Die krisis vererger

Betogings teen Afrikaans
January 26, 2015
Die swerfjare van Poppie Nongena
January 26, 2015

Die onluste was die begin van die einde van die ou begrip “blanke Suid-Afrika” en “witmansland”. Vir die blankes was die onluste in Soweto ’n groot skok. Vir Afrikaners was dit ’n nog groter skok dat Afrikaans die aanleiding tot die geweldpleging kon word en dat gesê is dat Afrikaans sogenaamd “die taal van die onderdrukker” is. Die woorde van NP van Wyk Louw is dikwels gehoor dat een van die krisisse waarin ’n klein volk kan beland, sou voorkom wanneer ’n groot deel van die volk kan meen dat blote voortbestaan verkieslik is bo voortbestaan in geregtigheid. Die meerderheid blankes moes dus volgens baie van die intelligentsia soos die skrywers, joernaliste, kerkmense, sakelui en ander oortuig word dat die Suid-Afrikaanse bedeling onregverdig is en ingrypend verander moes word.

Daar sou egter nog heelwat gebeur voordat die gedagte algemeen aanvaar is. Min sake het die bewind in die land self maar ook in die buiteland soveel skade aangedoen as die dood van ’n jong swart leier, Steve Biko, in September 1977 terwyl die polisie hom aangehou het. Die storm wat daaroor losgebars het, het heftiger geword toe die minister van justisie, meneer Jimmy Kruger, op ’n kongres van die Nasionale Party gesê het dat Biko se dood hom “koud laat”. Daar was sprake dat Biko se naam voorgekom het op die lyste van nuusverskaffers van sekere groepe, veral van oorsee.

In Oktober 1977 het sake vererger nadat die regering agtien organisasies verbied, twee koerante (The World en Weekend World) gesluit en ’n aantal mense ingeperk het. Onder die ingeperktes was doktor Beyers Naudé, direkteur van die Christelike Instituut.

Van internasionale boikotte en sanksies het voorlopig niks gekom nie, maar die akademici het veral in die jare tagtig swaar gely onder ‘n akademiese boikot. Wat seergemaak het, is ’n kulturele boikot deur Nederland, waarmee soveel akademici noue bande gehad het. Verskeie professore het geweier om Afrikaanse kollegas te ontvang of besoeke aan Suid-Afrika te bring.

Vanaf 1977 het stedelike terrorisme begin voorkom. Die aktiviste was hoofsaaklik jongeres wat ná die Soweto-onluste gevlug en in lande soos Angola opgelei is. In Januarie 1980 het drie mans ’n bank in Silverton, Pretoria ingestorm en vyftien mense aangehou. Na ’n paar uur het die polisie ingestorm en al drie mans doodgeskiet. Twee mense wat in die bank was, het later aan hul wonde beswyk. Tienduisend mense het die begrafnis van een van die terroriste bygewoon. In ’n groot deel van die swart gemeenskap is hulle as helde beskou. In 1983 is ’n bom in Kerkstraat, Pretoria, laat ontplof, wat die dood van negentien mense, meestal blankes, veroorsaak het.

Al hoe meer het Afrikaanse skrywers sterk teen apartheid stelling ingeneem. “Betrokke letterkunde” het in die mode geraak. Die belangrikste “betrokke” skrywer was André P Brink. Sy Kennis van die aand het vir bruin en swart lesers baie beteken. Hy het talle romans geskryf wat gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn het. Brink het ook as kritikus invloed uitgeoefen omdat hy meer as ’n dekade lank as feitlik enigste resensent van Rapport polities betrokke werke simpatiek ontvang het.