Kaptein JEB Seely
February 22, 2016
Gelowige Hollanders pleit vir ’n Afrikaanse Bybel
April 20, 2016

(geskryf deur Rosie van der Walt, Die Hoërskool Hendrik Verwoerd (soos vertel aan my deur my oupa, mnr. GH van der Walt.) soos verskyn in Junior Historia, Februarie 1961)

Gedurende die Anglo-Boereoorlog is alle Boere en selfs jong seuns wat deur die Engelse gevang word, na Indië en Ceylon gestuur as krygsgevangenes.

Die vrouens en kinders is na Konsentrasiekampe gestuur. Wat was die toestande op die boereplase en waarom is die vrouens Konsentrasiekampe toe geneem?

  1. Toestande op die plase

Die toestande op die boere-plase was koninklik in vergelyking met die toestande in die Konsentrasiekampe. Op die plase was die vrou en kinders afhanklik van die plaas se inkomste. Daar was genoeg kos soos vleis, melk, vrugte, ens. vir die hele gesin, ook vir haar man wat somtyds huis toe gekom het vir kos en skoon klere.

Die Engelse het snuf in die neus gekry dat die boere beurtelings huis toe gaan vir skoon klere en kos. Toe besluit die Engelse om al die diere of vee wat hulle op die plase in die hande kon kry, weg te neem, sodat daar nie kos vir die Boere sal wees as hulle huis toe gaan vir skoon klere en kos nie. Maat die vrouens was uitgeslape. Hulle het die meeste vee weggesteek. Sodoende het hierdie plan van die Engelse misluk. Toe bedink hulle hierdie plan om die vrouens en kinders na die Konsentrasiekampe toe te stuur.

  1. Konsentrasiekampe toe

Op ’n goeie dag, as die vrouens en kinders hulle oë uitvee, dan sien hulle ’n stofwolk daar oor die bult aankom. Dit was die Engelse. Gewoonlik het hulle lank voor die tyd die kosbare dinge begrawe en die vee is gewoonlik weggesteek, anders sou die Engelse dit saamneem. Maar om die Engelse te flous, is net ’n klein hoeveelheid vee op die werf gelaat, sodat die Engelse moet dink dit is al vee wat die boer besit.

Die mense kon net ’n klein hoeveelheid nodige dingetjies saamneem wat hulle dalk in die kamp sou nodig kry, byvoorbeeld beddegoed, ’n paar stoele, klere en nog ’n paar kleinighede. Dit alles word op die wa gelaai, wat gewoonlik deur osse getrek is. Die res? Wel die res is in een kamer gepak en die huis is vol paraffien gegooi en dan aan die brand gesteek. Seuns van 12-13 jaar word krygsgevangene geneem en weggestuur na Ceylon.

  1. Die lewe in die Konsentrasiekampe

(Ons bepaal ons hier by die Konsentrasiekamp by Mafeking.)

Ongeveer 400 tente is in rye opgeslaan, 20 voet van mekaar; en daarin word ’n familie geplaas, of hulle nou 2 of 8 persone is. Elke familie het dus ’n eie tent gehad.

Verder was daar ’n “Ressingshuis” waar die rantsoen vir die dag ontvang is, slagpale en hospitaal. Ook was daar ’n put met ’n pomp op waar water gekry kon word. Die kamp is omhein met ’n doringdraad met blikke daaraan vas. Om die kampe was daar seilhuise. Hierdie seilhuise was eintlik vir die verraaiers. Die vrou kon haar kamplewe verruil vir so ’n seilhuis, maar dan moes sy haar man ompraat om wapen neer te lê. Hulle en hulle kinders kon dan in so ’n seilhuis bly. Hulle kos en alles wat hulle nodig het, sou na hulle toe gebring word. Hierdie seilhuis was ook baie groter as die gewone tente waarin die mense gebly het. Maar baie dapper vroue het geweier.

  1. Daaglikse lewe

Die vrou moes elke more rapporteer met ’n kaart om haar rantsoen vir die dag te ontvang. Op hierdie kaart staan die aantal persone wat kos moes kry.

Daar is geboutjies opgerig waar die vrouens moes toustaan vir die dag se kos. Soms het die vrou klein kindertjies en miskien ’n baba gehad. Die kindertjies moes dan by die tent bly, terwyl die moeder en die baba in haar arms gaan toustaan het vir die dag se kos. Dit het baie gebeur dat vrouens inmekaar gesak het, terwyl hulle toustaan.

As die moeder nou haar meel, koffie, ens. vir die dag gekry het, moes sy haar vleis by die slagpale gaan haal, wat meestal uit derms, maag en lewer bestaan het. ’n End van die slagpale het sy ’n stuk hout gekry vir die dag. Met hierdie ongekapte stuk hout moes sy haar kos, ens. gaar maak.

Weens siektes, ongesonde kosse en honger het baie dapper Boere-helde en -heldinne gesterwe.

Kort voor die vrede gesluit is, het die verpleegster Emily Hobhouse die kamp besoek. Gou het daar groot veranderings plaasgevind. Die mense het beter kos, om maar een ding te noem, gekry. Die siekes het sy genees, en gedoen wat sy kon vir die mense. Daar is later ter ere van Emily Hobhouse ’n gedenkteken opgerig.

Toe die vrede verklaar is, het duisende mense met wa en osse huiswaarts gekeer, na ’n afgebrande huis en ’n kaal plaas. Nou was daar ’n nuwe lewe om te begin, ’n lewe om weer op te bou, waar die oorlog vernietig het.