Watervoorsiening vir die Boksburgse goudvelde (1886–1890)
Oktober 20, 2015
Ooggetuie van Danie Theron se dood
Oktober 20, 2015

Die oorhandiging van die Bybel aan die Voortrekkerleier Uys, een van die friese binne die Voortrekkermonument, Pretoria.

Geskryf deur JS Delport, Universiteit van Port Elizabeth (soos verskyn in Junior Historia, November 1970)

Die koms van die Britse setlaars van 1820 na die Kaapkolonie, het ’n nuwe tydperk in die ontwikkeling van suidelike Afrika ingelui. Hoewel Brittanje die Kaap reeds in 1806 verower het, was dit eers met die koms van die setlaars dat daar enigsins sprake was van ’n Engelssprekende bevolkingsgroep in Suid-Afrika. Dit het die ontwikkeling van die Kaap feitlik onlosmaakbaar geknoop aan Brittanje. Lg. sou nou ook deur bande van bloed aan die Kaap gebind word.

Die koms van hierdie Britse setlaars was in die teken van en omgeef met die groot probleme wat Brittanje en die Kaapkolonie aan die begin van die 19e eeu geteister het. Brittanje was uitgeput deur ’n jare lange oorlog teen Napoleon. Die Kaapkolonie is dan ook oorspronklik beset met die doel om te verhoed dat die Franse dalk beheer oor die Seeroete na die ooste verkry. Spoedig egter is die Britse owerheid betrek in duur grensbotsings met die Xhosas op die Oosgrens van die kolonie.

Vir goewerneur Charles Somerset was die enigste goedkoop en permanente oplossing van hierdie grensprobleem, die plasing van ’n groot aantal blanke koloniste op klein plasies langs die grens. Hulle sou dan die eerste linie-verdediging van die kolonie kon waarneem en so voorkom dat ’n groot troepemag gedurig op die grens gestasioneer moes word. Die Hollandssprekende koloniste het egter op uitgestrekte veeplase geboer en het in elk geval ná die eerste grensoorloë, nie meer in die Suurveld belanggestel nie. Die ideale oplossing vir Somerset was dus om immigrante uit Brittanje in te voer. Sy verengelsingsbeleid sou ook ’n groot stoor vorentoe kry as hy ’n groot aantal Engelssprekendes in die binneland kon vestig. Geesdriftig het hy toe aan die werk gespring om die Britse owerhede in so ’n skema geïnteresseerd te kry.

Die toestande in Brittanje was op daardie stadium baie haglik en duisende mense het emigrasie as hul enigste redding gesien. Die soldate wat na die einde van die Napoleontiese Oorloë teruggekeer het, moes nou vind dat daar geen werk vir hulle was nie. Nadat hulle jare lank vir Brittanje geveg het, kon hul eie land nie vir hulle ’n heenkome bied nie en het hulle verbitterde werkloses geword.

Die Industriële Omwenteling en die opkoms van fabrieke het verdere duisende werkloses veroorsaak. Waar hierdie mense vroeër ’n bestaan kon maak met tuisnywerhede, het die fabrieke hulle nou geruïneer en baie moes selfs hul jong kinders in die fabrieke laat werk om kop bo water te hou. Op die Engelse platteland is baie landbouers ook van ’n heenkome beroof deur die afkamping van die meent-gronde. Baie het ’n bestaan gemaak deur hul vee op hierdie meent-gronde te laat wei. Die regering het dit egter laat toekamp en aan die groot grondbesitters verkoop.

Toe die Britse regering dus bekend maak dat hulle R100,000 beskikbaar stel vir so ’n immigrasie-skema na die Kaapkolonie, was die aanvraag oorweldigend. Iets soos 90,000 aansoeke is ontvang. Ongelukkig kon hulle slegs 4,000 mense stuur. Hierdie immigrante moes hulself groepeer in groepies van minstens tien manlike persone. Die regering sou dan met die leiers van die groepe onderhandel. Elke volwasse manlike persoon moes R20 by die regering deponeer. Dit sou dan later in drie paaiemente aan hulle terugbetaal word. Hulle sou ’n gratis oortog en ’n plasie van ongeveer 50 morg verniet ontvang.

Salig onbewus van al die probleme wat nog op hulle wag, vertrek die immigrante toe in 1819 met 21 skepe uit Londen. Hulle arriveer in die volgende jaar in Algoabaai, waar hulle deur die waarnemende goewerneur sir Rufane Donkin, ontvang word.

Lord Charles Somerset het die Oos-Kaap beskryf as ’n vrugbare en pragtige park-landskap. Die setlaars was dus vreeslik teleurgesteld toe hulle by Algoabaai aankom en vind dat dit ’n droë, vaal en onaansienlike streek is – heeltemal anders as die groen landskap van Brittanje. Hier het die eerste wankelmoediges reeds begin wonder of hulle ’n wyse stap gedoen het.

Die nedersetting by Algoabaai het op daardie stadium slegs bestaan uit Fort Frederik en drie klein huisies. Die Setlaars is dus maar voorlopig in tente gehuisves, die armes in klein ronde tentjies en die hoër klas immigrante in gerieflike markiestente. Hierdie tradisionele Britse instelling van maatskaplike ongelykheid en klasseverskille moes egter gou voor die probleme en aanslae van Afrika wyk. Goewerneur Donkin verdoop dan ook op hierdie stadium die nedersettinkie tot Port Elizabeth – ter ere van sy oorlede vrou, Elizabeth Markham.

Die Setlaars moes eers ’n hele rukkie in hierdie tente-dorp bly voordat hulle na hul toekomstige plasies verskuif kon word. Donkin het eintlik net 2,000 van hulle verwag en toe daar dubbel soveel opdaag, was sy planne ’n bietjie in die war gestuur. Hy besluit toe om die Iere maar by Clanwilliam te laat vestig i.p.v. op die Oosgrens.

Vanaf Algoabaai is die Setlaars deur Hollandse koloniste uit die omgewing met ossewaens na hul standplase vervoer. Aangesien daar op daardie stadium slegs sowat 400 Boere in die hele kolonie Engels magtig was, kon die Setlaars glad nie eers met hul nuwe mede-landgenote gesels nie. Elke groepie is dan ook by hul plasie afgelaai, sonder dat hulle ’n idee gehad het van wat op hulle wag en watter probleme die nuwe land aan hulle sou bied. Daar, stokalleen op die verlate veld, het die Setlaars besef dat hulle sou moes wortel skiet of omkom in die proses. Daar was geen ander uitweg nie.

Die Setlaars se eerste taak was om vir hulself huise op te rig. Aangesien daar geen boumateriaal beskikbaar was nie, moes hulle maar gepleisterde wattelgehuggies met grondvloere bou. Hul meubels is geprakseer uit kissies en hout wat hulle self op hul plasies gekap het. Gedurende later jare, toe hulle darem meer gevestig was, het hulle stewige huise met klipmure gebou as beskerming teen die voortdurende rooftogte van die Xhosas. Baie van hierdie huise bestaan vandag nog.

Die oorgrote meerderheid van die Setlaars was oorspronklik stedeIinge en baie van hulle het nie die vaagste benul van boerdery gehad nie. Toe hulle dus hier in die wildernis ’n boerdery aan die gang moes sit, het dit maar sukkel-sukkel gegaan. So het een bv. sy wortelsaad in ’n sloot van twee voet diep gesaai. ’n Ander het mielies met die stronk en al geplant. Nog ’n volgende het sy uie onderstebo geplant en ’n lid van die Salemgeselskap het grawe vol koring gesaai. “As jy spaarsaam saai, sal jy spaarsaam maai,” het hy gesê.

Daardie eerste paar jaar het die Setlaars werklik harde bene gekou. Waar die gereelde droogtes nie die oeste laat misluk het nie, was dit weer die rooi-roes wat die koringoes vernietig het. Die owerhede moes hulle ’n lang ruk van basiese lewensbehoeftes voorsien om hulle aan die lewe te hou. Volgens die voorwaardes van hul koms mog hulle glad nie hul plasies verlaat het om elders in die dorpe te gaan geld verdien nie. Die Suurveld was ook glad nie geskik vir gewone landbou nie. Dit was egter goeie bees- en skaapwêreld. Die Setlaars mag egter vireers nie met beeste geboer het nie. Die owerhede was bang dat hulle dan groot uitgestrekte plase sou begin aanlê en dat die idee van ’n digbevolkte grensgebied daarmee heen sou wees. Hul grondjies was in elk geval ook te klein vir veeboerdery. Hierdie byna uitsluitlike landboubedrywighede van die Setlaars het darem die voordeel gehad dat die Xhosas hulle aan die begin redelik met rus gelaat het. Eers toe die Setlaars ook met beeste begin boer het, was daar iets vir die Xhosa-bendes om te roof en het hulle weer in die Setlaars-gebied begin belangstel.

Teen 1823 was die Setlaars se toestande haglik. Toe drie jaar se misoeste gevolg word deur ’n vloedstorm wat hul lande en gehuggies weggespoel het, moes die owerhede ingryp. Hulle is verlof toegestaan om hul plasies te verlaat en in die dorpe te gaan werk. Baie het dan ook van die kans gebruik gemaak en na dorpe soos Grahamstad en Port Elizabeth gestroom. Hier sou hulle nou die beroepe waarvoor hulle opgelei was, kon beoefen. Sommiges het skrynwerkers, wamakers en hoefsmede geword en gehelp om die ontwikkeling van hierdie dorpe te stimuleer. Ander weer het handelaars geword en met hul waens die land ingedring.

Die wat op die plasies agtergebly het, is nou toegelaat om hul grondgebied uit te brei en ook om met vee te boer. Hulle het beeste en skape aangeskaf en heel gou sterk kuddes opgebou. In plaas van die vetstertskape van die Boere, het hulle hulself toegelê op die teel van Merino’s. Die grondslag van Suid-Afrika se winsgewende Merino-boerdery is dan ook hier deur die Setlaars gelê. Ten spyte van die verwoestende Xhosa-oorloë, het die Setlaars hierna heel gou ontwikkel tot ’n vooruitstrewende en welvarende gemeenskap.

Behalwe hul bydraes op landbougebied, was hul belangrikste bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika seker die stigting van ’n vrye pers. Setlaars soos Thomas Pringle, John Fairbairn en George Greig het ten spyte van teenstand deur die outokratiese Somerset, tog verlof verkry om hul “South African Journal” uit te gee. Die Setlaars is egter later teleurgestel deur hierdie koerante, toe hulle die Setlaars begin voorhou het as onderdrukkers van die nie-blankes.

Die oorhandiging van die Bybel aan die Voortrekkerleier Uys, een van die friese binne die Voortrekkermonument, Pretoria.

Die oorhandiging van die Bybel aan die Voortrekkerleier Uys, een van die friese binne die Voortrekkermonument, Pretoria.

Hierdie gevoel van verontregting, tesame met ’n gemeenskaplike verset teen ’n outokratiese Britse owerheid en hul basies konserwatiewe lewensuitkyk het ’n besondere band tussen die Boere en die Setlaars laat ontstaan. Met die Groot Trek van 1836 was hulle dan ook werklik spyt dat die Boere wou wegtrek. Toe Jacobus Uys se geselskap Trekkers by Grahamstad verbytrek, het die Setlaars aan hulle ’n Bybel oorhandig as blyke van hul agting en welwillendheid. Miskien het hulle toe teruggedink aan 1820 en hoe hulle toe self van vooraf in ’n nuwe land moes begin.

Hoewel die Setlaars se invloed meer in ’n lokale verband in die Oos-Kaap van belang was en hulle miskien nie so ’n belangrike rol as ander immigrante-groepe, soos die Hugenote, gespeel het nie, was hul koms tog van groot belang vir Suid-Afrika. Hul koms kan beskou word as die bakermat van die ontstaan van die groot groep Engelssprekendes in die Suid-Afrika van vandag.

Foto: Die oorhandiging van die Bybel aan die Voortrekkerleier Uys, een van die friese binne die Voortrekkermonument, Pretoria.