St. Andreaskerk, Nuweland
December 13, 2017
Die Herschel-monument, Claremont
December 13, 2017

In 1657 is die eerste plasies by die teenswoordige Mowbray en Rondebosch aan die eerste vryburgers toegeken. In dieselfde jaar is Boschheuwel, tans Bishopscourt, aan die Wynberg aan Jan van Riebeeck toegestaan. In die loop van tyd sou al hoe meer koloniste hul hier aan die oostelike voet van Tafelberg vanaf Mowbray tot daar aan die Steenberg kom vestig. Pragtige landgoedere met sierlike herehuise het tot stand gekom – Rustenburg, Weltevreden, Groote Schuur, Klein Schuur, Boshof, Alphen, Groot Constantia, Bergvliet, Tokai. Hier het van die mees vooraanstaande ou Kaapse families gewoon.

Bykans al die bewoners van hierdie verafgeleë gebied het vir meer as ’n eeu en ’n half aan die moedergemeente in Kaapstad behoort. Die afstand en die slegte paaie het vir hulle die gereelde bywoning van die eredienste onmoontlik gemaak en aan die begin van die 19de eeu het ’n groeiende behoefte aan ’n eie gemeente ontstaan. Op 7 Junie 1829 is met die doel ’n byeenkoms van belangstellende lidmate op die pragtige plaas Boshof van Alexander van Breda gehou. Hier is besluit “om met toestemming en onder de leiding van hunne Eerw. Leeraren eene afzonderlijke gemeente te stichten”.

Vir die stigting van so ’n nuwe gemeente moes egter die goedkeuring van die kerklike owerhede sowel as die regering verkry word. In hierdie opsig was die welbekende sir John Truter, eerste hoofregter van die Kaapkolonie wat in die omgewing van Camp Ground, Rondebosch, gewoon het, sy gemeenskap van besondere diens. As gevolg van sy invloed as persoon, as kerkman en as Kommissaris-politiek, d.w.s. verteenwoordiger van die regering in die Sinode, het dit hom nie moeilik geval om allereers die verlof van die Kerkraad van Kaapstad en daarna die toestemming van die goewerneur te verkry nie.

Die eerste godsdiensoefening van die nuwe gemeente is op Sondag, 20 September 1829, op die plaas De Onder Schuur (tans Westbrooke) van E.A. Buyskes gehou. By die geleentheid het ds. Abraham Faure, wat as konsulent opgetree het, die doop bedien en die eerste kerkraadslede voorgestel. Hierdie datum moet dan ook as die stigtingsdatum van die gemeente beskou word.

Aanvanklik het die gemeente sy dienste in die ruim voorhuise van verskillende ou plaaswonings gehou en later is van ’n skoolgebou wat aan die goewerment behoort het, gebruik gemaak. Die oprigting van ’n kerkgebou het egter reeds op die eerste vergadering op Boshof ter sprake gekom, maar toe was daar verskil van mening of dit aan Driekoppen (Mowbray) of aan die Wynberg gebou moes word. ’n Maand na die afstigting doen die kerkraad nou by die regering aansoek om ’n stuk grond vir hierdie doel. Eers op 3 Maart 1831 word die versoek toegestaan en word die grond op die hoogte waar die kerk vandag nog staan, aan die gemeente toegeken. As voorwaarde word egter gestel dat met die bou van die kerk binne nege maande vanaf datum van toekenning begin moet word en dat dit binne nege maande voltooi moet wees.

Die kerkraad was hierop voorbereid, want reeds op 24 Maart 1831 word die hoeksteen deur die waardige sir John Truter in die teenwoordigheid van die goewerneur, sir Lowry Cole, die afgevaardigdes van die Lutherse Kerk “en een aantal respectabele ingezetenen en leden van gez. Kerk” gelê. Die gebou is binne die vasgestelde 18 maande voltooi en is op Sondag, 30 September 1832, ingewy. Weer eens was die Goewerneur, sy vrou, en ander hoogwaardigheidsbekleders soos sir John Truter en P.B. Borcherds teenwoordig. Twee jaar hierna het die gemeente sy eerste predikant, Philip Eduard Faure, gekry en hy sou hierdie gemeente 50 jaar lank bearbei.

Die oorspronklike kerkgebou was saalvormig met ’n lengte van 24 meter en ’n breedte van 8 meter. In of kort na 1837 is die bestaande kloktorinkies en sykamers, ooreenkomstig tekenings van ds. Faure gebou.

Onder die kragtige bearbeiding van ds. Faure het die gemeente vinnig gegroei en veral die getal Kleurlinglidmate het so toegeneem dat die kerkgebou vergroot moes word. In Augustus 1842 is dus met die aanbou van twee vleuels begin. Die vergrote gebou is op 30 April 1843 in die teenwoordigheid van ’n groot skare, waaronder die gewilde oud-goewerneur sir Benjamin D’Urban was, ingewy.

Ds. (later dr.) Faure is agtereenvolgens deur ds. P.A. Strasheim (1883-1895) en ds. A.J.L. Hofmeyr (1895- 1899) opgevolg. Weereens het die kerkgebou vir die groeiende gemeente te klein geword en op 24 November 1896, kort na die aankoms van ds. Hofmeyr, het die kerkraad opdrag gekry om die nodige fondse te vind en om die bou van ’n nuwe kerk aan te pak. Die nuwe gebou is grotendeels op die kruisvormige grondplan van die kerk van 1842/43 opgerig en op sommige plekke is waarskynlik selfs gedeeltes van die ou mure behou. Die granietpilare wat die middedak stut, is volgens oorlewering deur Cecil John Rhodes geskenk. Die boukoste van die kerk met die toring het slegs R8 000 beloop terwyl die groot orrel R2 000 gekos het.

Die inwyding van die nuwe gebou het op 17 Maart 1899 plaasgevind by welke geleentheid ds. C.F.J. Muller, later professor aan die Teologiese Seminarium te Stellenbosch, die rede gevoer het.

(Geproklameer 1965)

 

Elizabeth Wingfield • Die Ned. Geref. Kerkgebou, Wynberg c. 1844-1861 • Africana-museum, Johannesburg
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 47.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 47-48.