Die lot van die presidente

Afrikanerhoudings oor Engels
January 23, 2015
President Kruger se begrafnis
January 23, 2015

President Steyn was met die oprigting van die Oranje-meisieskool in 1907 reeds weer twee jaar terug in Suid-Afrika ná 2½ moeilike jare van herstel in Europa. Mevrou Tibbie Steyn was verslae toe sy in 1902 gewaar hoe swak haar man was, en het gevoel: “Ek moes President uit Afrika neem, iedere oorlogskameraad wat hem kom sien maak die gedagte van vrede opnieuw gaande en hy maak een siele lyding deur wat bitter moet wees.” Skenkings van vriende en simpatiseerders soos Arthur Fichardt van Bloemfontein en Onze Jan Hofmeyr, wat in Kaapstad met ’n kollektelys rondgegaan het, het die reis moontlik gemaak. Op 11 Julie 1902 is hy meer dood as lewend na die skip gedra. In Nederland het die neuroloog dokter C Winkler hom sonder vergoeding behandel. Dokter Winkler se diagnose was Ptomaine of voedselvergiftiging, maar sy oudste kleinseun, dokter Theunis Fichardt, het later gemeen dat dit botulisme was. Emosionele ontsteltenis het die simptome telkens vererger. Hy het so mooi herstel, hoewel nooit volkome nie, dat die egpaar op 18 Februarie 1905 terug was.

Toe die trein op Norvalspont stilhou, het ’n groep Vrystaters hom ontvang, onder hulle Abraham Fischer, generaal Hertzog, WJ Brebner en ander. Op Kaalspruit, die spoorweghalte naby Onze Rust, het sowat 200 Bloemfonteiners die President ingewag. “Iedereen was bewogen, en tranen kwamen te voorschijn bij geharde mannen”, het De Vriend geskryf. Die plek wat hy van toe af onder die volk beklee het, sê NJ van der Merwe, “herinner in menig opsig aan die profete van ouds. Nes Samuel in sy eensame verblyf op Rama tree hy slegs te voorskyn as die volk sy raad en seën nodig het.”

’n Paar maande voor die terugkeer van die Steyns het die trein met die oorskot van ’n ander President na die noorde gery. “President Krugers laatste reis”, só lui die opskrif in De Volksstem van 10 Desember 1904. Kruger is op 14 Julie 1904 in Clarens, Switserland oorlede aan ouderdomspneumonie, die gevolg van die verkalking van die bloedvate. Sy gebalsemde oorskot is met ’n Nederlandse skip, die Batavier VI gebring, en het op 1 Desember in Kaapstad aangekom. Duisende was by ’n roudiens in die Groote Kerk in Kaapstad. Daarna is die routrein met verteenwoordigers van reëlingskomitees na Pretoria.

Paul Kruger se laaste reis is deur ’n ongekende meelewing gekenmerk. By elke stasie het duisende (by Stellenbosch 5000) en by elke klein halte honderde mense opgedaag – of dit in die dag was of die nag – om hul eerbied teenoor die President te betuig. Orals het die mense ’n Psalmvers gesing en ’n krans oorhandig. Geen toespraak is gehou nie. Die begrafnisdiens sou plaasvind in die ou Ned.Herv. of Ned.Geref. Kerk op die Kerkplein in Pretoria, maar op die laaste oomblik het die owerheid besluit dat die gebou nie veilig genoeg was nie en dat die toring sou kon instort as die orrel speel! Staalkabels is aan die toring vasgemaak en stoomrollers het getrek so wat hulle kan. Na ’n paar pogings het ’n stuk van die toring afgebreek en in die orrel geval. Eers ’n week later is die gebou verder verniel. In elk geval kon die begrafnisdiens nie meer daar plaasvind nie. Dis verskuif na die Suzannasaal, genoem na mevrou Van Wyk wat vir die bouwerk betaal het.