Aan St. Andrewstraat, ’n kort straatjie hoog op aan die Baai en die Albert-park, is die Natalse Setlaarsmuseum, ook as die Ou Huismuseum bekend, geleë.
Die grond waarop hierdie museum geleë is, het oorspronklik vanaf die Baai tot aan St. Andrewstraat gestrek en het aan ’n sekere Ferreira behoort. In 1849 het John Goodrick dit gekoop en met die hulp van sy seun ’n tweekamer paal-en-kleihuis daarop gebou. Reeds die volgende jaar het hy dit aan ’n mnr. Wirsing verkoop, wat alhier ’n pragtige tuin aangelê het. Wirsing het op sy beurt die eiendom in 1858 George Robinson verkoop. Hy was die uitgewer van die eerste Natalse dagblad, die Natal Mercury, en die vader van sir John Robinson, die eerste premier van Natal onder selfbestuur. Vanselfsprekend is aan die oorspronklike huis aangebou.
Die eiendom het uiteindelik in die hande van G.C. Collins gekom wat dit aan die Stad Durban geskenk het om as museum vir ou Setlaarstukke te dien.
(Bronsplaat 1953)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 234.