Die oorlog van 1880-1881

Die hoed van Paul Kruger
October 5, 2018
Kleindorp-dromer – Elandré
October 6, 2018

Vir vryheid en vir reg 

Die laaste maand van 1880 en die eerste paar maande van 1881 staan, binne ’n afsienbare tyd, in die middelpunt van belangstelling van almal wat, te midde van die gebeurtenisse van elke dag, terselfdertyd aandag wy aan hoogtepunte in die geskiedenis, in hierdie verband in die wordingsgeskiedenis van ons hedendaagse vaderland.

Een van dié hoogtepunte was die pogings, eers in die vorm van lydelike verset en later met die wapen in die hand, wat ’n aantal Transvalers sedert die dag waarop die Zuid-Afrikaansche Republiek ’n deel van die Britse wêreldryk geword het deur sir Theophilus Shepstone se anneksasiedaad (12.4.1877), aangewend het om die eertydse vryheid en onafhanklikheid van die Voortrekkerrepubliek noord van die Vaalrivier te herwen.

Die oorwinning wat die Transvaalse burgers op 27.2.1881 op die kruin van Majoeba behaal het, was die kroon op hierdie oorlog vir vryheid en reg, van ’n rebellie teen die Britse gesag.

Die naam Majoeba of Amajuba sou, na dié gedenkwaardige dag, nog lank in die harte en die gemoed van die destydse oorwinnaars en oorwonnenes voortlewe. In die harte van die burgers het die naam Majoeba ’n begripsinhoud van krag deur samewerking, van die ware patriotisme en offervaardigheid vir die vryheid, verkry. Die harte van hulle wat verloor het, het na wraak gedors en tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is, op en nou 27.2.1900, die wraak van Majoeba met die oorgawe van genl. P.A. Cronjé, by Paardeberg, verbind. Vandag, na byna ’n eeu, staan bogenoemde en ander feite, nog helder gegrif in die geskiedenisboek oor die wel en wee van ’n eeu gelede. Ander indrukke het, soos dit maar altyd die geval is, in die loop van die jare vervaag.

Wie dink vandag nog aan die volgende uitlating van ’n Britse kwartiermeester op Pretoria nadat hy die vredestyding verneem het uit die monde van ’n drietal Britse offisiere wat in vier dae van Newcastle na die Transvaalse hoofstad gery het? Hierdie uitlating was kenmerkend sowel vir die Britse soldaat en vegsman as vir die gees wat ’n eeu gelede die gemiddelde Engelssprekende, waar ook ter wêreld, vervul het:

Give them back the country by all means – they have fought well and deserve to have their spirit acknowledged; but first establish the supremacy of British arms, if only for the sake of our prestige throughout South Africa. (Du Val, 1885:277)

Foto: Vise-President S.J.P. Kruger (Foto: TAB)

En op 13.12.1881 het vise-president S.J.P. Kruger, by geleentheid van ’n Geloftedag-saamtrek op Paardekraal, sy eie sienswyse en dié van die gelykgesindes onder sy toehoorders soos volg vertolk:

‘Toe ons vryheid ons ontneem is, het ons besluit om vir ons reg te protesteer en eers alle middels uit te put alvorens bloed te laat vloei. Eindelik kon dit nie en ’n jaar gelede het ons hier byeengekom om te besluit wat om te doen. En let nou op hoe die Here ons in alles gelei het sodat ons vandag op hierdie plek kan staan om Hom te dank vir die verlossing wat aan ons geskenk is.’

En dan volg die hoogtepunt van die spreker se uiteensetting:

Dit is waar, daar was voormanne; maar God het hulle alleen gebruik as middels in Sy hand om Sy werk uit te voer. (Du Plessis & Krüger, s.j.:87)

Ten slotte haal ons, uit die bekende Derde Proklamasie van die Transvaalse Driemanskap, die oproep aan die mede-Afrikaners aan waarin verklaar is:

En eindelijk, broeders in Zuid-Afrika, strijdt met ons! Wij roepen U nu allen met vrijmoedigheid op, om nevens ons te strijden. Onze strijd is van nu af een strijd voor recht en waarheid tegen een gemeenschappelijken tiran, die heden ons en morgen U zal vertreden. Het is aan U om te zeggen: wie zal Afrika regeeren: de Afrikaner of eenige dwingelanden in Downingstreet? Of wilt gij met gevouwen handen blijven toezien hoe wij vermoord worden? Ons geloof is het Uwe; wie zijn leven wil verliezen voor de vrijheid, zal het behouden, maar wie het behouden wil, zal het verliezen. (Jorissen, 1897:32)

Een besondere aspek van diepgaande verskille tussen die Boerevoormanne en die Britse owerheid, op ’n uiters kritieke stadium in die vredesonderhandelinge na die slegting van die wapenstryd, verdien ongetwyfeld nog die nodige aandag. Dit is dié aspek wat duidelik op die voorgrond tree in ’n telegram van 22.2.1881, waarin die Britse premier, William Gladstone, verklaar het dat pogings aangewend word om die Transvaalse aangeleenthede te skik en verdere bloedvergieting te voorkom, mits die eer van die Britse Kroon nie in die gedrang sou kom nie. (Sien Jorissen, 1897:22.)

Met betrekking tot die laaste gedeelte van die inhoud van hierdie telegram het die Driemanskap, in gramskap, verklaar dat dit – volgens hulle – duidelik was

dat de eer der Engelsche Kroon onbestaanbaar is met de eer van andere volken; dat die eer een afgod is, waaraan goed recht, goede trouw, kracht van heilige traktaten, geloof aan eenmaal gegeven beloften, zonder aarzeling moet worden opgeofferd. (Sien Jorissen, 1897:31.)

Die inhoud van elkeen van hierdie aanhalings het betrekking op onderskeie oorsake wat tot die gewapende verset van 1880-1881 gelei het en wat, kortliks, soos volg opgesom kan word:

(a) Die destydse amptelike Britse strewe om, met betrekking tot die Boererepublieke, vroeëre ooreenkomste (die Sandrivier-ooreenkoms, die Bloemfonteinse ooreenkoms, 1852 en 1854) ongedaan te maak om op dié wyse die Britse uitbreidingsdrang in Suid-Afrika te kan bevredig. Hierdie doel sou verwesenlik word deur ’n beoogde federasie van die bestaande Britse kolonies en die Boererepublieke onder die Britse vlag.

(b) Die opvatting onder die Boereleiers omtrent die onaantasbaarheid van bogenoemde ooreenkomste, die reg van elke volk om sy vryheid en onafhanklikheid teen aanslae te verdedig en die strewe, wat daaruit voortgevloei het om, oor die grense van state en kolonies heen, in Suid-Afrika ’n verenigde Afrikanerfront daar te stel om Britse imperialistiese bedreigings die hoof te kan bied.

Uitvloeisels van die reeds gesketste Britse beleid was die inlywing van die Kimberleyse diamantveld (1871) en die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek (1877). Weliswaar het die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) daartoe gelei dat die Republiek die grootste deel van sy vroeëre staatkundige onafhanklikheid herwin het, maar die wrywings het voortgeduur, is deur die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (1886) verhewig en sou in 1899 tot die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) lei.

Die verskil tussen die uiteindelike beslissings van 1881 en 1902 was enersyds die sienswyse van Eerste Minister Gladstone dat die anneksasie van 1877 onwettig was en dat dit, sowel vir Engeland as Suid-Afrika, beter sou wees om die spreekwoordelike strydbyl te begrawe, terwyl in laasgenoemde geval daar, van Britse amptelike kant, doelbewus gestrewe is na oorlog wat, soos van dié kant af gedink is, die vraagstuk van die Britse opperheerskappy in Suid-Afrika eens en vir altyd sou besleg.

Dit loon, op grond van alles wat hierbo aan die leser voorgelê is, om meer in besonderhede na te gaan wat, met betrekking tot die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Britse wêreldryk, tussen 1877 en 1881 voorgeval het.

 

Foto: Staatspresident T.F. Burgers (Foto: Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria)

Die voorspel tot die anneksasie

Die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek, op 12.4.1877, laat allereers die lig val op Staatspresident Thomas Francois Burgers en die Britse afgesant sir Theophilus Shepsto

Foto: Sir Theophilus Shepstone (Foto: TAB)

ne. Meer as een Suid-Afrikaanse geskiedskrywer het aandag aan hierdie twee hooffigure gewy. In 1933 het sowel prof. dr. S.P. Engelbrecht se Burgersbiografie Thomas Francois Burgers. ’n Lewenskets as prof. C.J. Uys se werk In the era of Shepstone: being a study of the British expansion in South Africa, 1842-1877, verskyn en, elkeen op sy beurt, kommentaar uitgelok. In 1946 het ’n Engelse uitgawe van eersgenoemde studie die lig gesien. In sy voorwoord tot hierdie vertaling het genl. J.C. Smuts o.m. verklaar:

A Liberal in religion he had to handle men of extreme orthodoxy. A babe in finance, he was called upon to run a republic with an empty treasury, all the emptier after his abortive idealistic experiments. A man of peace, with no military aptitude or experience, he had to conduct a native war, which under all the circumstances could only end in discomfiture for himself. And—most unfortunate of all—the nextdoor neighbour of his puny republic was a Great Power, then rising on a high tide of Imperialism …

En genl. Smuts se uiteindelike konklusie?

… he remains one of the most tragic and debated figures in our history…It takes all sorts of leadership to build a nation destined for future time.

Onlangs het dr. M.S. Appelgryn die resultate van sy nougesette navorsing gebundel in Thomas Francois Burgers Staatspresident 1872-1877 (1979) en o.i. op ’n oortuigende wyse daarin geslaag om die onverdiende stigma wat aan die Staatspresident gekleef het, te verwyder. Ongetwyfeld moet ’n gesonde oordeelsvorming tweeledig wees. ’n Staatshoof, seker nie sonder menslike tekortkomings nie, het oor ’n volk in wording regeer, ’n volk wat deels bereid was om die beleid van Staatspresident en Volksraad te volg, maar deels gekant was teen dieselfde beleid. ’n Sterk gevoel van individualisme het, behalwe die bestaande besware, eensgesindheid en die beskouing dat – in die uur van gevaar – die landsbelang die meeste moet tel – feitlik onmoontlik gemaak.

Foto: Dr. E.J.P. Jorissen (Foto: TAB)

Wat hierdie aangeleentheid betref, het dr. E.J.P. Jorissen, wat Staatspresident Burgers tot in sy laaste oomblikke getrou gebly en later ’n belangrike rol in die herrysing van die Republiek gespeel het, omonwonde verklaar:

De betreurenswaardige tweedracht onder de boeren verzwakte hun weerstandsvermogen. Tegenspoed heeft hun eendracht geleerd; maar in 1877 bestond er eigenlijk Transvaalsche natie, alleen een verzameling van Hollandschsprekende boeren…, met een Engelschgezinde bevolking van winkeliers en Kaapsche praktizijns in de dorpen. (Sien Jorissen, 1897:20-21.)

Hierdie prentjie word volledig indien die delwersbevolking van Oos-Transvaal, ’n mengsel van allerhande nasionaliteite met ’n pro-Britse persorgaan, ook vermeld word. (Sien Appelgryn, 1979:139-141.)

Wat die swart bevolking betref, het stamhoof Sekhukhune teen die regering gerebelleer en het ’n militêre ekspedisie teen hierdie onderdaan, ook al as gevolg van twis en tweedrag onder die burgers, misluk.

Hierdie en ander verskynsels van verdeeldheid en onmag het die Britse regering, wat op uitbreiding van sy invloedsfeer in Suid-Afrika belus was, voldoende redes verstrek om, onder die dekmantel van twis, tweedrag en beweerde onvermoë, aan sir Theophilus Shepstone die opdrag te verstrek om die Republiek te annekseer indien hy sou kon vasstel dat die meerderheid van die blanke bevolking ten gunste van die inlywing sou wees. Dan sou, met uitsondering van die ingesluite Oranje-Vrystaat, Suidelike Afrika volledig onder Britse beheer val. Sekere feite en wanvoorstellings is deur Shepstone aangegryp. President Burgers, vise-president S.J.P. Kruger, dr. E.J.P. Jorissen en ander het tevergeefse pogings aangewend om Shepstone in sy voorneme te stuit en op 12.4.1877 is, in die vorm van ’n spesiale proklamasie, die lot van die Zuid-Afrikaansche Republiek beslis.

Jare later het Staatspresident Kruger gewag gemaak van hierdie wederregtelike daad wat in stryd was met die Sandriviertraktaat van 1852 was en waaruit, volgens hom, later die Tweede Vryheidsoorlog voortgespruit het na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand en die gedagte om Amajoeba te wreek. (Sien Bredell & Grobler, 1947:63.)

Dalk is hierdie uitspraak enigsins simplisties, maar die kern is, met ’n blik op die toekomstige verwikkelinge, ongetwyfeld juis. Sowel in die eerste as in die tweede geval was die onderliggende, imperiale faktor, identies.

Wat Shepstone nie aan Burgers en sy naaste medewerkers kon ontneem nie, was ’n kragtige protes teen die anneksasie en die besluit van die Uitvoerende Raad van 9.4.1877 om afgevaardigdes na die buiteland, by name die VSA en Europa, te stuur om intervensie te verkry van dié buitelandse moondhede wat die Republiek erken het en om die wense en begeertes van die Transvaalse burgers aan die Britse regering voor te Iê.

De 12de April 1877 deed denken aan de ter aarde bestelling van een invloedrijk man; de echte erven (Afr.: erfgename) onterfd, en de gelukkige erven een weinig beschaamd over hun onverdiend fortuin; de eersten diep neerslachtig, de Iaatsten uit bescheidenheid hun eigen huis opzoekend, om daar onder elkander op het geluk van den dag te drinken. (Jorissen, 1896:35)

So het dr. E.J.P. Jorissen die stemming op Pretoria, op 12.4.1877, aan die nageslag oorgelewer.

Onder die laasgenoemde groep het ’n petisie ontstaan waarin o.m. verklaar is dat die opstellers en ondertekenaars die politiek, wat gelei het tot die uitbreiding van die beskermende mag van Engeland oor so ’n groot gedeelte van Suid-Afrika, met dankbaarheid begroet het. (Sien Tromp, 1879:297.)

’n Innerlik versteurde en verdeelde Transvaal is aan die Britse ryk toegevoeg. Sou almal in die nuwe toestand berus of sou daar, na verloop van tyd en deur die doelbewuste optrede van ’n handjievol leiers van die verset, ’n kentering kom?

Terwyl hierdie en ongetwyfeld menige ander vrae gestel is, het ’n liggaamlik en geestelik gebreekte oud-Staatspresident na die Kaapkolonie afgereis om daar sy laaste lewensjare in armoede deur te bring. Vir hom sowel as vir sy voormalige ondersteuners en hulle wat die vryheid liefgehad het, was die jaar 1877 rampspoedig!

’n Hoopgewende teken was, vir dieselfde groep, die verblydende nuus dat mede-Afrikaners in die Oranje-Vrystaat, die Kaapkolonie en Natal die anneksasie verdoem en ontevrede gevoel het oor die nuwe toedrag van sake. In die komende jare sou hierdie verskynsel lei tot ’n verdere toenadering tussen Afrikaner en Afrikaner oor die lengte en breedte van Suid-Afrika, ’n soort van saamhorigheidsgevoel wat sowel voor as na die Tweede Vryheidsoorlog aanhoudend toegeneem en die verdere verloop van die geskiedenis van Suid-Afrika steeds sterker en sterker begin beïnvloed het.

 

Die Eerste Deputasie (1877)

Staatspresident T.F. Burgers was die vader van die Transvaalse protes teen die anneksasie en S.J.P. Kruger en dr. E.J.P. Jorissen dié verteenwoordigers van hulle wie se doelbewuste strewe was om dié daad te probeer ongedaan maak, terwyl Willem E. Bok as sekretaris toegevoeg is aan die sgn. Eerste Deputasie of Eerste Afvaardiging wat in Mei 1877 na Engeland afgereis het om die aangeleentheid met die Britse Minister van Kolonies, lord Carnarvon, (1874-1878) te bespreek. Vordering is nie gemaak nie omdat administrateur sir Theophilus Shepstone (1877-1879) aanhoudend, in sy amptelike korrespondensie, die tevredenheid van die Transvalers beklemtoon het, terwyl ds. Jooste, van Potchefstroom, ’n skrywe in ‘De Zuid-Afrikaan’ (Kaapstad) gepubliseer het waarin hy o.m. verklaar het dat 96 van elke 100 Transvalers tevrede was met die nuwe bedeling. (Sien Van Oordt, s.j.:187.) Hierdie en soortgelyke berigte het dit vir die afgevaardigdes feitlik onmoontlik gemaak om met sukses vir die vernietiging van die anneksasie te kan pleit, totdat die afvaardiging met die voorstel gekom het om, deur ’n volkstemming, die gevoelens van die Transvalers te bepaal en daarna dienooreenkomstig te handel. Lord Carnarvon was wel bereid om voorlopig Nederlands as een van die amptelike tale in Transvaal te handhaaf en het £100 000 beskikbaar gestel om – finansieel beskou – Transvaal op ’n stewiger grondslag te plaas, maar verder was hy van mening dat die anneksasieaangeleentheid afgehandel was.

Die Deputasie het onverrigtersake huis toe gekeer. Kruger was vasberade om in die verset te volhard, dr. Jorissen het hom tydelik aan die agitasie onttrek deur die pos van staatsprokureur onder die Britse bewind te aanvaar, ookal omdat hy gemeen het dat verdere verset niks sou baat nie, maar Kruger het voortgegaan. Op ’n verslagvergadering op Pretoria, waar die gemoedere soms hoog geloop het, is besluit om kommissies na alle dele van Transvaal uit te stuur om vas te stel wie teen en wie ten gunste van die anneksasie was.

Tewens het Kruger in skriftelike verbinding getree met administrateur sir Theophilus Shepstone om sy saak duidelik te stel en om te ontken dat hy sy volgelinge aangespoor het om anders as deur vreedsame middels te werk te gaan om die anneksasie ongedaan te maak. (Sien Van Oordt, s.j.:193 e.v.)

 

Die saamtrek op Doornfontein (4.4.1877)

Ofskoon hierdie saamtrek bedoel was as ’n verslagvergadering van die kommissies wat met die ondertekening van die reeds genoemde memories belas was, het ook ’n aantal ongewapende burgers, ongeveer 600, op die vergadering verskyn waar o.m. die handtekeninge getel en bevind is dat daar 125 memories (met 6 591 handtekeninge) teen die anneksasie ontvang is, terwyl 587 memorialiste (31 memories) hulle ten gunste van die anneksasie verklaar het. (Sien Van Oordt, s.j.:201.)

Op grond van hierdie bevindings is besluit om weer ’n afvaardiging na Engeland te stuur in die hoop dat die jongste bevindings die Britse owerhede sou kon oortuig.

Behalwe S.J.P. Kruger is P.J. Joubert, wat hom tot op dié tydstip van agitasie onthou het, aangewys om die meerderheidsbelange te behartig, terwyl W.E. Bok die twee Boerevoormanne as sekretaris sou vergesel. Tydens die byeenkoms is die meeste reisgeld reeds ingesamel en nadat administrateur sir Theophilus Shepstone in kennis gestel is van die voorgenome reis en ’n onderhoud met Hoë Kommissaris sir Bartle Frere niks opgelewer het nie (Junie 1878), is die deputasie na Londen om sy opwagting by die opvolger van lord Carnarvon, sir Michael E. Hicks-Beach, (1878–1880) te maak.

 

Die Tweede Deputasie (1878)

Op 10 Julie 1878 het die Britse Minister van Kolonies die afvaardiging te woord gestaan, daar is briewe oor en weer gestuur, maar die deputasie het geen tasbare resultate behaal nie, behalwe dat – soos Van Oordt vermeld – die wêreldpers kennis geneem het van die Transvaalse vraagstuk en o.m. in Duitsland en Nederland simpatieke stemme opgegaan het vir die Boeresaak. In Engeland het die parlementslid Leonard Courtney beswaar aangeteken teen die wyse waarop Transvaal behandel is. (Sien Van Oordt, s.j.:239.)

Foto: Administrateur sir W. Owen Lanyon (Foto: TAB)

Ten tye van hul terugkeer in Transvaal het die deputasie waargeneem dat die spanning tussen Brittanje en die Zoeloes toegeneem het. Dit was die voorspel tot ’n bloedige botsing in 1879. In Transvaal het sir Theophilus Shepstone, na ’n mislukte beleid van versoening, die masker afgeruk. Dr. Jorissen was ’n amptelose burger en Jan F. Celliers, die redakteur van ‘De Volksstem’, wat aanvanklik in die anneksasie berus het, het begin draai. Tewens is sir Theophilus Shepstone deur die Britse krygsman kol. sir Owen Lanyon (1879-1880) opgevolg, terwyl stamhoof Sekhukhune weer die wapen opgeneem het.

 

Die volksvergadering op Kleinfontein (Januarie 1879)

Die Tweede Deputasie het op 10.1.1879 op Wonderfontein (distr. Potchefstroom) verslag gedoen van sy verrigtings in die aanwesigheid van 2 000-3 000 burgers, d.w.s. onder aanmerklik groter belangstelling as ’n jaar tevore, ’n bewys dat die wiel aan die draai was. Op dié byeenkoms is besluit om nie in die bestaande toestand te berus nie. By monde van P.J. Joubert sou die Hoë Kommissaris ingelig word en gevra word om oor te kom na Transvaal om hom ter plaatse van die bestaande toestand te vergewis.

Nadat Joubert sy sending ten uitvoer gebring en van sir Bartle Frere die versekering ontvang het dat hy aan die versoek sou voldoen, het die Volkskomitee besluit om die eersvolgende byeenkoms op die plaas Kleinfontein, in die distrik Pretoria, te belê. Hopelik sou die Britse Hoë Kommissaris dié verrigtings kon bywoon, dit nadat Kruger, Joubert en sir Owen Lanyon, terwyl die byeenkoms op Kleinfontein reeds begin het, mekaar tevergeefs probeer oortuig het van die gegrondheid van hul uiteenlopende sienswyses.

Die saamtrek op Kleinfontein het 5 000 tot 6 000 gewapende burgers met of sonder gesinne getrek. Stemme het opgegaan om ’n gewapende stryd te begin, hier en daar is Kruger van traagheid beskuldig, maar deur sy oorredingskrag het hierdie Boerevoorman daarin geslaag om hierdie heethoofdiges te kalmeer. ’n Lang tyd van wag en wag het begin, maar eindelik het die Hoë Kommissaris aangekom en is met die Volkskomitee ooreengekom dat ’n bespreking gehou sou word op die plaas Erasmuskraal, aan die Hennopsrivier, distr. Pretoria. Van Boerekant is dr. E.J.P. Jorissen versoek om die Komitee as ’n regsgeleerde raadsman by te staan.

 

Die bespreking te Hennopsrivier (12.4.1879)

Soos te verwagte was, het hierdie konferensie geen tasbare resultate opgelewer nie omdat die standpunte, hoofsaaklik vertolk deur sir Bartle Frere en Kruger, te uiteenlopend van aard was. Kruger het verklaar dat die volk nou oor sy lot moet beslis en dat hy sy ondersteuners nie meer kan bedwing nie. Weer eens is ’n memorie, onderteken deur die gesamentlike voorsitters van die Volkskomitee, oud-Staatspresident M.W. Pretorius en M.J. Viljoen, en opgestel deur dr. E.J.P. Jorissen, aan koningin Victoria gerig om ’n volkstemming te hou en op grond van die verwagte uitslag die vryheid en onafhanklikheid van Transvaal te erken, terwyl ’n begeleidende skrywe van die Hoë Kommissaris aan die Minister van Kolonies aan die vergaderdes op Kleinfontein voorgelees is. En daarna was dit opsaal. Die burgers is huistoe en eers in September 1879 het P.J. Joubert – tydens ’n onderhoud met die bevelvoerende genl. sir Garnet Joseph Wolseley naby Wakkerstroom – verneem dat die staatkundige bande tussen Transvaal en die Britse ryk altyd sou bly voortbestaan en nie herroep sou word nie. (Sien Van Oordt, s.j.:270.)

 

Steun uit ander oorde (1879)

Terwyl die sake in Transvaal weer eens ’n dooie punt bereik het, het die meerderheid van die Vrystaatse Volksraad die hoop uitgespreek dat die Transvalers se pogings tot herstel van die onafhanklikheid tot sukses sou lei. In die Kaapkolonie het ’n deputasie, wat hoofsaaklik uit Kaapse parlementariërs, soos John X. Merriman en J.H. (‘Onze Jan’) Hofmeyr, bestaan het ’n soortgelyke pleidooi by die Hoë Kommissaris gelewer (8.11.1879). Ongetwyfeld het dié gebeurtenisse die wil van die Volkskomitee verder gestaal om op die ingeslane pad voort te gaan. Daar is ten minste besluit om, op 10.12.1879, ’n volksbyeenkoms op Wonderfontein te hou.

Genl. sir Garnet Wolseley het reeds op 16.11.1879 die voornemende besoekers en hul leiers teen bedreigings en opstokery gewaarsku (sien Van Oordt, s.j.:193:281-282), maar op die bepaalde dag het 6 000 Transvalers op die reeds genoemde plaas saamgetrek, terwyl Vierkleure gewapper het.

 

Die volksvergadering op Wonderfontein (11.12.1879-15.12.1879)

Op Wonderfontein is, terwyl die bestaande ver verhard het, o.m. in ’n volksbesluit bepaal:

De tijd van memories aan de Engelsche Regeerin voorbij: langs dien weg is geen redding mogelijk. (Sien Van Oordt, s.j.:287.)

Verder is die hoop uitgespreek om op 6.4.1880, tydens ’n volgende byeenkoms op die plaas Paardekraal, naby Krugersdorp, die Zuid-Afrikaansche Republiek te kan herstel nadat die vereiste aanvoorwerk reeds in die volksbesluit van 15.12.1879 verrig was. Nadat die burgers aangeraai is om rustig en kalm te bly, is elkeen van die aanwesiges huis toe, terwyl die volkskomitee vir sir Garnet Wolseley oor die verrigtings ingelig het.

 

Die reaksie

Genl. Wolseley het nou gereken dat hy moes ingryp om die smeulende rebellie teen die Britse gesag met krag te onderdruk en het opdrag gegee om sowel W.E. Bok as oud-Staatspresident M.W. Pretorius, onderskeidelik op Pretoria en Potchefstroom, te laat arresteer. Dié persoon wat hiervoor in eerste instansie verantwoordelik was, was Staatspresident T.F. Burgers se eertydse staatsekretaris N.J. Swart, wat reeds voor die anneksasie oorgestap het, tesourier-generaal onder die Britse bewind geword en ’n beëdigde verklaring ten laste van Bok en Pretorius opgestel het.

Hierdie gebeurtenisse, op 3 en 5 Januarie 1880, het groot beroering in die geledere van die ontevredenes verwek. Weliswaar is Bok onder borg vrygelaat, maar Kruger moes ’n kommando oorreed om hul voorneme om na Pretoria te gaan, nie uit te voer nie. Pretorius, aan wie ’n borgtog aangebied was wat deur hom geweier is, is nou – deur bemiddeling van Kruger – onder borgtog uit die tronk ontslaan. Daarna het sir Garnet ’n poging aangewend om Pretorius aan sy kant te kry deur hom ’n setel in die Uitvoerende Raad aan te bied. Op Pretorius se weiering het hy hom vervolgens gevra om onder sy medeburgers steun vir ’n nuwe grondwet te werf. Hiermee het Pretorius ingestem, maar kort daarna skriftelik verklaar dat hy sy belofte nie kon nakom nie, aangesien sy medeburgers te vasberade was. (Sien Van Oordt, s.j.:292.) In dele van Transvaal het die spanning verder opgelaai, maar tot openlike konfrontasie het dit nog nie gekom nie.

Op 8.3.1880 het die Volkskomitee op Wonderfontein bymekaar gekom. Daar is besef dat, onder die heersende spanning en toenemende verwydering, geen vordering in Transvaal moontlik was nie en gevolglik is besluit om Kruger en Joubert na die Kaapkolonie te stuur. Die oogmerk van die twee Boerevoormanne, vergesel deur dr. Jorissen, was om enersyds die federasieplanne van die Britse regering te beveg en andersins om steun vir hul strewe onder die Kaapse Afrikaners te verwerf. Hulle het in hul doel geslaag, maar ongetwyfeld was dit van meer belang dat die bestaande kabinet in Engeland ’n verkiesingsneerlaag gely en deur ’n liberale kabinet, met W.E. Gladstone as Eerste Minister, opgevolg is.

Op 10.5.1880 het Kruger en Joubert ’n skriftelike versoek aan Gladstone gerig om die Sandrivier-ooreenkoms van 1852 in ere te herstel, m.a.w. om die Republiek van weleer weer aan die Transvalers terug te gee. Gladstone wou die anneksasie nie ongedaan maak nie, maar het die briefskrywers van sy kant af meegedeel dat die pad na vryheid lê in aansluiting by ’n Britse federasie in Suid-Afrika. (Sien Van Oordt, s.j.:297-298.)

 

Verdere werksaamhede van die Volkskomitee (1880)

Terug in Transvaal het die afgevaardigdes verslag uitgebring van hul reis en reisdoel. Daar is verder besluit om, in alle stilte, voorbereidings te tref vir ’n moontlike gewapende botsing. Solank wapens en ammunisie nog vryelik beskikbaar was, is daar gekoop. Wat die saak van die opstand verder in die hand gewerk het, was die vertrek van genl. sir Garnet Wolseley en ’n groot deel van die Britse besettingsmag uit Transvaal. Die Volkskomitee het in ’n moeilike posisie beland deurdat heethoofde steeds ongeduldiger en opstandiger begin word het. Sou hulle dalk die wet in eie hande neem? Om dit te voorkom, het die Boerevoormanne besluit om die volgende vergadering op 8.1.1881 op Paardekraal te hou en dan tot die beslissende stap oor te gaan.

 

Die vervroegde byeenkoms op Paardekraal (Des. 1880)

Die geskiedenis, en tewens die lewe van die mens, is vol voorbeelde waar berekeninge, ten goede of ten kwade, faal. Dit was ook die lot van die datumbepaling vir die volgende saamtrek, nl. 8.1.1881, en die bedoeling van die Transvaalse voormanne van die verset om op dié dag van lydelike na daadwerklike verset oor te skakel.

Die inning van agterstallige belastinggeld in die distrik Potchefstroom het op verset gestuit en onder leiding van kmdt. P.A. Cronjé, die latere generaal, het ’n groep agterstallige burgers na die plaaslike landdroskantoor gery en daar geprotesteer (7.10.1880) om belasting te betaal aan ’n regering wat hom

op een onwettige wijze, en tegen onzen wil van ons land heeft meester gemaakt, en zich aan ons opdringt. (Van Oordt, s.j.:301)

Die prinsipiële weieraars was weliswaar bereid om hul skulde te vereffen, maar dan in ruil vir kwitansies waarop vermeld was dat die geld onder protes betaal is. Indien die landdros nie bereid was om dit te doen nie, sou hulle alleen vir geweld buig.

Dit was duidelike taal en terselfdertyd ’n besliste bewys van opstandigheid teen die gesag. Pretoria het verklaar dat landdros Goetz, op grond van die landswette, tot die volgende stap moes oorgaan. So is dan ’n wa van ’n sekere Bezuidenhout in beslag geneem. Alles is gereël om dié voertuig op 11.11.1880 op die markplein op Potchefstroom op te veil, waar ’n aantal burgers dit met geweld oormeester en na die plaas van Bezuidenhout teruggebring het.

Spesiale polisie is uitgestuur om Bezuidenhout en Cronjé te arresteer, maar Bezuidenhout was op pad na Rustenburg om Kruger van die voorval te verwittig, terwyl Cronjé deur soveel geesverwante beskerm is dat die polisie onverrigtersake moes terugkeer.

Die belangrikste gevolg van hierdie voorval was dat die Volkskomitee besluit het om die saamtrek by Paardekraal met ’n volle maand te vervroeg!

 

Paardekraal: Van lydelike verset tot oorlog

Paardekraal sal in die geskiedenis van Suid-Afrika ’n waterskeiding van betekenis bly. Aan dr. Jorissen is dit te danke dat ons vandag oor ’n paar woorde uit die mond van Kruger beskik wat, dalk duideliker en bondiger, die toestand en gevoelens opsom toe, op 10.12.1880, Kruger ter verwelkoming van dr. Jorissen kort en kragtig gesê het: ‘Mijnheer Jorissen, het is klaar’. Daarna het Kruger, op ’n vraag van dr. Jorissen, wat sojuis saam met W.E. Bok van Pretoria op Paardekraal aangekom het, gesê dat die volk onkeerbaar was en onmiddellike uitvoering eis van die besluit van 1879 om die Zuid-Afrikaansche Republiek te herstel en die geskorste regering weer daar te stel. (Sien Jorissen, 1897:60-61.)

En hoeveel burgers het op hierdie optrede aangedring? Van Oordt het die aantal burgers wat op 8.12.1880 op Paardekraal aanwesig was op 4 000 tot 5 000 geskat en verklaar dat dié aantal daagliks toegeneem het. (Sien Van Oordt, s.j.:304.) Dr. Jorissen het drie dae later 636 waens en karre getel en die aantal gewapende burgers op 8 000 tot 10 000 geskat. (Sien Jorissen, 1897:61.) As ’n vergelyking mag, onder ’n mate van voorbehoud, die volgende gegewens van 1876 dien. Volgens Fred Jeppe se Transvaal Book Almanac and Directory for 1877 was die geskatte aantal blankes in Transvaal 25 000 tot 30 000 en die aantal weerbare burgers in dieselfde jaar 7 326. Neem ons die mate van onbetroubaarheid en onsekerheid van die syfers in aanmerking, dan meen ons dat daar veilig aanvaar kan word dat die meeste van die weerbares by die byeenkoms op Paardekraal aanwesig was en dat die leiers van die verset daarin geslaag het om hierdie meerderheid agter hulle te kry.

Op 10.12.1880 het Kruger, die vise-president onder die Burgers-bewind, die opdrag van die Volkskomitee ontvang om ’n buitengewone sitting van die eertydse Volksraad af te kondig. Met C.J. Bodenstein as voorsitter het die Volksraad (daar was 12 lede aanwesig) vergader. In sy aanspraak het die vise-president o.m. verklaar dat die regering spoedig in staat gestel moet word om die besluit van 15.12.1879 uit te voer en voorgestel dat die voorlopige landsbestuur aan die Driemanskap opgedra word. Tewens het hy die gedagte uitgespreek dat daar tot hede binne die perke van die wet geprotesteer is in die vorm van lydelike verset, dat die houding van die Britse gesagdraers op Pretoria dit onmoontlik gemaak het om verder op dié wyse verder te gaan …

Het recht der volken is aan onze zijde, en hoe zwak Wij zijn, God is een rechtvaardig God,

aldus die vise-president aan die slot van sy aanspraak. (Sien Van Oordt, s.j.:306 e.v.) Terwyl W.E. Bok as tydelike staatsekretaris aangewys is en G.J.M. van Dam die sekretariaat van die Volksraad op hom geneem het, is S.J.P. Kruger, P.J. Joubert (kommandant-generaal), oud-president M.W. Pretorius, as die Driemanskap gekies, terwyl die Uitvoerende Raad soos volg saamgestel is: Jacob Maré, Chr. Joubert, W.E. Bok, P.J. Joubert en dr. E.J.P. Jorissen.

Daarna het W.E. Bok en Jorissen die sgn. Eerste Proklamasie opgestel, waarin sowel die geskiedenis van die verset, as die toekomsplanne van die regering uiteengesit is. (Sien Van Oordt, s.j.:311-312.)

Hiermee was die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek herstel. Wat sou die toekoms oplewer? Voordat hierdie vraag beantwoord word, staan ons ’n oomblik by die klipstapeling op die plek waarbo later die Paardekraalmomument sou verrys, ’n plek waar die gelofte van saamstaan en veg om die Vryheid te herwen, afgelê is. (Sien Van Tonder, 1961:92.)

Lion Cachet het in De Worstelstrijd der Transvalers hierdie plegtige handeling soos volg beskryf:

Onwillekeurig werden steenen aangebracht en tot een grooten hoop gestapeld, als een zwijgend en toch zoo welsprekend en veelzeggend teeken, dat men zich verbonden had om, als één Volk, schouder aan schouder, de onafhankelijkheid des lands te handhaven, en de Regeering te steunen, het kostte wat het wilde, in de grootsche maar moeielijke taak, die deze nu te aanvaarden had. Die steenhoop is het MIZPA der Transvalers. (Cachet, 1881:525)

 

Die militêre situasie

Dis bekend dat administrateur sir Theophilus Shepstone na sy aankoms op Pretoria spoedig ’n mate van militêre versterking uit Natal ontvang het om, in geval van nood, sy posisie in die Transvaalse hoofstad te kan handhaaf. Die taak om die militêre verdediging van Transvaal, na die anneksasie, te organiseer, was opgedra aan genl. sir Arthur Thurlow Cuninghame, CBG, luitenant-goewerneur en opperbevelhebber oor die Britse magte in Suid-Afrika. Hy het My Command in South Africa 1874-1878 (London, 1879) geskryf en aan hom was opgedra om die Britse verdediging in Transvaal te organiseer. Op Newcastle het hy ’n militêre pos gestig, vanwaar troepe hom later na Transvaal sou volg. Standerton, die knooppunt ten opsigte van verbindings met Utrecht, Lydenburg, Newcastle, Potchefstroom en Pretoria, is van ’n berede mag voorsien. Op Pretoria was reeds troepe onder kol. Montgomery aanwesig. Op dié wyse is ’n Britse militêre organisasie geskep met garnisoene in strategies belangrike dorpe, ’n mate van beheer oor die binnelandse verbindings en ’n aansluiting met Natal.

Garnisoene is geleër op Pretoria, Potchefstroom, Standerton, Lydenburg, Rustenburg, Marabastad (Pietersburg) en Wakkerstroom. (Sien Lehmann, 1972:184 e.v.) Die Potchefstroomse garnisoen het in November 1880 uit 10 offisiere en 203 ander range bestaan, terwyl die sterkte op Marabastad ongeveer 60 was. (Sien Van den Berg, 1975:79 e.v.)

Volgens Van Oordt was die totale Britse militêre sterkte in Suid-Afrika, aan die vooraand van die oorlog, minder as twee volledige regimente. Dieselfde skrywer bestempel die sterkte van die Britse krygsmag in Transvaal as ‘zeer gering’. (Sien Van Oordt, s.j.:319.)

Die krygsplan van die Transvalers, onder genl. P.J. Joubert, was tweeledig. Enersyds was dit die taak van die burgers om die Britse garnisoene in te sluit en daar vas te keer, terwyl die ander opdrag was om te verhinder dat Britse versterkings in Transvaal aankom.

Byna 2 800 burgers is met eersgenoemde taak belas, terwyl 1 500 tot 2 000 vir die Natalse bergpasse beskikbaar was waar hulle – soos later sou blyk – teenoor 1 400 Britse troepe te staan sou kom. (Sien Van Oordt, s.j.:320-321.)

Foto: Boere op brandwag. (Foto: TAB/The Illustrated London News, 5.3.1881).

Potchefstroom: Die vonk in die kruitvat. Heidelberg

Vir die tweede keer sou Potchefstroom vir die spreekwoordelike vonk in die kruitvat sorg. Nadat die Driemanskap besluit het om die Eerste Proklamasie op die pers van J.P. Borrius, te Potchefstroom, te laat druk en te vermenigvuldig, is Cronjé met ’n kommando soontoe (16.12.1880) en het die eerste skote geklap. Die proklamasie is gedruk en die wapenstryd het begin. (Sien Carter, 1900:117-119; Van Oordt, s.j.:312-316.)

Op dieselfde dag het die burgers die dorp Heidelberg sonder slag of stoot beset en is die regering in die landdroskantoor gevestig, terwyl ‘n Boere-afgesant na Pretoria gestuur is om die proklamasie en ‘n begeleidende skrywe aan sir W. Owen Lanyon te oorhandig. In hierdie brief is nadruk gelê op die vaste wil om die onafhanklikheid te herwin en dat samewerking gevra word om tot ’n vreedsame oplossing van die geskil te kom.

In 1877 heeft onze toenmalige Regeering zonder bloedstorting de sleutels van ’s lands kantoor overgegeven; wij vertrouwen, dat Uwe Excellentie, als vertegenwoordiger der edele Britsche natie, in edelmoedigheid niet zult onderdoen voor ons, en op gelijke wijze onze Regeering in staat zult stellen het bewind weder te aanvaarden. (Sien Van Oordt, s.j.:314-315.)

Op 18.12.1880 het sir W. Owen Lanyon, na aanleiding van die gebeurtenisse te Potchefstroom en Heidelberg, ’n proklamasie uitgevaardig waarin hy gewaarsku het dat die rebelle die gevolge van hul optrede moet dra en gewag gemaak van ‘handelingen door arglistige en booze onruststokers’. (Sien Van Oordt, s.j.:216-317.)

Reeds vroeër het die administrateur gewapende hulp uit Natal ontbied. Kapt. Froome was met ’n drietal kompanies op pad van Wakkerstroom na Standerton, terwyl kol. Anstruther met ruim 200 manskappe en ’n kolonne van ossewaens, waterkarre e.d.m. op 19.12.1880 van Middelburg na Pretoria opgeruk het. Terwyl kapt. Froome sy plek van bestemming ongehinderd bereik het, sou kol. Anstruther in ’n noodlottige skermutseling betrokke raak. (Sien Carter, 1900:128-130).

 

Bronkhorstspruit (20.12.1880)

Naby Bronkhorstspruit, op die plek waar die gelyknamige spruitjie en die hoofpad van Lydenburg en Middelburg na Pretoria mekaar gekruis het, het kol. Anstruther se troepe op ’n Boerekommando onder kmdt. Frans Joubert gestuit. Ofskoon kol. Anstruther reeds gewaarsku was dat daar Boere in die omgewing vertoef het, het hy – om ’n onverklaarbare rede – dié waarskuwings in die wind geslaan en geen maatreëls getref om sy troepe doeltreffend teen ’n onverwagte aanval te beskerm nie.

Só het, aldus Lehmann, die Britse troepe die spruit genader:

Winding into the sunken road before the spruit, … the band struck up a great favourite: “Kiss Me, Mother, Kiss Your Darling”. The Boers, of course, were watching them: the colonel on his prancing horse; the bandsmen without a single rifle among them; the party of some 150 men around the carts, preceding the wagons, munching peaches. There were no flankers everywhere. To the burghers, they seemed pathetically feeble. “God help them!” (Sien Lehmann, 1972:260.)

Foto: Kmdt. Frans (‘Held’) Joubert, die oorwinnaar van Bronkhorstspruit. (Foto: TAB)

Plotseling is gewapende burgers gewaar en het ’n Boer met ’n wit vlag nader gekom om, in die vorm van ’n verseëlde brief, kol. Anstruther mee te deel dat die Zuid-Afrikaansche Republiek weer in eer herstel was en dat, indien die Britse troepe die spruit sou oorsteek, so ’n beweging as ’n vyandelike daad beskou sou word. Twee minute bedenktyd is toegelaat en terwyl die militêre orkes ‘God save the Queen’ aangehef het, het kol. Anstruther verklaar dat hy sy opdrag sou uitvoer …

Dié antwoord was die begin van ’n slagting wat 75 Britte die lewe gekos het, terwyl meer as 100 gewond is. ’n Paar dae later was daar nog ’n verdere twintig sterfgevalle. (Sien Lehmann, 1972:118; Van Oordt, s.j.:321; Carter, 1900:131.) Onder hulle, wat op hierdie dag swaar gewond is en kort daarna gesterf het, was kol. Anstruther … Aan Boerekant was twee gesneuweldes en ’n vyftal gewondes te betreur. Voorlopig was, militêr beskou, die eerste bedreiging vir die burgers verby.

Terwyl sir W. Owen Lanyon nog steeds gehoop het om die opstand teen die Britse gesag te kan demp en oor maatreëls nagedink het om eerbied vir die wet te verseker, het John X. Merriman met die gedagte gekom om ’n spesiale kommissaris op te dra om ’n ondersoek ter plaatse in te stel en sy bes te doen om ’n versoening te bewerkstellig. (Sien Carter, 1900:142-143.) Maar die tyd vir onderhandelings en demping van die opstand was verby. Dié stryd sou deur wapengeweld beslis word.

 

Die stryd in Natal

Aan die hoof van ’n Brits-Natalse mag, wat uit ongeveer 1 100 offisiere en ander range saamgestel en uit infanterie, artillerie, polisie en vlootsoldate bestaan het, het genl. sir George Pomeroy Colley op 24.1.1881 van Newcastle vertrek, op pad na Pretoria. Reën, mis en feitlik onbegaanbare paaie en natuurlike terreinmoeilikhede het veral die waens langsaam laat vorder. Schuinshoogte, die Ingogorivier met sy aangrensende, langgerekte kop, die Inkwelo, Mount Prospect en Amajuba het, as natuurlike vestings, voorgelê, terwyl – verder na die noordweste – nuwe natuurlike versperrings weerskant van Laingsnek verdere hindernisse meegebring het.

Op 28.1.1881 het die Britse mag ’n teenslag by Laingsnek ondervind, 8.2.1881 het ’n Britse neerlaag by Schuinshoogte meegebring, op 26.2.1881 het Britse afdelings die kruin van Majoeba beset om op die volgende dag deur die Boere verslaan te word. Van die 650 offisiere en ander range wat aan die stryd om Majuba deelgeneem het, het 24 offisiere en 300 manskappe gesneuwel, terwyl 20 offisiere en 482 manskappe as gewondes vermeld is. (Sien Lehmann, 1972:260.) Die Boere het die verlies van burger Johannes Bekker, van die distrik Middelburg, en ’n vyftal gewondes betreur. (Sien Carter, 1900:300.)

Foto: Die Britse troepe bestyg Majoeba, 26.2.1881 (Foto: TAB/The Illustrated London News, 23.4.1881)

Genl. Colley het op die kruin van Majoeba gesneuwel, terwyl genll. P.J. Joubert en Nicolaas J. Smit aan die kant van die Boere die louere weggedra het en die meerdere mate van terreinkennis van die burgers as ’n belangrike bydrae tot die oorwinning beskou is.

Naarstig is, van Britse kant, gesoek na ’n verklaring van die ramp van Majoeba, ’n aangeleentheid waaroor hier nie verder uitgewei word nie (sien Carter, 1900:302-303; Lehmann, 1972:264-265), behalwe dat Lehmann aan Tacitus se uitspraak herinner het dat, in geval van ’n oorwinning almal aanspraak daarop maak en dat, wanneer teenslae kom, slegs een man die blaam moet dra!

Die oorwinning op die kruin van Majoeba het lengte en breedte van die wêreld weerklink en is o.m. in Nederland, in die vorm van straatliedjies vasgelê. (Sien Wouters, 1940:20-21; Selby, 1969.)

Brig.-genl. sir Evelyn Wood, V.C., het – met versterkings – die teuels van genl. Colley oorgeneem, maar sy belangrikste taak was om tot ’n vergelyk met die Transvalers te kom, terwyl burgers in Transvaal die Britse dorpsgarnisoene ingesluit gehou het.

 

Die verdere verloop van die stryd. Vredesonderhandelings

In die Natalse bergwêreld, naby die Transvaalse grens, herinner ’n aantal monumente, soos by Laingsnek, Ingogo, Schuinshoogte en op die kruin van Amajoeba, aan die offers wat deur die Britse troepe gebring is in die aangesig van die volvoering van ’n taak wat, menslik gesproke, onmoontlik was. Voor O’Neile se beskeie huisie word, tot vandag toe, die gesneuweldes van die King’s Royal Rifles aan die vergetelheid ontruk. Daar is ’n burgergedenkteken by Schuinshoogte, Britse militêre begraafplase by Mount Prospect en Fort Amiel (Newcastle). Ruim 18 jaar na hierdie stryd sou dieselfde omgewing weer een van die strydtonele tussen Boer en Brit word. Waarlik, daar het in ons geskiedenis, voor en na 1881, ’n onnoemlike hoeveelheid bloed gevloei in Natal: Bloed van Boer en Brit, van Blankes en Swartes!

Foto: Genl. sir George P. Colley se staf by Laingsnek, 28.1.1881. (Foto: TAB/The Ilustrated London News, 26.3.1881)

’n Ander strydtoneel, maar van ’n veel geringer omvang, was Pretoria. Anthony Trollope, wat die Transvaalse hoofstad in 1878 besoek het, en nogal in September, was opgetoë oor die dorp van rose, wilgerbome en watervore, die groot erwe, die dorp waar ’n vierkamerhuis met ’n erf £1 000, vleis 6d per pond en ’n bediende £12 per jaar gekos het. Tewens het hy 600 Britse garnisoenslede gesien wat in tente gehuisves was en verklaar dat offisiere die Britse tradisie na Transvaal oorgedra het. (Sien Trollope, 1878:67 e.v.)

Verder het Trollope die volgende mening oor die staatkundige toekoms van Transvaal uitgespreek:

I think that the English who have now taken the Transvaal will be able, after a while, to rule the Boers and to extort from them the respect without which there can be no comfort between the governors and the governed; – but the work must be done by English and not by Dutch hands. (Sien Trollope, 1878:115.)

Ruim twee jaar later, na die slag van Bronkhorstspruit (20.12.1880), het die Britse militêre bevelhebber van Pretoria, kol. Bellairs, krygswet laat afkondig, voedselvoorrade in beslag geneem en ’n versterkte laers en forte in – en opgerig en oor ongeveer 2 000 weerbares beskik. Genl. Hendrik Schoeman was in bevel van die beleëring. Skermutselings het plaasgevind en van Britse kant het manskap John Danaher en 1/kpl. James Murray weens dapper optrede die V.C. verwerf. Op 14.3.1881 is berig van die gebeurtenisse in Natal (o.m. Amajoeba) deur die beleërdes ontvang, terwyl later die nuus aangaande die wapenstilstand deur die militêre besetting verneem is.

Foto: Kmdt. (later genl.) P.A. Cronjé (Foto: TAB)

Op Potchefstroom het die Britse garnisoen onder kol. Winsloe, beleër deur genl. P.A. Cronjé, tot 20.3.1881 uitgehou. Gedurende die beleg van die fort het 27 Britse soldate gesneuwel, terwyl 31 gewond is. Die Boereverliese het ongeveer die helfte bedra. (Sien Van den Bergh, 1975: 86-87.)

Só het, wat die wapenstryd betref, daar geleidelik rus gekom en is die swaartepunt na onderhandelings verplaas. In Engeland het Eerste Minister Gladstone tot die oortuiging gekom ‘that it would be outrageous to fight solely for the sake of what some called national honour’. (Sien Lehmann, 1972:267.)

Van die kant van die Vrystaters het Staatspresident Brand op onderhandelings aangedring. Genl. sir Evelyn Wood, V.C., wat as genl. Colley se opvolger aangewys is, het ’n volmag van Londen ontvang om te onderhandel en op 6.3.1881 is ooreengekom om agt dae alle vyandelikhede te staak. Op 16.3.1881 het, nadat genl. Wood riglyne van die Britse Minister van Kolonies ontvang het, die onderhandelings in alle erns begin wat o.m. tot erkenning van die Boerebewind en die teruggawe van Transvaal binne ses maande sou lei.

Foto: Die ondertekening van die vredesvoorwaardes by Majoeba, 31.3.1881. Van links na regs: Dirk Uys, Vise-president S.J.P. Kruger, lt. Hamilton, maj. Clark, genl. P.J. Joubert, maj. Fraser, kapt. Cropper, Staatspresident J.H. Brand, kapt. Roberts, genl. sir Evelyn Wood, genl. N.J. Smit. (Foto: TAB/The Illustrated London News, 14.5.1881)

Op 22.3.1881 is die inhoud van die ooreenkoms aan die versamelde Transvaalse burgers en hul Vrystaatse medestryders voorgelees. Vir dié burgers was die stryd verby en – grotendeels gewen. Verdere besonderhede oor die definitiewe vredesooreenkoms is vervolgens deur die sgn. Koninklike Kommissie, bestaande uit Hoë Kommissaris sir Hercules Robinson, sir Henry de Villiers (hoofregter van die Kaapkolonie), en genl. sir Evelyn Wood, en Boereverteenwoordigers eers op Newcastle en daarna te Pretoria uitgewerk.

Op 3.8.1881 is die sgn. Pretoriase Konvensie, ’n dokument van 33 artikels, op Pretoria onderteken deur sir Hercules Robinson, genl. sir Evelyn Wood en sir Henry de Villiers, S.J.P. Kruger, M.W. Pretorius en genl. P.J. Joubert. Eersgenoemde drie ondertekenaars het namens die Britse regering onderteken en die drie laasgenoemdes het in hul hoedanigheid as verteenwoordigers van die volk van die Zuid-Afrikaansche Republiek opgetree. (Sien Leyds, 1906:368-380.)

 

Die Pretoriase Konvensie

Met die Sandrivier-ooreenkoms van 1852 as ’n basis vir vegelyking kan verklaar word dat die konvensie van 1881 in dié opsig ’n verbetering was dat in 1881 die grense van die Zuid-Afrikaansche Republiek noukeurig omskryf is.

Met betrekking tot aangeleenthede betreffende swartes is in 1881 die bepaling neergelê dat dergelike wetgewing deur die plaaslike Britse resident goedgekeur moet word. Waar daar in 1852 ooreengekom is dat die Britse regering geen ooreenkomste met Swartes noord van die Vaal mag sluit nie, is daar in 1881 bepaal dat die Britse regering, behalwe die sluiting van ooreenkomste, die hele veld van die Zuid-Afrikaansche Republiek buitelandse aangeleenthede beheer. Verder is die republiek o.m. verantwoordelik gestel vir die betaling van al die skulde wat voor en na 1877 gemaak is. Die wesgrens van Transvaal is gewysig en Swaziland onttrek aan beheer deur Pretoria.

Tydens die eerste na-oorlogse Volksraadsitting (Sept. 1881) het daar, sowel onder die lede as onder die publiek, misnoeë geheers oor die inhoud van die Pretoriase konvensie, wat vise-president Kruger laat verklaar het dat daar vir die Driemanskap, onder omstandighede, nl. die liefde vir die vaderland en die besorgdheid vir die welvaart van Suid-Afrika, niks anders oorgebly het nie as om die ooreenkoms te onderteken. (Sien Van Oordt, s.j.:367.)

Sover het die Transvalers, danksy die versoenende beleid van Eerste Minister Gladstone en die gevoelens van aanhanklikheid en steun in Afrikanerkringe elders, in 1881 gekom. Voorlopig was daar geen ander keuse nie. Òf die konvensie moes aanvaar word, òf die Transvalers moes weer na die slagveld gaan waar, as gevolg van Britse militêre versterkings, die krygskanse in hul nadeel begin draai het.

In 1884 is, met die Londense ooreenkoms, die Transvalers in ’n gunstiger posisie geplaas. Die Britse resident is deur ’n konsul vervang, terwyl – wat die beheer oor buitelandse betrekkings betref – aan die Zuid-Afrikaansche Republiek vryheid verleen is om verdrae met die suster-republiek, die Oranje-Vrystaat, te sluit.

Die Zuid-Afrikaansche Republiek het, nadat hy in 1881 uit die spreekwoordelike as herrys het, veral na die ontdekking van goud, ’n skouspelagtige tydperk in sy geskiedenis tegemoet gegaan. In 1899 het, om dieselfde redes as in 1880, die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek waarin, in teenstelling met 1881, die Britse imperialisme, die oorwinning behaal het. Hierdie oorwinning was tydelik en in sterk veranderde, staatkundig onafhanklike Republiek van Suid-Afrika, sien ons nie alleen ’n ander wêreld as in 1880 nie, maar terselfdertyd ook ’n ander Britse ryk en ’n ander Suid-Afrika. Maar in een opsig het hierdie wêreld nie verander nie en, wat dit betref, kan ons ’n les leer uit die gebeurtenisse wat ons geskets het, nl. dat – nog meer as ooit te vore – die wil van die mens met sy ideale om staande te bly in die storms van die tye, belangriker is as dalk ooit voorheen die geval was.

 

Die buiteland en die oorlog in Suid-Afrika

In die buiteland, met name in Engeland en Nederland, om dié vernaamste lande te noem, het sowel die anneksasie as die daaropvolgende militêre gebeurtenisse, belangstelling opgewek. Dié belangstelling het verder gegaan as die pro-Boerstraatliedjies waarna reeds verwys is.

Wat Engeland betref was daar, tydens die anneksasietydperk, reeds ’n mate van afkeuring merkbaar soos o.m. uit ’n werkie blyk wat onlangs onder ons aandag gekom het. Heruitgegee deur die Staatsbiblioteek, Pretoria, is Robert Spence Watson se lesing ‘The History of English Rule and Policy in South Africa’, op versoek van die ‘Liberal Association’ van Newcastle in 1879 gehou, ’n voorbeeld van Britse afkeuring.

Watson het te velde getrek teen die volgende bewerings: Dat die inwoners van die Zuid-Afrikaansche Republiek die anneksasie sou begeer het, dat hulle slawerny sou bedryf, dat hulle besonder wreedaardig teen Swartes sou opgetree het in oorlogstyd, dat die Swartes die burgers sou verslaan en dat die Swartes o.m. die anneksasie sou begeer het.

Volgens hom het landhonger die anneksasie veroorsaak en is die Zoeloes onregmatig aangeval en beveg. Hy het sy mening oor hierdie aangeleenthede soos volg geformuleer:

For of one thing be certain, that in dealing with either savage or civilized peoples right and justice will ultimately go the furthest.

Van die latere Staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek, dr. W.J. Leyds, kom die vermelding dat die toekomstige Britse Eerste Minister, W.E. Gladstone, tydens die parlementêre verkiesingsveldtog van 1879 die anneksasie van Transvaal sterk veroordeel het. (Sien Leyds, 1906: 386 e.v.)

Hy het die anneksasie veroordeel as ’n daad wat die karakter van die Britse volk onteer het. Die leier van die amptelike opposisie, die markies van Hartington (later: die hertog van Devonshire) het in sy antwoord op die troonrede (Febr. 1880) verklaar dat die Britse parlement die anneksasie onder verkeerde indrukke en op grond van onjuiste inligting bekragtig het en ’n pleidooi vir die herstel van die Transvaalse regering gelewer.

Buite die Britse parlement was daar, reeds voor 1880-1881 simpatiseerders met die Transvalers soos die Skotse reder Donald Currie, die bekende Britse geskiedskrywer James A. Froude en die lede van die ‘Transvaal Independence Committee’ (1881) met dr. G.B. Clark as een van die bekendste bestuurslede. Hierdie groep het vergaderings belê en vlugskrifte uitgegee, terwyl ’n deel van die Britse pers ook die reg en die belange van die Transvalers bepleit het. (Sien Davey, 1978.)

In die Britse parlement is ook petisies uit Transvaal, sowel ten gunste van die voortsetting van die anneksasie as daarteen ter tafel gelê. (Sien Carter, 1900:492 e.v.) Op dié wyse het ’n deel van hierdie petisies ook die posisie en strewe van die pro-Boerbeweging in Engeland versterk.

Dié agitasie vorm die grondslag vir aanmerklik sterker pogings wat, in dieselfde kring, van 1899 –  1902 onderneem is ten gunste van die Boere.

In Nederland het die bestaande belangstelling in die wel en wee van die Transvalers wat reeds voor die sewentiger jare deur prof. U.G. Lauts opgewek is, gegroei tydens die besoek van Staatspresident T.F. Burgers. (Sien Pont, 1931:64 e.v.; Appelgryn, 1979:85 e.v.) Die Staatspresident het, aldus prof. dr. J.W. Pont, tydens sy besoek aan Nederland die gedagte gewek

dat er onder het Zuiderkruis een ‘Groot Holland’ kon ontstaan. Hij heeft velen voor Transvaal warm gemaakt.(Pont, 1931:95)

Onder hulle wat aan Burgers se roepstem gehoor gegee het om hulle lot met die Transvalers te vereenselwig was dr. E.J.P. Jorissen.

Die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek het o.m. prof. G.W. Vreede, van Utrecht, laat besluit om teen dié daad te protesteer. (Sien Harting, 1961:207.)

Van die hand van prof. dr. Pieter Harting (1812-1885) is, in Desember 1880, ’n adres onder die titel ‘The People of the Netherlands to the people of England’ aan koningin Victoria gestuur. (Sien Harting, 1961:135.) Harting het, aan die begin van 1881, begin om geld in te samel vir Transvaalse oorlogslagoffers, terwyl tewens die ‘Hoofdcomité ter bevordering van de belangen der Transvaalsche Boeren’, bygestaan deur plaaslike komitees, sy verskyning gemaak het.

Deur die Amsterdamse ‘Transvaal-comité’ is ook geld ingesamel. Op 12.5.1881 het, in die stad Utrecht, die ‘Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging’ tot stand gekom met die doel om die werksaamhede van die bestaande tydelike kommissies oor te neem deur die betrekkings tussen Nederland en Suid-Afrika staande te hou, uit te brei, te versterk en te verdiep. Prof. dr. P. Harting is as ere-voorsitter van die N.Z.A.V. benoem en in September 1881 was die ledetal, uit vooraanstaande kringe saamgestel, ongeveer 300.

Die N.Z.A.V., wat veral gedurende en kort na die Tweede Vryheidsoorlog ’n belangrike rol gespeel het om die bestaande nood in ons land te lenig en by te dra tot die heropbou na 1902, sal in 1981 sy honderdjarige bestaan herdenk.

Die belangstelling in die wêreld wat deur die anneksasie en die Eerste Vryheidsoorlog ten opsigte van Transvaal geprikkel is, was die voorloper van kragtige, wêreldomvattende pro-Boerbewegings wat die jare van stryd tussen 1899 en 1902 sou kenmerk.

Ons het saam, aan die hand van hierdie beknopte en, uit die aard van die saak onvolledige oorsig, in ons gedagtes ’n vergange tydperk herbelewe, ’n tydperk wat ’n eeu of meer agter ons lê; ’n tydperk waarin die tydelik verlore vryheid grotendeels herrys het, om later, weer tydelik, geheel en al onder te gaan om daarna weer ten volle te herrys. En in hierdie proses, so vol verandering, gaan ons gedagtes uit na H.A. Fagan se gedig ‘Ek het geswerwe oor die oseaan’ en veral na dié versreëls waarin die digter vra:

Hoe het my boot nog steeds sy weg gevind?

Hoe het dit altyd nog vooruitgebeur

Teen magte wat dit her- en derwaarts sleur,

Teen noodlot en teen toeval – stroom en wind?

 

En dan die antwoord:

Daar is – ek sien dit, o, so duid’lik nou –

’n Sterker hand as myne aan die stuur.

’n Oog wat helder deur die newels tuur.

’n Wysheid wat onfeilbaar koers kan hou.

 

Bron: Kol. Dr. Jan Ploeger, Desember 1980, September: 2-15.

 

Leeslys:

Appelgryn, M.S. 1979. Thomas Francois Burgers Staatspresident 1872-1877. Pretoria/Kaapstad: HAUM.

Bredell, H.C & Grobler, Piet. 1947. Gedenkskrifte van Paul Kruger. Pretoria: JL van Schaik.

Carter, T.F. 1900. A narrative of the Boer War. Londen: John Macqueen.

Davey, A. 1978. The British Pro-Boers 1877-1902. Kaapstad: Tafelberg.

Du Plessis, J.S. & Krüger, D.W. s.j. President Kruger aan die woord. Bloemfontein: Sacum.

Du Toit Spies, F.J. 1955. Pretoria 1855-1955. Pretoria.

Du Val, Charles. 1885. With a show through Southern Africa. Londen: Tinsley.

Harting, P. 1961. Mijne Herinneringen. Amsterdam: N.V. Noord-Hollandsche uitgeversmaatschappij.

Jeppe, Fred. 1877 Transvaal Book Almanac and Directory for 1877. Pietermaritzburg.

Jorissen, E.J.P. 1897. Transvaalsche herinneringen 1876-1896. Amsterdam/Pretoria: JH de Bussy.

Lehmann, J. 1972. The First Boer War. Londen: Jonathan Cape Ltd.

Leyds, W.J. 1906. De eerste annexatie van de Transvaal. Amsterdam: Albert de Lange.

Lion Cachet, F. 1881. De Worstelstrijd der Transvalers. Amsterdam: Hoveker en Zoon.

Pont, W.J. 1931. De Betrekkingen tusschen Nederland en Zuid-Afrika. In: Nederland-Zuid-Afrika Gedenkboek 1881-1931. Amsterdam: Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging.

Selby, J. 1969. The Boer War. A study in cowardice and courage. Londen: Arthur Barker Ltd.

Trollope, A.  1878. South Africa. Londen: Chapman and Hall.

Tromp, Theod. M. 1879. Herinneringen uit Zuid-Afrika ten tijde der annexatie van de Transvaal. Leiden: E.J. Brill.

Van den Bergh, G.N. 1975. Potchefstroom en die Eerste Vryheidsoorlog, 16 Desember 1880 tot 21 Maart 1881. Krygshistoriese Tydskrif, 3(3):79 e.v.

Van Oordt, J.F. s.j. Paul Kruger en de Opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek. Amsterdam/Kaapstad: Jacques Dusseau.

Van Tonder, J.J. (red.). 1961. Veertien gedenktekens van Suid-Afrika. Kaastad: N.B.B.

Wouters, D. 1940. Na veertig jaar. Nijmegen: G Moorman.