Die Hollands-Afrikaanse pers herleef

Gustav Preller besluit om te bly
January 23, 2015
Oprigting van eie skole
January 23, 2015

De Volksstem is in 1900 ná die val van Pretoria gestaak. Die redakteur en mede-eienaar, doktor FV Engelenburg, is gevang, beboet en na die Kaapkolonie gedeporteer. Die ander eienaar, meneer Izaak Wallach, is ook uitgewys. Ná die oorlog het Wallach aansoek gedoen om heropening van die drukkery, maar die owerheid se voorwaarde was dat De Volksstem nie die kroonkoloniebestuur mag aanval nie. Dit was natuurlik onaanvaarbaar. Tog kon Milner die blad nie onbeperk verbied nie, en De Volksstem het van 11 Maart 1903 af weer verskyn.

Geld vir die heroprigting van die koerant is uit Nederland verkry. Dit was deel van die fondse van die gewese Zuid-Afrikaansche Republiek. Geld wat in die oorlog daarheen oorgeplaas is, is in die geheim deur die gewese staatsekretaris, doktor WJ Leyds, na die Boereleiers gestuur vir nasionale doel-eindes. Dit was veral die oprigting van Afrikanerskole en versterking van koerante wat die Afrikaanse strewe kon propageer.

Vanuit Engeland het Joseph Chamberlain alles in sy vermoë gedoen om hierdie geld in die hande te kry. ’n Wydvertakte Britse geheime diens in Europa het briewe tussen Boerevriende onderskep en die Milner-bewind op die hoogte gehou van party van die stappe wat Leyds gedoen het om die geld aan Botha en Smuts in Pretoria te besorg om die Afrikanersaak te bevorder. Milner het sekere mense en instellings soos Ons Land laat dophou om vas te stel wie bystand kry en van wie af dit kom. Self het hy die Pretoria News hervestig en onder groot geheimhouding ’n groot bedrag daarin belê. Verder het hy sy invloed gebruik om ’n geesgenoot as redakteur van The Star te laat aanstel.

Nieteenstaande die inligting wat Milner bekom het, en Chamberlain se aanslae op die bietjie republikeinse geld, is daar in ’n paar jaar ’n hele netwerk van persorgane gevestig om die Afrikanersaak te propageer. Botha en Smuts het De Volksstem met £20 000 van Leyds hervestig onder Engelenburg as redakteur. Uit dieselfde fondse is Het Westen op Potchefstroom gestig met ’n oud-Hollander Hendrik de Graaf as redakteur. Verder is die Krugersdorp Herald en The Highveld Herald op Ermelo aangekoop. In Pietermaritzburg is De Afrikaner gesteun. Toe die Vrystaatse leier Abraham Fischer deur middel van Botha en Smuts ’n beroep op Leyds doen om bystand aan The Friend te verleen, het hy £8 000 gekry en daaruit is die aparte blad De Vriend des Volks opgerig. Blykbaar het Botha net in die Kaapkolonie nie geldelike hulp aan Afrikanerkoerante gegee nie. Ander geld is gevind om Ons Land te hervestig en De Goede Hoop in 1903 op te rig. Ook die perskantoor van die Algemeen Nederlandsch Verbond het joernalistieke en geldelike hulp aan Hollands-Afrikaanse koerante verleen.

Die geheime fondse in Nederland is beskou as “die Afrikaner se erfporsie”. Erfgename het seker selde so gewoeker met ’n klein erfenis as diegene wat van dié “erfgeld” ontvang het. Daarmee is verskeie koerante gefinansier en is gehelp met die ander groot nasionale doelstelling: eie skole met ’n Afrikaanse gees, waarin Engels nie die enigste voertaal was nie.