Die lewe in die kolonie

Nuwe name vir nuwe sake
February 4, 2015
Kaaps-Hollandse boustyl
February 5, 2015

Heel dikwels moes Afrikanervroue maar alleen die boerdery behartig as hulle mans dood was. Die kinders van die grensboer was ook al jonk selfstandig. Sommige dogters het getrou op veertien of vyftien, en seuns is op sestien as vryburgers ingeskryf. In tye van gevaar, byvoorbeeld as die San (“Boesmans”) dreig, is vyftienjarige seuns onder die wapen gebring.

Die huisgesinne was groot. Daar was weinig ouers met minder as ses kinders, en gesinne van tot twaalf kinders was niks buitengewoons nie. Dit is aan hierdie groot gesinne te danke dat die bevolking gegroei het ondanks die beëindiging van immigrasie uit Nederland en ook ten spyte van die hoë sterftesyfer weens die pokke van 1713, 1755 en 1767.

Nader aan die Kaap was die lewe geriefliker en die welvaart groter as aan die oosgrens. Johanna Neethling, in 1777 getroud met die Fransman Francois Renier Duminy, gee in haar dagboekie ’n beskrywing van die lewe op hul plaas Bokkerivier aan die Rivier Sonder End. (’n Opsomming daarvan deur Anna Böeseken verskyn in Drie Eeue, deel 1, onder redaksie van Böeseken, D.W. Krüger en A. Kieser).

Vroeg elke môre is koffie gedink. Ná ontbyt begin die werk: ploeg, saai, oes, kalk brand en jag. In die kombuis deel moeder Duminy die werk aan die slawe uit: water lei in die groentetuin, brood bak, room karring vir botter, wors maak. Daar was lekker maaltye: hoender, eend, gans en kalkoen (darem seker nie alles op een slag nie!) is afgewissel met wildsvleis, skaapboud en varkvleis. Beesvleis, vars of ingelê, was daaglikse voedsel, en elke boervrou kon verskeie terte, eier- en melkgeregte maak.

Ná die middagslapie is teen vieruur tee gemaak en gaste verwelkom, of anders self gaan kuier. Teen sononder het Johanna Duminy haar hoenders versorg, eiers uitgehaal of gaan wandel in die roostuin of by die koringlande. Saans het die volwassenes kaart gespeel, en nadat die kinders bed toe is, het die grootmense teen nege-uur ’n maaltyd met kerrie en rys of ander geregte geniet.

Johanna Duminy beskryf ook ’n vendusie wat hulle bygewoon het op ’n plaas waar hulle ’n nag moes oorslaap. Terwyl die veiling aan die gang was, het party mans wyn soos water gedrink. Die aand nadat die kerse aangesteek is, het die viole uitgekom en gou was hulle flink aan die dans. Ná die aandete om nege-uur het elkeen sy beddegoed binnetoe gedra. Sy het saam met 23 ander besoekers in een kamer geslaap. Die vrou van die nuwe plaaseienaar het saam met ander mans en vroue in een groot kermisbed gelê. “Wij hat de grootste pret van de weerelt om het so alles aan tesien”, skryf sy.

Oor die algemeen het die Kapenaars min gelees, miskien vanweë die gebrekkige onderwys. Boeke was skaars en die Kaap sonder ’n eie drukpers. Welgestelde ouers het kinders soms op agt- tot tienjarige en selfs sesjarige leeftyd oorsee gestuur om daar skool te gaan. Die meeste mense het hul kinders egter aan die Kaap gehou en gestuur na die skole van die “geprevilegeerde” skoolmeesters. Dié is deur die owerheid toegelaat om skool te hou. Veel vakansie het leerlinge nie gehad nie, darem wel met die koms van die vloot uit die Ooste, wanneer die volwassenes doenig was met die skepe in die baai.