Die Jansen-versameling: ’n Kultuurskat nagelaat deur Ernest en Mabel Jansen

Die pad na Delagoabaai (1895-1975)
August 13, 2018
Wen R3000 vir jou kommando!
August 14, 2018

(Met die samewerking van die SA Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, Pretoria)

Hoeveel van ons besit nie graag ’n kunswerk of ’n voorwerp van estetiese gehalte nie? Sommige van ons is gelukkig finansieel daartoe in staat om dit regstreeks te kan koop; ander moet eers sommetjies maak en hier en daar ’n sent afknyp; vir ander is die astronomiese prys heeltemal buite bereik. Saam met die bevoorregte besitter deel sy huisgesin, familie en vriendekring meesal in die genot van sy kunswerk. Namate hy meer kunswerke aanskaf, word dit ’n versameling.

Die diefstal van kunswerke is in Suid-Afrika nog op verre na nie die probleem wat dit oorsee is nie; nietemin is versamelaars versigtig en daarom publisiteitsku. Daar is groot en waardevolle versamelings in privaatbesit wat vir die algemene publiek onbekend bly. Gelukkig is daar enkeles wat na die heengaan van die versamelaars byeen gebly het en vir almal se genot in ’n museum geherberg word. So ’n kultuurskat is die Jansen-versameling wat in 1977 deur die Regering aangekoop is en as ’n eenheid aan die versorging van die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, Pretoria, toevertrou is.

Die geskiedenis van hierdie versameling is die verhaal van twee mense se liefde en toewyding, dr. E.G. en mev. Mabel Jansen.

Ernest George Jansen sal onthou word as een van die groot kultuurleiers van die Afrikaner en as die eerste Afrikaanssprekende goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika. (Hy is in November 1959 in hierdie amp oorlede.) E.G. Jansen sal ook onthou word as ’n fyn, gekultiveerde mens, ’n knap regsgeleerde en ’n ware heer wat, soos dit uit sy loopbaan blyk, die respek van ondersteuner en teenstander geniet het.

Op 7 Augustus 1881 op ’n plaas in die distrik Dundee, Natal, gebore, het hy sy laerskoolopleiding op Ladysmith en sy hoërskoolopleiding aan die Durban High School ontvang. Deur private studie het hy die grade B.A., LL.B. behaal en vanaf 1906 as prokureur in Pietermaritzburg gepraktiseer. In 1918 is hy as advokaat toegelaat en hy sou tot laat in sy lewe as advokaat Jansen bekend staan. In 1949 is ’n eredoktorsgraad in die regte deur die Universiteit van Kaapstad aan hom toegeken. Hy was jare lank lid van die universiteitsrade van die Universiteitskollege van Natal, die Universiteit van Suid-Afrika en die Universiteit van Pretoria.

Foto: ’n Besondere staanhorlosie gemaak van ebbe-, satyn- en stinkhout, met inlegwerk van ivoor en ander versiering.

In 1912 is Ernest Jansen met Martha Mabel Pellissier getroud. Sy was die kleindogter van die Franse sendeling Jean Pierre Pellissier wat die dorp Bethulie in die Vrystaat gestig het. Haar vader, S. Pellissier, was ’n boer en haar broers die bekende prof. G.M. en dr. S.H. Pellissier. Sy het eers op Bethulie en daarna in die Paarl skoolgegaan. Haar akademiese opleiding het sy aan die Hugenote Universiteitskollege in Wellington ontvang. Daarna het sy in Pietermaritzburg gaan skoolhou waar sy ook lektrise in Nederlands aan die Natalse Opleidingskollege was. In Pietermaritzburg het sy die jong prokureur Jansen ontmoet. Mabel Jansen het saam met haar man vir Afrikaans en die Afrikanersaak gestry. Sy was goed onderlê in tale en musiek en ’n bekwame joernaliste. Tuinmaak, kunshandwerk en die versamel van oudhede was haar stokperdjies en almal is met die grootste nougesetheid beoefen. Sy was ’n hoogs intelligente en verfynde dame, ’n gebore leidster en ’n karakter- en beginselvaste mens. Sy is op 8 Januarie 1979, in haar negentigste lewensjaar, op Irene, waar sy jare lank gewoon het, oorlede.

Met haar waardering en liefde vir alles wat oud en mooi was, was mev. Jansen ’n gebore versamelaar. In die loop van die bykans 25 jaar wat dr. Jansen lid van die Volksraad was en derhalwe in die Kaap moes vertoef, het hy en meer in besonder mev. Jansen, met die stokperdjie begin om oudheidhandelaars, rommelwinkeltjies, afslaerslokale en, heel dikwels, die mark op die Parade te besoek. Met haar wye belangstelling, deskundige oë en ’n fyn aanvoeling vir dit wat mooi en waardevol is, het sy oudhede, africana en kunswerke gekoop. Items het ook van bekende handelaars in die Kaap gekom, of is op veilings aangeskaf. Stukke is uit die Alfred Beit-, Bailey- en Davis-versamelings, onder andere, aangekoop. Deur haar toegewyde stokperdjie het mev. Jansen al die groot Suid-Afrikaanse tydgenootlike versamelaars leer ken soos William Fehr, Sydney Mullne, Abe Bailey, dr. F.W.F. Purcell, M.G. Mackeurtan, en R.P.B. Davis.

Met die Jansen-versameling is daar meer as 600 items aan die Museum oorgedra, waarvan 156 van porselein, 68 van koper en geelkoper, en 63 van glas is. Daar is 122 skilderye, grafiese werke en so meer, 64 erdewerkvoorwerpe, 64 meubelstukke, 33 ornamente, 14 beeldjies, vier horlosies, drie besondere naaldwerkstukke en negentien voorwerpe van allerlei aard.

Foto: Op hierdie waardevolle stinkhout-halfmaantafeltjie (ongebeer 1800) staan ‘n Sjinese familie rose-pot met marmerbeeldjies uit Europa daarnaas. Die twee stinkhoutstoele langs die tafeltjie dateer uit die middel van die agtiende eeu.

Sy het ’n voorliefde gehad vir Suid-Afrikaanse meubels. Die meubelstukke, die kern van die versameling, is almal van die hoogste gehalte en is merendeels Kaaps en van stinkhout en geelhout. Die meeste van die stukke dateer uit die sewentiende en agtiende eeu. Haar versameling meubelstukke sluit die seldsaamste items in en tot onlangs was dit sonder twyfel een van die beste private versamelings in Suid-Afrika. Sy het die geskiedenis van elke stuk geken. Sy het ook wyer gelees waardeur sy ’n verstommende kennis vergaar het, en hoewel sy nie op hierdie gebied versamel het nie, was sy goed op hoogte van die Engelse en die Franse oudheidkunde.

Foto: ‘n Kaapse stinkhout-en-geelhout-koskas met agtiende en negentiende-eeuse koper- en geelkoper-voorwerpe daarop.

Haar ander groot liefde was porselein, veral Sjinese porselein. Daar is Kang S’Hi, Nankin, Japanse en Sjinese Imari, Japanse en Sjinese blou-en-wit, Ming, Ching Lung, Chi Ching, Sjinese famille rose asook Wedgwood, Delft en Franse en Duitse porselein. Antieke Delft is goed verteenwoordig, maar die meeste is kosbare Sjinese stukke.

Foto: Hierdie groot Sjinese porseleinbord (ongeveer 45 cm in deursnee) dateer uit die Kang S’Hi-tydperk (ongeveer 1662-1722).

Foto: Die stukke in hierdie foto (die bord is ongeveer 30 cm in deursnee) dateer uit die Kang S’Hi-tydperk (ongeveer 1662-1722).

Die Suid-Afrikaanse kuns het haar ook na aan die hart gelê en hierin was haar smaak, soos met meubels, eenvoudig, sober, konserwatief. ’n Deel van haar kunsversameling is miskien histories, eerder as esteties, waardevol. Die voorbeelde van skilderye deur vroeë kunstenaars soos Thomas Bowler, Thomas Baines en Frederik I’Ons is egter van die mooiste wat in private versamelings tereg gekom het. Mev. Jansen het op hierdie gebied gekoop wat haar bekoor het en nie net wat ‘belangrik’ was nie—soos ’n reeks waterverfskilderye deur Sir Jahleel Brenton (1770—1844) wat vanaf 1815 tot 1821 in Simonstad vertoef het en ander interessante werke deur Abraham de Smidt en Lady Emile Sophia Hamilton. Die eerste helfte van die twintigste eeuse Suid-Afrikaanse kuns word verteenwoordig deur Pierneef, Frans Oerder, Hugo Naudé, Nita Spilhaus, Maggie Laubser, W.H. Coetzer, Ruth Prowse, Volschenk en Anton van Wouw (bronsbeelde), asook ’n aantal mindere kunstenaars.

Mev. Jansen het belangstelling gehad in keramiek, veral plaaslike keramiek, waarvan sy een van die heel vroegste versamelaars was. Antieke Kaapse erdewerk, Royal Doulton, Libermann, Royal Staffordshire, Wedgwood en Royal Copenhagen is ook goed verteenwoordig, asook latere, veral Suid-Afrikaanse, erdewerk soos Olifantsfontein, Leta Hill, Drostdy en voorwerpe van Globe Potteries. Sy het ’n baie seldsame erdewerkblompot besit wat ontwerp is deur Fanie Eloff, een van ons belangrike beeldhouers.

Foto: Hierdie keramiekpot (ongeveer 50 cm hoog) is deur Fanie Eloff, bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer, ontwerp.

Watter vrou het nie ’n sagte plekkie vir mooi glasware nie? Mabel Jansen was geen uitsondering nie. Onder die 63 gesnyde glas- en kristalvoorwerpe is daar Ierse Waterford, Sabino, Lalique, Victoriaanse rubie en Georgiaanse en Duitse glas en kristal.

Die 68 voorwerpe van koper en geelkoper is meesal ou Kaapse gebruiksartikels, veral kombuisware. Daar is ook ’n paar pare geelkoper kandelare, twee paar seldsame kanonkoeëldoppe uit die Tweede Vryheidsoorlog en artikels met koperbeslag wat deur Boerekrygsgevangenes gemaak is.

Daarbenewens het mev. Jansen silwer, veral Kaapse silwer, africana-gravures en tapyte versamel. Dr. Jansen het ’n biblioteek besit wat, hoewel nie omvangryk nie, werklik klassieke africana bevat het. Mev. Jansen het, naas haar vele belangstellings, ook haar man se groot belangstelling in hierdie versamelveld gedeel.

Foto: Mev. Jansen se liefde vir die Suid-Afrikaanse kuns word in hierdie groepie weerspieël in Die Boesmanjagter deur Anton van Wouw en die kussing met ‘n bokontwerp (in appliekwerk) deur Erich Mayer.

Onder die talle ander voorwerpe wat deel van die versameling vorm, is geskenke aan dr. en mev. Jansen–horlosies, naaldwerkitems, ornamente, soeweniers, en aandenkings van die hoeksteenlegging en die inwyding van die Voortrekkermonument.

’n Ou Victoriaanse huis in Strubenstraat, naby die S.A. Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, is gerestoureer en tydelik as tuiste vir die Jansen-versameling ingerig. ’n Groot aantal besoekers oor die afgelope bykans drie jaar het hier die geleentheid gehad om mev. Jansen se vreugde in mooi dinge te deel. Die Versameling word deur genoemde museum beheer en kan deur besoekers besigtig word—op weeksdae van 09h00 tot 16h00, en op Saterdae en Sondae van 11h00 tot 16h00.

 

Bron: Lantern. 1982. April: 30-32.