Die oes van die eeu

’n Kulturele nasionalisme
January 26, 2015
Godsdienstigheid van die trekboere
January 27, 2015

Wat het die Afrikaner in die twintigste eeu tot stand gebring? Twee gebeurtenisse van die laaste maande van 1999 vestig die aandag op ’n deel van Afrikaans se “oes van die eeu”.

Die eerste was die verskyning in Nederland van Gerrit Komrij se bloemlesing De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten, ’n boek van 1179 bladsye. In skaars twee weke is die hele eerste druk van 10 000 eksemplare uitverkoop en moes ‘n tweede druk bestel word.

Vir ’n deel kan ‘n mens die verbasende groot oplaag beskou as ’n vorm van erkenning aan die prestasies van Afrikaans. “Er is toch zoveel moois in de Afrikaanse poëzie”, skryf een van die resensente. Dit is nie die eerste erkenning wat Afrikaans die laaste dekade in Nederland en Vlaandere kry nie. Vertaalde prosawerke verkoop flink. Seker die grootste erkenning is die verskillende Nederlandse literêre pryse wat aan Elisabeth Eybers vir haar (Afrikaanse) poësie toegeken is – veral die PC Hooftprys in 1991 (sien 11 Desember). Nog verder terug is daar die eredoktoraat van die Rijksuniversiteit van Utrecht aan NP van Wyk Louw in 1948 (sien 3 November).

Die tweede skouspelagtige gebeurtenis van die laaste weke van die 20ste eeu was die koms van die nuwe Afrikaanse televisiekanaal kykNET op 15 November 1999. KykNET het aan sy begin nie net nuwe programme aangebied nie, maar ook herhalings van ou rolprente en TV-materiaal soos PG du Plessis se Koöperasiestories, wat kykbaar en genietbaar gebly het. KykNET is ’n onderneming van M-Net, wat daagliks ’n tweetalige sepie, Egoli, aanbied.

Tussen die poësie en die massavermaak is daar baie ander werke wat mens tot “die oes van die eeu” kan reken: romans, kortverhale, wetenskaplike artikels en boeke, woordeboeke, koerante en populêre tydskrifte. Die laaste jaar van die eeu het nuwe belangstelling in die verlede gebring. Werke oor die Anglo-Boereoorlog het selfs verkoopsuksesse geword.

Kyk mens verder as die letterkunde en verwante kultuur is daar die tallose bydraes wat Afrikaanstaliges tot die opbou van die land gelewer het in die onderwys, die wetenskap, die handel en nywerheid, die geneeskunde, die regswese, die landbou. Suid-Afrika is al die nywerheidsreus van Afrika genoem, ook die graanskuur van die vasteland. Wat op dié terreine bereik is, behoort ook tot die oes van die eeu. Ook dit is ’n regverdiging van die Afrikaner se bestaan, sy beplanning en arbeid wat nie altyd genoeg erkenning kry in ’n tyd van verguising nie.

“Laat ons nie roem nie”, het Van Wyk Louw in 1959 gesê. Die dinge wat Afrikaans bereik het, kan ons noem, “nie met grootspraak nie, maar ook nie sonder die beskeie trots waarop ons geregtig is nie.” Daaraan, sê hy, kan ons ook dink in tye van “bekommerdheid oor wat vir ons voorlê in baie jare, in ééue van die toekoms.” Van Wyk Louw sê daarby dat profeteer vermetel is; al wat ons toegelaat word om te ken, is die hede en die verlede.

“Oor wat ons taal sál word, of oor wat ván hom sal word, kan ons dus nie praat nie – behalwe met hartstogtelike verlange.”