Die Huisgenoot word opgerig

Broederbond gestig
January 22, 2015
Die Spaanse griep en AVBOB
January 22, 2015

Een van die Nasionale Pers se eerste oogmerke was die oprigting van ’n tydskrif. Dié het die eerste keer in Mei 1916 verskyn: De Huisgenoot, vanaf Desember 1917 Die Huisgenoot, wat aan die einde van die eeu die grootste Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) publikasie sou wees.

Ons Moedertaal, spreekbuis van die Afrikaanse Taalvereniging, was daarin opgeneem. Dié blad is in 1914 opgerig met professor JJ Smith, doktor TB Muller en Gordon Tomlinson in die redaksie. Die drie redaksielede het aggressief vir Afrikaans geveg en nie vooraanstaande mense soos die Stellenbosse professor PJG de Vos en professor GG Cillié ontsien nie. De Vos se raad: “Haast u langzaam!” in die taalkwessie beteken eintlik: “Blij vinnig stilstaan!” het hulle geskryf. Dié raad deug nie “vir ’n jeugdige Afrikanerdom wat die lewe in elke polsslag voel en wat die toekoms entoesiasties tegemoet sien”.

De Huisgenoot, met Smith as redakteur, moes rekening hou met die konserwatiewe ouer lede, en die blad het dus aanvanklik heelwat Nederlands bevat. Teen die einde van die jaar het die blad reeds ’n sirkulasie van naby 3000 gehad. Een van die rubrieke was “Taalnuws” – brokkies oor die vordering van Afrikaans. In Junie 1916 is berig dat die Vrystaate Sinode van die NG Kerk Afrikaans naas Nederlands op die kansel erken het, in Julie dat staatsamptenare die reg gekry het om briewe in Afrikaans te skryf. In ’n wedstryd wat die blad in 1936 uitgeskryf het, het van die eerste lesers getuig hoe Die Huisgenoot hulle vir Afrikaans gewin het. Iemand het vertel dat die vervolgverhaal van Sangiro, Die lotgevalle van ’n leeufamilie, hom help bekeer het. Die blad het Afrikaans “in ’n beskaafde taal omgeskep”, het ’n ander gesê.

Smith het president Steyn ’n paar maande ná die oprigting van die tydskrif gevra om die verhaal te vertel van sy ontsnapping op Reitz in die Anglo-Boereoorlog. Hy het dit gedoen, en die stuk, in Nederlands, het in Desember 1916 verskyn.

In dieselfde nommer moes die Huisgenoot helaas ook die dood van die President aankondig. Op 28 November 1916 het hy die kongres van die Oranje-Vrouevereniging geopen. Hy het die dag baie gesond gevoel en met kragtige stem gepraat. Toe, nadat hy al ’n hele ent weg met die toespraak was, het hy sy hand na sy kop opgetel “asof hy ’n sterk beroep op sy geheue maak”, sê sy biograaf NJ van der Merwe. Hy het egter inmekaar gesak en kort daarna is sy liggaam die saal uitgedra.

Die begrafnis was op Sondag 3 Desember. Spontaan het meer as een mens op die gedagte gekom om hom te begrawe aan die voet van die Vrouemonument, waarvoor hy hom so beywer het. Die roudiens is gehou deur dominee JD Kestell oor die teksvers “De kroon onzes Hoofds is afgevallen”. Later is nog drie mense aan die voet van die monument begrawe: generaal CR de Wet, dominee JD Kestell en mevrou Tibbie Steyn, terwyl ook die as van Emily Hobhouse daar weggelê is. Haar as is hoofsaaklik op voorstel van mevrou Steyn na Suid-Afrika gebring. Oor die roerende plegtigheid op 27 Oktober 1926 het Smuts aan haar vriende laat weet: “Ons het haar soos ’n prinses begrawe”.