulle in ’n vrye land. Maar hulle het gou ’n plan gemaak. Langs die rivier was ’n groot klomp bome. Hulle kap toe ’n groot klomp daarvan af en bind dit aan mekaar vas om ’n soort vlot te maak. Die waens is eers leeggemaak voor hulle op die vlot gelaai en oor die rivier geneem is. Daarna is al die besittings weer opgelaai en toe die vroue en kinders. Op die vlot begin hulle ’n gesangvers sing: “Kom treën wij dan gemoedigd voort”, en so is hulle sing-sing oor die vol rivier.

Anna Steenekamp, ’n familielid van Piet Retief, vertel dat toe hulle oor die Grootrivier getrek het, die gras in die Vrystaat op party plekke so hoog was, dat hulle beswaarlik die vee of die kinders kon sien. Op pad na Natal het die weerlig die gras aan die brand geslaan en moes hulle voor die veldbrand vlug. Sy het gevrees vir haar kinders se lewe en baie vee is in die brand dood.

Die reis oor die Drakensberg het baie moeilik gegaan. Op party plekke was dit só skuins en was die afgronde só gevaarlik dat die waens stewig met toue vasgebind moes word sodat die mans en seuns daaraan kan trek om te keer dat die wa nie oor die afgrond stort nie. Op ander plekke was weer net klipbanke en op die lelike plekke moes die waens maar van die een klipbank na die ander “afspring”. Natuurlik kon die vroue en dogters nie op die waens ry nie en oor die groot berge moes hulle dan te voet loop en die klein kindertjies dra. Lourens de Klerk wat op daardie trek was, vertel soos volg:

“Met die aftrek van die berg het vier of vyf waens daar afgerol en verpletter teen die rotse, met al wat daarop was. In die meeste gevalle word daar net twee agterosse voor die waens gespan wat berg-af gaan, osse wat besonder geskik moes gewees het om ongelukke te vermy. Aan weerskante word rieme aan die leerbome vasgemaak, waaraan ’n aantal manne vashou om te keer dat die waens omval; twee wiele word met remskoene gerem (om soveel moontlik die afslyt van die wabande te vermy), terwyl die katel en beddegoed met kiste stewig binnekant vasgemaak word. Hulle begin vroeg in die môre bo-op die berg en teen die aand het die wa eers onder die berg aangeland. Die vroue en kinders loop die berg af, terwyl ’n siek tante deur ’n stuk of vier mans op ’n katel afgedra word, en ander vroue langsaan loop om koelte oor haar te maak. Hier en daar word op geskikte skaduryke plekke waar water te kry is, gerus en geëet, ’n ketel gekook en ’n stukkie vleis gebraai of ’n roosterkoek gebak. Verskillende waens gaan natuurlik kort agtermekaar af.”

Die bekende skrywer MER skryf: Dit is tog so jammer dat die ou kakebeenwaentjies van die Voortrekkers nou vergaan is. Was dit nie vir hulle nie, dan was ons miskien nie ’n Afrikanervolk nie. Hulle was die Voortrekker se ryding, sy woonhuis, sy pakkamer, sy vesting. Onder hulle tente is kindertjies gebore; ook meer as een het daar gesterf. In hulle het die kinders se vrolike liedjies weerklink, of het die psalmversie in die skemeraand saamgesmelt met die geklap van die sweep en die geroep van die osse. Ook deur hulle buikplanke gedrup en op hulle seiltente gespat, die bloed van vroue en kinders. Ja, ou waens! Julle hout en yster en seil is vergaan, maar ons vergeet julle nie en wat julle vir ons mense beteken het nie.