Die keuse van ’n standaardvariëteit

Vroeë skryftaalprobleme
January 23, 2015
Selfbestuur vir Transvaal en die Vrystaat
January 23, 2015

Die standaardtaal wat langsamerhand ontwikkel is, is gegrond op Oos-grensafrikaans. Waarom het sprekers van Kaapse Afrikaans en Oranjerivier-afrikaans in die taalbeweging en die proses van standaardisering ontbreek?

Dialekverskille korreleer dikwels met etniese verskille tussen die sprekers, en/of ’n verskillende geskiedenis. ’n Voorbeeld is die verskil tussen Black English Vernacular en sprekers van standaard-Engels in Amerika. In Afrikaans was daar al lank etniese teenstellings tussen enersyds die sprekers van Oos-grensafrikaans (dit wil sê die Afrikaners) en die sprekers van die ander twee variëteite. Hierdie teenstellings is verskerp deur die Anglo-Boereoorlog. Die sprekers van Kaapse Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans was oor die algemeen pro-Brits, en die Afrikaners in die Kaapkolonie dikwels sterk anti-Brits. Die belangrikste bruin leier van dié tyd en die dekades daarna was Abdullah Abdurahman, wat bitter anti-Afrikaner en sonder doekies omdraai teen Afrikaans was. Die houding teenoor die oorlog het die hele 20ste eeu bly bestaan. Dr Jakes Gerwel, gewese rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, het in 1988 na aanleiding van die taalstryd meermale uitsprake gemaak in die trant van: “óns het nie die Boere-oorlog geveg nie en ons hoef dit nie voort te sit nie”. Dit was verstaanbaar dat Afrikaners die standaardisering van Afrikaans aangepak het sonder om kulturele leiers van ander skynbaar vyandiggesinde Afrikaanse groepe te raadpleeg.

Soos reeds gemeld (“Wit en bruin Afrikaanstaliges”) was die meeste bruin mense vurig pro-Brits in die oorlog omdat die Britse owerheid aan hulle politieke regte toegestaan het wat die Boererepublieke nie gehad het nie. Die bruin mense het ná die oorlog gemeen hulle moet beloon word vir hul dienste aan Brittanje. Milner het immers self verklaar dat hulle baie lojaal was “in the great struggle for enfranchisement”, soos hy die Anglo-Boereoorlog by geleentheid genoem het.

Maar daar was groot verskil van mening hieroor tussen die verteenwoordigers van die Britse regering wat tydelik in Suid-Afrika was, en die meerderheid Engelssprekendes wat permanent hier woonagtig was. Die oorgrote meerder-heid Engelssprekendes van Transvaal, Natal en die Vrystaat was teen politieke regte vir bruin of swart mense. Daarmee moes Milner rekening hou. Toe die stadsrade van die twee gewese republieke ná die oorlog ingestel moes word, het die Britse owerheid die kiesreg in Transvaal en die Vrystaat tot blankes beperk. ’n Aantal bruin mense het in 1902 die African People’s Organization (APO) gestig, die eerste politieke organisasie vir ander mense as blankes in Suid-Afrika. Abdurahman was die leier. APO het in Junie 1906 ’n afvaardiging na Brittanje gestuur om te vra om politieke regte ook aan bruines toe te ken wanneer Transvaal en die Vrystaat selfbestuur kry. Hul eis was gegrond op die redenering dat die term naturelle wat in die vredesverdrag van Vereeniging voorkom, nie die bruin bevolking insluit nie. Die sending was egter onsuksesvol.