Die inswering van die eerste president van die Z.A.R. – 6 Januarie 1857

Nog meer besonderhede oor die Slag van Bloedrivier
November 23, 2015
Kaptein Danie Theron leer ’n stasiemeester ’n les
November 23, 2015

(Geskryf deur JL Hattingh, soos verskyn in Historia Junior)

Dit is nou meer as honderd jaar sedert die eerste president in Suid-Afrika ingesweer is en vir ons wat vandag ook in ’n republiek woon, is dit interessant om te lees op welke wyse dit geskied het.

In 1852 is met die ondertekening van die Sandrivier-konvensie die onafhanklikheid van die Voortrekkers oorkant die Vaalrivier deur Brittanje erken. Dit het egter vier jaar geneem alvorens die bewoners van die land sover kon kom om saam te werk en een staat met een president en een regering saam te stel. In 1856 het die gekose verteenwoordigers van die volk by Potchefstroom bymekaar gekom met die doel om vir die republiek ’n grondwet op te stel. Dit is op 5 Januarie 1857 voltooi.

Alhoewel die pas voltooide grondwet bepaal het dat die volk die lede vir die Volksraad asook die president moes kies, het die volksverteenwoordigers nog op dieselfde dag daartoe oorgegaan om die eerste president aan te wys. Marthinus Wessel Pretorius, seun van die geëerde Voortrekkerleier, is deur hulle vir die presidentsamp verkies. Daar en dan is ook besluit om die president en die volksraadslede sommer die volgende dag nog in te sweer. Blykbaar was hulle bang dat as daar te lang tyd voor die inswering verloop, daar dalk allerlei probleme mag opduik wat die afhandeling daarvan mag moeilik maak.

Die volgende dag, 6 Januarie 1857, was vir elke Voortrekker ’n groot dag in hulle geskiedenis, want daarmee het hulle bereik wat hulle begeerte was, toe hulle die Kaapkolonie verlaat het. Die inswering van die eerste president en sy 24 volksraadslede was dus ’n besondere geleentheid.

Vandag word ’n soortgelyke plegtigheid lank vooruit tot in die fynste besonderheid beplan en aan die land se bevolking bekend gestel. Dink maar aan die inswering van ons huidige staatspresident, mnr. CR Swart, in 1961. Vir weke het ons byna elke dag stukkies nuus oor die wyse waarop die verrigtinge sou plaasvind in byna elke koerant te lees gekry. Die hele land se aandag is sodoende op die enkele gebeurtenis gevestig.

Meer as honderd jaar gelede was toestande in Transvaal totaal anders gewees. Die radio was nog nie uitgevind nie, koerante was skaars en het ook nie elke dag verskyn nie. Plase was groot en die huise dus ver van mekaar. Nuus kon dus nie oornag oor die hele land versprei word nie. Juis daarom verbaas dit ’n mens om te lees dat die inswering van die president, ten spyte daarvan dat dit slegs ’n dag na sy verkiesing plaasgevind het, tog soveel toeskouers gelok het. Potchefstroom, die toentertydse hoofstad van die Transvaal, was toe nog maar klein. Nuus kon dus vinnig versprei. Baie van die mense moes egter van die naburige omgewing gekom het. Dat die bevolking geen vooraf propaganda nodig gehad het nie, kan ’n mens ook van die spontane toejuiging en vreugde van die aanwesiges aflei.

Om nege-uur die oggend van 6 Januarie 1857 het die Volksraad in die landdros se kantoor vergader. Vier lede is toe afgevaardig om te perd na die president se huis te ry om hom vir die plegtigheid geleide te doen. Halftien was hulle met die president terug.

Regoor die kerk was die dorp se markplein en teen hierdie tyd was daar al ’n groot skare aanwesig, nie net van die dorp nie, maar ook van die omgewing – almal gewapen. Hulle staan in twee groepe, sodat die president en sy geleide tussen hulle kon deur kom. Op die stoep van die landdroskantoor het die voorsitter van die Volksraad die prosessie ingewag, verwelkom en die president na binne vergesel. Ds. Dirk van der Hoff, die enigste predikant in die Transvaal op daardie tydstip, het vervolgens die skare op plegtige wyse toegespreek en hom hierna tot die president en die uitvoerende raadslede gewend.

Die insweringseremonie het toe ’n aanvang geneem. Die president het die eed plegtig afgelê. Dit het in stilte geskied, nieteenstaande die aanwesigheid van die groot aantal persone.

Onmiddellik nadat president Pretorius die eed afgelê het, het een van die kommandante ’n teken aan die gewapende skaar van burgers gegee. Toe het dit weergalm soos die gewere afgevuur is. Daar is selfs skote met ’n kanon afgeskiet. Terselfdertyd is ook die land se nuwe vlag gehys. Die skare het in die vreugde begin deel en het op allerlei vrolike wyse uiting aan hulle opgewondenheid gegee.

Toe die gejuig bedaar het, het die ander lede van die Uitvoerende Komitee hulle eed afgelê.

Met hierdie deel van die verrigtinge agter die rug het die lede van die regering in ’n statige optog na die kerk beweeg. Dit moes vir die omstanders en toeskouers indrukwekkend gewees het, want voor aan die optog het die predikant met sy ampsgewaad gestap. Hy is vergesel deur ’n aantal kerkraadslede en is deur die president gevolg, vergesel deur lede van die Uitvoerende Komitee en hierna het die ander lede van die Volksraad gestap. Die agterhoede is deur groot en klein, mans en vrouens gevorm.

In die middel van die markplein het die nuwe vlag gewapper. Toe die optog dit verbygegaan het, het al die mans eerbiediglik hulle hoofde ontbloot. Toe is die kerkgebou gevul waar ds. Van der Hoff met ’n gepaste gebed begin het. Hierna het hy ’n plegtige preek gelewer en toe is die verrigtinge in die kerk afgesluit met die sing van Psalm 134.

Buite die kerk het die president hom tot sy burgers en manskappe gewend en hulle hartlik toegespreek. “Met tranen in de oogen” het hulle hom toe van alle kante geluk gewens. Dit het gelyk of daar geen einde aan die seënwense sou kom nie. Die vreugde van die burgers kan ons natuurlik begryp. Dit was die vervulling van ’n groot begeerte. Terug by die landdroskantoor is weer eens ’n sarsie skote afgevuur.

Dit was egter nog nie die einde nie. In hulle vreugde het die burgers nie die vlag vergeet nie. Die hoede is afgehaal en op uitnodiging het die predikant weer eens ’n toespraak onder die vlag gehou. Ds. Van der Hoff, wat beskou word as moontlik die samesteller van die bekende Vierkleur, het toe die volgende lofgedig voorgedra:

“Vivat de vlag! Vivat de vlag!

Door vrijheid hier geplant!

Waai rond door Zuid’lik Afrika.

Van Oost- tot Westerstrand

Waai onbezoedeld schoon en rein

En wapper ook op zee;

Vertoon u aan den volk’ren oog

Tot aan de verste ree.

God ziji met u – God zij met u,

Gij maagdelijke vlag,

En met het volk, dat u verkoos,

Tot aan den jongsten dag!”

Hierdie gedig, ook genoem die “Vlaggelied”, kan as die eerste volkslied beskou word.

Onmiddellik na die voordrag het drie “hoera’s” weerklink. Een van die kommandante vra toe aan die skare of hulle bereid sou wees om die vlag te beskerm. ’n Luide belofte het opgeklink, geweerskote het weer eens gekletter en “hoera’s” is herhaal.

Terwyl die vreugdeskote en die algemene gejubel nog aan die gang was, het die president en sy volgelinge hulle van die massa onttrek en na die kantoor terug gestap. ’n Bejaarde heer Grimbeeck is deur die president tot vlag-kommandant benoem en so het ’n groot dag geëindig. Dit was ’n dag soos hulle nog nooit beleef het nie. Dit was ’n dag vol belofte vir die toekoms.