Die nood van die terugkerendes

“Misdaad teen die mensdom”
January 22, 2015
Die triomftog van die oorwinnaar
January 23, 2015

Die historikus DW Krüger skryf aangrypend oor die terugkeer van die bittereinders – “die taaiste manne wat Suid-Afrika opgelewer het”, noem hy hulle – na die land van murasies, grafte, afgebrande dorpe, kerke wat deur die vyand in puinhope verander is.

Wanneer die wapens afgelê word, praat die kommandant die laaste keer, en menige burger is aangedaan, want dit is ’n afskeid van die kommandomaats, van die vrye veld en van die vrye Republiek. “Elke klompie manne kies die naaste pad na hulle tuiste, hier en daar draai ’n paar af, die groep word kleiner, eindelik is dit nog net ’n paar man, en dan ten laaste een burger alleen wat voortry op weg na sy plaas.

“Wanneer hy die werf binnery, merk hy die verwoesting en verlatenheid. Sy familie is weg, sy diere geroof en sy woning afgebrand. Hy is byna tot die bedelstaf geruïneer en moet alles van voor af begin opbou, soms sonder die hulp van vrou en kinders, wat eers veel later of soms glad nie van die konsentrasiekampe af terugkeer. Uit daardie tyd dateer ’n brief van ’n teruggekeerde burger wat skryf dat ’n hond en ’n paar sinkplate waaronder hy leef, ál is wat hy oor het van sy aardse besittinge. Vir hom is die toekoms troosteloos, die winterveld is kaal en die vlaktes en bulte soos uitgestorwe, terwyl die vryheid van sy land slegs ’n herinnering is. ’n Ou geslag het verdwyn, ’n nuwe moet nog gebore word, en die teruggekeerde burger, besig met die daaglikse sorge om te bestaan, kan slegs met sy gedagtes vertoef by die eertydse kamerade op die oorlogsveld in ’n vergeefse stryd. Sy buurman wat verraad gepleeg het, het baie van sy besittinge gered en soms selfs welgesteld geword as loon vir sy ontrou. Die bittereinder het daarenteen alles verloor, maar sy siel gered. Wanneer sal hy besef dat hy verloor het slegs om te wen?”

Dié besef sou nie dadelik tot selfs die grootstes deurdring nie. Generaal Smuts skryf swartgallig aan Emily Hobhouse: “I and mine belong to the vanquished, and over our country is now being written – with ink which no time will ever let fade – the brutal vae victis policy of the conqueror.” In ’n ander brief: “The spirit of South Africa is crushed by the disappointment, the ruin, the losses of the past … I sometimes ask myself whether South Africa will rise again.”

By Vereeniging het generaal Botha die onmiddellikste probleem geïdentifiseer: “Ons volk is op stoflike gebied totaal uitgeroei.” Op talle dorpe was daar nie kos te koop nie. ’n Nederlands-gebore joernalis, J Steinmeyer, skryf: “Op een plek waar ek noodwendig enkele dae moes vertoef, het die vernaamste maaltye bestaan uit mieliepap en pampoen; die volgende dag was dit pampoen en mieliepap. Droëbrood en swart koffie het die ander maaltye gevorm. En dan was daar lank nie altyd genoeg nie. Vleis was niks minder as ’n weelde-artikel nie.” Die oorlog het armoede vererger. Die meerderheid van ons volk ly bittere armoede, en armes soek soms werk by swart mense, het De Volksstem op 23 Julie 1904 geskryf.