Die Kangogrotte, dist. Oudtshoorn

Pinehurst, Oudtshoorn
July 27, 2018
George Rex-skeepshelling, dist. Knysna
July 27, 2018

Hierdie beroemde besienswaardigheid is geleë in die Kango, 29 km noord van Oudtshoorn. Die ingang is in die hang van ’n heuwel langs die Grobbelaarsrivier.

Dit word vandag algemeen aanvaar dat dié grotte in 1780 deur die veewagter van ’n sekere boer, Van Zyl van Doornrivier, tans Herold, ontdek is, terwyl hy in die Kango op soek was na verlore vee. Later is hy weer daarheen vergesel deur ’n skoolmeester en toe uiteindelik het Van Zyl met ag slawe en ’n lang tou daarheen gegaan om die “gat” te ondersoek. Dit is hoe die grootste saal in die grot dan ook vandag die Van Zylsaal heet. Dit is ongeveer twintig meter hoog en nagenoeg tagtig meter in deursnee.

Die doolhof van grotte is ’n ware feëland. Met die pragtige stalaktietformasies daarin skep hulle ’n  indruk van kolossale skoonheid. Massiewe stalaktiete hang van die hoë plafon en ontmoet hulle  ooreenstemmende stalagmiete; oral hang daar groot rotsgordyne terwyl kleiner formasies en  ontelbare flikkerings bekoring en keurigheid by die grootsheid en prag voeg. In die Kersuitgawe van  die Cape Times, 1906, skryf C. Wyndham: “No penned description is capable of conveying an adequate idea of the magnificence and infinite variety of nature’s cunning and clever workmanship in this great subterranean abode of perpetual night, this profoundly dark home of the beautiful snow-white and cream crystal-calcite, formed into millions of different designs and images, stately and fantastic, gorgeous and grotesque, massive and delicate, by the filtration, through the superincumbent dolomite, of lime impregnated water falling slowly drop by drop, with infinite steadiness and infinite persistence through centuries of time …”

’n Vername geoloog beskryf die grotte as volg: “Hierdie grotte is van die mooiste stalaktietgrotte ter wêreld. Die mure en dak … is besonder mooi weens die vorm en glans van die groot aantal stalaktiete wat daaraan vassit, terwyl die vloer gedeeltelik bestaan uit afvalstukke wat deur kalktuf en stalagmiet saamgekit is. Die hoofgrot is byna ’n kilometer lank, maar die gange is meer as drie km ver ondersoek.

Die grotte het ontstaan deur erosie van die kalksteen deur ondergrondse water langs natuurlike splete in die rots. Die belangrikste kamers lê nagenoeg in ’n reguit lyn en is by die kruispunte van nate gevorm. Hulle kom langs ’n voormalige ondergrondse rivierstelsel voor. Water wat koolstofdioksied bevat, los kalksteen op, en die slote wat deur sulke water in die rots gevorm word, sou die neiging hê om hier en daar, weens dakinstortings in hoogte toe te neem – vandaar die ontstaan van ruime, wye kamers, deur smaller en laer gange met  mekaar verbind. Die water het vervolgens hierdie lope verlaat en in ander wat laer was, gevloei. Die stalagmiete het ontstaan uit water wat uit krake en splete in die dak gesyfer en gedrup het; hulle groei baie langsaam aan”.

Boesmanskilderye, wat ongelukkig nou uitgewis is, en klipwerktuie, wat naby die hoofingang van die grotte aangetref is, dui daarop dat hulle vroeër deur mense van die Steentydperk bewoon is.

In 1828 het die ou plaas “Combuis aan de Cango” in besit van Pieter van der Westhuizen gekom, maar die grotte is deur die regering uitgehou en die veldkornet van die Kango is toegelaat om toegangsgeld van besoekers te vra, en boetes op oortreders te lê. Die opbrengs van die grotte sou vir onderwysdoeleindes gebruik word.

In 1891 word daar ’n hek by die ingang opgerig. Herman van der Veen word die eerste opsigter en Van Wassenaar (wat sedert 1880 die grotte ondersoek het) word die eerste gids. Maar die aantal besoekers het min gebly tot 1897, toe daar vir die eerste keer ’n goeie pad na die grotte gebou is.

In 1921 het die Oudtshoornse stadsraad die beheer van die grotte oorgeneem. Sedert 1928 is dit elektries verlig en op sommige plekke word deur gekleurde beligting buitengewone effekte bereik. Daar is gedurig gidse in diens. Vir die gerief van besoekers was daar aanvanklik slegs ’n teekamer by die ingang. Tans is daar op die terras benede die ingang die allermodernste geriewe aangebring.

(Geproklameer 1938)

Die Kangogrotte • George Thompson: Travels and Adventures in South Africa

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 125-126.