Om die oorlog te kon voortsit, moes Transvaal sy munt- en goudvoorraad van tussen £400 000 en £500 000 en ammunisie uit Pretoria verwyder. Dat hulle dit kon regkry, was ten dele te danke aan lord Roberts, wat drie dae in Johannesburg vertoef het voordat hy na Pretoria opgeruk het. Dit het die gedemoraliseerde Transvaalse leiers kans gegee om oorleg te pleeg met mekaar en president Steyn. ’n Paar honderd Boere het tot Maandag 4 Junie die oprukkende vyand vertraag. Die man onder wie se leiding die goud verwyder is, was die staatsprokureur JC Smuts. DW Krüger skryf in Die Kruger miljoene dat Smuts dae lank die direkteure van die Nasionale Bank (Staatsbank) probeer oorreed het om die goud en munte aan hom te oorhandig. Toe dit nie slaag nie, het hy ’n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik en gedreig met strafregtelike vervolging. Eers die oggend van 4 Junie het hulle onder dreigement van geweld ingestem om die goud te oorhandig.
Tot daardie oggend was daar by die Munt geen voorbereidings om die goud weg te neem nie. ’n Jong rekenmeester, Ernst Meyer, Switser van geboorte, het op Saterdag 2 Junie aan die muntmeester Jules Perrin gevra waarom die goud nie Machadodorp toe gestuur is nie. Perrin het geantwoord dat hy geen opdrag ontvang het nie en dat hulle hulle sou moes onderwerp aan die nuwe owerheid. Toe die werk by die Munt Maandag normaalweg voortgaan, het Meyer tydens ontbyt weggeglip en te perd na Smuts se woning in Sunnyside gery. Smuts het verbaas gevra: “Wat, is die goud dan nie al lankal weg nie?”
Smuts het kort voor nege opgedaag en ná ’n woordewisseling met Perrin en Hugo, bestuurder van die Nasionale Bank, het hy die personeel beveel om die goud bymekaar te maak, te weeg, die nodige lyste op te stel en in kiste te pak. Terwyl hulle aan die werk gespring het, is Smuts vort na die stasie waar hy ’n trein gereed laat maak het. Die voorhoede van die Britse leër was al in die buitewyke van Pretoria toe die goud teen twaalfuur op twee trollies (muilwaens) gelaai en na die stasie begelei is deur twee gewapende burgers. Daar is die goud inderhaas op ’n trein gelaai bestaande uit ’n lokomotief, passasierswa en kondukteurswa. ’n Gewapende geleide van ses of agt man was saam met Meyer in die passasierswa. Toe die trein die draai na Sunnyside neem, het Britse skrapnel weerskante van die spoor gebars. Die trein het vinniger gery en was gelukkig gou buite bereik van die geskut. Party stasies was sonder personeel en op plekke moes die masjinis self die sinjaalhefbome verstel en die spoorwaens wat die weg versper het, op syspore stoot. Om twee-uur die oggend het die trein in bittere koue Machadodorp binnegestoom.
Dit was minder as £500 000 se goud – maar daarmee kon die stryd nog twee jaar voortgesit word teen die Britte vir wie die oorlog meer as £200 miljoen gekos het. Sedert 1900 was daar gerugte oor die “Kruger-miljoene”, ’n fabelagtige versteekte fortuin wat glo êrens in Transvaal begrawe is. Baie het gaan soek, maar niks gevind nie. Uit dokumente blyk dit dat die skat net in die verbeelding van fortuinsoekers en liggelowiges bestaan het.