Die oorgawe van die Republiek Natalia onder die akasiaboom in Pietermaritzburg – 1842

Die Havemann-dagboek
April 7, 2017
Die ossewa
April 7, 2017

(Oorgeneem uit Handhaaf van Oktober 1970 en geskrywe deur dr. JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1971)

Die Voortrekkerrepubliek Natalia het na ’n kortstondige bestaan van byna vier jaar op 15 Julie 1842 onder hierdie boom tot niet gegaan. Maar die vryheidsideale van die jong Boerevolk is daardeur nie vernietig nie want die staan- en bestaanskrag van die Afrikaners het daarna tot groter dade ontwaak soos dit in die gevleuelde woorde van die Voortrekkermoeder gekristalliseer is toe sy gesê het dat die Vryheidstrekkers eerder kaalvoet oor die Drakensberg sou terugstap as om onder die Britse regering te staan.

Na sy neerlaag by Bloedrivier het Dingaan Umgungundhlovu aan die brand laat steek en al sy volgelinge het gevlug. Nie lank daarna nie is hy deur sy eie mense vermoor. Duisende ontwrigte naturelle het daarna oor Natal begin ronddwaal en die Voortrekkervolksraad moes weer ’n ordelike samelewing bevorder en beplan.

Panda het die leier van die Zoeloes geword en hy het met die blankes goed saamgewerk. Elke boer kon op sy plaas hoogstens vyf naturelle-huisgesinne as werkvolk aanhou. Rasseverdeling en gebiedsindeling is op ’n billike manier toegepas sodat die bewoners van Natal in vrede en rus kon lewe.

’n Paar duisend ronddwalende naturelle is na die suidelike grens gesegregeer. Dit het kommer by die Kaapse regering laat ontstaan dat die oosgrens van Kaapland weer ’n broeines van ontevredenheid kan word met die moontlikheid van botsings en oorlog.

’n Strafkommando het teen die wederstrewige Bakastam suksesvol opgetree. Dit het aanleiding tot klagtes van sommige Wesleyaanse sendelinge gegee dat die Natalse regering die naturelle onderdruk. Die Pondo-opperhoof, Faku, het hom ook bedreig gevoel en sy oë op die Britse regering gerig om hulp te kry as die blankes hom sou aanval.

Die Volksraad het ’n inboekstelsel daar gestel waardeur verwaarloosde naturellekinders by boere geplaas kon word waar hulle veilig kon opgroei en van nut kon wees. Sommige sendelinge het daarvan ’n beskuldiging van slawerny gemaak.

Die Britse regering het ook besorgd geraak oor die besoek van die Nederlandse handelsvaartuig Brasilië van 26 Maart tot 24 April 1842 in Port Natal. In Augustus die vorige jaar het ’n Amerikaanse skip ook reeds in die hawe ’n beperkte handel gedrywe. Daar was selfs vermoedens dat die Franse regering ook die Britse gesag in Suidoos-Afrika kon aantas.

Dit was die toedrag van sake wat daartoe gelei het dat die Britse regering aan kaptein T.C. Smith opdrag gegee het om vanaf die Kaapse oosgrens met sy 250 soldate na Port Natal te marsjeer waar hulle aan die begin van Mei 1842 die Union Jack in die Voortrekkerhawestad gehys het.

Nou sou daar vonke spat. Generaal Andries Pretorius het met ’n kommando teen die vreemde Britse indringers opgeruk en naby die hawe by Congella laer getrek. ’n Gespanne verhouding het tussen Pretorius en Smith ontstaan en ’n vreedsame oplossing kon nie bereik word nie, want die Britte het gekom om daar te bly.

Kaptein Smith het toe besluit om ’n skielike onverwagte aanval in die stilte van die nag op die Voortrekkerlaer te maak. Dit was ’n volslae mislukking en die Britte is met swaar verliese teruggedryf. Smith het sy kamp versterk en gewag. Pretorius het die soldate-vesting beleër en aan die gewondes en gestorwenes behoorlike aandag gegee. Hy het nie militêr-drasties opgetree nie.

Net na die Congella-slag het Dick King in die stilte van die nag uit Durban vertrek en die 600 myl na Grahamstad te perd in minder as tien dae afgelê. Hy het militêre hulp gaan ontbied en in Junie het die ontsettingsmag onder lt.-kol. A.J. Cloete by Port Natal aan wal gestap.

Die Boerekrygers was teen daardie kanonne en ander krygstuig nie bestand nie en hulle het na Pietermaritzburg teruggeval. Die Natallers se militêre weerstand het daarmee ten einde geloop. Die onderhandelings om die Voortrekkers se onafhanklikheid te handhaaf, was nie suksesvol nie. Die gevolg was dat die onderwerpingsvoorwaardes onder daardie akasiaboom in Pietermaritzburg onderteken is.

Daar is bepaal dat alle gevangenes vrygestel moes word en ammunisie moes uitgelewer word. Gekonfiskeerde openbare en private eiendom moes teruggegee word. “… The emigrant farmers of Natal … entered a solemn declaration of submission to Her Majesty’s authority …”

’n Algemene amnestie is aan alle persone wat teen die Britse troepe geveg het, verleen behalwe aan A.W. Pretorius, Joachim Prinsloo, J.J. Burger, Michiel van Breda en Servaas van Breda. Nadat die reëlings van die oorgawe in besonderhede vermeld is, volg ’n aanvullende paragrafie waarin amnestie tog ook aan Pretorius verleen word, “In considerarion of Mr. A.W. Pretorius having co-operated in the final adjustment of these articles, and of his personal human conduct to the prisoners, and his general moderation …”

Die president en die volgende lede van die Volksraad het die dokument van oorgawe onderteken: J. Boshof (pres.), P.A.R. Otto, W.H. Marais, E.F. Potgieter, J. Bodenstein, H. St. Lombaard, J.H. Bruwer, P. Bester, C.J. van Heerden, J. du Plessis, W.J. Pretorius en L.S. Botha.

Die Britse gesag dra die naamtekeninge van: Luitenant-kolonel A. J. Cloete en majoor W.J. D’Urban.

Die vreedsame vestiging van die Voortrekkers in Natal het met hierdie naamtekeninge onder die akasiaboom ren einde geloop, maar dit het gelei tot die Tweede Trek uit Natal wat later die ontstaan van die Vrystaatse en Transvaalse republieke as gevolg gehad het.

Die akasiaboom staan in die tuin van die Natalse Administrateur in Pietermaritzburg. In ’n brief van 24 Maart 1970 meld die privaatsekretaris van die Eerste Burger van die Tuinkolonie dat die boom onlangs die pad van alle hout of stof gegaan het en dat dit afgesaag moes word. Die stomp van ongeveer ses voet hoog met die bronsplaat daaraan staan nog in die tuin.

Mag die dag spoedig aanbreek dat jong sterk bome van dieselfde soort oral in ons land aangeplant word waar bome van historiese waarde verdwyn het. Dit is ook ’n belangrike aspek van die toepassing van praktiese vaderlandsliefde.