Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand
August 31, 2015
1 SEPTEMBER
September 1, 2015

Soos verskyn in Historia Junior, September 1958

Die naglans van ’n warm somerdag verflou in die weste, ’n jong maantjie skyn liggies oor die donker bosse van Rooisloot. Die laer is reeds getrek, die perde is versorg en hier en daar by sterwende houtvuurtjies sit die manne klompies-klompies hul pyp te rook en gesels op gedempte toon. Na ’n dag in die saal is die manne tam en sommige maak reg om te gaan lê. Hier in die onbekende Maricobosveld is die nag besonder geheimsinnig – die bosveld lê wyd, jakkalse tjank in die verte en die kommandovoël vlieg met onverwagte vlerkslag oor die laer heen. Die brandwagte luister aandagtig en tuur in die donker in.

Langs sy perdewa sit Hendrik Potgieter met Piet Uys, Gert Kruger, Gert Rudolf en Gert Bronkhorst om ’n wakis. ’n Lantern gooi sy lig teen die Boeregesigte en val op die swart blink gesigte van die twee Barolong-gidse, Matsjavie en Mongala. Met handgebaar beduie die twee aan Potgieter hoe die wêreld na die noorde lyk, na Enzelberg se kant toe – Enzelberg, die groot kop nie ver daarvandaan nie waar die tiran van die Matabele, Silkaats, die verdelger, se groot stat lê. Op ’n stukkie papier maak Gert Bronkhorst ’n skets-kaartjie van die vyandelike terrein terwyl generaal Potgieter aan Uys verduidelik wat die Barolongspioene beduie. Die aanval op Meseg, Silkaats se star, word bespreek en beplan. Dan gaan Sarel Celliers voor in gebed. Dit word stil in die laer, net die brandwagte wat waak. Ver in die ooste slaan die weerlig flitsend uit …

Toe die son op Saterdagmôre, 4 November 1837, die kruin van Enzelberg verlig, jaag 300 ruiters aan die voet van die berg uit in ’n verrassingsaanval op Meseg. Die eerste skote bring die slapende Matabele in verwarring. Die beproefde aanvoerder, Kalipi en die Griekwa, Marap, is nie by hierdie stat nie. Ongeorganiseerd val die Matabele aan, en deur die besliste aanslag van Potgieter en Uys se manne moet hulle vlug. Vrouens en kinders in hul duisendtalle trek noordwaarts terwyl die mans die aftog probeer dek.

Weldra styg die eerste rooksuile uit Meseg op. Die witman het gekom om te vergeld. Honderde Matabele beswyk voor die geweervuur van die kommando. Die sukses spoor die manne aan om die aanval onverpoosd vol te hou. Potgieter jaag heen en weer om sy manne aan te voer en die vegterrein op te neem.

Laat die middag kom die aanval tot stilstand. Die Matabele is nog steeds aan die trek. Te midde van die brandende statte word oornag. Die eerste dag van die stryd was verby en terwyl brandende statte oorwinning uitsein, styg uit die laer ’n dankgebed.

Sondag het die Matabele nog ’n keer aangeval en dwarsdeur die dag het die manne die statte skoongemaak van die vyand. Teen die aand was Meseg ’n verlore stat vir Silkaats en sy mense. Maandag is die noordwaartse vlug van agter aangehelp. Die hoofstat van Silkaats is nog nie bereik nie. Dinsdagmôre het Potgieter en sy manne kwaaier weerstand ondervind. Dit was spoedig duidelik dat versterkings opgedaag het. Silkaats en Marap het die teenaanval gelei. In ’n halfmaan storm die Matabele aan in ’n poging om die Boere in te sluit en te vernietig. Pret Uys, die onverskrokke vegter, is op die gevaarpunt, ondersteun deur dapper manne wat uit die saal skiet en laai. Die vyand word teruggeslaan en teen die aand slaan die vlamme ver suidwaarts op soos die statte brand.

Deur die dag is op Woensdag die stryd voortgesit in moeilike terrein langs rietbegroeide walle van die Springboklaagte. Terwyl Potgieter verbyjaag om toe te sien dat sy manne nie in die ruigtes oorval word nie, vlieg ’n Matabele-kryger uit die riete en gooi ’n asgaai na hom. Gelukkig is dit mis en voor die swarte tot verhaal kom, is Potgieter se lewendige strydros langs die barbaar. Met sy groot swaar hand gryp Potgieter hom aan die nek, lig hom van die grond en gooi hom bewusteloos neer. Dan knal ’n skoot. Potgieter ry verder.

Eindelik word die hoofkraal, Kapaïin, op Donderdag, 9 November bereik. ’n Twaalfduisend naturelle veg vir behoud van hul koning se stat. Onverwags storm honderde kafferbeeste met Matabeles op hul rug uit die statte teen die kommando. Die vyand probeer ’n bres in die linie slaan, maar hoewel hul vir ’n oomblik verras is, staan die manne vas. Hulle mag nie wyk nie. Geweervuur en die reuk van bloed maak die vegbeeste onbeheerbaar. Hulle spring om en loop alles plat terug na die krale. Hiervan maak die manne gebruik en skiet so vinnig as moontlik. Die Matabele neem al vegtende die wyk. Die eerste rookwolke hang reeds oor die koningstat. Teen die aand word afgesaal. Dit is reeds die sesde dag van moordende inspanning. Ruiters en perde is tam. En nog is die stryd nie verby nie. Potgieter die versiende Trekkerleier, wil Transvaal bevry van die Matabele.