Jan Pierewiet
Desember 6, 2018
Daar kom die Alibama
Desember 7, 2018

Nadat  oud-president Nelson Mandela as die eeste volle demokratiese president van Suid-Afrika ingehuldig is, het hy die gedig “Die kind” van Ingrid Jonker tydens sy eerste toespraak in die Parlement aangehaal.

Ingrid Jonker is op 19 September 1933 op ’n plaas naby Douglas in die Noord-Kaap gebore. Jonker se ouers is voor haar geboorte uitmekaar. Toe sy tien jaar oud was, het haar ma haar eie lewe geneem nadat sy aan depressie gely het. Sy en haar suster het aan die Wyberg Girls High School in Kaapstad skoolgegaan, en daar het sy begin om gedigte te skryf. Hulle het later by hul pa, wat toe al vir ’n derde keer getroud was, ingetrek, maar hulle is as buitestaanders behandel en dit het ’n blywende invloed op haar verhouding met haar pa gehad. Die bekende digter DJ Opperman het haar werk beïnvloed en sy en Opperman het gereeld gekorrespondeer. Sy het haar eerste versameling gedigte met die titel Na die somer, voltooi toe sy dertien jaar oud was, maar hoewel verskeie uitgewers in haar werk belanggestel het, is sy aangeraai om te wag voordat sy dit sou publiseer.

Ingrid is in 1956 met Pieter Venter getroud en hul dogter, Simone, is die volgende jaar gebore. Hulle het Johannesburg toe verhuis maar drie jaar later is hulle geskei en het Ingrid en Simone terugverhuis Kaapstad toe. Ingrid se pa was ’n parlementslid van die regerende Nasionale Party en hy is aangestel as die voorsitter van die parlementêre komitee vir sensuur. Ingrid was ten sterkste gekant teen sensuur en die verskille tussen hulle het openbaar geword. Hy het selfs tydens ’n parlementêre toespraak ontken dat Ingrid sy dogter was. Sy het verhoudings met twee skrywers, onder wie André P Brink, aangeknoop; een daarvan het op ’n swangerskap uitgeloop. Aborsie was destyds ’n misdaad in Suid-Afrika, maar sy het dit nogtans laat doen. Dit, tesame met die invloed wat haar pa se verwerping op haar gehad het, het gemaak dat sy in 1961 in die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal opgeneem is. Haar ma is jare tevore in hierdie hospitaal oorlede.

Haar digbundel Rook en oker is in 1963 vrygestel nadat dit vertraag is as gevolg van die konserwatiewe benadering van haar uitgewer. Hoewel dit baie goed deur skrywers, digters en resensente ontvang is, was die Suid-Afrikaanse publiek glad nie so ontvanklik daarvoor nie. Saam met Breyten Breytenbach, André P Brink, Adam Small  en Bartho Smit was sy deel van die Sestigers, wat die konserwatiewe literêre norme van daardie tyd uitgedaag het. Op 19 Julie 1965 het Ingrid haar eie lewe geneem. Sy het by Drieankerbaai in Kaapstad in die see gestap en verdrink. Selfs met Ingrid se dood het haar pa haar verwerp, aangesien hy haar skrywers- en digtersvriende wat haar gedenkdiens wou bywoon, weggejaag het.

Veral Laurika Rauch het heelwat toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte getoonset en treffers daarmee gehad. Die eerste hiervan was “Toemaar die donker man”, wat op haar eerste album Debuut verskyn het. Onder die ander toonsettings van Ingrid se gedigte wat treffers vir Laurika geword het, was “Begin somer” en “Kabouterliefde”. Anneli van Rooyen het een van haar bekendste gedigte, “Bitterbessie dagbreek”, getoonset en op haar album Ek wil jou ken ingesluit. Om saam te val met die veertigste herdenking van Ingrid se dood, het Chris Chameleon die album Ek herhaal jou met verskeie toonsettings van Ingrid se gedigte vrygestel. “Die onverkrygbare” was die groot treffer vanaf daardie album, maar ander gedigte wat hy getoonset het, was “Jy’t my gekierang”, “Lied van die lappop”, “My pop val stukkend”, “Korreltjie sand” en “As jy slaap”.

The post Die onverkrygbare appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico