AFRIKANERPERSPEKTIEWE OP DIE ANGLO-BOEREOORLOG
February 20, 2017
DIE BOER EN SY ROER IN DIE ANGLO-BOEREOORLOG
February 20, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

deur Bart Oberholzer

Ek is ’n kind van kampkinders, en my houding soos dit te voorskyn sal kom, is nie deur geskiedenisboeke gevorm nie, maar deur wat my grootouers en my ouers my vertel het.

Die oorlog is amptelik verklaar op 11 Oktober 1899 en amptelik afgesluit met die Vrede van Vereeniging wat op 31 Mei 1902 onderteken is in Melrosehuis, Pretoria. Groot-Brittanje was destyds die magtigste ryk in die wêreld, met onbeperkte mannekrag in sy talle kolonies en met ’n lang gevestigde en bedrewe nywerheidstruktuur. Die twee republieke was klein staatjies, sonder eie hawe, met weinig nywerheidstruktuur, met beperkte mannekrag en sonder staande leërs, afgesien van die klein artilleriekorpse, telegrafiste en polisiemagte. Die blanke bevolking van die twee republieke was pas voor die oorlog sowat 322 000, en die swart bevolking sowat 751 000. Die stryd is begin met tussen 32 000 en 35 000 man teenoor ’n Britse mag wat tot honderdduisende sou groei. Die uiteindelike uitkoms van so ’n oorlog moes vir enige gebalanseerde waarnemer byvoorbaat duidelik gewees het.

Waaraan dink ons terug as ons aan dié oorlog dink?

  • aan die uitgestrekte gevegsterrein
  • aan die onverstandig uitgerekte beleg van Mafeking, Kimberley en Ladysmith
  • aan die veldslae: Elandslaagte, Graspan, Modderrivier, Stormberg, Magersfontein, Colenso, Spioenkop, Vaalkrans, Poplar Grove, Sannaspos, Donkerhoek, Dalmanutha, Tweefontein, Rooiwal en meer
  • aan die oorgawe van Piet Cronjé by Paardeberg in Februarie 1900 met 4000 man en die oorgawe van Martinus Prinsloo by Brandwater op 30 Julie met 3000 man (een vyfde van die totale sterkte van boerevegters)
  • aan die talle konsentrasiekampe en hul kerkhowe, die gedagtenis aan 26 000 vroue en kinders en die slag wat dit die Afrikaner-volksgroei toegedien het
  • aan die blokhuislyne
  • aan die beweeglike kommandoflenters van die guerrillastryd
  • aan die verkennerkorps van Danie Theron, sy dood, en die avonture van Jack Hindon en Henry Slegtkamp en talle ander
  • aan die manne wat deur die oorlog groot manne gemaak is (Louis Botha en Christiaan de Wet het sonder rang begin) en die ander wat as generaals begin en as burgers geëindig het
  • aan die heldefigure waaroor baie geskryf en gepraat is
  • aan die krygsgevangenekampe wat uiteindelik sowat 27 000 burgers gehuisves het
  • aan die grafte van 3800 burgers wat gesneuwel het, 600 wat in gevangeneskap oorlede is.

Daar is soveel om aan te dink en soveel om te onthou:

  • of dink ons aan die diepgaande en blywende letsels wat die oorlog op die Afrikanersiel gelaat het? Of dalk aan die pynlike oopvlekking van dié Afrikanersiel, ’n traumatiese stuk selfontdekking wat laat blyk het dat die swakheid van die Afrikaner nie in getalle of middele lê nie, maar binne-in homself
  • daar was die swak dissipline en die eiesinnigheid van burgers wat dit vir offisiere meesal onmoontlik gemaak het om effektief op te tree
  • daar was die verwyte en die oor en weer beskuldigings, die beswaddering van leiers na terugslae; alles was iemand se skuld.

Erger nog, daar was morele ineenstorting, oorlogsmoegheid en drostery, uitwyking na buurgebiede toe; families het die oorlog deurgebring deur hulle vee en besittings in Basoetoeland, Swaziland, Betsjoeanaland of Rhodesië in te vat en daar op te pas; sommige het as uitgewekenes oor die grense gevlug, sommige het met hulle vee in die noordwes-Transvaalse bosveld rondgetrek.

Nog erger – daar was aktiewe, gewapende ondersteuning van die vyand: National Scouts, Orange River Colony Volunteers en ander wat in die later fase van die oorlog effektiewe hulp verleen het juis omdat hulle die Boeretaktiek en -gewoontes van binne geken het. Daar was die Burger Peace Committee wat probeer het om die vegtende burgers oor te haal om die stryd gewonne te gee. Dit was broer teen broer, verdeelde huisgesinne, ’n brandende vuur in die eie bloed.

Nie net die landskap was teen die einde van die oorlog verwoes nie, die volk wat na die oorlog uit die as moes opstaan, was self fisies en geestelik verniel. Danksy die naïewe Milner-beeld van verbritsing tesame met ekonomiese opbou, is die vuur van selfhandhawing egter vinnig aangeblaas. Die arm na-oorlogse volk het met ruim ondersteuning uit Nederland en uit eie middele en met die hulp van talle Nederlandse onderwysers met die CNO-skole begin, ons digters en skrywers het van Afrikaans ’n literêre taal begin maak. Die eerste vier dekades van hierdie eeu was vir talle families ’n tyd van worsteling om den brode.

Net die joiners en dié wat betyds ‘gehendsop’ het, het dit breed gehad. Maar hierdie selfde vier dekades het die onderwysontplooiing en bevolkingsverskuiwing gebring wat die beroepe toeganklik gemaak het, die staatsdiens en uniformdienste deur Afrikaners laat vul het, en die nywerheidsontwikkeling gevestig het wat die land mettertyd sou omskep in ’n selfonderhoudende staat. Daar was werk en daar was potensiaal. Dit was ook die tyd van talle publikasies oor die oorlog.

Die wonde het stadig, baie stadig, begin heel. Ons laat die Rebellie en die Eerste Wêreldoorlog, die 1922-staking, die depressie en droogte van die dertigs, die Tweede Wêreldoorlog daar. Elkeen het op eie wyse ons identiteit help vorm, of as u dit wil, aan die Afrikanermite gestalte help gee. Die bydrae van die Driejarige oorlog en sy naloop tot hierdie mite was groter en blywender. Of dit nou romantisering was of selfaftakeling of aftakeling van politieke teenstanders, die oorlog het daarvoor die paradigmas gebied. Die verloop van die geskiedenis is veelal verklaar uit vergelyking met die optrede van figure in die oorlog. Net die Groot Trek en sy interpretasie vanuit die nasionalistiese vloedgolf tot met die sestigerjare het ’n vergelykbare bydrae gelewer.

En nou kyk ons terug op dié geskiedenis en op ons eie deel wees daarvan met ’n belemmering wat ons nie tevore belewe het nie. Hoekom? Kom ons loop weer ons pad kortliks oor. Wat die twee republieke betref, was die Driejarige oorlog ’n witmensoorlog, en toe die Britse eerste minister in Julie 1899 aangekondig het dat slegs blanke groepe vir die oorlog teen die Boere gebruik sou word, het dit gelyk of die oorlog inderdaad ’n witmensoorlog sou wees. Daaraan sou die feite van indiensneming van swartes en Kleurlinge vir allerlei nie-militêre dienste niks verander het nie.

Wat egter wel gebeur het, is dat reeds in November 1899 die eerste aanval deur gewapende swartes saam met Britse soldate gemaak is op Republikeinse burgers, die moord van Derdepoort, en dat daar daarna talle voorvalle was waarin mense vermoor en vee gebuit is, veral in gebiede naby swart Britse kolonies. Afgesien van die bewapening van swartes, ten spyte van ontkennings in dié verband, het swartes verkenningsdienste vir die Britte verrig wat dikwels gelei het tot gevangeneming van burgers. Die swartes is daarvoor betaal. Teen die einde van die oorlog het sowat 10 000 gewapende swartes en Kleurlinge in diens van die Britte gestaan. As daar reeds voor die oorlog spanning was tussen die wittes en swartes in die republieke, is dit deur die oorlog en spesifiek deur Britse optrede, baie erger gemaak.

In die vredesvoorwaardes wat by Vereeniging beding is, is wat die swartes betref, bepaal dat die vraagstuk van stemreg eers beslis sou word nadat selfregering aan die twee nuwe kolonies toegestaan is. Nie die Britse regering nie en allermins die verteenwoordigers van die gewese republieke was te vinde vir opname van die swartes in die landsbestuur. Vandag weet ons dat die patroon van die SA politiek daarmee vir baie dekades vorentoe vasgelê is. Die verhouding was toe sowat 220 000 teenoor 750 000, en daar was toe soos vir jare later, nog geleentheid vir beperkte stemreg in een of ander vorm.

Die geskiedenis het ons ingehaal. Die verkiesing van alle verkiesings het gekom en ’n nuwe SA gebring. En nou is daar ’n belemmering in ons terugkyk op daardie gebeure. Die Boer-Brit-stryd het nooit heeltemal opgehou om te bestaan nie. Die Engelse oorlog is op talle wyses oorgeveg en gebly veg. Vir baie van ons was die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 die uiteindelike triomf wat ons in 1902 ontsê is. Vir talle Engelse was dit ’n kwessie van voortsetting van die stryd met behulp van die swartes, sodat die Engelse taal uiteindelik tog kon triomfeer. Feit is dat in ons terugkyk op daardie oorlog van 1899 – 1902 ons byna 100 jaar later met leë hande staan. Soos ons die Groot Trek en die Driejarige Oorlog verstaan en geïnterpreteer het, was die 1994-verkiesing die vernietiging daarvan.

Dit het gegaan om ’n plek in Afrika. Plek vir ’n besondere stuk aarde en kultuur wat wel hier gevorm is, maar sy wortels buite Afrika gehad het. Twee nie-Afrika kulture het geveg om die mag en om die goud. Die Afrika-mense het toegekyk en gewag.

Allerlei vrae kom nou na vore. Ons het tog mos selfbeskikking gehad en ons het op die kruin van die golf gery, al was dit vir ’n kort tydjie. Wat het ons daarmee gemaak? Het ons die selfbeskikking self verloor, deur ons eie politiek, of kon dit nie anders nie? Was dit swak onderhandeling of het die geskiedenis maar net sy onafwendbare verloop gehad? Ek behoort tot diegene wat meen dat ons politici ons in die steek gelaat het en ons swak gelei het van die dertigerjare af al, en swak onderhandel het namens ons. Maar ek het vir hulle gestem en hulle gevolg en nagepraat. Ek is ook oortuig dat die poging van die Afrikaner om na die Driejarige oorlog weer op sy voete te kom en vir hom ’n eerbare plek te verower, onder andere daartoe gelei het dat hy getalsgewyse in die slegte posisie gekom het van ’n klein minderheid teenoor die oorweldigende getalle van die swartes. Daar was nie eers ’n ANC of ’n PAC nodig nie. Ons is uit ons magsposisie uit geteel.

Ek wil ook stel dat die mislukking van die ideaal van afsonderlike ontwikkeling nie net gelê het by die amptenare wat die beleid moes uitvoer of by die politici wat eie oogmerke bo landsbelang gestel het nie, maar wel daarby dat dié beleid uitgegaan het van ’n foutiewe aanname, nl. dat gegewe ’n eie ruimte en selfbeskikking saam met beskikbaarstelling van kundigheid en kapitaal, die swartes tot mense wat ’n moderne staat kan bedryf, sou ontwikkel. Dit was verkeerd. Die vraag is of die nuwe aanname van bemagtiging van die swarte tesame met onderwys tot daardie ontwikkeling sal lei. En ek praat nie net van swak onderwys nie.

Vraag is, watter paradigma bied die Driejarige oorlog-sindroom vandag? Die moontlikheid is natuurlik daar dat die antwoord spoedig kan wees: niks. Sonder geskiedenis op skool, en spesifiek sonder hierdie geskiedenis, en sonder ’n netwerk van feesdae wat die aandag elke keer weer op die geskiedenis vestig, gaan die Driejarige oorlog spoedig ophou om paradigmaties te wees, en so ook die Groot Trek.

Genl. Smuts het in die debat voor die Vrede van Vereeniging ’n toespraak met hierdie woorde afgesluit. “Die vryheidsoorlog van SA is gestry, nie alleen vir die boere nie maar vir die ganse volk van SA. Die uitkoms van dié stryd laat ons in Gods hand. Miskien is dit sy wil om die volk van SA deur nederlaag, deur vernedering, ja selfs deur die dal van doodskaduwee, te lei tot ’n beter toekoms in ’n helder dag.” Ons kan dit vandag herhaal, want wie kan werklik die toekoms ken?

Wat ons onverbiddelik weet, is dat daar nie ’n toekoms in SA kan wees vir die Afrikanervolk alleen nie, hoe ons ook dié volk wil definieer. Netso lyk die euforiese ‘rainbow nation’ wat ‘one nation’ moet wees, na ’n ydel droom wat net baie duur gaan kos.

As ons nie heers nie maar oorheers word, as ons taal doelbewus en fyn beplan teruggedwing word na irrelevansie toe, as ons onderwys afgedruk word tot op die vlak van nutteloosheid, as ons selfbeeld gekraak en geskend word, is een ding baie duidelik. Ons moet nie iewers van buite af hulp verwag nie. Die tyd is daar vir vinnige en suiwer strategie. Wat dit moet wees, is ’n saak vir eerlike bespreking – 1994 was ’n totale breuk. Laat ons dit erken en in berekening bring.

In so ’n strategie sal aan die orde moet kom: Die vorming van ’n identiteit wat die paradigmas van die verlede eerbiedig en verder voer met onverbiddelike eerlikheid. Die erkenning dat die gedagte van een Afrikanerdom ’n hersenskim is. Die deurvoering van ’n private onderwysstelsel van voorskoolse tot tersiêre vlak met kwaliteit as ononderhandelbare vereiste. Die gebruik en viering en bevordering van die Afrikaanse taal op elke lewensvlak. Die bekendstelling van die geskiedenis van die Afrikanervolk in die gemoed van elke Afrikanerkind.

Die bevordering van entrepreneurskap met die oog op die versameling van regte gebruik van rykdom. Die behoud, bewaring en ontwikkeling van die bodem waarop ons moet leef en sy hulpbronne. Die samewerking met en die hulpverlening aan ander om terwyl hulle die land regeer, ’n leefbare ruimte vir al sy inwoners te verseker en ook hulle entrepreneurskap te bevorder.

Ons sal politiek moet bly bedryf en binne die ekonomie van die land moet bly leef. Maar ons kan dit doen as nugter, nederige mense wat die son geniet en aan ander gun dat hy op hulle ook skyn. Ons identiteit en ons taal en ons geskiedenis en ons onderwys mag ons egter nie in die hande van politici laat nie, ook nie ons eie politici nie. Daarvoor moet ons self volle verantwoordelikheid neem. Onthou ons is wat ons is uit ons geskiedenis uit.