Die ontdekking van die goudriwwe van die Witwatersrand

’n Belangrike datum – 14 Augustus 1875
March 23, 2017
Meubilering en versiering van die pioniershuis
March 23, 2017

(geskryf deur LT de Jager, Meyertonse Laerskool, soos verskyn in Junior Historia, Februarie 1965)

Ons weet ongelukkig nie veel van die geskiedenis van prospekteerwerk in die Transvaal voor die tagtigerjare nie.

Daar is wel aanduidings van alluwiale goud en goud in riwwe op die Witwatersrand deur pionier-prospekteerders gevind voor die werklike ontdekking van die ryk riwwe. Karel Kruger het in 1834, John Davies in 1852, Pieter Jacob Marais in 1853, mnr. Lys in 1862 en Henry Lewis, ’n Australiese delwer in 1874 aanduidings van goud op die Witwatersrand ontdek.

Daar was op hierdie stadium geen belangstelling in hierdie ontdekkings nie. Gevolglik is niks verder gedoen om hierdie ontdekkings op te volg en te benut nie. Belangstelling sou weer gaande gemaak word met die begin van prospekteerwerk deur die Struben-broers op die Witwatersrand. Mnr. Lourens Geldenhuis, eienaar van die plaas Wilgerspruit, net noord van Roodepoort, het die bal aan die rol gesit. Hy het na mnr. Harry Struben, naby Pretoria, gegaan en hom vertel dat na wat hy in Barberton opgemerk het die Witwatersrand vir hom baie belowend lyk.

Mnr. Struben het sy broer Fred, ’n geoloog, opdrag gegee om die Witwatersrand te fynkam en ’n studie van die formasies te maak. Fred Struben en mnr. Geldenhuys het vir myle en myle langs die rif, van oos na wes, te perd gery. Fred se verslag aan sy broer was baie gunstig. Die Struben-broers het toe met alle erns in Januarie 1884 op die Witwatersrand begin prospekteer.

Die Struben-broers het op die plaas Sterkfontein begin en daar goud gevind en in dieselfde jaar ook op die plaas Wilgerspruit. In dieselfde jaar het hulle ook die banketriwwe op die plaas Groot Paardekraal, wat tans Krugersdorp genoem word, ontdek. Hierdie vonds het later aanleiding gegee tot die ontdekking van die ryk hoofrif-reeks in 1886 deur George Walker, wat ’n tyd lank, voor die ontdekking, in diens was van die Struben-broers.

In Suid-Afrika, ’n land van ongeskonde, uitgestrekte vlaktes, bewoon deur veeboere, wat die deinende vlaktes hier en daar geskend het met klein, verspreide landjies om in hulle nodigste behoeftes te voorsien, het die ontdekking van die fabelagtige Witwatersrandse hoofgoudrif ’n groot opskudding verwek. Die hele wêreld het daarvan gepraat.

In daardie stadium het Suid-Afrika ’n klein hoeveelheid goud opgelewer. Daar was klein myntjies in die gebied Lydenburg – Pelgrimsrust.

By De Kaap, naby Barberton, is in 1885 spoelgoud (alluwiale goud) ontdek. Barberton is oorstroom deur fortuinsoekers en heel gou het Barberton 10 000 inwoners gehad. Na ’n jaar was Barberton weer ’n spookdorp.

Die belangrikste ontdekking van die hoofrif is in Februarie 1886, soos reeds genoem, deur George Walker gedoen. Walker was eers ’n steenkoolmynwerker êrens in Engeland en later ’n prospekteerder en gouddelwer op die Barbertonse goudvelde. Op sy weg terug na Barberton het Walker by sy eertydse Barbertonse maat, George Struben, by Langlaagte aangegaan. Op uitnodiging van sy vriend het Walker besluit om ’n rukkie hier te vertoef.

Sondae het hy op die plaas Langlaagte, eiendom van mnr. Gert C. Oosthuizen, gaan wandel op soek na gouddraende riwwe. Een Sondagoggend, die eerste Sondag van Februarie 1886, het Walker in die hoë tamboekiegras oor die rifdagsoom gestruikel en sy knie ook nog beseer. Terwyl hy nog so sit en sy knie vryf, sien hy die rif. Hy het ’n monster van die rif afgebreek en in sy sak gesteek. Hy het hom na mev. Oosthuizen se huis daar naby gehaas en by haar ’n gewone kombuispan geleen. Hy het al die vetterigheid uit die pan gebrand en gewas en is toe daarmee na die watersloot. By die watersloot het hy met ’n geroeste groot ysterbout die erts op ’n ou ploegskaar fyn gestamp en daarna die fyn erts in die pan gewas en tot sy groot blydskap was daar ’n lang streep fyn goud in die pan sigbaar.

Dieselfde aand, na Walker en sy vriend Harrison en ’n sekere Honeyball in ’n kroeg in die huis van mnr. Koos Malan op Langlaagte, ’n paar doppe gesteek het, het hy ’n stuk van die erts aan sy twee vriende getoon. Die volgende dag het Walker ’n geskrewe opsie van die eienaar, mnr. Oosthuizen, gekry om daar te prospekteer.

Walker het selfs so ver as Potchefstroom en Pretoria gereis om geld te leen om die prokteerregte op die plaas en die prospekteerkoste te lek. Hy kon nêrens geholpe raak nie. Die besigheidsmense kon nie glo dat daar ’n betalende rif op die Witwatersrand was nie. Hy moes tevrede wees met twee “ontdekkerskleims” wat aan hom toegestaan is. Een daarvan het hy nog aan sy maat Harrison present gegee. Later jare het die Kamer van Mynwese hom ’n mooi som gegee uit erkenning vir die groot diens wat hy aan Suid-Afrika bewys het.

Van oor die wêreld het fortuinsoekers na die Witwatersrandse goudvelde gestroom.

Kort na hierdie ontdekking van Walker is die hoofrif op die plase Roodepoort en Vogelstruisfontein ontdek deur JJ Bantjes. Teen September 1886 het die Regering nege plase tussen Germiston in die ooste tot by Roodepoort in die weste tot openbare delwerye geproklameer.

Henry Nourse het goud op Doornfontein ontdek. Geldenhuyz het op die plaas Turffontein en Struben in die Germistonse omgewing goud ontdek.

Die goudnywerheid het so vinnig ontwikkel dat die Witwatersrand teen 1892 die vierde grootste goudprodusent in die wêreld was en teen 1895 was die Witwatersrand die grootste goudprodusent in die wêreld en is dit vandag nog.

Waar 78 jaar gelede nog uitgestrekte weivelde was, is vandag Suid-Afrika se digsbevolkte en belangrikste nywerheidsgebied – die Witwatersrand. Na die ontdekking van goud het ’n hele aantal myndorpies soos paddastoele opgeskiet en opgebloei tot tans vooruitstrewende nywerheidsdorpe en stede.