Een en ander uit die Stigtingsjaar van Boksburg (1887)
April 7, 2017
Gedig: Geloftedag – Dingaansdag (16 Desember)
April 7, 2017

(Geskryf deur R Krige, Dirkie Uys Voortrekkerkommando, Krugersdorp-Wes, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1969)

Die Koopmans-De Wet-huis is ’n tipiese Suid-Afrikaanse huis uit die agttiende eeu. Buiten die kolossaalheid van die huis, het dit nogtans tekortkominge gehad. Van die tekortkominge was die sanitêre geriewe, want dit was van die allereenvoudigste: van ’n ingeboude bad met krane met lopende water, het die mense toe nog nie geweet nie. OlieIampe en kerse is toe ook nog vir verligting gebruik.

Die deur wat tot die ingang van die kolossale gebou lei, is in die middel van die vensters en die groot vensters gee ’n indrukwekkende vertoning. Die voorkant van die huis word gekenmerk deur baie klassieke “detail”.

Nadat Marie Koopmans-De Wet oorlede is, is haar pragtige woning tot museum verklaar. Vandag kan nog baie van die oudhede, net soos sy dit nog gebruik het, in die woning gesien word. Sy was nie alleen die vrou van die Koopmans-De Wet-huis nie, maar ook die heldin. In haar sien ons die ontwikkelde Afrikanervrou wat tog nog een met haar volk bly, intens met haar volk meeleef in voor- en teëspoed.

Haar volk was steeds haar uitgebreide gesinskring. Nooit was sy bang of skaam om haarself ’n dogter van die Afrikanervolk te noem nie. Sy het altyd ook al die mooiste Afrikanertrekke geopenbaar. Deur haar het die buitewêreld ’n venster op die skone innerlike karakteradel en deug van die Afrikanervrou gekry.

Sy is op 18 Maart 1834 in Kaapstad in Strandstraat gebore in die huis waarin sy gebly het. Haar vader het gesorg dat sy ’n flinke opvoeding geniet. Behalwe Nederlands kon sy goed Engels, Duits, Frans en ltaliaans praat. Hierdie opvoeding het haar goed te pas gekom.

Sy was ’n vrou van heldere verstand, ’n gevoelige en teer hart. Toe sy getroud is, was sy ’n imposante figuur. Sy is op dertigjarige leeftyd getroud met ’n Hollander, Johan Koopmans. Na hul huwelik het hy “Serjeant-of-Arms” of Strafboer van die Kaapse Wetgewende vergadering geword. Uit die huwelik is geen kinders gebore nie en in 1879, op ’n betreklike hoë ouderdom, is hy oorlede.

In 1881 tree Koopmans-De Wet op die voorgrond as pleitbesorger van die Afrikaanse nasie. Met hart en siel het sy saam met die Transvalers in die Eerste Vryheidsoorlog teen Engeland gestaan.

Toe die oorlog uitbreek, was sy alreeds sestig jaar oud. Dog geen oomblik het die gedagte by haar opgekom om haar van die lotgevalle van haar volk te onttrek nie.

Versagting van die lyding van Afrikanervroue en -kinders en dogters in die konsentrasiekampe het egter die meeste van haar tyd in beslag geneem. Sy was op hoogte met alles in verband met haar volk se toestand. Sy het self kos en klere in die konsentrasiekampe ingesmokkel. Toe hulle dit uitvind, het hulle haar dopgehou en haar briewe is deur die sensors oopgemaak om haar te probeer muilband.

Sy is beskuldig dat sy met die republikeine korrespondensie gevoer het en haar huis ’n vergaderplek van die koningin se vyande gemaak het.

Langsamerhand het die neigende aandskaduwee hierna langer en langer geword en op 2 Augustus 1906 is sy oorlede. Voor haar afsterwe het sy en haar suster gesamentlik ’n testament opgestel waarin hulle hul woning in Strandstraat, met al die meubels wat daarin is, aan die Suid-Afrikaanse volk en Suid-Afrika bemaak. Hulle geld is veral aan die opvoeding van die oorlogwese toegesê.