Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand

Dingaan wil die Trekkers uitdelg
August 31, 2015
Die Matabele word verslaan
August 31, 2015

Geskryf deur JK Venter, Strubenskool, Langlaagte, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1958

Dit was ’n heerlike Sondagmôre vroeg in die jaar 1886 toe George Walker saam met sy ou maat George Harrison ’n besoekie by hulle vriend, George Honeybal, gaan aflê het.

George Harrison, ’n Australiër, wat vir ’n tyd lank op die Barbertonse goudvelde gewerk het, het in die loop van sy soektogte op die plaas van die weduwee Oosthuizen aangekom om werk te vra. Die huisie van die weduwee was bra klein en ongerieflik en omdat George ’n klipmesselaar van beroep was, het die weduwee hom gehuur om ’n klipkombuis aan te bou. Intussen het sy die kos by ’n buite vuurmaakplek voorberei. George het in ’n ou afdakkie geslaap. Hier het sy vriend, George Walker, wat vroeër by die Strubens verder na die weste goud gesoek het, opgedaag op ’n paar dae se besoek en saam het hulle oor die lang laagte gestap suidwaarts na waar George Honeybal gewoon het.

Die gras was lank as gevolg van die oorvloedige somerreëns en al geselsende het hulle voortgestap, sommer so deur die veld. Die wêreld was oop en die beeste het heerlik in die lang gras gewei. George Walker het voor geloop en toe hy omkyk na sy maat het hy sy voet teen ’n klip gestamp. Hy moes die voet seker hard gestamp het, want hy het sy skoen uitgetrek om die skade te ondersoek. Sy toon was nerfaf.

George Harrison het egter meer belangstelling in die rots as in die beseerde toon van sy vriend getoon. Sy geoefende prospekteerdersoog het dadelik iets gemerk. Hy het die hamertjie wat hy altyd in sy sak gedra het en waarmee hy maar altyd stukkies klip afgekap het van rotse wat belowend gelyk het, uitgehaal en ’n paar monsters afgekap. Hiermee het hy teruggekeer na die ou opstal wat toe gestaan het min of meer waar die teenswoordige Hoërskool Homestead Park geleë is. Op pad het hy ’n ou stukkende ploegskaar en ’n geroeste bout opgetel. Hulle moes by gebrek aan ’n behoorlike hamer en vysel dien om klippe mee fyn te stamp en tot poeier of stof te maal.

By die opstil was die weduwee Oosthuizen, geklee in haar swart rok en kappie en wit voorskoot, juis besig om vleis te braai in ’n pan op die vuur van die buite vuurmaakplek. Water afkomstig van die fontein en ook reënwater van die platdakkie af was in balies gehou. Sy was net besig om die ketel vol te skep uit een van die balies, toe George Harrison daar in aller haas opdaag en orals rondval vir ’n geskikte skottel of iets om die “stof” in te was, of soos hulle gesê het, te “pan”. Skielik het sy oog op die pan vleis op die vuur geval en ongeërg het hy die pan van die vuur af gegryp en die vleis op die grond uitgesmyt en die stof daarin gegooi. Daarmee het hy hom na die balie met drinkwater gehaas en begin om die goed daarin te was, versigtig en met groot sorg, as sou dit ’n groot skat bevat. Hierdie afskeiding van die ligtere materiaal van die swaardere was ’n hele proses. Bietjie vir bietjie word die waardelose ligte stof afgegooi totdat daar naderhand net so ’n fyn, dun lagie oorgebly het.

Skielik, asof ’n verwoede perdeby hom in die middel van die rug gesteek het soos hy daar gebukkend oor die pan staan, het hy orent gespring en sy hoed in die lug gegooi en hees van opgewondenheid
uitgeroep: “Goud, goud!”

So lui die verhaal.

George Walker is daarna terug na Fred Struben wat verder wes na Krugersdorp se kant toe besig was met prospekteerwerk en aan hom bekend gemaak dat hy die Hoofrif ontdek het. Hierdie Fred Struben is eintlik die man wat agter die skerms die aanvoorwerk gedoen het, hoewel hy nooit die eer gehad het om persoonlik die finale en groot ontdekking te maak nie. Hy was ’n regte man van die veld, met sy graaf en sy pik en sy pan. Dit is hy wat bedags tussen die rante in die bloedige son gesweet het en snags tussen die kaal rotse geslaap het in die agtervolging van sy droom dat daar goud langs die “rand van witwaters” was. Dis hy wat op die gedagte gekom het dat ’n goudrif van wes na oos al langs die rand geloop het, nog lank voordat daar ooit gedroom is van goud daarlangs. In die agtervolging van hierdie droom het hy dikwels honger gely en koue verduur en eenmaal selfs sy geweer verkoop om kos te koop en ons weet dat ’n man destyds nie maklik van sy geweer afstand gedoen het nie.

Struben het die rigting van die banketrif gevolg vanaf Paardekraal ooswaarts deur Roodepoort en Vogelstruisfontein na Driefontein. En toe het Walker aan Fred Struben kom vertel dat hy die hoofrif van “Konglomeraat”, die eintlike, goudrif, ontdek het. Fred se broer, HW Struben, het die nuus aan president Kruger oorgebring en op 8 September 1886 het landdros Von Brandis vanaf ’n ossewa in Langlaagte die proklamasie van die goudvelde afgelees.

Daar word vandag nog hewig gestry oor die vraag wie dan eintlik die ware ontdekker van die goudvelde was. Sou die eer aan Fred Struben toekom, die man wat eintlik die “siener” en beplanner was? Sou dit George Harrison wees in wie se naam die ontdekkerskleim geregistreer staan? Tussen hakies, Harrison het seker nie veel van die ontdekking gedink nie, want hy het kort daarna van sy kleim ontslae geraak en van die toneel verdwyn. Daar word beweer dat hy teruggegaan het na die Barbertonse goudvelde, waar hy deur ’n leeu verslind is!

Was dit die Strubens of Harrison of miskien die groottoon van George Walker, soos die verhaal lui, wat die ware ontdekker van die Hoofrif was? Sal ons ooit weet? Hoe dit ook al sy, ons behoort hulle almal se name in ere te hou, want op een of ander manier was hulle almal daarby betrokke.

In die kantoor van die Strubenskool op die Hoofrifweg, Langlaagte, waar die oorspronklike ontdekking gemaak is, hang ’n portret van Fred en Harry Struben met die opskrif:

“Ter herdenking van die Strubenbroers, Harry en Fred, wat deur hulle uitgebreide en aanhoudende prospekteer- en mynwerk op Witwatersrand, van 1884 tot vroeg in 1886 die gevolglike ontdekking van die hoofrifgroep van konglomerate onvermydelik gemaak het. Hulle het indiwidueel die meeste bygedra tot die ontdekking van die Witwatersrandse Goudvelde.”