Die kommandolewe

Guerillastryd begin
January 22, 2015
Tydverdrywe op kommando
January 22, 2015

Professor Fransjohan Pretorius doen in sy werk Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899–1902 uitvoerig en interessant verslag oor die kommandolewe: die kos en klere, godsdiens, dissipline, liggaamlike ontspanning, tyd-verdryf en kultuuraktiwiteite.

Vir die goeie orde was daar by elke kommando algemene bepalings oor higiëne. Een skrywer het opgemerk dat die Boere nalatig was oor sanitêre aangeleenthede; hy het nie ’n enkele latrine gesien nie. Maar ’n Duitse vrywilliger, Oskar Hintrager, verduidelik dat die Boer vir liggaamlike behoeftes moes loop tot hy buite gesig is, aangesien sy fyngevoeligheid nie toegelaat het dat hy gesien word nie. Inderdaad het laerregulasies bepaal dat sulke behoeftes buite die laer verrig word op plekke wat die laerkommandant daarvoor aangewys het.

In sommige laers is die higiëne behoorlik gehandhaaf, maar in party laers was daar sanitasieprobleme. Weens die groot mobiliteit in die guerillafase was daar in dié tyd min higiëneprobleme. Erg was aan die begin van die oorlog die vlieë, veral in Natal. Die later bekende digter Jan FE Celliers skryf hoe hulle tydens maaltye teen die vlieë moes veg: “Eers ’n stukkie afsny, dan met die hoed oor die bord waai, dan gou met die vurk hap voordat die passasiers opklim.”

In die guerillafase het die burgers minder las van vlieë gehad, maar meer van luise. Verlate opstalle, waenhuise of hoenderhokke was die ideale aanteelplek van luise, en wie snags daar deurgebring het, het dit daar gekry. Die luise was ’n onaangenamer plaag as die vlieë. Een burger het teenoor sy broer erken: “Boetie die Here weet ik sal nooit Hands up, maar als ik moet Hands up dan sal Luise die oorsaak daarvan wees.” Blykbaar het sommige burgers wel weens die luise oorgegee! Een het gesê hy gee nie om om doodgeskiet te word vir sy land nie, maar vervloek dit om vir sy onafhanklikheid deur luise opgevreet te word. In die veld het allerlei ander vlieënde en kruipende insektes en ongediertes die burgers lastig geval: slange, krieke, skerpioene, spinnekoppe. Iemand het in 1901 beweer dat die geskree van krieke en koggelmanders wat hulle elke aand vir geselskap gehad het, nooit uit sy geheue uitgewis sal word nie.

Te midde van die daaglikse verpligtings was daar tyd vir ontspanning. Swem was in die somer die natuurlikste daarvan. Georganiseerde Boeresport, onder meer atletiek en perderesies, was dwarsdeur die oorlog gewild, veral op tradisionele fees- en vakansiedae soos Nuwejaarsdag, president Kruger se verjaarsdag (10 Oktober), Majubadag (27 Februarie) of die Vrystaatse onafhanklikheidsdag (23 Februarie). Party kommando’s het op godsdienstige feesdae soos Kersdag en Dingaansdag sportbyeenkomste gehou. Die oggend is godsdiens gehou en die middag die sport.

Die godsdienssin het gewissel van vroomheid en diepe erns tot onverskilligheid en ligsinnigheid. Dat godsdiens en volksgevoel soms vermeng was, is begryplik. President Steyn het in 1900 gesê dat wapenneerleggers verlore is en dat dié wat volhard, tot die uitverkorenes behoort. Dominee AJV Burger het hom gesê dat sy maatstaf verkeerd is.