DIE LONG TOM-KANONNE VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG: WAT HET VAN HULLE GEWORD?

DIE BOER EN SY ROER IN DIE ANGLO-BOEREOORLOG
February 20, 2017
AFRIKANERS SE GODSDIENSBELEWING TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG: AANTEKENINGE OOR J.D. KESTELL EN A.P. KRIEL
February 27, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

deur Louis Changuion

 

Agtergrond oor die Creusot-kanonne

Na die Jameson-inval van 1895-1896 in die Zuid-Afrikaansche Republiek het die Kruger-regering besef hoe kwesbaar die hoofstad van die Republiek is. Derhalwe is vier forte rondom Pretoria gebou en vir hierdie doel is vier vesting-kanonne van ’n firma, Schneider et Cie, in Le Creusot, Frankryk, aangekoop. Hierdie kanonne was groot en lomp en nie geskik vir veldslae nie. Hulle was 155 mm kaliber, 7,5 meter lank, het elk 5,700 kg. geweeg en het ’n maksimum trefafstand van tussen 9 000 en 10 000 meter gehad. (Lees DC Grobler: Die Long Tom kanonne, pp. 4-5; J.H. Breytenbach: Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika 1899-1902, Deel 1, pp. 85-88.)

Met die aanvang van die oorlog teen die einde van 1899 het die Boeremagte die Britse garnisoene in Ladysmith, Mafeking en Kimberley beleër. Hierdie kanonne is derhalwe vir hierdie doel van die forte af geneem en na die gevegsfront toe gestuur. Drie is na Ladysmith en een na Mafeking toe. Dit was by Ladysmith waar die Britte na die kanonne begin verwys het as Long Toms. Die Boere het weldra die bynaam aanvaar en self begin gebruik. (Kmdt. Jan Ploeger: Die Fortifikasie van Pretoria, p. 67.)

Twee van die Long Toms by Ladysmith is by twee verskillende geleenthede beskadig en moes na Pretoria teruggestuur word om herstel te word. Die een se loop is sodanig beskadig dat 25 cm van die punt afgesny is. Van toe af is na hierdie Long Tom as die Jood verwys. Die Jood is nie weer terug Ladysmith toe nie, maar Kimberley toe om daar te gaan help met die beleg.

Nadat die drie dorpe deur die Britse magte ontset is, moes die kommando’s terugval en is die Long Toms ook van die gevegsfront onttrek. Eers is Bloemfontein deur die Britte ingeneem en in Junie 1900 ook Pretoria. Die Boere het al met die Oosterspoor langs teruggeval en in Augustus 1900 het die laaste stellingsgeveg van die oorlog by Dalmanutha (ook bekend as die slag van Berg-en-Dal) naby Belfast in die Oos-Transvaal plaasgevind. Hier is die Long Toms vir die laaste keer saam teen die vyand gebruik. Die Boere het egter die slag verloor en moes verder terugval. Een van die Long Toms is per trein verder na Komatipoort en die ander drie is na Lydenburg toe gestuur.

Hierna het die guerilla-fase van die oorlog begin. Die swaar Long Toms het nou ’n las vir die Boere geword en kon nie meer effektief gebruik word nie. Wanneer die kommando’s dus nie vinnig genoeg kon padgee na ’n aanval nie, sou hulle eerder die kanonne vernietig as om hulle in die hande van die vyand te laat beland.

Tussen Komatipoort en Hectorspruit naby die Portugese grens is die eerste Long Tom dan ook op 22 September 1900 deur die Boere vernietig. (Major DD Hall: The Destruction of the Long Toms, p.3.)

Die ander drie Long Toms is by Lydenburg gebruik om die Britse opmars te probeer stuit, maar sonder sukses. Twee het ten ooste van die dorp vanaf die berg tussen Lydenburg en Sabie die Britte gebombardeer. (Vandag staan die bergpas dan ook bekend as die Long Tom-pas.)

Intussen het die Boere-leiers besluit om na Pietersburg in die Noordelike Transvaal uit te wyk. Opdrag is gegee dat die kanonne ook daarheen geneem moes word. Een kanon is deur Sekhukhuniland geneem en het Pietersburg veilig bereik. Nog een is deur die Laeveld geneem en voordat die Boere die berg uit is op pad na Haenertsburg het hulle besluit om ook hierdie kanon te vernietig. Dit was langs die Letabarivier waar hulle hom op 18 Oktober 1900 met dinamiet opgeblaas het. Een van die drie wat vanaf Lydenburg geneem moes word, kon egter nie betyds wegkom nie en op 16 April 1901 is ook hierdie een, op die plaas Rietfontein naby Lydenburg deur die Boere vernietig. (Prof. BV Lombaard: Die Long Tom kanonne na die Slag van Dalmanutha in Militaria, 14/4, 1984, pp. 23-24.)

Aan die begin van April 1901 het die Britse magte onder aanvoering van genl. HCO Plumer Pietersburg genader. Die Boere-magte onder genl. CF Beyers het egter besluit om nie te probeer om die dorp te behou nie. Opdrag is gegee om na Haenertsburg in die Wolkberg uit te wyk en die oorblywende Long Tom saam te neem. (Louis Changuion: Pietersburg, Die Eerste Eeu, p. 67; Louis Changuion: Letaba-Kommando’s, pp. 49-52).

Haenertsburg, maar veral die Long Tom, het ’n groot uitdaging vir die Britte geword. Die kanon was op ’n heuwel, met ’n goeie uitsig op albei paaie vanaf Pietersburg, gemonteer. Op die laaste dag van April 1901 het Kitchener’s Fighting Scouts die Boerestelling daar aangeval. Toe die Long Tom nie die aantog kon stuit nie, het die Boere ook hierdie kanon, die laaste van die Long Toms, daar opgeblaas. (Lees Richard Danes: Cassells History of the Boer War, vol. 2, p. 649; L.S. Amery: The Times History of the War in South Africa, vol. 5, pp. 200-203; Louis Creswicke: South Africa and the Transvaal War vol. 7, p. 48; H.W. Wilson: After Pretoria – the Guerilla War, vol. 1, p. 445.)

My soektog na die plekke waar die twee Long Toms naby Haenertsburg vernietig is en na die oorblyfsels van die kanonne

Die plekke waar die twee kanonne in die Oos-Transvaal, Komatipoort en Lydenburg, vernietig is, was reeds bekend toe ek in die onderwerp begin belangstel het. (Daar is wel nog mense wat glo dat die eerste Long Tom nie by Komatipoort vernietig is nie, maar naby Carolina.) Oor die presiese plekke waar die Noord-Transvaalse twee vernietig is, was daar wye meningsverskil.

  1. Die Letaba-Long Tom

Een van die Boerekrygers in die kommando wat deur die Laeveld met die Long Tom vanaf Lydenburg getrek het, Frederik Rothmann, het dagboek gehou van hierdie gebeure. Hierdie dagboek is later deur sy suster, die bekende skrywer, MER, gepubliseer. Hierin skryf Rothmann onder andere: “19 Oktober – vertrek van Haenertsburg… Gister die volgende kanonne aan stuk gespring: Een 15 cm Creusot, een Howitzer, een Krupp, een Bom Maxim. Hierdie kanonne, net soos die van Krokodilrivier was in sulke stukke gespring dat weinig daarvan herken kon word, en toe is al die stukke yster in die rivier gegooi. Ek het ’n stuk van Long Tom as soewenier gehou. ’n Honderd pond dinamiet was Long Tom se lading.” (MER: Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse Burger te Velde, 1900-1901, pp. 88-89).

Volgens Rothmann se dagboek het hulle reeds op 11 Oktober op Haenertsburg aangekom en op 19 Oktober weer vertrek op pad na Pietersburg. Die kanon moes dus op 18 Oktober vernietig gewees het, met ander woorde by Haenertsburg of daar naby. Deur ou kaarte van die omgewing te raadpleeg, ten einde vas te stel waar die pad vanaf die Laeveld deur die Letabarivier gegaan het, kon ek die moontlike plekke tot twee beperk. Die een plek is baie naby die dorp – vandag onder die waters van die Ebenezerdam. Vir lank het ek geglo dat dit die regte plek moes wees, want die ander plek is te ver van die dorp af om in te pas by Rothmann se beskrywing.

Die amptelike verslae verwys egter na Letabadrift as die plek. Sou dit maar net dui op ’n drif deur die rivier of dui dit op die plaas Letabadrift waar die ander plek is waar die ou pad deur die rivier gegaan het? Verdere navorsing het egter aan die lig gebring dat die kommando op Fanie Schutte se plaas gestaan het toe hulle die kanon vernietig het. Dit was nie moeilik om vas te stel dat die plaas Letabadrift destyds aan Fanie Schutte behoort het nie. Dit lyk dus of die korrekte plek ongeveer ’n honderd meter stroomop is van waar die huidige pad na Tzaneen die Letabarivier kruis – ongeveer 10 kilometer vanaf Haenertsburg. Die feit dat Rothmann skryf dat hulle reeds op 11 Oktober op Haenertsburg aangekom het, mag beteken dat die voorpunt van die kommando toe reeds daar aangekom het en dat die agterhoede eers ’n paar dae later hulle opwagting gemaak het, dit wil sê óf op die 18de nadat hulle die kanon vernietig het óf die volgende dag.

  1. Die laaste Long Tom

Die laaste Long Tom, soos hierbo beskryf, is op die laaste dag van April 1901 deur die Boere opgeblaas waar dit op ’n koppie naby Haenertsburg gestaan het. Die geskrewe verslae oor waar hierdie insident plaasgevind het, is egter baie misleidend.

Volgens die gesaghebbende The Times History of the War in South Africa: “On the 3Oth (of April) at Berg Plaats, 23 miles east from Pietersburg, the Long Tom which Plumer’s men had sought in vain, the last survivor of the four originally in the possession of the Boers, was captured, but not before its owners had blown it up with dynamite.” (L.S. Amery: The Times History of the War in South Africa, vol. 5, p. 216).

Die plaas in hierdie omgewing wat vandag bekend staan as Bergplaas is egter heeltemal verkeerd geleë om by die beskrywing te pas en ek het gou besef dat dit ’n ander plaas moes gewees het. Op ou kaarte het ek wel ’n Berg Plaats naby Boyne, wes van Haenertsburg gekry – vandag in drie verdeel met ander name. Ook hierdie Berg Plaats is nie reg geleë ten opsigte van die aantog van die Britte vanaf Pietersburg nie. Kontemporêre geskrifte soos Maurice en Grant se Official History of the War in South Africa, meld dat die Britse magte nie direk vanaf Pietersburg na Haenertsburg opgeruk het nie, maar eers na Houtbosdorp en vandaar na Haenertsburg. (Maj. Gen. Sir F. Maurice & Capt. M.H. Grant: Official History of the War in South Africa, vol. 4, p. 438). Ek het nogtans al die koppe op die ou Berg Plaats gefynkam – sonder enige sukses.

’n Onderhoud met een van die oudste inwoners van die omgewing, mev. Audrey (Googoo) Thompson van die plaas Cheerio (sy is intussen oorlede) het nuwe lig op die saak gewerp. Sy het my vertel dat hulle as kinders stukke metaal opgetel het op ’n kop, bekend as Feeskop, op die plaas Rondebult en dat haar vader altyd gesê het dat dit stukke van ’n kanon is wat deur die Boere gedurende die oorlog daar vernietig is. Vandag nog kan ’n vlak gat bo-op die kop gesien word wat deur die ontploffing veroorsaak is.

Hierdie kop is beslis volgens die beskrywing reg geleë, nogtans moes ek eers tasbare bewyse vind. Die Thompsons het wel geen stukke meer in hulle besit gehad nie, maar kon my verwys na ’n dame, mev. Jessie Jacobz, wat op Rondebult grootgeword het en wat nog ’n stuk van die loop in haar besit het. Ek was verheug toe ek hierdie stuk by mev. Jacobz gekry het en deur meetkundige berekeninge kon bepaal dat dit afkomstig was van ’n kanonloop wat 155 mm kaliber was. (Die Long Tom was die enigste kanon in die oorlog met dié kaliber).

Ek het later met ’n metaalverklikker nog ’n paar kleiner stukkies van die kanon op die kop uitgegrawe. Die groewe aan die binnekant (“rifle bore”) was ook presies dieselfde as dié van die stuk wat ek by mev. Jacobz gekry het. Ek was nou oortuig dat ek die plek waar die laaste Long Tom vernietig is, gevind het.

Kort hierna het ek ook gehoor van ’n onontplofde bom wat mnr. Flip Jacobs in sy huis op Houtbosdorp het. Dit was nie moeilik om vas te stel dat dit inderdaad ’n Long Tom-bom was nie – die mate was korrek en soos verwag, het dit ook perfek gepas in die grootste stuk van die loop wat ek gevind het. Mnr. Jacobs het vertel dat sy vader die bom uitgeploeg het in ’n land waar dit geval het en nie ontplof het nie. Die plek waar sy vader dit gevind het, was ook presies in lyn met die aantog van die Britte vanaf Houtbosdorp na Feeskop en ongeveer nege kilometer vanaf die kop.

  1. Wat het van die res van die kanonne geword?

Hoewel ek nou seker was oor die plekke waar die Long Toms vernietig is, het dit steeds ’n raaisel gebly wat van die oorblyfsels geword het. Behalwe vir die klein stukkies wat op die plekke gevind is, het die res verdwyn. Volgens die gegewens is twee van die vier kanonne, nadat dit opgeblaas is, in riviere gegooi. Indien die oorblyfsels nog in die riviere lê, sal dit ’n moeilike taak wees om dit op te spoor. Sover kon ek geen stukke in die Letabarivier vind nie.

Daar is egter ook aanduidings dat die Britse magte na die oorlog van die stukke verwyder het. So byvoorbeeld verskyn daar in HW Wilson se boek ’n foto van stukke van ’n kanon op ’n wa met die byskrif: “Remains of the boer Creusot destroyed at Bergplaats from a photograph taken at Piet Potgieters Rust”. (H.W. Wilson: After Pretoria, The Guerilla War, vol. 1, p. 444).

Waarom sou die Britte stukke van die Long Tom bymekaar gemaak het? ’n Moontlike antwoord op hierdie vraag sou ek vind toe ek aan ’n bejaarde mnr. Alexander Matthew in ’n ouetehuis in Pretoria voorgestel is. Mnr. Matthew het aan my ’n foto gewys wat hy beskryf het as ’n foto van ’n Long Tom wat die Britte besig was om te herstel. My eerste reaksie was egter negatief, want ek het reeds ’n soortgelyke foto besit wat ek nog altyd geglo het ’n foto van die Jood is – in die proses om herstel te word in Pretoria, want op die foto kan ’n mens sien dat die voorste punt van die loop af is.

Mnr. Matthew se foto het egter op die agterkant ’n belangrike inskripsie deur die fotograaf self, wat my foto nie het nie: “The Long Tom which the Boers blew up before it was captured by Kitchener’s Fighting Scouts at Haenertsburg. The pieces were brought to Pretoria and pieced together. The men are adding the finishing touches (Loutit Collections).”

Ek was steeds skepties, want hoe kon die laaste Long Tom so perfek herstel gewees het sonder die stukke wat ek negentig jaar later op die plek waar die kanon opgeblaas is, gevind het, het ek geredeneer.

Verdere navorsing het weldra daarop gedui dat die inskripsie op mnr. Matthew se foto gedeeltelik korrek mag wees. ’n Brief uit die Ladysmith Museum wat deur lt. AJ Spearman aan die stadsklerk van Ladysmith geskryf is, het ’n interessante brokkie nuus bevat. Spearman, wat lid was van Kitchener’s Fighting Scouts die dag toe hulle die Long Tom-stelling op Feeskop aangeval het, gee ’n goeie beskrywing wat hulle daar gevind het en eindig dan sy brief soos volg: “At Lord Kitchener’s request the damaged six inch gun was sent to the Royal Engineers in Pretoria who reassembled the broken parts. The same gun was later seen by one of our officers in Hyde Park, London.” (Ladysmith Museum: Letter Ex-Lt. First KFS, A.J. Spearman to Town Clerk, Ladysmith, 15.8.1952.)

Ek het ook met maj. Anthony Gordon en maj. Darrell Hall kennis gemaak. Gordon het sy pa, wat ook aan die aanval op Feeskop deelgeneem het, se dagboek aan my getoon en saam met Darrell Hall, wat self ’n kenner van die Long Toms is, het hulle bevestig wat ek reeds vermoed het. Kitchener het opdrag gegee dat al die oorblyfsels van die Long Toms na Pretoria geneem moes word om daar tot ’n nuwe Long Tom herbou te word. Die loop van die Jood is vermoedelik nie beskadig gewees nie en kon dus net so gebruik word in die heropgeboude Long Tom. Dit verklaar die voorkoms van die kanon op mnr. Matthew se foto wat die kenmerke van die afgesaagde loop vertoon. Hulle kon dit dus doen sonder die stukke van die loop wat ek vandag nog vind. Darrell Hall het ook ’n foto van die Long Tom wat op Rietfontein naby Lydenburg vernietig is, waarop dit lyk of die Britse soldate op die foto besig is om die stukke bymekaar te maak.

Die volgende raaisel wat opgeklaar moes word, was wat van hierdie heropgeboude Long Tom, wat iemand volgens Spearman se brief in Hyde Park gesien het, geword het. Na weke se intensiewe navorsing in Londen moes ek tot die gevolgtrekking kom dat dit nie meer bestaan nie. Volgens alle aanduidings is dit saam met baie ander wapens gedurende die laaste Wêreldoorlog opgesmelt om nuwe wapens te vervaardig. Die lyste van sulke wapens in die argiewe meld egter nie die presiese kanonne nie maar verwys slegs na “Boer War material”. Dalk lê die laaste Long Tom tog nog in een of ander skrootwerf in Engeland.

My soektog in Engeland was egter nie heeltemal tevergeefs nie. In die Royal Artillery Museum in Woolwich se pakkamer het ek die “muzzle” van die Jood gekry! Dit is die 25 cm stuk wat van die loop van die Long Tom, wat tydens die beleg van Ladysmith beskadig was, afgesny is.

Ten slotte

Intussen het ons ’n klein oorlogsmonumentjie, onder andere vir die Long Tom, op Haenertsburg gebou. Hier word al die stukke van die Long Tom wat ons ontdek, bymekaar gebring en op ’n tekening van die loop vasgesit. Onlangs het ek ’n brief van Woolwich ontvang waarin hulle instem om die stukkie loop aan ons te skenk. As deel van die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog gaan offisiere van die Royal Artillery die stuk aan ons kom oorhandig op 30 April 2002, presies ’n honderd jaar nadat die laaste Long Tom hier opgeblaas is.

Bronne

Boeke

Armery, L.S. (ed). The Times History of the War in South Africa, 1899-1902, vol. V, London, 1907.

Blake, Col. J.Y.F. A West Pointer with the Boers. Boston, 1903.

Breytenbach, J.H. Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902, Deel I. Pretoria, 1969.

Changuion, Louis. Letaba Commandos, 1889-1989. Tzaneen, 1989.

Changuion, Louis. Pietersburg: Die Eerste Eeu, 1886-1986. Pietersburg, 1986.

Creswick, Louis. South Africa and the Transvaal War, VII. Edinburgh, 1903.

Danes, Richard (Ed). Cassel’s History of the Boer War, vol. 11. London, 1903.

Grobler, D.C. Die Long Tom-kanonne. Johannesburg, 1984.

Hall, maj. D.D. Long Toms. Glenashley, 1994.

Lombaard, prof. B.V. Die Longtomkanonne na die slag van Dalmanutha, (Militaria, 14/4, 1984).

Maurice, Maj. Gen Sir Frederick (and Capt. M.H. Grant). Official History of the War in South Africa, 1899-1902, IV. London, 1910.

MER (red), Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse Burger te Velde, 1900- 1901. Kaapstad, 3e uitgawe, 1976. Naudé, J .F. Vechten en vluchten van Beyers en Kemp bokant de Wet. Rotterdam, 1903.

Pakenham, Thomas. The Boer War. London, 1979.

Ploeger, kmdt. Jan. Die Fortifikasie van Pretoria. Pretoria, 1968.

Schikkerling, R.W. Hoe Ry die Boere. ’n Kommando-dagboek. Johannesburg, 1964.

Wilson, H.W. After Pretoria; The Guerilla War. London, 1902:

 

Dokumente

Ladysmith Archives. Letter ex-Lt. First KFS, A.J. Spearman to Town Clerk, Ladysmith, 15.8.1952.