Die Nederlandse Statebybel

Die eerste immigrante
July 5, 2018
Afrikaanse Liedjietuin: Blommetjie gedenk aan my
July 6, 2018

Toe Jan van Riebeeck in 1652 die Kaap bereik het, kon ’n mens onder die bagasie aan boord van die Drommedaris waarskynlik ’n groot swaar boek in folioformaat aantref. Ongetwyfeld was daar maar net een eksemplaar van dié boek aan boord en het die persoon wat met boekevat plegtig en stadig daaruit voorgelees het, dit baie versigtig gehanteer. As ’n mens die boek, wat ongeveer ses kilogram weeg en van koperslotte voorsien is, oopslaan, lees jy: “Biblia, dat is de gansche H. Schrifture vervattende alle de Canonycke Boecken des Ouden ende des Nieuwen Testaments”. Kortweg: die Bybel, of liewer die eerste amptelike uitgawe van die Bybel in Nederlands, ook bekend as die ‘Statenbijbel’.

Dit moet beklemtoon word dat dit nie die eerste Bybelvertaling was wat in Nederlands verskyn het nie, maar wel, soos die ‘King James Bible’ (1611) in Engeland, die eerste ‘amptelike’ vertaling wat in opdrag van die regering en die sinode gemaak is. Reeds in die Middeleeue is die Bybel, of fragmente daarvan in Nederlands vertaal. Die Vlaming, Vranke Callaert, het byvoorbeeld omstreeks 1360 die Ou Testament in Middelnederlands vertaal, terwyl ’n aantal psalms al in die loop van die tiende eeu in die volkstaal vertaal is. ’n Ander laat-Middeleeuse vertaling was dié van Johan Scutken, wat tot die kring van die ‘Devotio Moderna’ behoort het.

’n Belangrike mylpaal in die ontwikkelingsgeskiedenis van die Bybel in Nederlands is bereik toe ’n tweedelige uitgawe van die Ou Testament, sonder die psalms, in 1477 in Delft gedruk is. Dit word gewoonlik die ‘Delftse Bijbel’ genoem. Vir die druk is van die vertaling van Callaert gebruik gemaak en merkwaardig aan hierdie uitgawe was die feit dat dit ook een van die vroegste Bybeldrukke in Europa was. Die uitvinding van die boekdrukkuns het natuurlik geweldig baie in Europa verander en ons stel ook vas dat daar in die loop van die sestiende eeu talle Nederlandse Bybeldrukke van die pers gekom het hoewel die meeste onvolledig was: hulle bevat nie al die kanonieke boeke van die Ou en die Nuwe Testament, soos ons dit ken nie. Ons kan byvoorbeeld aan die uitgawe van ’n gedeelte van die Nuwe Testament dink wat die Antwerpenaar, Jacob van Liesfelt, in 1522 laat druk het. In heruitgawes is dit vervolledig en vanaf 1542 het dit as die ‘liesfeltbijbel’ bekend gestaan. ’n Soortgelyke uitgawe was die sogenaamde ‘Vorstermanbijbel’, wat Willem Vorsterman in 1528 in Antwerpen uitgegee het en waarin gebruik gemaak is van vertalings van Luther en Erasmus se uitgawes van die Ou en die Nuwe Testament. Ons is nou geheel en al in die Reformasietydperk en sommige van hierdie uitgawes is in lewensgevaar uitgegee, omdat die teks van kommentaar voorsien was wat deur hervormers geskryf is. Van Liesfelt het byvoorbeeld vir sy Bybeluitgawe in November 1545 met sy kop betaal, aangesien hy Karel V se sensuurwette in die wind geslaan het. Dit is ook kenmerkend dat bepaalde vertalings slegs deur sekere godsdienstige groepe gebruik is. Hier dink ons aan die sogenaamde ‘Leuvense Bijbel’ wat spesifiek vir katolieke kringe bedoel was, terwyl die ‘Biestkensbijbel’ wat in 1560 deur Nicolaes Biestkens uitgegee is, slegs deur die Anabaptiste gelees is. Die Calviniste het hoofsaaklik die ‘Deux-aesbijbel’ van 1561 gelees, maar dit het nie heeltemal aan die behoefte voldoen nie, omdat dit grotendeels ’n vertaling van die Duitse Lutherbybel was.

In Nederlandse Calvinistiese kringe het in toenemende mate die behoefte ontstaan om oor ’n Bybeluitgawe te kan beskik wat nie op ander vertalings (uit Duits of Latyn) berus nie, maar wat na die grondtale, nl. Hebreeus en Grieks, sou terugkeer. Ons moet onthou dat in die loop van die Middeleeue slegs die Latynse Bybelteks, die sogenaamde ‘Vulgata’, bekend was en dat die meeste vertalers dit as ’n soort grondteks beskou het. Afgesien daarvan was die kerk in elk geval daarteen gekant dat leke die teks moes lees, laat staan nog interpreteer. Dit was natuurlik een van die aspekte waarteen die Hervorming skerp gereageer het.

Die bekendste persoon wat dit gewaag het om, in opdrag van die Hollandse sinodes, ’n vertaling uit die oerteks aan te pak, was seker die Nederlandse digter Marnix van Sint Aldegonde, maar sy dood in 1598 het vroegtydig ’n einde aan die onderneming gemaak. Die gedeelte wat hy wel reeds vertaal het, is egter bewaar en later weer gebruik.

Foto: Ets van die sitting van die Synode van Dordrecht

In dié stadium lyk die doel nog baie ver verwyder, maar aan wilskrag ontbreek dit nie. Die sinodes van 1571 se inisiatief vir ’n definitiewe Bybelvertaling in Nederlands word na etlike dekades in November 1618 bekroon, wanneer die groot ‘Synode van Dordrecht’ finaal die neem om die Nederlandse vertaling tot stand te bring. Die jaar 1618 mag ons dus as nog ’n belangrike mylpaal in die Nederlandse Bybelgeskiedenis beskou.

Foto: Johannes Bogerman, wat so ’n groot aandeel aan die totstandkoming van die Bybelvertaling gehad het

Die nuwe Bybelvertaling was die eerste en belangrikste punt op die sinode se agenda, en die voorsitter, Johannes Bogerman, dra die kwessie eers aan God op. Van sy gebed wat op rekord gestel is, haal ons die eerste paar sinne aan: ‘Wij zijn Uw knechten, tot dit Uw werk geroepen, in Uw naam bijeengekomen. Van U alleen zijn wij in dit werk geheel afhankelijk …’ Die groot onderneming word daarna deeglik oorweeg en alle probleme en besware bespreek. Na ’n paar dae vorder die vergadering so goed dat ses van die aanwesiges amptelik tot vertalers benoem word. Hul name word hier interessantheidshalwe genoem. Vir die Ou Testament word Johannes Bogerman, Willen Baudartius en Gerson Bucerus aangestel, en vir die Nuwe Testament Jacobs Rolandus, Hermannus Faukelius en Petrus Cornelisz. Om die ideaal van ’n heeltemal noukeurige vertaling so na as moontlik te verwesenlik, word ook sestien ‘revisors’ of tekshersieners aangestel, agt vir die Ou en agt vir die Nuwe Testament. Die bekendste van hulle was seker die religieuse digter Jacob Revius, wie se poësie nog steeds baie gelees word. Die revisors se bydrae tot die werk moes ook voorkom dat enige al te persoonlike interpretasie van ’n Bybelgedeelte in die vertaling sou insluip. Die teks wat gehanteer word, is per slot van sake die Woord van God, nie van die mens nie, en daar was al genoeg sestiende-eeuse vertalings in omloop wat deur bepaalde persoonlike oortuigings gekleur was en dus die oorspronklike teks geweld aangedoen het.

Op ’n latere byeenkoms van die sinode, nl. In die loop van 1619, besluit die vergadering dat hulle die steun van die Staten-Generaal, die Nederlandse regering van dié dae sou vra, sodat die onderneming gefinansier sou kon word en die vertaling amptelike status sou kry wanneer dit eenmaal voltooi sou wees. Die Staten-Generaal het onmiddellik aan die versoek gehoor verleen, maar ’n lang tyd het nogtans verloop voordat hulle op die voorstelle ingegaan het. Jammer genoeg het, na die beëindiging van die Twaalfjarige Bestand, die oorlog met Spanje in 1621 herbegin, sodat die owerheid se aandag heeltemal daarop toegespits was. Bybelvertalings is deur hulle as iets van mindere belang beskou en ondanks herhaalde versoeke van die provinsiale sinodes het dit etlike jare geduur voor die amptelike steun en goedkeuring eindelik toegesê is. Eers in Julie 1625 gee die Staten-Generaal aan die genoemde geleerdes opdrag om met die werksaamhede te begin. Herman Faukelius was egter al oorlede en is vervang deur Antonius Walaeus.

Foto: Skildery van die sitting van die Staten Generaal. Die groot boek op die tafel is waarskynlik die Statebybel

Een van die voorwaardes wat die owerhede gestel het, was dat die vertalers hulle almal in Leiden moes vestig. Daar sou hulle ook van die universiteit se biblioteek kon gebruik maak en van hulle verpligtings as predikante onthef word. Ook ’n jaarsalaris en kleiner vergoedings vir boeke en so meer is beloof.

Foto: Die beroemde titelblad van die Statebybel met onderaan ’n sig op die stad Leiden, waar die Bybel vertaal is

Na die nodige voorstudie, wat veral deur Bogerman gedoen is, begin die eintlike vertaalwerk van Genesis. Dit is nou al November 1626 en sal nog meer as tien jaar moet verbygaan voordat die groot arbeid, die vertaling van Genesis tot Openbaring én die Apokriewe Boeke, van die drukpers kom.

Toe die vertaling van die eerste vyf boeke van die Ou Testament in 1628 voltooi was, begin Rolandus en sy kollegas met hul deel van die Bybel, die Nuwe Testament. Die Grieks het natuurlik minder probleme geskep as Hebreeus. Soos Latyn, was Grieks in die daardie tydperk van die humanisme amper ’n modetaal onder die geleerdes. Om dié rede was Grieks dus minder vreemd as Hebreeus, wat slegs deur ’n klein groepie spesialiste geken was. Soos dit die geval was met die vertalers van die Ou Testament, het ook hierdie vertalers telkens gedeeltes van hul werk aan die groep vasaangestelde hersieners gestuur wat veranderings kon voorstel en kommentaar kon lewer. So het die werk stadig maar seker gevorder. Twee keer is dit ook ernstig deur sterfgevalle vertraag, eers dié van die Ou Testamentikus Bucerus (1631), en daarna dié van die Nuwe Testamentvertaler Rolandus (1632). Op versoek van die Staten-Generaal is niemand in hul plek aangestel nie en het die viertal die werk alleen voortgesit sonder iemand se hulp. Die Ou Testament was toe reeds tot Esechiël vertaal en die einde van die groot werk was dus in sig. Op 4 Augustus 1632 is die vertaling toe inderdaad klaar, maar natuurlik nog nie hersien nie. Dié werk sou nog ’n volle twee jaar neem, hoewel gedeeltes daarvan reeds in 1629 aan die revisors gestuur is. Daardie revisors het gewoonlik tuis gewerk en was dus nie, soos die vertalers, verplig om in Leiden te kom woon nie. Hulle het die werk gewoonlik saam met hul ampsbesighede verrig en ’n vergoeding van die regering ontvang. Ook was hulle verplig om sekere tye van die jaar na Leiden te kom om saam met die vertalers die werk te bespreek. Verslae van die vergaderings is ook gereeld aan die Staten-Generaal en die Sinode gestuur.

Foto: Die titelblad van die Nuwe Testament

Presies ’n jaar na die voltooiing van die Ou Testament kom ook die Nuwe Testament en die Apokriewe klaar. Op 11 Oktober 1635 meld die vertaler Walaeus en twee hersieners hulle by die Staten-Generaal aan om hulle mee te deel dat die groot taak eindelik voltooi is. Op daardie tydstip was die drukker Pauwels Aertsz van Ravesteyn reeds ’n paar maande besig met die druk van die Ou Testament, en in een stadium is daar selfs drie drukperse tegelykertyd in werking gestel, iets wat in daardie tyd ongewoon was vir die publikasie van ’n boek. ’n Mens kry die indruk dat die groot onderneming wat al sewentien jaar gelede aangekondig was en tussen 1619 en 1625 so gesloer het, nou nie vinnig genoeg voltooi kan word nie. Die vier vertalers het om dié rede die drukproewe self nagesien, maar helaas minder deeglik tewerk gegaan as met hul vertaalwerk. Letterlik honderde drukfoute is nooit raakgesien nie en het die langverwagte eerste uitgawe van 1637 ontsier. Die ontnugtering het egter eers later gekom, want toe die groot, in-persferweel-gebonde ‘Biblia’, wat van toe af bekend staan as die ‘Statenbijbel’, op 17 September 1637 deur o.m. Hommius en Walaeus aan die Staten-Generaal oorhandig is, was die vergadering net met dankbaarheid vervul. Almal was terdeë daarvan bewus dat ’n Godgeseënde groot taak voltooi was. Ongelukkig het Bogerman, wat so ’n groot aandeel aan die werk gehad het, die geskiedkundige oomblik nie beleef nie. Elf dae tevore is hy skielik oorlede. Nie een van die vertalers het die uitgawe van die hersiene en van drukfoute gesuiwerde ‘Statenbijbel’ ook meegemaak nie. Dié uitgawe word terloops beskou as die beste wat ooit verskyn het.

Foto: Die begin van die brief van Petrus. Elke Bybelboek is voorafgegaan deur ’n kort inleiding. Let op die kleingedrukte tekskommentaar wat die teks van die sendbrief omring

Die Statebybel van 1637 het mettertyd al die ou vertalings in die skaduwee gestel en laat verdwyn. Hierdie proses het in sekere dele van Nederland stadiger verloop as in ander omdat die vraag gestel is of die ou vertalings dan verkeerd was. Enigiets wat nuut is, maak sekere mense altyd skepties of onseker. Met al sy gesag het die kerklike owerheid die kwaliteit en die belang van die nuwe vertaling beklemtoon en ten slotte die oorwinning behaal. Ook van die kant van die ou Bybeldrukkers, veral in Amsterdam, is besware geopper, omdat hulle natuurlik gevrees het dat hulle te veel besigheid sou verloor. Allerhande vooroordele en oorwegings het die vinnige verspreiding dus teëgewerk, maar tog was dit net ’n kwessie van tyd voordat die Statebybel die enigste erkende en gebruikte Bybel in die kerke van hervormde Nederland was. Selfs sekere ekstremistiese sektes soos die Remonstrante en die Doopsgesindes (Baptiste), het die vertaling as die enigste gesaghebbende begin erken. Die Roomse kerk het dit egter nooit gedoen nie.

Tog het die Amsterdamse drukkers ontevrede gebly oor die monopolie van die Leidense drukker. Om hul gemoedere te kalmeer en miskien ook hul prestige te bewaar, tree die Amsterdamse burgervaders toe heeltemal eiegeregtig op en gee toestemming dat herdrukke in kleiner formaat, met minder tekskommentaar, uitgegee mag word. Vir hierdie herdrukke het hulle glad nie die toestemming van die Sinode of die Staten-Generaal gehad nie, maar Amsterdam was so ’n invloedryke stad dat niks teen die inisiatief onderneem kon word nie. Trouens, kopiereg was in dié tyd ook nie ’n vasomlynde wetlike begrip soos tans nie. As ’n mens daarby in gedagte hou dat ’n eksemplaar van die folio-uitgawe van die Statebybel soveel soos ’n sesde van die jaarsalaris van ’n vertaler gekos het, besef ’n mens dat die Amsterdamse drukkers eintlik aan ’n behoefte voldoen het. Slegs welgestelde burgers kon vermoënd genoeg gewees het om ’n groot Statebybel aan te skaf. Die geskatte 1 500 eksemplare van die eerste druk was egter redelik gou uitverkoop. Elkeen van die bande is voorsien van die persoonlike handtekening van Barent Langenes, wat ’n soort tesourier van die Staten-Generaal was: slegs die eksemplare wat die handtekening bevat, kan as oorspronklik beskou word.

Die belang wat die Statebybel vir die gemiddelde 17e-eeuse Nederlander gehad het, kan ons teenwoordig nouliks verstaan. Of mense nou die groot of die kleiner uitgawe besit het, maak geen verskil nie. Dit was ’n feit dat die Bybel in alle gesinne ’n ereplek ingeneem het. Die meeste families het die gewoonte gehad om drie keer per dag—na elke maaltyd—’n hele hoofstuk daaruit voor te lees: nie minder as ’n hele hoofstuk nie was die tradisie, om sodoende die eenheid van gedagte nie te verbreek nie. Die meeste mense het die teks só heilig beskou dat hulle sorgvuldig al die letters van elke woord uitgespreek het, selfs waar dit gewoonweg nie gedoen is nie, soos byvoorbeeld die ‘g’ in ‘vinger’ en die ‘g’ en ‘h’ in ‘ballinghschap’. Alle lettergrepe van woorde is ook ewe sterk beklemtoon, sodat niks van die goddelike teks verlore gegaan het nie.

Mens kan jou voorstel dat die taal van die nuwe Bybeluitgawe ’n groot invloed op die omgangstaal moes uitgeoefen het en dat dit ook ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van ’n algemene Nederlands moes gelewer bet. Die vertalers en revisors het bewustelik daarna gestreef om geen dialektiese eienaardighede in die vertaling op te neem nie. Dit sou nogtans maklik kon gebeur het aangesien daar onder die vertalers twee Oos-Vlaminge, twee Friese, een Seeu en een Delftenaar was. Ook die tekshersieners is so gekies dat hulle die verskillende provinsies verteenwoordig het. Dit sou ons te lank neem om die invloed van die Bybeltaal op Nederlands te bespreek, want die onderwerp is te gespesialiseerd. Ons wil tog meld dat die vroeëre gebruikte voornaamwoord ‘du’ (jy) nou vervang is met ‘ghy’ en dat die wederkerende voornaamwoord ‘zich’ nou ter vervanging van ‘hem’ in gebruik geneem is. Dié, en nog ’n reeks ander woorde en segswyses het mettertyd deel van die algemene omgangstaal geword.

Met die uitbreiding van Nederland in die loop van die sewentiende eeu, het die Statebybel ook ver buite die landsgrense bekend geraak. Ons weet byvoorbeeld dat Tsaar Peter die Grote, wat so baie gedoen het om Rusland se beskawingspeil op te hef, alles in die werk gestel het om ’n Nederlands-Russiese parallelteks van die Bybel uit te gee. In 1721 was die Nederlandse, in-hooflettersgedrukte gedeelte klaar, en kort daarna is die Russiese teks daarby gevoeg, maar oorlogsomstandighede en teëstand van die Ortodokse kerk het verhinder dat die sesdelige uitgawe ooit op die mark gekom het.

Ook in Suid-Afrika het die Statebybel natuurlik ’n besondere rol gespeel, sekerlik meer as op enige ander plek in die wêreld, afgesien van Nederland. S.P.E. Boshoff skryf: ‘Die Statebybel is ongetwyfeld die hoek- en fondamentstene gewees in die beskawingsgeskiedenis van die Afrikaanse volk.’ Veral tydens die Groot Trek, toe alle bande met die beskaafde wêreld tydelik verbreek was, was die Nederlandse Bybel tegelykertyd wetboek, leidraad vir regspraak en onderwys, en by uitstek natuurik die bron van troos en krag in ’n vyandige wêreld. Geen wonder dat so baie woorde, name, uitdrukkings en spreekwoorde in Afrikaans aan die Bybel ontleen is nie. Dis eers toe die Bybel in Afrikaans vertaal is, dat die Statebybel al hoe meer sy belang in die volkslewe begin verloor het.

In Nederland het die aansien van die beroemde vertaling ook mettertyd verminder. In die loop van die eeue verskyn daar nog talle ander vertalings, soos byvoorbeeld dié van A. Visscher, of dié van J. van Hamelsveldt en van Ph. Verhulst. Later, veral in die huidige eeu, is ook nuwe oertekste in Hebreeus ontdek wat soms nuwe lig op die ou tekste gewerp het en party mense tot hervertalings aangespoor het. Trouens, die gemiddelde hedendaagse Nederlander is in elk geval nie meer in staat om die Statebybel te lees of te verstaan nie. Die Gotiese lettertipe is vir hom te vreemd en die taalgebruik klink vir hom heeltemal argaïes en omslagtig. Die enkele eksemplare wat nog van die uitgawe oorbly, het meestal in openbare en enkele private biblioteke beland. Sommige is nog in die handel. Daar word die Bybelliefhebber met ’n skok ontnugter, want Statebybels word nou veral in antiekwinkels aangetref waar hulle saam met ou meubels te koop lê. Die meeste mense beskou so ’n Bybel hoogstens as ’n statussimbool wat jy op ’n opvallende plek in jou kamer, op ’n antieke tafeltjie of so, neersit. Ons is helaas ver verwyderd van die tydperk toe die Bybel nog om sy inhoud, en nie om sy mooi omslag, sy koperslotte en ou landkaarte, ’n ereplek gegee is nie.

 

Bron: Jonckheere, W.F. 1979. Lantern, April: 54-59.