Die koms van die Hugenote

Die agteruitgang van die Khoi-Khoin
January 10, 2015
Die eerste taalstryd in Suid-Afrika
January 12, 2015

Die nuwe kommandeur, Simon van der Stel, het op 12 Oktober 1679 in Kaapstad aangekom. Hy het die bestuur van die nedersetting op sy veertigste verjaarsdag oorgeneem. Met sy koms was daar nog maar 762 wit mense, en baie van hulle was amptenare en soldate.

Van der Stel is op 14 Oktober 1639 gebore aan boord van die skip waarmee sy vader na Mauritius op pad was as nuwe kommandeur. Simon was getroud met Johanna Jacoba Six, dogter van ’n invloedryke burgemeester van Amsterdam. Sy het egter in Amsterdam agtergebly. Haar jongste suster, Cornelia, en die ses kinders is saam na die Kaap. Daar is Cornelia ná ’n jaar oorlede. Die sestienjarige Willem Adriaan was die oudste seun.

Binne enkele maande het Simon van der Stel ’n tog na die binneland onderneem en in 1679 aangekondig dat almal wat wil, kon gaan boer by ’n boomryke plek aan die Eersterivier waarvan hy baie gehou het. Dié plek het hy “Stell en Bosch” genoem. Aan die begin van die jaar het agt gesinne begin om hul plase te bewerk in die omgewing van die dorp wat vandag as Stellenbosch bekend staan. Met die hulp van die nuwe boere kon die Kaap soveel graan produseer dat die invoer van rys onnodig geword het.

Gou ná sy bewindsaanvaarding het Van der Stel die Here XVII gevra om meer Nederlandse mense na die nedersetting te stuur. Meer mense hét wel gekom, maar die nuwe aankomelinge was uit die geledere van die Franse vlugtelinge. Daar was duisende in Nederland, Duitsland en Switserland. Hulle het uit hul vaderland padgegee toe Lodewyk XIV, kampvegter vir die Rooms-Katolisisme, in 1685 die Edik van Nantes herroep het. Dié Edik van 1598 het godsdiensvryheid aan die Protestante gewaarborg.

Baie Hugenote, soos die Franse Calviniste genoem is, het van 1681 af in die geheim na Protestantse lande gevlug, want die Franse het toe al geloofsvryheid begin bedreig. Spoedig ná 1685 was daar in Nederland tussen 75 000 en 100 000 vlugtelinge; onder andere 200 Franse predikante met ’n vyftig Franssprekende gemeentes.

Die Here XVII het in 1685 besluit om kolonisasie aan die Kaap aan te moedig, en twee jaar later ook om ’n aantal van “onse geloofs verwanten” daarheen te stuur. Van der Stel was hieroor glad nie in sy skik nie. Hy wou die ontluikende kolonie in alle opsigte Nederlands maak. Tog het heelparty van die Franse vlugtelinge Nederlands beter geken as wat ’n mens sou verwag. Dis dié wat gekom het uit Frans-Vlaandere en Vlaandere. Sommige kon Nederlands praat, en party kon dit selfs skryf.

Die eerste Hugenote het op 31 Desember 1687 met die skip Voorschoten van Delftshaven na Suid-Afrika vertrek. Die 22 mense het vanne gehad wat vandag nog bekend is: Marais, Fouché en Pinard (tans Pienaar). In die volgende paar maande het nog sowat 130 aangekom, en in die hele periode tot 1700 sowat 225. Dit lyk na ’n nietige getal, maar nie as mens dit vergelyk met die aantal blankes wat toe aan die Kaap was nie. Net voor hul koms was aan die Kaap en Stellenbosch 254 wit mans, 88 vroue, 119 seuns, 112 dogters en 39 knegte.