Die Kaapse Stoel. ’n Unieke kultuurerfenis

Anton van Wouw (1862-1945)
September 20, 2018
Die groot medisyne van “Eendag, lank, lank gelede …”
September 21, 2018

Stoele is van besondere belang by die studie van meubels en dikwels die beste riglyn vir die studies van die sosiale historikus. Die stoel is reeds meer as 3 500 jaar in gebruik en is ’n goeie beeld van die sosiale ontwikkeling van ’n bepaalde tydvak. So bv. kan ’n vorm van ’n stoel ’n aanduiding gee van die kleredrag van vroue in ’n bepaalde tyd. Die verdwyning van die skommelstoel dui bv. daarop dat dit ondoeltreffend is vir beeldradiokyk.

Een van die interessantste verskynsels van vandag is die versamelwaarde van die ou Kaapse stoele wat in die vroeë 18de en 19de eeu aan die Kaap in gebruik was. ’n Verbasende groot aantal van hierdie stoele het in die omgang behoue gebly. Hoewel die ander provinsies in die Republiek ook hul stoele het wat plaaslik gemaak is, het die Kaapse stoel ’n spesiale kultuur waarde verkry. Dit het die simbool geword van die Kaapse kultuur – die kultuur van die blanke nedersetters aan die Kaap die Goeie Hoop gedurende die eerste eeue na hul aankoms in 1652. Later het dit geleidelik deel geword van ’n groter Suid-Afrikaanse kultuur.

Die Kaapse kultuur was die besit van ’n klein gemeenskap, eers van pioniers en later van ’n redelik gevestigde en welvarende bevolking. Dit was afkomstig hoofsaaklik van die Nederlandse, Duitse en Franse kulture en na 1800 was daar ’n sterk toevoeging van die Engelse kultuur. Maar gaandeweg het die Kaapse kultuur eiesoortig geword. Daarvan getuig sy argitektuur en sy ameublement, waarvan die ontwikkeling van die Kaapse stoel ’n besondere voorbeeld is.

Van alle meubels word stoele die drukste gebruik. Daarom is hul omset die grootste. Juis daarom kan geleidelike stylveranderings, wat van jaar tot jaar plaasvind, die maklikste in stoelontwerpe waargeneem word.

In teenstelling met ander meubels word stoele dikwels na ’n paar dekades afgedank. Om dié rede is werklike ou Kaapse stoele van voor 1700 uiters seldsaam. Oor die vroeë geskiedenis van die Kaapse stoel is min bekend. Daar kan nie presies gesê word wanneer die eerste inheemse stoel aan die Kaap gemaak is nie. ’n Beskrywing van die soort stoel wat in die tyd van Jan van Riebeeck algemeen aan die Kaap in gebruik was, bestaan ook nie. Dit kan egter aanvaar word dat die eerste stoele aan die Kaap waarskynlik ooreengekom het met dié wat in Europa en veral in Holland in gebruik was. Of stoele ingevoer is en of stoele hier nagemaak is, is ’n vraag wat nog nie met sekerheid beantwoord kan word nie.

Die stoele wat in die tweede helfte van die 17de eeu en die eerste kwart van die 18de eeu in Nederland in gebruik was, was dié waarin die streng klassieke Barokstyl van Lodewyk XIV vervang is deur die meer dekoratiewe regentskapstyl wat later die voorloper van die Rococo was.

Met Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap was die regop, taamlik hoekige stoele met reghoekige opgestopte of leerpanele tussen die rugstyle in die mode. Teen die einde van die 17de eeu het die stoel met kurktrekkerpote of bok- of volpote in gewildheid toegeneem. Daar was toe ook reeds ’n verandering in die rugpanele. Die reghoekige vorm het ontwikkel tot aparte ovaal- of skildvormige panele wat met rottang bespan is. Dit is die soort stoel wat omstreeks 1700 en vroeër na die Kaap ingevoer moes gewees het en wat waarskynlik ook hier nagemaak is. Dit het as basis gedien vir die soort stoel waaruit die eiesoortige Kaapse stoel ontwikkel het. Dit was algemeen as die Tulbagh-stoel bekend.

Foto: Die hoekstoel of wiegiestoel word beskou as die eerste inheemse stoel in Suid-Afrika en was van kort na 1700 in omloop in die Kaap. Hierdie hoekstoel is een van ’n paar behoue voorbeelde in stinkhout en dateer uit c1720. (Versameling Koopmans de Wet, Kaapstad)

Die sogenaamde hoek- of wiegiestoel word beskou as die eerste “inheemse” Kaapse stoel. Die stoel met sy twee loodregte sykante, wat ook as ’n wiegie teen ’n muur diens kon doen, het uiters selde in Europa voorgekom en daar kan dus met redelike sekerheid aanvaar word dat dit die oudste inheemse stoel is.

Die hoek- of wiegiestoel maak ’n reghoekige geheelindruk–’n kenmerk van 17de-eeuse meubels. Dit het ’n soliede rug en kurktrekkerpote. ’n Kaapse variasie op dié stoeltipe is die neo-klassieke hoekstoel wat hoofsaaklik van stinkhout of lemoenhout gemaak is en wat boonste rugsporte, vierkantige rottangsittings, ronde style en pote en gedraaide kruisvormige voetsporte het.

In dieselfde periode is die sogenaamde wiel- of burgemeesterstoel, wat van Oosterse oorsprong was, aan die Kaap nagemaak. Hierdie stoele is baie raar. ’n Voorbeeld word in die Kasteel in Kaapstad bewaar. Dit is ’n variant op die hoekstoel met ’n half ronde rug met gedraaide style, ’n ronde rottangsitting en ses gedraaide pote.

Die meeste Kaapse stoele is uit ingevoerde stukke ontwikkel, meestal uit Europa, en was redelik verfynd. Dit verklaar die opvallende afwesigheid van Kaapse weergawes van Nederlandse boeremeubels. ’n Uitsondering is egter die tolletjiestoel. Dit is ’n eenvoudige landelike soort stoel– eintlik die enigste Kaapse landelike stoel wat gedurende die 18de eeu aan die Kaap gemaak is. Hierdie stoel kom feitlik in alle inheemse houtsoorte voor. Ses-en-twintig variasies op die stoel is bekend. Die hoofkenmerk van hierdie soort stoel is sy tradisionele ongekunsteldheid. Die stoel was ook in Engeland, Wallis en Noord-Amerika in gebruik. Die vroegste bekende vorm is die Brewster- of Carverstoele wat in 1650 in Noord-Amerika in gebruik was, hoewel soortgelyke stoele ook reeds in die 13de en 14de eeue in vereenvoudigde variasies in Europa voorgekom het.

Foto: Die tolletjiestoel word beskou as een van die eerste voorbeelde van ’n tipiese landelike stoel wat aan die Kaap gemaak is. Die tolletjieleunstoel op die foto is uiters seldsaam. Dis van lemoenhout uit die distrik Graaff-Reinet in die laat 18de eeu. (Oudekerk-volksmuseumversameling, Tulbagh)

Die tolletjiestoel is waarskynlik tot diep in die 18de eeu met verbasende eenvormigheid aan die Kaap gemaak. Dit het byna altyd riempiesittings, wat dit dan ook in hoofsaak as ’n Kaapse landelike stoel tipeer.

Dit is uit hierdie stoel dat die sg. Tulbagh-stoel ontwikkel het – vandag die bekendste voorbeeld van die Kaapse stoel, met ’n benaming wat glad nie wetenskaplik juis is nie. Dis onbekend wanneer en waarom die stoel as die Tulbagh-stoel bekend geword het. Waarskynlik hou dit met goewerneur Ryk Tulbagh se bewind aan die Kaap verband. Dit was in die middel van die 18de eeu algemeen in gebruik in die wonings van die amptenare van die Kompanjie. ’n Ovaalvormige rottangrug, gedraaide pote en style en rondlopende voetsporte is die hoofkenmerke van dié stoet. In die hande van plaaslike meubelmakers het hierdie Kaapse prototipe ’n geleidelike verwordingsproses ondergaan wat ’n lang reeks landelike stoele opgelewer het. Die stoele was meestal van stinkhout en teen omstreeks 1800 het hulle ook die skoon, reguit lyne van die neo-klassisisme aangeneem.

Foto: Die Tulbagh-stoel was in die middel van die 18de eeu baie gewild aan die Kaap en ’n groot aantal variante het ook ontstaan. Dié voorbeeld is van stinkhout en dateer uit die jaar 1740. (Hugenotemuseum-versameling, Paarl)

Die Tulbagh- en die tolletjiestoele was in die 18de eeu die gewildste stoele aan die Kaap. Die laat 17de eeuse Barok-stoel het later sekere kenmerke van die Rococo-styl oorgeneem. Hieruit het twee nuwe stoeltipes verskyn. Dit was die Queen Anne- en die Lodewyk XVI-stoele. Voorbeelde van dié stoele het wel aan die Kaap voorgekom, hoewel hulle nie lank gewild gebly het nie.

Die Queen Anne-stoel met sy breë vaas- of vioolvormige vertikale middelruglat het laat in die 17de eeu in Nederland ontstaan. Dit het eers laat in die 18de eeu sy verskyning aan die Kaap gemaak. Dit had toe reeds opsigtelike Rococo-kenmerke: bokpote met breë buigings, sierlike gebuigde rugstyle in een stuk met die boonste rugsport. Soms is die onderste ruglat deur ’n rugsport gestut sodat dit die buitelyn van ’n Lodewyk XV-stoeI aangeneem het.

Die Lodewyk XV-stoel was in die ware tradisie van die Rococo-stoel en die Kaapse model het feitlik presies ooreengekom met die Franse en Nederlandse variante. Dit het tussen 1750 en 1780 vry algemeen aan die Kaap voorgekom – kort nadat dit sy verskyning in Europa gemaak het. Die stoele het ’n skildvormige rugleuning gehad wat met rottang bespan en soms opgestop was. Hierdie kenmerk was uniek onder Kaapse stoele. Die stoel was deftig en het hoofsaaklik in herewonings aan die Kaap voorgekom. Dikwels is dit met fyn houtsneewerk verfraai.

Aan die Kaap het die Lodewyk XV-stoele verkeerdelik as die sg. Hugenote-stoele bekend gestaan. Daar bestaan geen bewys dat die Franse Hugenote wel hierdie soort stoel aan die Kaap bekend gestel het nie.

’n Stoel wat groot gewildheid aan die Kaap geniet het, is die kuipstoel, ’n variant op die Lodewyk XV-stoel. Dit is stewiger en tradisioneel eenvoudiger van fatsoen. Die hoofkenmerke is die spits, reguit pote, dikwels met patrone of inlegwerk , H-vormige voetsporte met ’n reghoekige of trapesiumvormige ruglat wat aan ’n klassieke siermotief ontleen is. Die rottangbespanning is ’n koloniale afwyking wat net aan die Kaap voorgekom het en is nooit in Europese modelle gesien nie.

Foto: Die kuipstoel, ’n variant op die Lodewyk XV-stoele, was in die jare 1750-1790 gewild aan die Kaap. Die kuipstoel, wat vandag ’n seldsame versamelstuk is, was meestal van stinkhout gemaak, met rottangbeslag. Dié stoel dateer uit 1780. (Groot Constantia-versameling)

Die kuipstoel het teen 1760 verskyn en het langer in gebruik en in die mode gebly as die Lodewyk XV-stoele.

In stoele wissel die styl gedurig van die klasieke voorkoms met sombere kenmerke tot dié waar daar ’n vryer gebruik van plastiese kurwes gemaak word. Na die uitspattige Rococo-styl, wat nooit juis baie gewild aan die Kaap was nie, het die strak fatsoene weer oorgeneem. Gedaantewisselinge het byna oornag plaasgevind. In Europa was dit van 1760 en aan die Kaap vanaf 1780.

Die klassieke styl (die Lodewyk XVI-stoele en later die stoel in die Empire-styl) het in die Kaap groot gewildheid geniet. Dit was nie net mode in deftige herewonings nie, maar ’n groot aantal eievormige variante het hul verskyning op die Kaapse platteland gemaak. Die soort stoel was in die Kaap selfs meer gewild as in Europa. Sy hoofstyl-eienskappe is sy afgespitste pote, dikwels met kannelures in die vorm van groefies of inlegwerk, H-vormige voetsporte, sittings van rottang of riempies en ’n harpruglat.

Die neo-klassieke stoele was ook aan die Kaap baie gewild. Na 1800 was daar ’n ommekeer. Die beskeie kurwes het weer hul verskyning gemaak. Net soos in Europa was hierdie vernuwing ook ’n reaksie op die klassieke styl wat strak lyne gewild gemaak het. Meer aandag is aan gerief bestee. Rugleunings was hol en het meer na agter oorgehel, terwyl die agterpote ook effens uitwaarts gebuig is ter wille van eweredigheid. So is ’n rugvorm geskep wat kenmerkend was van die meeste 19de eeuse stoele aan die Kaap. Die gedraaide pote – anders as die 18de eeuse balusterpote – het gevolg. Voetsporte het pote weer ’n seldsaamheid geword. Sittings was òf met rottang òf met riempies bespan. Tussen 1820 en 1870 het hierdie stoele in die omgangstaal bekend geword as 

Foto: Die neo-klassieke stoel, wat ook as die Lodewyk XVI-stoel bekend is, was sedert 1780 baie gewild aan die Kaap. Verskeie variante op die stoel in verskeie inheemse houtsoorte het voorgekom. Dié stoel is van lemoenhout en gedateer 1800. (Versameling Stellenbosch-museum)

kerk- of konsistoriestoele. Dié stoeltipe was ook in Engeland en Duitsland onderskeidelik as die Regency- en die Biedermeier-style gewild. Omdat die Kaap toe onder Engelse bestuur en invloed was, het die soort stoel hier as die regentskapstoel of Regency-stoel bekend gestaan. Die stoele word ook soms die Sheraton-stoele genoem – na die beroemde Engelse meubelmaker van die naam.

Daar bestaan ’n groot aantal variante op die Kaapse regentskap-stoel. Dit het rugsporte wat by die style verbysteek of binne die style bly, horisontale rugsporte met “kamee”-versierings in die middel en geribde sporte. Dit kom ook voor as armstoele of ander sierstoele. Hierdie tipe was die laaste van die unieke reeks Kaapse stoele wat plaaslik vervaardig is.

Vandag het die Kaapse stoel van die 18de en 19de eeu ’n nostalgiese verlede wat ten nouste verbind is met die kulturele en sosiale ontwikkeling aan die Kaap. In die Kaap en in Suid-Afrika het die Kaapse stoel ’n kosbare kulturele erfenis en kleinood geword.

Bron: Botha, A. 1971. Lantern, Junie: 10-14.

Foto: ’n Seldsame voorbeeld van die neo-klassieke leunstoel wat in die 18de eeu in die Kaap gemaak is. Hierdie stoel is van stinkhout met sierlike geelhout-inlegwerk en is gedateer 1790. (Versameling Peter Penny, Nuweland, Kaapstad)