Die Kompanjiestuin en sy Gedenkwaardighede

Die Ou Hooggeregshof
December 12, 2017
Losie De Goede Hoop (Geen toegang)
December 12, 2017

TW Bowler • Kompanjiestuin met standbeeld van Sir George Grey voor SA Biblioteek • William Fehr-versameling

  1. Die Tuin (Geproklameer 1962)

Die vestiging van die blanke aan die Kaap het begin met ’n fort en ’n tuin: “Zoek … een plek voor fort … Zoek daarna goede grond voor de tuinen … Plant ook vruchtbomen”. So lui Jan van Riebeeck se instruksies onder meer. Digby die Soet- of Varsrivier, effens ten suidweste van die teenswoordige Parade, het hy toe sy Fort de Goede Hoop gebou en die baastuinier Hendrik Boom het die eerste tuin tussen die Fort die rivier aangelê. Nog voor die einde van 1652 is ook die grond aan die ander kant van die rivier, d.w.s. netwes van die teenswoordige Adderleystraat, bewerk.

Langsamerhand is die tuin in die rigting van die berg verskuif en uitgebrei. Teen 1660 was dit reeds heeltemal aan die westekant van die Varsrivier geleë. Hier, reg teenoor die bopunt van die Fort, in die vierkant wat vandag ongeveer deur Adderley-, Langmark-, St George- en Kerkstraat gevorm word, was die “Compagnies mieredicq thuijn” – of medisynetuin – ongeveer ’n 100 roede groot – “te samen stijff 21 1/10s morg lants” (omtrent 18 ha). Dit het van Tuinstraat, vandag Kerkstraat, in die rigting van Tafelberg gestrek en moes min of meer met die onderste deel van die teenswoordige tuin saamgeval. Dit was deur ’n digte heining van essebome en braambosse omsluit.

Teen 1670 het Kaapstad geleidelik begin vorm aanneem en die neiging van die “vlek” was om in die rigting van Tafelberg uit te brei. Gevolglik het die onderent van die tuin in die gedrang gekom. Eers is ’n stukkie afgesny om genoeg plek vir die nuwe kerk en begraafplaas te kry. Toe is “op de nieuwe afsnijdings van den thuijn”, onderskeidelik links en regs aan die bopunt van die Heerengracht (Adderleystraat) die slawelosie (Ou Hooggeregshof) en die hospitaal (vandag Syfrets Trust) gebou.

Tot 1679 is die tuin uitsluitend gebruik om in die verbygaande skepe se behoefte aan vars groente en vrugte te voorsien. Met die koms van Simon van der Stel het daar langsamerhand ’n verandering gekom. Die vryburgers, asook die Kompanjiestuin by Nuweland, het nou reeds soveel geproduseer dat die tuin in die Kaap as groente- en vrugtetuin nie meer so onmisbaar was nie. Daarom het Simon van der Stel dit geleidelik tot ’n botaniese en siertuin omgeskep. Hierdie beleid is deur Willem Adriaan van der Stel en latere goewerneurs soos Ryk Tulbagh en Van de Graaff voortgesit. Hiervoor het hulle gebruik gemaak van die dienste van baastuiniers wat in der waarheid botaniste was soos o.a. Heinrich Oldenland (1692-1697), Jan Hartog (1689-1715) en Johann Andreas Auge (1747-1785).

Uit die reisbeskrywings van Peter Kolbe en Francois Valentyn kan ’n besonder goeie beeld gevorm word van die tuin soos dit gedurende en onmiddellik ná die bewind van die Van der Stels daar uitgesien het. Die tuin was nou nog net 16 ha groot, en, volgens Valentyn, 1020 meter lank en 273 meter breed. Dit was in reghoekige blokke verdeel en is deur heinings, wat terselfdertyd as windskutte gedien het, van mekaar geskei. In sommige is groente of ander kruie gekweek, en in ander weer allerhande vrugtebome en inheemse en uitheemse bome en plante. Spesiale reise is na die binneland onderneem om inheemse gewasse te versamel, terwyl die uitheemse gewasse uit alle dele van die wêreld ingevoer is. In die lengte sowel as in die breedte het drie pragtige lanings ewewydig van mekaar deur die tuin geloop. Aan die bo-end van die tuin was ’n watermeul van waar die water van ’n bergstroom in netjies gemesselde vore oor die hele tuin gelei is. Aan die noordekant is die tuin deur ’n hoe klipmuur afgesluit en hier was ’n pragtige ingang. Simon van der Stel het op die plek waar die Staatspresident se woning vandag staan, tuinhuisie laat bou. Hier het hy besoekers uit vreemde lande in twee pragtige kamers onthaal en gehuisves; en hier het ook die baastuinier gewoon. As versiering het ’n aantal opgestopte diere gedien soos ’n leeu, ’n seekoei, ’n bosbok en ’n “Gevlamden schoonen Wilde Ezel”, of sebra.

In die loop van jare het die tuin ’n ware lushof, die trots van Kapenaars geword. Om sy prag en om die verskeidenheid van bome, struike en blomme het dit dan ook beroemdheid verwerf en die bewondering van besoekers afgedwing. Paul Hermann was in vervoering: “Oh, Lord, how many, how rare and how wonderful were the plants that on this single day presented themselves to Hermann’s eyes.” Die Franse Rooms-Katolieke vader Guy Tachard noem dit een van die mooiste en seldsaamste tuine wat hy gesien het, terwyl die bekende reisiger Francois Valentyn dit met die beroemde tuine van die wêreld vergelyk, maar volhou “dat egter geen van alle de vermaarde thuinen der Ouden, of der hedendaagze liefliebbers van thuinen, zoo men op aanleg der plantagie, en der zeldzaame boomen uit alle vier werelddeelen ziet, by deezen verbaazenden en fraajen Thuin konnen of mogen vergeleken worden …”

Gedurende die 18de eeu is die tuin verder in die rigting van die berg uitgebrei. Daarmee is waarskynlik reeds gedurende die goewerneurskap van Willem Adriaan begin, want hy het toe aan die bo-end van die tuin ’n dieretuin ingerig. ’n Vergelyking van ’n tekening van Josephus Jones (+1790) met Kolbe se plan toon die groot uitbreidings wat daar in hierdie eeu plaasgevind het. Dit moes toe reeds tot aan die teenswoordige Oranjestraat gestrek het. Afgesien van hierdie uitbreiding is ’n pragtige sieringang, deur die beroemde argitek LM Thibault ontwerp, in CJ van de Graaff se tyd gebou. Ook die tuinhuis was nou reeds so verbeter dat dit ’n klein paleisie met private tuin geword het en reeds jare lank as goewerneurswoning gedien het.

Gedurende die eerste Britse besetting het die tuin in verval geraak. Bowendien het sir George Yonge besluit om dit vir die publiek te sluit en dit vir sy private gebruik te reserveer. Hierdie eiegeregtige optrede het egter so ’n storm van verontwaardiging van die kant van die publiek laat losbars dat die goewerneur verplig was om die tuin weer oop te stel. Onder die Bataafse bewind is weer eens besondere aandag aan die tuin gegee. Dit was toe dat die bekende driemanskap – die argitek Thibault, die boumeester Herman Schutte, en die beeldhouer Anton Anreith – verantwoordelik was vir die oprigting van die suidelike ingang asook die sogenaamde Leeupoort tot die dieretuin.

Die 19de en die 20ste eeu was veel minder simpatiek teenoor die historiese ou tuin. Die uitbreidende stad het dit al hoe meer ingeneem en wel in so ‘n mate dat dit sy karakter en bekoring gedeeltelik verloor het. Eers het lord Charles Somerset die Goewerneurswoning aanmerklik vergroot en die gronde daaraan verbonde ten koste van die tuin uitgebrei. Daarna het die goewerneur in 1827 ’n verdere 0,4 ha grond van die tuin aan die Anglikaanse Kerk geskenk, waarop die St. George-katedraal later gebou is. In 1832 en 1833 word Thibault se pragtige ingang van die stad afgebreek, en hoewel dit deur ’n ander vervang is, het alle tekens van enige struktuur in die loop van jare alhier verdwyn. In die jare tagtig is verder kwistig met die grond van die tuin te werk gegaan toe o.a. die Parlementshuis en die Openbare Biblioteek op die onderste deel gebou is. Later het ook die sentrale en boonste deel in die gedrang gekom toe die Museum, die Kunsgalery, die Suid-Afrikaanse Kollege, monumente, standbeelde en ander geboue opgerig is. Deur sy proklamasie as historiese monument is daar nou rede om te hoop dat die reste van hierdie historiese tuin ongeskonde bewaar sal word.

TW Bowler • Kompanjiestuin met standbeeld van Sir George Grey voor SA Biblioteek • William Fehr-versameling (Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 12.)

(b) Goewermentslaan (Geproklameer 1937)

Die Goewermentslaan, wat vandag nog so ’n eie en besondere karakter aan die Kompanjiestuin en trouens aan Kaapstad gee, word reeds in 1685 deur Chevalier de Chaumont vermeld: “Die hoofwandelweg, wat veertienhonderd en vyftig tree (omtrent 1 305 m) lank is, is byna heeltemal beplant met suurlemoenbome.” Op ’n ou grondplan van Kaapstad van die jaar 1700 word dit duidelik aangedui en beskryf as “De groot pad van de thuijn aan beijde sijden met lemoen boomen beplant”. Dit het ’n ent onderkant die Groote Kerk begin, dan die huidige Adderleystraat gevolg en pylreguit deur die Kompanjiestuin geloop. Met die uitbreiding van die stad en die afsnyding van die oostelike deel van die tuin, het die onderste deel van die “pad” die Heerengracht geword en die boonste deel die Goewermentslaan. Dit was nou slegs 1 020 meter Iank.

In sy groot ywer om eikebome aan te plant, het Simon van der Stel die meeste lemoenbome deur eike vervang.

In 1726 skryf die reisiger Francois Valentyn dat daar aan weerskante van die Laan hoë heinings is. “Binnen deze heggen, die ik wel 23 of 24 voeten (omtrent 7 m) gisse hoog te zijn, heeft men in ’t middelpad veel eiken, limoen-, citroen-, orangien- en veelerlei andere boomen in ryen geplant; doch de eiken in dit pad … zijn niet boven een gemeen been dik”.

Gedurende die 18de eeu het hierdie laan weinig veranderinge ondergaan. Volgens Jan Stavorinus, ’n admiraal in die Nederlandse vloot, was die eikebome reeds so groot dat “they … afford a very agreeable shade by their foliage, uniting overhead”. Om en by 1790 het die bekende argitek Thibault in opdrag van goewerneur Van de Graaff die tuin van ’n pragtige ingang aan die stad se kant voorsien.

Tot in hierdie stadium het die laan nog net tot teenaan die dieretuin geloop wat aan die bo-end van die tuin geleë was, en die lengte daarvan is deur verskeie besoekers op ongeveer 900 meter geskat. Gedurende die Bataafse bewind is dit egter tot deur die dieretuin verleng. Volgens die planne van Thibault het Schutte hier aan weerskante van die laan ’n muur gebou. Daardeur is die ou verdeling van die dieretuin in ’n Voël- en Bokpark aan die linkerkant en ’n Roofdierpark aan die regterkant bevestig. Toegang tot hierdie parke is verleen deur twee pragtige hekke wat deur die beeldhouer Anton Anreith versier was. Die laan kry nou ook ’n mooi ingang aan die huidige Oranjestraat.

Dit was dan ook in 1804 dat kapt. Robert Percival van die laan skryf: “By die tuin se ingang is twee baie mooi hekke regoor die hoofwandelweg wat deur die hele lengte van die tuin loop en so breed is soos die Bird Cage Walk in St. Jamespark. Dit is netjies gerol en gegruis en elke kant is dig beplant met eikebome, lae olms, mirte, lourier en malvas. Aan die linkerkant is ’n kanaal wat altyd vol water uit Tafelberg is en wat van die tuin na die stad vloei”.

Gedurende die 19de eeu het die laan, hoewel dit in hoofsaak ongeskonde gebly het, iets van sy karakter verloor. Die ingange aan die bo- en onderend liet verdwyn; aan die onderend is aan weerskante geboue opgerig en die tuin van Goewermentshuis is tot aan die laan uitgebrei. Desnieteenstaande bly hierdie ou laan met sy netjiese gruisblad waarop geen voertuig toegelaat word nie, en 51 rustige eike, waarvan party al besonder oud is, een van die plekke wat aan die ou Kaapstad van die Kompanjiesdae herinner en wat deur die openbare mening dikwels in die verlede beskerm is teen diegene wat daarop inbreuk wou maak.

Onbekende kunstenaar – natekening A. Elliott, 1932 • Die ingang tot Goewermentslaan, c. 1830 • Elliott-versameling, Staatsargief, Kaapstad

(c) Ingange tot en hekke in Goewermentslaan (Geproklameer 1961)

Op ’n ou kaart van Kaapstad word deur die letter Z “D’Ingang van Comp’s Thuyn” aangedui. Toe was dit nog iewers aan die bopunt van die huidige Adderleystraat geleë. Teen 1679 was hierdie ingang van die stad egter reeds verskuif tot agter die slawelosie of die huidige Ou Hooggeregshof. Op Valentyn se plan van die tuin in sy reisbeskrywing in 1726 word die ingang aangegee by die onderste hoek aan die oostekant van die tuin, d.w.s. in die huidige Parlementstraat net bokant die slawelosie. Hy skryf as volg: “Men gaat aan de O. zyde door een groote poort in dezen Thuin … Deze poort heeft twee pilasters. In het frontifpies staat:

Om praktiese redes is hierdie ingang later na die bopunt van Adderleystraat verskuif. Omstreeks 1788, tydens die bewind van Van de Graaff, is hierdie ingang deur die argitek LM Thibault van ’n pragtige poort met ’n waghuis aan die regterkant voorsien. Ongelukkig is hierdie poort reeds in die jare dertig van die 19de eeu afgebreek.

Ook aan die bo-end van Goewermentslaan was daar in die ou dae pragtige hekke. Gedurende die Bataafse bewind het genl. JW Jansens aan LM Thibault opdrag gegee om hier sekere veranderinge en verfraaiinge aan te bring. Hy het eers hierdie laan wat toe by die dieretuin doodgeloop het, deur hierdie sogenaamde “diergaardt” verleng en dit aan weerskante met hoë mure afgesluit. Om toegang tot die twee afdelings van die dieretuin te verleen, het hy, bygestaan deur die beeldhouer Anton Anreith, in elke muur ’n pragtige hek laat bou. Die een aan die westekant, met sy bekende rustende leeuinne, het na die roofdierpark gelei, terwyl die ander een daar reg teenoor aan die oostekant toegang tot die bok- en voëlpark verleen het. Die hekke is met baksteen, sement en fyn kalk gebou en Thibault se totale rekening vir hierdie pragstukke was 300 riksdalers, sowat R45.

Met die verloop van tyd is die leeuinne op die westelike hek beskadig, maar hulle kon op versoek van die Kommissie herstel word. Die oostelike hek sal binnekort deur die Provinsiale Administrasie gerestoureer word.

Met die verlenging van die laan en die bou van die twee genoemde hekke was dit nou vir Thibault nodig om ook aan die boonste ingang aandag te skenk. Hier het hy dus nou oor ’n stroom water ’n ornamentele brug met kosbare Chinese hortjiesrelings en ’n “wagthuis voor de nieuwe brug” gebou. Ook dit het in verval geraak en tans is daar van hierdie strukture geen teken meer nie.

 

(d) Bronsplaat: Die Nasionale Konvensie, Parlementshuis (Bronsplaat 1940)

So oud is die Kompanjiestuin en die Goewermentslaan dat selfs geboue wat as indringers in die deel beskou moet word, van historiese belang geword het. In 1885 is die Parlementshuis aan die onderend van die laan voltooi. Dit sou vir 25 jaar dien as die tuiste van die regering van die Kaapkolonie. In 1908 egter is ’n Nasionale Konvensie, bestaande uit afgevaardigdes van die vier kolonies, byeengeroep om, met die oog op die vereniging van Suid-Afrika, ’n grondwet op te stel. Eers het die Konvensie in Durban vergader. Toe het dit van 23 November tot 18 Desember 1908 en weer van 11 Januarie tot 3 Februarie 1909 in die saal in hierdie gebou byeengekom. Hier is die ontwerp van die Suid-Afrika-Wet, grondwet van die Unie van Suid-Afrika voltooi.  

 

(e) Bertram-Huis (Geen toegang) (Geproklameer 1962)

’n Ander indringer op die terrein van die ou Kompanjiestuin is ’n huis sonder pretensie, maar ’n huis wat ’n belangrike plek in die geskiedenis van die boukunde in Suid-Afrika inneem. Dit is Bertram-huis, geleë onder die skaduryke ou eikebome aan die bopunt van die Goewermentslaan.

Na die permanente oorname van die Kaapkolonie deur Groot-Brittanje in 1806 het die Engelse invloed ook baie sterk op die terrein van die argitektuur ingewerk. So het gedurende die jare 1820 en 1837 die Georgiaanse baksteenhuise in ons dorpe die mode geword, en Bertram-huis is een van die weinige oorblywende voorbeelde van hierdie boustyl in Kaapstad. Dit is om en by die jaar 1820 gebou en in alle waarskynlikheid deur Edward Durham, ’n kontrakteur en die stigter van die bekende firma George Finlay & Seuns van Kaapstad. In 1839 is dit uit sy boedel verkoop.

Hierdie woonhuis vertoon die belangrikste kenmerke van die Georgiaanse boustyl. Uiterlik is dit onopvallend – ’n kubusvormige dubbelverdiepinghuis met baksteenmure waarin die natuurlike kleur van die bakstene behou is, ongepleister en onafgewit. Die vensters is van skuiframe en die deure van halfronde boligte voorsien.

In teenstelling met die onopvallende uiterlike is besondere aandag aan die interieur gegee. Die vertrekke is ruim met hoë ornamentele plafonne, dekoratiewe muurpapier en fraai kaggels van gegote yster. Hierdie vertrekke is en suite gerangskik en groot voudeure verbind hulle met mekaar. Die stewige, maar sierlike trap wat van die onderste na die boonste verdieping lei, was ’n uitstaande kenmerk van hierdie huise. Daarbenewens was die meubels in volle harmonie met die interieur.

 

(f) Die Egiptiese gebou (Geproklameer 1969)

Net bokant Bertram-huis, ook aan die regterkant van die Laan, is die sogenaamde “Egiptiese Gebou” van die Universiteit van Kaapstad geleë. Dit Iê verskuild agter die ou wit muur van die Kompanjie se roofdierpark en toegang daarheen word verleen deur die pragtige poort wat aan die begin van die 19de eeu deur Louis M Thibault ontwerp is, deur Herman Schutte gebou is en deur Anton Anreith versier is.

Hierdie gebou is een van die oudste op die uitgestrekte terrein wat die Kompanjiestuin vroeër beslaan het. In 1829 het die Suid-Afrikaanse Kollege, tans die Universiteit van Kaapstad, tot stand gekom. In 1838 het die goewerneur, sir Benjamin D’Urban, ’n gedeelte van die Kompanjie se ou roofdierpark hier in die Tuin aan die Kollege geskenk vir die oprigting van ’n eie gebou. Reeds die volgende jaar het die Kollegeraad ’n voorlopige skets vir so ’n gebou deur dr. James Adamson, professor in Engels en Natuurkunde, goedgekeur. Die ontwerp, waarop Egiptiese suile aangedui was, is deur kol. GG Lewis van die Royal Engineers noukeurig hersien en in alle besonderhede uitgewerk. Die gebou is beplan as die drie sye van ’n ope vierkant met ’n vergadersaal in die agterste sy en drie klein klaskamers in elk van die vleuels. Kenmerkend sou wees die swaar suilegange van Egiptiese pilare ooreenkomstig die Neo-Egiptiese boustyl wat in die jare dertig en veertig van die 19de eeu so gewild was.

In September 1839 is die planne vir die gebou deur die Kollegeraad goedgekeur en dit is bereken dat dit £3 132 (± R6 264) sou kos. Hiervan sou die Kaapse regering die bedrag van £2 000 as ’n lening bydra. Met kol. Lewis as argitek en as bou-opsigter is nog in dieselfde maand begin gemaak met die oprigting van die gebou. Binne twee jaar is dit voltooi en op 13 April 1841 deur dr. James Adamson, geopen. Rondom die gebou was daar nou nog die bouvalle van die hokke van roofdiere en van die ou slawehuis. In die vierkant het ’n paar eikebome gestaan terwyl ’n eikelaan geloop het van die nuwe gebou na die terrein waar die Klein Teater tans staan. In die vroeë jare was ’n wag by die toegang gereeld op diens.

Met die uitsondering van twee klaskamers wat in 1883 agter die gebou aan die grens van Bertram-huis aangebou is en enkele binnemure wat uitgeslaan is, het die “Egiptiese Gebou” deur die jare heen onveranderd bly bestaan en naas die Gimnasium in Noorder-Paarl is dit die enigste gebou in Suid-Afrika wat in hierdie boustyl opgerig is.

Hierdie gebou is nie slegs die oudste gebou van die Universiteit van Kaapstad nie, maar dit is die eerste gebou wat vir die doeleindes van hoër onderwys en universitêre opleiding in Suid-Afrika opgerig is en wat ononderbroke tot vandag as sodanig gebruik is. In hom het dan ook bekende geleerdes onderrig gegee: dr. James Adamson, sir Langham Dale, prof. Roderick Noble, prof. William Ritchie, president JH Brand, prof. PJ du Toit, prof. MC Botha, e.a. Talle studente wat hulle opleiding hier gehad het, sou in die Suid-Afrikaanse lewe ’n leidende rol speel: lord De Villiers, hoofregter van die Kaapkolonie (1874-1910) en eerste hoofregter van die Unie van Suid-Afrika (1910-1914); sir James Rose-Innes, politikus en hoofregter (1914-1927), WP Schreiner, Eerste Minister van die Kaapkolonie (1898-1900), JH (Onze Jan) Hofmeyr, NP van Wyk Louw, e.a.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 12-17.