Afrikaanse musiek met integriteit
June 27, 2018
Oor ’n paar van ons ouer volksliedere
June 27, 2018

Dis eintlik ’n aparte verhaal, het ek gedink terwyl ek besig was om stof te versamel vir ’n artikel oor die akteur Siegfried Mynhardt—die verhaal van sy vader, wyle ds. C.F. Mijnhardt, wat volgens die brokkies inligting ’n heel besondere soort mens en predikant moes gewees het. Want by navraag het dit geblyk dat hy geliefde N.G. Kerk-predikant, lewenslange student van die klassieke en Semitiese tale, baanbreker-weermagskapelaan op eie inisiatief, samesteller van die Afrikaanse Bybelkonkordansie, vir verskeie beroepstoneelgeselskappe vertaler van toneelstukke in Afrikaans was, asook kroniekskrywer oor sy ondervindings in die Tweede Vryheidsoorlog, as krygsgevangene op Sint Helena en ook oor sy latere belewenisse in Oos-Afrika.

By navraag het sy bekendste kind, Siegfried, saamgestem. Ja, sy vader was ’n uitsonderlike mens, veelsydig en bedrywig op allerlei gebiede. Maar sy oudste suster, mev. Ursula Avenant, van Van Wyksvlei, sal oor meer inligting en moontlike foto’s beskik. Ook sy broer Felix, wat tans in Pretoria onderwys gee, sal heelwat te vertel hê. “Met al die jare wat ek op die trekpad as akteur deurgebring het, het ek min tasbare aandenkings aan my ouers oorgehou”, het Siegfried Mynhardt verduidelik, “en selfs my herinneringe is nie baie betroubaar nie…”

Mev. Avenant het vriendelik op my brief geantwoord, die moeite gedoen om ’n klomp inligting neer te skryf—en afgesluit met die opmerking: “Dankie dat u my genader het. Net die terugdink aan die verlede en my ouers was goed…”

Na ’n gesprek met mnr. en mev. Felix Mijnhardt in hul woonstel in Pretoria, waar ek selfs na ’n Plaatopname deur veteraan-voordragkunstenaar Danie Smal van een van ds. Mijnhardt se versies geluister het, het die prentjie om die persoon van die uitsonderlike dominee duidelik geword.

Charles Frederik Mijnhardt is op 1 Junie 1878 op die Witwatersrand voor die bestaan van Johannesburg gebore. Sy vader en moeder, Tobias Johannes Mijnhardt en Elizabeth Emily Euckermann, was van die pioniersfamilies van die Rand en die familieplaas is verkoop toe daar goud ontdek is. Dit, verklaar mev. Avenant, is al ’n verhaal op sigself.

Bestuurslede van die Unie-debatsvereniging aan die Victoria Kollege, Stellenbosch in die jare 1897-98. CF Mijnhardt staan agter links en langs hom is D Shaw, C Rörich, C Stulting, B Tindal (later regter) en DP Marais. In die middel: CV Nel, DF Malan (latere Eerste Minister) en NM Hoogenhout (later Direkteur van Onderwys in Transvaal). Voor: E Dommisse, EJG van der Horst (later LV) en H Gonin (later Opleidingskollege, Wellington)

Hy het aan die Victoria Kollege op Stellenbosch gaan studeer maar in 1899 het ’n ernstige siekte hom gedwing om huis toe te gaan om sy kragte te herwin. In dié tyd het die oorlog uitgebreek. As student kon hy vrystelling van militêre diens kry, maar dit wou hy nie. Op 21-iarige leeftyd het hy hom by die republikeinse magte aangemeld en na die front in Natal vertrek. “Watter getroue Transvaler sou terugdeins waar sy plig hom roep?”, het hy later geskryf in ’n reeks bydraes oor sy ondervindings as soldaat en krygsgevangene vir Die Vaderland (gedurende Oktober—November 1936).

Dit was die begin van die stryd en “van krygsoefeninge en dissipline was daar natuurlik g’n sprake nie. Ons wis wie ons kommandant was, en dis omtrent al, terwyl ons darem ook geweet het dat genl. Ben Viljoen bevel oor ’n hele paar ander kommando’s saam met ons s’n gevoer het. Toe dit op die eintlike geveg uitloop, was dit elke man vir homself. Niemand het my enige bevele gegee nie, en ek het maar op die naderende massa Tommies gevuur totdat my geweer so warm was dat ek dit nie kon vashou nie .

So het ons kroniekskrywer oor die Slag van Elandslaagte vertel. Waar hy op 1 Oktober 1899 ernstig gewond en gevange geneem is. Vandaar is hy na Ladysmith, Pietermaritzburg en per skip oor ’n stormagtige see na Kaapstad waar hy in die Somerset-hospitaal herstel het. Stellenbosche vriende het die krygsgevangene van lekkernye voorsien maar sy eerbiedwaardige professore is nie toegelaat om hom te besoek nie. Saam met die ander gevangenes het hy in die kamp in Simonstad beland, en na die mislukte slag van genl. Cronje by Paardeberg het ook dié burgers by die gevangenes aangesluit.

Eindelik is die krygsgevangenes na Sint Helena gestuur, en ook hieroor het ds. Mijnhardt baie interessante vertellinge neergeskryf, o.m. dat die jongste krygsgevangene onder die 250 penkoppe onder 14 jaar ’n seuntjie van nege jaar oud was.

“Die besonderhede van daardie tyd is in ’n boek, ’n soort album met foto’s, landkaarte, briewe e.s.m. bevat, wat my vader ingeplak en gehou het. Dis tans in die Africanamuseum in Johannesburg waar ’n mens dit te sien kan kry. As kind het ek dikwels daardeur geblaai en selfs daarin gekrap”, het mev. Avenant geskryf. “My vader het o.m. op Sint Helena skool gehou en die eksamens is in Napoleon se huis afgeneem.” Onder diegene wat in een van die openbare eksamens geslaag het, was die latere prof. E.C. Pienaar, ds. P.B.J. Shaw en dr. A.G. Visser.

Na die oorlog het hy as teologiese student na die Victoria Kollege teruggekeer. “Daar het hy van C.J. Langenhoven se boeke oorgeneem”, skryf sy dogter, “Een daarvan, Spencer se Faery Queen, besit ek nog”.

Omtrent ’n jaar voordat hy as predikant klaargemaak het, is hy op 23 November 1904 met Maud Beatrix de Beer getroud, dogter van ’n prokureur, sover die kinders kan onthou—F.G. de Beer en Catherine Papenfus. Hulle het in ’n huisie in Dorpstraat gewoon en van hul vriende was prof. Marais (mev. Avenant se peetvader, wat haar die naam Ursula—’n beer—gegee het), die Hofmeyrs en die Murrays. ’n Jaar later is Ursula op Stellenbosch gebore.

Ds. en mev. Mijnhardt en hul gesin in 1929 op Piet Retief afgeneem. Die kinders agter is in die gewone volgorde Felix, Ursula, haar man Louis Avenant, Siegfried en Maudie. Voor is die egpaar se eerste kleinkind.

Kort daarna het ds. Mijnhardt na sy eerste gemeente vertrek, La Rochelle in Turffontein, Transvaal. Hier is Siegfried gebore en kort daarna, in 1910, het die pastoriegesin na Ventersdorp vertrek. Die mooi N.G. kerk daar is in ds. Mijnhardt se tyd gebou en mev. Avenant besit nog die silwer troffel waarmee haar vader die hoeksteen gelê het.

Teen die middel van 1914 het ds. Mijnhardt na Oos-Afrika afgereis om ’n vriend, ds. Tienie Laubscher, in sy gemeente Eldoret af te los. Hy sou drie maande lank daar bly, maar toe breek die eerste wêreldoorlog uit en is hy ’n paar dae lank as krygsgevangene aangehou.

’n Bladsy in ds. Mijnhardt se skrif uit die reeks briewe wat hy uit Oos-Afrika aan sy gemeente op Ventersdorp geskryf het.

Uit Eldoret en elders het ds. Mijnhardt, benewens briewe aan sy familie, ook briewe omtrent omstandighede en gebeurtenisse in Tanganjika aan sy gemeentelede in Ventersdorp gestuur. Hulle was in gewone skrifboekies geskryf en drie van dié waardevolle boekies, sommige erg gehawend, is nog in sy seun Felix se besit.

Die Duitse generaal Ulrich Trappe was voor die oorlog bevriend met die dominee uit Suid-Afrika en het hom op parool uitgelaat op voorwaarde dat hy nie wapens dra nie. Eindelik het hy besluit om met behulp van Swahili-draers te ontvlug en na die Portugese gebied te stap. Die veeleisende safari het hy ongewapen aangepak en ten spyte van baie gevare en ontberings tog sy doel bereik. Intussen het genl. Botha uitgevind waar hy hom bevind het en dit bewerkstellig dat hy per boot van Lourenco Marques na Durban kon reis. Toe hy Ventersdorp weer bereik, was daar ’n babadogter van 14 dae oud in die pastorie. Hy sou vir drie maande na Tanganjika gaan, maar het sewe maande lank weggebly.

In sy trek deur Oos-Afrika het hy op baie verlate plase afgekom. Baie van die plaasbewoners was hom goedgesind omdat hulle hom geken of van hom geweet het. Mev. Avenant besit ’n brief van genl. Trappe aan haar vader en ook ’n porseleinbekertjie uit een van die verlate huise.

In 1916 het ds. Mijnhardt die Sinode en sy gemeente gevra om hom as kapelaan na die Afrikaanse soldate buite die landsgrense te stuur. Daar was destyds geen kapelane vir die Iidmate van die Afrikaanse kerke nie en die dominee het hom die lot van sy onbearbeide landgenote aangetrek. Die Sinode het sy versoek geweier, waarop ds. Mijnhardt as leraar op Ventersdorp bedank en met sy vrou en vier kinders na Johannesburg getrek het, waar hulle by mev. Mijnhardt se familie ingewoon het. Deur bemiddeling van genl. Smuts is die dominee weer na Oos-Afrika, as kapelaan met die rang van kaptein en later van majoor. Daar het hy tot na 1917 gewerk.

Met sy tuiskoms is die gesin na die militêre kamp in Wynberg verplaas. Hulle het in verskeie huise in Wynberg gewoon voordat hulle in die kamp self gehuisves is.

In 1921 het ds. Mijnhardt ’n beroep na Van Wyksvlei ontvang en nadat hy dit aangeneem het, het die Sinode hom weer in sy amp as leraar herstel.

Van Van Wyksvlei is die gesin na Piet Retief en later by sy aftrede het ds. Mijnhardt hom in Johannesburg gevestig waar hy hom met vertaalwerk besig gehou het asook met die groot taak wat hy aangepak het—die opstel van die Bybelkonkordansie in Afrikaans. Kort voordat dit in 1944 verskyn het, is hy op 66-jarige ouderdom oorlede. Mev. Mijnhardt het hom tien jaar oorleef.

Die werk aan die konkordansie is reeds in 1933—ná die verskyning van die Afrikaanse Bybel—aangepak. ’n Jaar lank het ds. Mijnhardt se jongste seun, Felix, wat al vroeg sy eerste Griekse lesse by sy vader gehad het, hom met die aanvoorwerk bygestaan. Felix het later klassieke tale aan die universiteit gestudeer maar het nie predikant geword nie; wel onderwyser.

Mnr. Felix Mijnhardt, medewerker van sy vader aan die Afrikaanse Bybelkonkordansie, hou die eerste druk van die bundel in die hand. Die jongste druk (die vyfde, langs die telefoon) is deur hom aansienlik verbeter en uitgebrei.

Na sy vader se dood is die eerste druk van die konkordansie deur sy seun voltooi, wat die werk ook deur die jare verder gevoer het. Dit het verskyn onder die naam “V.D.M.”, maar vandag staan dit bekend as die “Bybelkonkordansie van ds. C.F. Mijnhardt” en die jongste druk—die vyfde—is “verbeter en aansienlik uitgebrei deur Felix A. Mijnhardt”.

’n Ander taak wat sy vader graag wou gedoen het, is na 16 jaar se volgehoue arbeid byna deur Felix

Mijnhardt afgehandel. Dit is die vertaling in Afrikaans van die Septuaginta (Die 70 rabbi’s), die Griekse vertaling van die Ou Testament wat destyds vir die Jode gemaak is. Hierdie boek bevat ook die Apokriewe Boeke en dié gedeelte van die werk is reeds klaar. Mnr. Mijnhardt hoop om die werk binnekort pers toe te stuur. Die Septuaginta is essensiëel vir predikante by die uitleg of begrip van sekere gedeeltes van die Ou Testament.

Mnr. Mijnhardt is ook nog altyd van plan om sy vader se vertellings oor die oorlog e.s.m. in ’n bundel uit te gee. Maar die tyd ontbreek, omdat hy elke oomblik wat hy kan afstaan, aan die opknapping van die konkordansie of die vertaling van die Septuaginta bestee.

Vir mense wat in dié vertellings belang stel, is dit jammer dat ds. Mijnhardt se artikels nog nie gepubliseer is nie. ’n Mens sou van die gegewens in die album in die Africana-museum kon gebruik, sy artikels in Die Vaderland en ook in Het Zuid-Westen en die Briewe uit die Noorde, wat hy aan sy gemeentelede op Ventersdorp geskryf het.

Van die vertaling van toneelstukke in Afrikaans kon ek nie veel besliste inligting bekom nie. Ds. Mijnhardt het wel verskeie stukke vir André Hugenuet vertaal en ook die twee stukke wat Siegfried Mynhardt opgevoer het (kyk LANTERN XIX, no. 1).

Ds. Mijnhardt was vriendelik en mensliewend en het nooit ’n gesig of naam vergeet nie. Oral waar hy gegaan het, het hy mense herken of selfs bekendes se kinders aan ’n familietrek uitgeken. Mense was sy belangstelling.

Hy was goed belese in verskeie tale. Sy kinders vertel dat hul vader se biblioteek hul eerste skool was, en almal het daar geleer om te lees.

“Die groei van Afrikaans het hy gretig gevolg”, vertel mev. Avenant, “en hy het in Afrikaans begin preek lank voordat dit algemeen gebruiklik was. Op Van Wyksvlei het hy Sondagaande in Engels gepreek terwille van die Engelssprekende gesinne wat daar gewoon het, en sy gemeentelede het almal dié dienste bygewoon.

“Vader was streng, tog is ons as pastoriekinders baie toegelaat omdat hy ons nie wou dwing nie, maar wou hê dat ons liewer self moes leer wat reg of verkeerd is. Die pastorie was ’n vrolike bymekaarkomplek vir al die jongmense. Ons het ’n grammofoon en die beste plate gehad en aan boeke en tydskrifte het dit nie ontbreek nie. My moeder het klavier gespeel en ons het gesing of geluister. Die lede van die toneelgeselskappe was dikwels by my ouers tuis en dit is seker hoe dit gekom het dat hy soveel toneelvertaalwerk gedoen het,” meen mev. Avenant.

“My vader was altyd baie netjies en het jou met ’n deurtastende blik aangekyk. Iets wat ek goed onthou, is dat hy nooit hande-arbeid—soos tuinmaak—verrig het nie. Dit was miskien omdat die wond van die Britse koeël in sy linkerelmboog permanente skade gelaat het. Hy het egter graag gestap”.

Sy vrou het hom getrou bygestaan en hulle was ’n baie geliefde pastoriepaar.

“My vader was liefdevol van geaardheid en geliefd. Toe hy in 1944 oorlede is, was daar by sy graf Jode en Grieke, Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes en nog ander,” vertel sy dogter. “Mr. Mijnhardt was our friend,” het hulle gesê. “He visited us when we were ill and helped us when we were in need…”

 

Bron: Stead, Rinie. 1969. Lantern, Desember, pp. 87-91.