Die Kerkgebou, Ned. Geref. Sendinggemeente, Wagenmakersvallei

Twist Niet, Wellington
January 19, 2018
Blokhuis, Wellington
January 19, 2018

Net buite Wellington op pad na Bainskloof draai ’n pad links uit na Bovlei en drie km verder op hierdie pad aan die linkerkant lê die gebouekompleks van die Ned. Geref. sendinggemeente Wagenmakersvallei. Hier staan die vierde oudste van alle kerkgeboue en die tweede oudste sendingkerk in Suid-Afrika.

Sendingwerk onder slawe en gekleurdes in die Wagenmakersvallei is reeds in 1796 deur Jan Jacob van Zulch, ’n bekeerling van die bekende Kaapse predikant ds. Helperus Ritzema van Lier, begin. Met die doel het hy hier iewers ’n “vergaderplaats” of “oefeningshuis” opgerig. In 1800 moes hy egter weens swak gesondheid die werk staak. Onder toesig van die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap van Kaapstad is Van Zulch se werk toe agtereenvolgens deur James Read, eerw. Van der Lingen en ene Bastiaan Tromp voortgesit.

Intussen het die N.G. gemeente van die Paarl onder wie Wagenmakersvallei geressorteer het, hom in die sendingwerk alhier begin interesseer, en die kerkraad het ene Daniël Jacobus le Roux aangestel om die eredienste waar te neem en aan die slawe onderwys te gee. Le Roux het al dadelik aangedring op ’n behoorlike kerkgebou. Van die goewerneur, lord Charles Somerset, is die nodige grond verkry. ’n Boukommissie bestaande uit ses boere – drie Le Rouxs en drie Hauptfleische – is aangewys. Bydraes is van blank en nie-blank ingesamel, en met die bou van die kerk is ’n aanvang gemaak. Op 18 September 1820 kon dit in teenwoordigheid van ongeveer 200 mense deur ds. J.G.L. Gebhart, predikant van die Paarl, ingewy word.

Die gebou, wat net soos ander sendingkerke van die tyd “Gesticht” en “Oefeningshuis” genoem is, was ’n langwerpige reghoek met strooidak en grondvloer. In die jare sestig is die twee sygewels aangebou en op 21 Oktober 1869 ingewy. Daardeur het die kerk ’n T-vorm gekry, waarvan die been van die T met die gewel waarop die datum 1820 pryk, die oorspronklike is. In 1896 is die strooidak deur ’n sinkdak en in 1927 die grondvloer deur ’n plankvloer vervang.

Die ononderbroke bediening van hierdie gemeente deur leidende sendingpersoonlikhede is onoortroffe in die Suid-Afrikaanse sendingannale. In ’n tydperk van 116 jaar is dit slegs deur vier sendelinge bedien: van 1830 tot 1879 deur eerw. Isaac Bisseux van die Parys Sendinggenootskap; van 1879 tot 1910 deur die merkwaardige Nederlander, eerw. J.C. Pauw, en daarna tot 1946 agtereenvolgens deur eerw. J.P. de Villiers en eerw. J.M.N. Breedt.

Die gebou is dus nie slegs uit hoofde van sy ouderdom belangrik nie, maar ook weens sy rol in die Suid-Afrikaanse sendingwese.

(Geproklameer 1966)

Foto: Die Ned. Geref. Sendingkerk, Wagenmakersvallei

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 92-93.