Die kerke en ’n “dunbevolkte hiernamaals”

Nederlands was te moeilik vir baie
January 23, 2015
Die eerste Springbokke
January 23, 2015

Preller het intussen op verskeie maniere Afrikaans probeer dien. Hy het die eerste Afrikaanse biografie geskryf: Piet Retief. Vir die eerste keer, sê sy biograaf, PJ du Plessis, is ’n sinvolle beeld van die Groot Trek geskep, soos gesien deur die oë van ’n Afrikaner. Die Groot Trek en die vryheidsoorloë kry nou betekenis en laat mense trots voel om Afrikaner te wees. “Waar die oorlog diskontinuïteit in die gang van die Afrikaner se geskiedenis gebring het, slaag Preller se Piet Retief daarin om kontinuïteit in hul geskiedenis en volksbestaan binne die Ryk te bring.” Resensente het die boek simpatiek ontvang en dit het goed verkoop.

Bekommerd oor die aantrekkingskrag van die oppervlakkige Engelse toneel- en vermaaklikheidswêreld, sportmalheid, “variety shows” en die nuwe vermaak van die tyd, die bioskoop, was Preller steeds besig om planne te beraam om die Afrikaanse kultuur uit te bou. So het hy medewerker geword aan doktor Nicolaas Mansvelt se Hollands-Afrikaanse liederbundel, waarvan ’n eerste uitgawe in 1907 verskyn.

In dieselfde jaar stig hy en ’n paar ander die Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging (AHTV). Preller was die regisseur van die eerste stuk, Ou’ Daniel van Harm Oost. Die opvoering het groot byval in die pers gevind. Meer stukke is opgevoer selfs in Potchefstroom, Heidelberg en Ermelo. Teen Junie 1908 waarsku die kerkraad van die Gereformeerde gemeente Pretoria drie AHTV-lede egter dat hulle moet afsien van die toneel of die gevaar loop om onder sensuur te kom! Preller wás toe al wrewelrig teenoor die Afrikaanse kerke, oor onnasionale gesindhede en praktyke soos die Engels-prekery, selfs in die oorlog, baie kerkmense se afwysing van die Afrikaanse beweging; die Kaapse Kerk se houding oor die Groot Trek, en die maklike manier waarop die kerk joiners weer aanvaar het.

Vol woede en emosie skryf hy ’n verweerskrif teen die kerk, Drama en moraal (wat nooit gepubliseer is nie), om die kerk as anti-nasionale faktor te openbaar. Hy plaas nie net die Gereformeerde gemeente Pretoria in die beskuldigdebank nie, maar sommer die Afrikaanse kerk as geheel. Nasionalisme is gerig op die aardse wel en wee van die volk, maar vir die kerk gaan dit “alleen om ’n mens se reg op ’n staanplek … in ’n dun bevolkte hiernamaals”. Daarom is die Afrikaners onwillig om hul eie kunstenaars, skilders en musici te ondersteun. Hier het hy mense soos die musikus Bosman di Ravelli en die skilders Frans Oerder, Erich Mayer en Hendrik Pierneef in gedagte, skryf Du Plessis. Deur in te gryp in die doen en late van die AHTV maak die kerk hom volgens Preller skuldig aan ’n poging om te “tiranniseer” sonder om ag te slaan op die nasionale belange wat hy ondermyn. Preller was onregverdig – só onnasionaal was die kerk nie.

In De Volksstem het Bosman di Ravelli ewe krities oor die gewilde liedere in die kerk geskryf: “Sankey-liedere is in die musikale wêreld bekend as Sankey’s ‘gruwele’, omdat die musiek so sleg is, en tog word dit meestal in ons godsdiensoefening voorgetrek bokant die Gesange en Psalme, wat nou werklik goeie musiek is.”