Die opbouwerk van wetenskaplikes

Die swerfjare van Poppie Nongena
January 26, 2015
’n Lewenskragtige kultuur
January 26, 2015

Die onluste wat op 16 Junie 1976 begin het, het tydelik die nuus oor ’n belangrike verslag verdring wat op 18 Junie in die Parlement ingedien is – dié van die kommissie van ondersoek na aangeleenthede rakende die Kleurling-bevolkingsgroep. Die voorsitter was professor Erika Theron van Stellenbosch. Die verslag was net in Afrikaans beskikbaar; miskien simbolies daarvan dat dit ’n skouspelagtige poging was om iets ongedaan te maak van die onreg wat Afrikaanstaliges van een kleur dié van ’n ander kleur aangedoen het. Al het die regering van die aanbevelinge verwerp, het die verslag die wit politiek verander. Binne enkele jare het ’n proses begin om bruin en later swart mense in die politieke stelsel te betrek.

Theron was een van duisende wetenskaplikes en tegnici wat deur die jare deur hul werk die land opgebou het. Afrikaners het in dié opbou ’n groot rol gespeel.

Saam met Van Wyk Louw het professor PJ du Toit’ seun van Oom Lokomotief, in 1948 in Utrecht ’n eredoktorsgraad ontvang. Hy en dokter Arnold Theiler het ’n deurbraak op die gebied van lamsiektenavorsing gemaak wat beskou word as van die belangrikstes in die moderne veeartsenykunde. Du Toit het 132 hoogstaande publikasies oor dieresiektes gepubliseer en het groot erkenning vir sy werk gekry. Hy was een van die talle wetenskaplikes wie se werk die landbou en veeteelt direk bevorder het. Wetenskaplikes het nuwe plantvariëteite ontwikkel, plae help bekamp soos mieliestronkboorders en sprinkane (JC Faure het wêreldwyd roem verwerf met sy werk oor bruin sprinkane), indringerplante uitgeroei, plantsiektes bestry. In 1998 het die Akademie Gervan Lubbe met ’n goue medalje bekroon vir sy bekende pynstillerstelsel APS (Action Potential Simulation Therapy). Reusagtig was ook die bydrae van wetenskaplikes om die nywerhede te bevorder. Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad het navorsing op talle terreine gestimuleer.

Die grootste deel van die werk was in Engels omdat dit veral in die natuurwetenskappe en tegnologie die belangrikste publikasietaal is. Dit het selfs al gebeur dat publikasie in Afrikaans ’n wetenskaplike benadeel het. Een van die land se voorste statistici, professor DJ Stoker, het ’n nuwe statistiese toets en die teorie daaroor in 1961 in die Tydskrif vir Natuurwetenskappe gepubliseer. Die tydskrif het nie voldoende dekking gehad nie en iemand anders wat sy toets in 1964 eers gepubliseer het, geniet die internasionale erkenning daarvoor.

Tog is belangwekkende Afrikaanse werke in Engels vertaal, soos die werke van die historikus PJ van der Merwe oor die trek na die binneland. Fransjohan Pretorius se Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 het internasionale erkenning ontvang toe dit agt jaar ná verskyning ook in Engels uitgegee is. Oor die geskiedenis het talle groot werke verskyn – daaronder ook JC Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur en sy biografieë van DJ Opperman, CJ Langenhoven en C Louis Leipoldt, van dieselfde hoë gehalte as die eweneens gedugte Paul Kruger-biografie van DW Krüger.