DIE INVLOED VAN MEVROU RACHEL ISABELLA STEYN OP DIE LEWE VAN PRESIDENT MT STEYN EN HAAR ROL IN DIE AFRIKANERGEMEENSKAP

DIE GEVEG TE SANNASPOS, 31 MAART 1900
February 27, 2017
DIE VERHAAL VAN JOHANNA BRANDT, DIE BOERESPIOEN, SOOS VERTEL IN “DIE KAPPIE KOMMANDO OF BOEREVROUWEN IN GEHEIME DIENST”
February 27, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

 

 

deur Elbie Truter

Dit is vir my ’n besondere voorreg om met u die pad te deel wat ek die afgelope tien jaar of wat geloop het met unieke mense, hul daaglikse gang van sake, hul verhewe ideale, hul diepste vrese en leed, mense wat reeds almal oorlede is maar nooit in vergetelheid sal verdwyn nie. Dit was na diesulkes na wie Maeterlinck verwys het toe hy gesê het dat “the dead live everytime we remember them” en in daardie sin leef Theunis en Tibbie Steyn en hul kinders en die vergane republiek en verlore ideale ook vandag nog hier in ons midde.

Hierdie voordrag poog dan om oorsigtelik lewende gestalte te gee aan mev. Steyn en haar wêreld deur middel van letterlik honderde briewe wat oral in Suid-Afrika se argiefbewaarplekke, in private versamelings en op ‘Onze Rust’ bewaar gebly het.

In die twintigerjare van hierdie eeu is mev. Steyn reeds beskryf as “die liefling van haar volk”. Sy is die enigste Suid-Afrikaanse vrou wat by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe is en selfs die Amerikaners het haar erken met die toekenning van die gesogte American Motherhood Award and Citation. Tydens haar lewe het besoekende koninklikes en hoë lui aan SA haar sonder uitsondering erkenning verleen. Dwarsdeur haar lewe het sy ’n omvangryke korrespondensie gevoer met ’n magdom invloedryke mense in Suid-Afrika en oorsee. In Suid-Afrika was haar naam, soos dr. DF Malan gesê het, “goud werd”.

En tog – sy was geen dinamiese spreker nie en eers op 80-jarige leeftyd kon sy haar woord vanaf die podium doen, en dit met moeite. Sy was verder nie soos Emily Hobhouse ’n sterk individualis, ’n analitiese denker met sterk visies en fenomenale intellektuele vermoëns wat oorspronklike oplossings vir probleme kon vind nie. Die teenstrydigheid in haar persoonlikheid kom eintlik eienaardig voor in die lig van die bewondering waarin die blanke Suid-Afrikaners haar gehou het. Sy was emosioneel sterk, en tog kon sy slegs met moeite sonder ’n emosionele stut oor die weg kom. Haar gesondheid was 50 jaar voordat sy oorlede is, reeds “delikaat” volgens die indertydse Victoriaanse norm – en tog het sy amper 90 jaar oud geword. Sy het oor ’n sterk en bekoorlike persoonlikheid beskik maar terselfdertyd ’n geneigdheid geopenbaar om maklik op sleeptou geneem te word deur persone wat sy vertrou het. Sy wat ’n hoë premie geplaas het op “public duty” – soos sy en Emily Hobhouse daarna verwys het – het, nogtans as sy in die openbaar moes optree, ongesteldheid voorgehou as rede vir haar soveelste afwesigheid.

Hoekom dan sou adv. CT te Water, Tibbie in ’n brief aan lady Roberts, eggenote van die Britse bevelvoerder tydens die Anglo-Boereoorlog, beskryf as “a very great lady, who is loved and revered above all women in my country?” Die antwoord moet gesoek word in die omstandighede wat haar geskep het, die ontwikkeling in haar persoonlikheid, die liefdesverhaal wat die Steyn-huwelik was, en die rol wat sy vervul het na die president se afsterwe.

Rachel Isabella – in haar familie- en vriendekring bekend as Tibbie volgens die Skotse gewoonte – se afkoms en agtergrond het in haar guns getel. Die Skotse bloed van oupaskant af, ds. Colin Alexander Fraser van Beaufort-Wes, en van moederskant af, het haar ’n Engelssprekende Vrystater met diep wortels in die Afrikabodem gemaak. Sy is in 1865 as die oudste dogter van die geliefde en gekultiveerde NG-leraar van Philippolis, ds. Colin McKenzie Fraser gebore. In die jare toe min aandag aan dogters se skoolopvoeding gegee is, is Tibbie Bloemfontein toe gestuur waar sy haar aan die Dames-instituut (vandag Eunice) as onderwyseres bekwaam het.

Sy was ook besonder gelukkig in die keuse van ’n huweliksmaat. Theunis Steyn was ’n volbloed-Afrikaner, net soos sy ’n Vrystater van geboorte, die seun van die vooraanstaande Marthinus “Blinkstewels” van Green Lodge, Bloemfontein. Voor sy verkiesing as president, was hy o.a. die eerste strafregter van die Vrystaatse hooggeregshof. Sy voorkoms en persoonlikheid het ’n blywende indruk op mense gelaat. In die reusagtige Afrikaner – in die woorde van ’n Engelse joernalis “[of] enormous strength… standing six feet high… frank and fearless” – het die “kindest and gentlest heart” geklop. Theunis, effe van ’n flirt in sy eie woorde, het ’n hartlike lag en “een groot gevoel voor humor” gehad. Hy was volgens ’n Amerikaanse joernalis “one of the best all-round types of manhood it has been my fortune to meet”. Om hom te geken het, was inderdaad om hom te bemin.

Sy briewe aan Tibbie in hul vroeë huwelikslewe, – opgespoor by INEG – verraai hom as ’n hartstogtelike briefskrywer. In sy eie woorde het sy lewe na sy huwelik verander van “een doelloos rondzwerven…” na een van verantwoordelikhede met “a darling helpmate by my side ever to cherish”. Ses maande na hul huwelik tydens ’n vakansie van Tibbie by haar ouers in Philippolis ontvang sy die brief op 22 September 1887 van ’n ontredderde Theunis uit Bloemfontein, in Engels soos die gewoonte destyds was.

My darling wife! My first attempt at grasswidowship was, I must candidly confess, a failure. it is a most horrible feeling to come in the Study & no wife there, no one to kiss, no one to pat & no one to quarrel with. In my own home I feel not at home. I have not been here more than 1/4 hour this afiernoon [and] even your aversion? The newspaper did not please me. What am I to do this afternoon, I hate going home, in one word darling I miss you too much. Every now & then the thought comes up here, where can s[h]e be now. I have travelled the road in my mind’s eye over & over again,

en so aan te voor hy afsluit met

I never thought that a wife could fill up such a place in one’s life. I feel as if I want something but can not find it. It is a hunger that cannot be satisfied. No darling, I think this is the last time that I will consent you leaving home unless, I go with, because I simply cannot do without you.

Hierdie afhanklikheid van mekaar sou lewenslank duur.

Sou Tibbie toe, ’n honderd jaar gelede, in 1898 sterf, sou sy hoogstens beweën gewees het in haar onmiddellike omgewing, in die Vrystaat, – onbesing, ’n voetnoot in ’n geskiedenisverhandeling, onontluik en ongetoets – definitief nie die “liefling van haar volk nie” – nog nie.

Want Tibbie, toe 33 jaar oud, in die fleur van haar lewe, ’n presidentsvrou van ’n Boererepubliek, ’n moeder van vyf kinders, omring deur aardse gemak en bediendes, geborge in ’n gelukkige huwelik, en gehuisves in teenstelling met die deursnee Vrystater, in relatiewe luuksheid, was inderdaad nog maar net aan geringe probleme blootgestel.

As sy in die publiek moes optree, soos by die onthaal na Theunis se inswering as president, het Theunis namens haar die praatwerk gedoen. Haar eggenoot was die onbetwiste pater familias en sy, met haar instemming, die tipies Victoriaanse middelklas-eggenote wat die hooforganiseerder van die huishouding was sonder ’n sterk gedefinieerde persoonlikheid, as’t ware nog net ’n verlengstuk van Theunis se ideale.

Ergenisse wat sy mog ervaar het, was maar min of yl gesaai. Die Presidensie in President Brandstraat, Bloemfontein, was wel ongenadiglik warm in die somer, die matte effe verslete, die gebrek aan badkamers akuut en die afwesigheid van elektrisiteit, gewoon ongemaklik. Sy kon haar egter steeds in haar huistaal, Engels, met gemak uitleef, want het ’n besoeker, Poultney Bigelow, nie tewens op ’n sosiale geleentheid by die Presidensie beweer dat “for all I could note, the garden party might have been in England”? Dat Theunis nie die vyandige, Engelsgesinde hoofstad se keuse vir president was nie, (eintlik het net 35 stemgeregtigde mans vir hom gestem uit ’n totaal van 244 uitgebragte stemme) moes vir Tibbie hoogstens geringe ongemak veroorsaak het. En die “palpitations” waaraan Tibbie haar in daardie stadium nog kon oorgee – daardie irriterende geneigdheid van ’n Victoriaanse vrou om elke vroulike skeet aan die groot klok te hang – ook dit kon sy oorkom omdat dit Theunis so mateloos kon irriteer.

Tot in daardie stadium het sy oënskynlik in die woorde van haar vriendin, Dora Poultney, “a happy free-from-care-existence” gelei, ’n stand van sake wat selde indien ooit bevorderlik is vir die ontwikkeling en verdieping van karakter. Want Tibbie was nie soseer onbekwaam nie, nog net ongetoets. Maar, soos genl. Jan Smuts dit gestel het, beskik ’n persoon dikwels onwetend oor innerlike krag wat tot ontluiking kom net “in pain and anguish and sorrow, and once it appears, everything else shrinks into insignificance before it.” Dit is op ’n beslissende moment in die geskiedenis dat ’n vrou met die spesiale eienskappe op die toneel verskyn, “and in her weakness turns the flowing tide of events”. Daardie vrou was Tibbie.

En die “flowing tide of events” soos Smuts dit gestel het, was die loutering van die Anglo-Boereoorlog en die maer jare daarna. Soos Tibbie se vertroude stutte een na die ander weggeval het in daardie tyd van omwenteling en chaos; die fisiese en emosionele onderskraging van Theunis en haar ouers, die finansiële sekerhede, die vinnige verandering in omgewing waar sy en haar kinders op hulself aangewese is, – en toe sy tereg moes kom in die onvriendelike Engelsgesinde Bloemfontein onder die Union Jack – het Tibbie, persona non grata vir die nuwe Britse bewind in die Oranjerivierkolonie, gegroei in statuur, in persoon en in Afrikanerharte. Sy was nie soos Annie Botha, vrou van genl. Louis Botha in Pretoria, gebruik as “a showpiece of Imperial generosity” nie, maar blootgestel aan baie kleinlike beperkinge van die Britse gesagsvoerders, in so ’n mate dat Emily Hobhouse, ’n Britse dame werksaam in die konsentrasiekampe, gewonder het waarom “as they no longer recognize Steyn as President… why thus torment his wife?”

Die onsekere Tibbie wat vroeër in die skadu van Theunis se oorheersende persoonlikheid gestaan het, het nou besef dat sy nie meer “the delicate and dependent wife” van weleer kan wees nie en in haar eie woorde “[that] I would have to fight my own battles”. Enige probleem en krisis wat oor Tibbie se pad gekom het (en daar was oneindig meer daarvan as waarop haar voormalige free-from-care-existence haar voorberei het), het sy met verbasende moed getrotseer. So is haar vader en suster byvoorbeeld na ’n konsentrasiekamp weggevoer, en sy self is as “

the worst number of irreconcilable women” wederregterlik uitgesonder vir verbanning uit SA. Maar dit alles sou sy te bowe kom, solank Theunis se lewe net gespaar kon bly.

Soms reageer sy nog irrasioneel en emosioneel soos na die skokkende ervaring van ’n eerste besoek aan die Bloemfontein konsentrasiekamp waarin sy self oorweeg het om vrywillig te gaan. “What ever are you thinking of even to suggest the idea of going into camp [as an inmate],” vra Dora Pouliney, haar vriendin, ontnugter in 1902 in ‘n brief uit Duitsland, “we feel quite horrified at the idea of such a thing hope there will be such serious opposition in your immediate circle, that you will be afraid to mention the subject again. None of us will ever be able to Iook Theunis in the face again if we did not make every effort to prevent such a thing but the camp – never! What would Theunis say?”

Uit eie kring word Tibbie bewonder: ’n vriendin maak selfs melding van “how she admired her for the brave way in which [she is] bearing [her] troubles”. En Theunis? “Daar op het veld,” het dr. HPN Muller, die voormalige konsul-generaal van die Vrystaat, in sy onoortreflike lofuiting na Theunis se dood geskryf, “gedurende meer dan twee-en-’n-halfjaar rijdens en strijdens, in welke de president van den staat niet één nacht voor het hoofd een ander stutsel had dan zijn zadel, is hij gegroeid to den afgod zijn volks. Hij heeft stand gehouden tot het einde, tot de eik gekraakt ter neder lag… Ten slotte gaf gedorven voedel den genadenslag.”

Die einde van die Anglo-Boereoorlog beteken nie net die finale ondergang van die Boererepublieke nie, maar na die mens gesproke, ook van die eik waarmee Theunis vergelyk is, ook sy lewe hang aan ’n draadjie. So vind Tibbie Theunis twee weke na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in Krugersdorp, nouliks herkenbaar, totaal verlam van sy nek af, sy stembande en sig aangetas. “It was impossible,” het Tibbie aan ’n familievriend geskryf, “to realize that my once powerful husband was lying now as helpless as a babe… Oh, it did seem hard that all the Generals & Commandants should return the picture of health & my loved one to be so sorely afflicted.” Hy het darem nog gelewe…

Die plantjie wat Tibbie was, daardie innerlike krag van die vrou waarna genl. Smuts verwys het, het tydens die oorlog ontkiem. Nou te midde van soveel oënskynlike onoorkomelike probleme, het die plantjie begin blarespruit – die blomme sou volg na hul terugkoms na Suid-Afrika. Die vloedgolf van algemene aanvaarding dat “Mr. Steyn’s condition is [in any case] hopeless”, het Tibbie gestuit deur daadwerklik op te tree. Toe reeds het sy besef dat Theunis se diepe droefgeestigheid oor die verlies van onafhanklikheid, gekoppel was aan sy liggaamlike gesondheid. In die getygolf van absolute wanhoop, het Tibbie teen welwillende advies in die besluit geneem om geneeskundige hulp vir Theunis in Europa te gaan soek. En téén alle verwagtinge in oorleef Theunis tog die seereis na Europa, en hier te midde van uitstekende doktersbehandeling, die verandering van omgewing, die aanvaarding van die verlore afhanklikheid as ’n voldonge feit en die onderskraging van Tibbie, het die neergevalle eik die eerste werklike tekens van herstel begin toon.

Die groepie ontwortelde Afrikaners wat die Steyns vergesel het, het ‘n gelukkige verposing in Europa se kuurstede gevind, ver verwyder van die geruïneerde Vrystaat en Transvaal. “Hulle team”, soos Theunis na sy huisgenote verwys het, “pulls well together”. Cornelius de Preez, Theunis se oorlogtydse adjudant, was die fisiese stut, Gordon, Tibbie se broer, die tydelike vaderfiguur en mede-sekretaris en mejuffrou Richter, die huishoudster. Maar dit was veral om Tibbie waarom die spil van die huishouding, emosionele peil en besluite oor geldsake gedraai het. “Zij was my… alles in alles,” het Theunis aan sy skoonvader geskryf. Dit was inderdaad die geval, want die probleme was steeds daar, die eik waarmee Theunis vergelyk is, was wel regop, maar het op erg wankelrige stam gestaan.

Terug in Suid-Afrika in 1905 het die Engelse pers na Theunis verwys as “a broken man”. Vir sy volksgenote was hy egter ten spyte van sy liggaamlike swakheid, “de ongekroonde koning van Zuid-Afrika… Een koningzetel nam hij werklik in het hart van het Afrikaner volk; meer liefde, meer achting, meer gehoorzaamheid aan elke wenk kon geen koning van zijn onderdanen verlangen,” het dr. Muller dit opgesom. En alhoewel hy noodwendig buite die aktiewe politiek moes staan, was hy nog geensins uitgeknikker nie.

Vir die volgende dekade of wat, tot sy dood in 1916, was Theunis weer vir Tibbie “the centre of all thought, consideration & love,” in die woorde van Colin, haar broer. Sy was steeds die buffer, die klankbord, die leser, die vertroueling, die uitvoerende sekretaresse. “Night & day be was your great & loving companion. For him indeed you lived.”

 WT Stead, ’n Britse koerantredakteur en pro-Boer, het Theunis se leiding in hierdie naoorlogse tydperk beskryf as “[the] authentic expression of the view of the Dutch South Africans.” Dat dit inderdaad so was, blyk daaruit dat Theunis, ten spyte daarvan dat hy skaars in staat was om sy eie baadjieknope self vas te maak, in relatiewe afsondering op ‘Onze Rust’ gebly het, geweldige invloed gehad het wat hom die pleitbesorger, die steun en die stuurman van die politiek rigtinglose en maatskaplike nooddruftige naoorlogse Afrikaner gemaak het. Dit is nie sonder rede dat JX Merriman, die Kaapse politikus, verklaar het dat “President Steyn probably carry… more weight than anyone in South Africa.” Deur middel van die vrou – die fynere, koesterende figuur, die spil in die kern van die huisgesin, die draer van kultuur – om haar heen het die gedagtes vorm aangeneem en werklikheid geword: die stigting van die Meisieskool Oranje, die Oranje-Vrouevereniging – en ja, ook vir die blywende nagedagtenis van die eenvoudige Boerevrou en -kind van die veld is voorsiening gemaak – al 26 370 slagoffers van die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog. Sy en haar gestorwe kind is geëer en die volk se dankbare herinnering vergestalt in die Nasionale Vrouemonument.

En die taal? Versmaai, geringgeskat, in daardie stadium volgens die absolute arrogante Brit gelykgestel aan “cultural backwardness”, ’n dialek, “rather despised by the British South Africans as a provincial peculiarity of little interest or value”. Ook vir dié taal van die Afrikanerhart ruim die Steyns plek in en kan hul pogings ten behoewe van hul moedertaal in baie opsigte inderdaad beskou word as baanbrekerswerk. Ook die heersende houding wat tydens die vooroorlogse funksie by die Presidensie oor die gebrek aan Nederlandse-Afrikaans sigbaar was, verander nou: “For our language, we must be prepared to make sacrifices” verwoord die gewese presidentsvrou dit, “our language can no longer be neglected”. Die loutering van versmaaiing het inderdaad louwarm taalgevoelens verander in vuurwarm standpunte.

Die kostelike briefie van die Meisieskool Oranje van die jonger Tibbie in 1907 aan haar ouers, verdien eervolle vermelding vir die huislike pleitstukke en die vroeë Afrikaans daarin vervat:

Lieve Moeder

Ik was erg blij om u brief te ontvang, het is mij altyd aan genaam om een brief van myn Ouders te krijgen. Dit wat ik in brekkets gaat zit moet ma niet ver pa lezen… Ma moet ver pa zeg die goed die ik in brekkets zit is geen nuus zoo pa hoef glad niet [nuuskierig] te zijn. Ma vraa toch aan Arienan [die huishoudster] of zij toch zoo goed zal zyn om weer lekker goed te maak, en ook een paar van die lekker kliene koekies in te stuur, lamoen stroop zal heeltemal welkom wees, ma moet dit toch niet vir pa vertel wat een ge zicht zal hij toch aan zet, en zeg wat zijn zij toch lekker bekken

… en so aan tot sy afsluit met

Pa wanner krij pokie een brief van haar pa, pa wordt kwaat, is ma niet schrijft maar Tops wordt kwaat is pa niet schrijft pa weet ik is een Oranje meisje en treek sommer biekie uit en maak een vijs. Dit is toch een grapje. Nu lieve Ouders. lk sluit met velen kussen aan groot pa en Ouders. Van je lievehebbende kind Pokkie…

Die uitbreek van die Rebellie in 1914 verhaas Theunis se fisieke en emosionele agteruitgang en aan die einde van 1916 moet Tibbie afstand doen van die spil waarom haar hele lewe gedraai het Theunis – “the excellent husband & father… from whose lips were never heard a cross word or an unkind deed done [who] made him so unspeakably dear to you,” in die woorde van haar broer, word aan die voet van die Vrouemonument begrawe. Die feit dat “onse liefde [so] groot was [en ons] so innig gelukkig”, het vir Tibbie in die jare wat sou kom, tot inspirasie gedien. “Nooit gaan ’n dag verby dat ek nie aan [Theunis] denk [nie]”, het sy sestien jaar later nog aan ’n vriend gemeld. Tot haar dood het dit so gebly.

Tibbie bly alleen agter want ook haar weduwee moeder wat op ‘Onze Rust’ gebly het, ontval haar, Emmie, haar jongste dogter, tree in die huwelik en verhuis na die Kaap en haar seun, Colin, is meestal uitstedig met parlementêre verpligtinge. Heeltemal onverwags is dit bepaald nie dat Die Vaderland voorstel dat “de liefde en achting die wij koesterden voor de President… wij overdragen op [mev Steyn]. Het is haar recht en onze plicht.” Die plig word plesier in die Suid-Afrikaanse samelewing soos haar teruggetrokkenheid verminder voor die oorweldigende liefde en agting wat sy in eie reg ervaar in die jare na Theunis se dood.

Dit was in hierdie omstandighede van verandering en voortdurende aanpassings waarin Tibbie, in haar eie woorde, “practically reduced [was] to the companionship of a housekeeper,” dat sy ’n brief van ’n ou vriendin uit Nederland, Hèléne Kröller, ontvang met ’n noodkreet om hulp vir die noodlydende kinders in die geruïneerde Duitsland na die Eerste Wêreldoorlog. Vir die eerste keer na Theunis se dood neem Tibbie ’n leidende rol. Die samevoeging van Tibbie en Emily Hobhouse se name en die morele druk op die Afrikaner vir vereffening van ’n ereskuld aan die Duitsers vir hul hulp in die Anglo-Boereoorlog, bygestaan deur die Afrikaanse pers en kerke – dit alles lewer reuse bedrae op vir die ‘Save the Children Fund’.

Die benaming “volksmoeder” word vir die eerste keer deur die Afrikaanse pers op Tibbie van toepassing gemaak in hul werwing van bydraes. Die rede vir die sukses, het hulle gemeen, was omdat “’n volksmoeder spreek, wie se hart uitgaan na ’n ander volk in nood, omdat sy haar eie volk in nood gesien het.” Die volksmoeder-refrein sou in die volgende jare onophoudelik dien as “an open sesame… which unlocked the hearts [and] purses” vir watter doel ook al.

Dit was vir Emily Hobhouse na die skouspelagtige insamelingspoging vir Duitsland se kinders, opvallend “beautiful”, soos sy dit in 1921 gestel het, “how Tibbie… had come out since [her] husband left [her]. It would seem,” skryf sy, “as if power consecrated on [Theunis] had been set free and were being reconsecrated to the more public interest & affairs to which [his] life had been devoted.” Soos voorheen toe Tibbie op haarself aangewese was, ontdek sy tydens hierdie poging kragte binne haarself wat by ontplooiing vrug dra – selfs blomme voortbring, want is dit nie eers “when you give of yourself,” volgens Gibran, “that you truly give” nie? En as jy lid is van ’n volk in armoede, selfs maar net in halfkroon bydra (in vandag se terme 25 sent), is die waarde van gee enigsins minder?

Want ’n halfkroon is al wat Tibbie vra van elkeen vir die Emily Hobhouse Fonds, ’n volgende insamelingspoging om vir die verarmde mejuffrou Hobhouse “a Iittle house… low & red roofed… with a magnificent view of seas & cliffs [in Cornwall]” te bekom. En so gee Tibbie mildelik van haarself in die jare wat kom, of dit is om by ’n eerste minister in die bresse te tree vir oudstryders uit die Anglo-Boereoorlog of om van haar invloed gebruik te maak om die verarmde weduwee van genl. De Wet tegemoet te kom. By ander geleenthede is dit om haar naam aan ’n kultuurorganisasie te verleen vir hul briefhoof, of selfs om die “timid & retiring” mev. Hertzog sover te kry om haar eggenoot te vergesel na Grootte Schuur, die ampswoning van die Suid-Afrikaanse premiers. Elke keer doen sy dit met oorgawe.

En selfs in die verhewe, hoewel enigsins patetiese vriendskap van Tibbie met Emily Hobhouse is dit die veel sterkere mejuffrou Hobhouse, die intellektuele, die rasionele, die onafhanklike, die geestelike en emosionele rots, wat by die minder sterk Tibbie, emosionele steun, lafenis en vertroosting vind.

Veral was dit die geval in die laaste maande van Emily Hobhouse se lewe toe die twee vriendinne se kontak geskied het per brief oor ’n afstand van duisende kilometers as “a weekly confession” aan die kant van mejuffrou Hobhouse, “…which to be a real relief had to be true.” “Believe me,” skryf Hobhouse twee maande voor haar dood in 1926 aan Tibbie, “…no one has filled an equal place in my life… I have a kindred belief that your heart & sympathy is open to me at all times and on all questions. That is such a restful feeling and believe me when I tell you you have thus done more than anyone else to solace the loneliness of my declining years.”

Van die vertroulike dinge, daar waar jy gekwes word deur jou kinders, daarvan het Tibbie ook haar volle aandeel gehad. Gladys se besluit om haar pos as prinsipale aan die Hoërskool Oranje te verruil vir ’n amper doellose bestaan saam met dr. Nell van Heerden, vroulike medikus van Harrismith, het Tibbie met intense teleurstelling vervul. Vir mej. Hobhouse, wat amper meedoënloos altyd die hoogste standaarde aan mense gestel het, was Nell van Heerden “to all intents and purposes a man”. Tibbie, wat toegeefliker met mense se gebreke en afwykings omgegaan het, het haar woorde versigtiger gekies: “though I am reconciled to her staying with Nell because she seems happy, I do feel [however] she is in a way lost & I assure you,” het sy aan Hobhouse geskryf, “I often wonder why God made Nell cross Gladdie’s path, surely He has some purpose with a step she took that none of us approved of – but enough.” Toe die verhouding in die laat twintigerjare verbreek is, het Tibbie ’n sug van verligting geslaak. Gladys was uiteindelik slegs die tweede vrou in SA wat ’n LL.B-graad verwerf het en sou haar in die regsberoep en later in die politiek onderskei.

Maar dit was veral Colin se “nervous breakdown” – soos Tibbie verwys het na haar seun se ernstige ongesteldheid weens gedeeltelike herstel na ’n mangeloperasie, werkstres en drankmisbruik – wat haar die swaarste getref het. Die feit dat die familieplaas, ‘Onze Rust’, in gedrang gekom het weens finansiële probleme, het haar nie so diep getref as die omstandighede van haar seun nie. Genl. Jan Smuts, ’n besoeker aan ‘Onze Rust, skryf in 1931 aan Isie, sy vrou, oor Tibbie se gemoedstoestand. “”Mrs Steyn is improving owing I believe to the wonderful recovery of Colin who is actually practising again! It is really incredible and is due to the faith that moves mountains – the faith of his mother and Gladys, Mrs Steyn fairly bubbled over and ended by‘ kissing me on leaving – a thing unheard of but pleasant to the old sinner. The kiss of an old woman means so much more than that of a flapper, and I have so often to put up with the latter!” Colin het hom nie alleen soos Gladys in die regsprofessie onderskei nie, maar het later selfs in die oorlogskabinet van genl. Smuts gedien.

Dat Tibbie, die Engelsgebore dogter haar in die volwasse lewe na Theunis se dood, volledig in die wel en die weë van die Afrikaner begewe het, en al die stampe en stote van die lewe moes ervaar, het nie van haar ’n onaantasbare podiumfiguur gemaak nie. “The very great lady, who is loved &, revered above all women in [South Africa].” Volgens adv. Te Water, was die resultaat van haar volle en vrywillige identifikasie met die lot van die “underdog” in die Anglo-Boereoorlog en van haar weiering om soos ander vooraanstaande vroue, die sinkende skip van ’n verslane volk te verlaat. Dat Tibbie “the Champion of his people” – Theunis – gedeeltelik herstel na Suid-Afrika teruggebring het, is haar tot die dag van haar dood ten goede toegereken.

Haar gestalte het nog verder gestyg deurdat sy haar beywer het vir die opheffing van die geruïneerde volk en dat sy haar na die president se dood ten volle kon gee sonder om tot die drukgang van die politieke lewe toe te tree. Dit het aan haar “bykans onaantasbare status verleen”, vrymoedige paspoort tot alle groeperinge binne die Suid-Afrikaanse samelewing en daarbuite. Dit alles het sy onwillekeurig verwerf deur absolute integriteit, ’n beminlike persoonlikheid, die luisterryke Steyn-naam en haar lewe van smetlose selfopoffering. Sy het ’n posisie in die Suid-Afrikaanse samelewing verwerf wat geen ander vrou haar kon nadoen nie – sonder dat sy dit begeer het of dit doelbewus nagestreef het.

As Tibbie aan die Vrystaatse sinode-in-sitting ’n toevallige besoek bring, staan almal swygend op as sy binnekom. As sy in die Kaap siek word, stel die eerste minister sy amptelike vliegtuig tot haar beskikking om haar huis toe te neem. Spoel die brug op ‘Onze Rust’ weg, word dit nie-amptelik herstel, arriveer sy by ’n funksie, waarborg dit sukses. So ’n vrou was die onbetwisbare keuse, ten spyte van haar 83 jaar, om die Unie se spesiale gesant te wees by die vyftigjarige viering van die troonbestyging van koningin Wilhelmina van die Nederlande in 1948.

Die gesag wat Tibbie se naam gedra het – die Engelse pers noem dit “the prestigious name of Mrs M.T. Steyn” – het egter ook vergesigte geopen vir enige politieke aspirasies wat rondom haar volksmoeder-beeld geskep is. Die beeld is vir hierdie besondere doel gepoleer en gemoduleer sodat sy as die laaste “skakel” sou dien tussen die tekortkominge van die hede en ’n verlede waarin geen ruimte gelaat is vir verskynsels soos broedertwis, National Scout en “joiner” nie. Tibbie sou vir diegene die simboliese hoeksteen in die Afrikanergebou vir gewaande, vergange heerlikheid dien.

Telkens het van hierdie moontlike misbruik van Tibbie se statuur veral by familielede na aan haar wat hul begeef het in die party politiek, in “(the) severe cross currents in the home”, soos haar dogter, Gladys, dit beskryf het, voorgekom. Ook dit oorleef sy met ’n blymoedige gees wat geen ruimte vir twis laat nie. Daar was tekens by die skoonseuns wat sy vertrou het, die manipulerende dogters, rolspelers met teenstrydige politieke agendas wat tydig en ontydig ’n beroep op haar doen, kortom allerlei kragte wat probeer om die waardige dame vir hul doel in te span en om politieke munt daaruit te slaan. Maar sy oorleef dit alles met grasie en verklaar na die soveelste intrige en toutrekkery in 1947: “Ek was beslis …  Ek sou nimmer as nooit my naam laat gebruik.”

Onwillekeurig moes Tibbie ook ervaar dat “the tragedy of old age is, that the spirit always remains young,” terwyl die liggaam afgetakel word. Haar edele gees – dit wat haar vriendin, Ella Fischer, haar “greatest blessing” noem “(for the) strength and beauty… to yourself and joy & comfort to others,” – dra haar. Soos wat die blom se verweerde kroonblare een na die ander afval, het dit ook met Tibbie gebeur: haar gehoor wat ingee, haar geheue wat verswak sodat sy uiteindelik in die newels van haar verbeelding weer die pragtige jeugjare op die verre paaie van Philippolis begin loop. ’n Halfeeu tevore het iemand aan haar die gedig, “Terugblik” gestuur, en nou waar sy voor die oop deur staan, vra sy saam met die digter

“Waar dwaald’ ik heen? Ach waarom mijn gedachten

Weer vrij doen gaan op’t lang geloopen pad?

Zoo ver, ver achter mij.

Lang starend op het huis waar ’k ben geboren

Waar ’k zoveeljaar ben uit en ingegaan

Wild ik weer iedere plek eens gadeslaan

Ofdoor ten tijd niets dierbares was veilooren op’t oog ontsnapt

Waar awaald ik heen? Ach! Waarom mijne gedachten

Weer vrii loopgeven op het pad

Zoo ver, ver achter my.”

Die plantjie wat Tibbie was, die blom wat sy in volle wasdom geword het deur diens aan haar medemens, het in 1955 op amper negentigjarige ouderdom as die “liefling van haar volk” gesterf. Teen Tibbie se wens in maar op aandrang van die eerste minister, dr. DF Malan, is sy in dieselfde graf as Theunis by die Vrouemonument begrawe. “She lived to earn” het die Rand Daily Mail geskryf, “the love of all South Africans of all camps”.

Ook die eenvoudige Boer van die veld, daardie onpretensieuse jongman wat baat gevind het by die opheffende Steyn-hand en geloof in sy toekoms, ook Cornelius de Preez, Theunis se oorlogtydse adjudant, spreek sy laaste huldewoord oor Tibbie en Theunis uit aan sy dogter in sy verwikkelde Afrikaans:

Lieve Tibie [mev Visser] en Dokter

Vanaand voel ek weer om bietjie te skryf ek bewe nie (nou] so baie… Julle Moeder en ook my moeder… (het) dit met my wel (laat) gaan, die groot Moeder van Haar Volk in Suid-Afrika.

Ek kan my nie so uitdruk sus ek voel nie maar Julle kan God nie genoeg dankbaar gewees het dat Julle so ’n Moeder gehad het, en wat sou ek gewees het as Sy nie vir my ’n Moeder was. My ou President My Oubaas wat sou ek gewees het als JulIe Julle nie ontverm het oor my nie. Rus sag in die hemel, U kinders en U Volk is U dankbaar…

Met liefde groete van Corneels…

 

Hierdie referaat is gebaseer op:

E.J.J. Truter se MA-verhandeling: Rachel Isabella Steyn se lewe in die Vrystaat, 1965-1905. UNISA 1989.

E.J.J. Truter se DLitt et Phil-proefskrif: Rachel Isabella Steyn 1905-1955. UNISA 1994.

E.J.J. Truter, Tibbie, haar lewe was haar boodskap, Kaapstad, 1997.