Die hoed van Paul Kruger

Gedenkwaardige handelsforte in Wes-Afrika
October 5, 2018
Die oorlog van 1880-1881
October 5, 2018

“Het is mij aangenaam geweest U Hoogedele mijn kruiser Gelderland aan te bieden en te vernemen dat de reis door U in goeden welstand volbracht is—Wilhelmina”.

Hierdie telegram was gedateer 23 November 1900 en geadresseer: “Den Heer Paul Kruger, President der Zuid-Afrikaansche Republiek, adres: Légation des Pays Bas, Paris”, d.i. Nederlandse Gesantskap, Parys.

N die bewoë jare voor die oorlog in die Boererepublieke ontvlam het, was die Nederlandse kruiser Gelderland ’n splinternuwe oorlogskip. Die skip was een van ’n reeks van ses kruisers, ook bekend as pantserdekskepe, wat almal name van Nederlandse provinsies gedra het.

Die Gelderland was op 15 Julie 1900 in die Nederlandse vlootbasis in diens gestel en het reeds op 22 Augustus van dieselfde jaar na Nederlands-Oos-Indië vertrek om deel te vorm van die Nederlands-Indiese eskader.

Toe die kruiser op 27 September 1900 die eiland Perim, aan die suidelike ingang van die Rooi See, aangedoen het om steenkool te Iaai, het die gesagvoerder ’n telegram van die Minister van Marine ontvang om, op las van Koningin Wilhelmina, onmiddellik na Lourenco Marques te gaan om daar President Kruger aan boord te neem.

Op 12 Oktober 1900 het die Gelderland in die Delagoabaai verskyn en, met Staatspresident Kruger aan boord, na Marseille vertrek. Onmiddellik na sy aankoms in Marseille het die President na Parys vertrek. Daar het hy die telegram, waarvan die teks bo aangehaal is, ontvang. Dieselfde dag het die Gelderland na Nederlands-Indië vertrek.

Teenoor die magtigste vloot van die wêreld, die Britse vloot, was die stuur van die Gelderland ’n moedige daad. Die Gelderland het, in die lig van sy tyd, oor ’n goeie bewapening beskik, naamlik agt middelslag-kanonne (12 en 15 cm), 18 ligter kanonne (3,7—7 ,5 cm), twee mortiere van 7,5 cm, twee torpedo-lanseerbuise en twee torpedo-kanonne. Dit was ewenwel ’n ligte kruiser met ’n waterverplasing van 4 033 ton en ’n bemanning van 325.

Kort na die reis met President Kruger aan boord is die skip verbou en is die skoorstene van rookkappe voorsien wat soos keile, in Nederlands “hoge Loeden” genoem, gelyk het. Deur die Nederland vlootpersoneel is dié tipe rookkap “de hoed van Paul Kruger” genoem.

 

Verdere lotgevalle:

Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog is die Gelderland tot ’n artillerie-instruksie-kruiser omgebou en op 27 April 1920 as sodanig in diens gestel. Die Gelderland is dalk dié Nederlandse oorlogskip wat die langste tyd, veertig jaar, as sodanig diens gedoen het, nl. die dubbelde van die normale lewensduur van ’n gevegsvaardige skip. Dit was dan ook besonder sterk gebou en het teen sy einde die vlag van skout-by-nag Dikkers ten tye van skietoefeninge, saam met ander Nederlandse oorloskepe gevoer.

Op 14 Mei 1940 het dit opgelê en ontwapen op die staatswerf in Den Helder gelê. Die Duitse besetter het dit in beslag geneem en tot ’n drywende lugafweer-battery onder die naam Niobe laat ombou en vir diens in die Oossee gebruik.

Daar het die skip, of 16 Julie 1944, as gevolg van ’n Russiese lugaanval gesink. In 1947 het die Finne die wrak gelig, maar van herstel was daar nie meer sprake nie.

Gelukkig was die skryftafel en die stoel, wat deur President Kruger gebruik is, ten tye van die uitskakeling van die skip uit die Nederlandse vlootdiens van boord gehaal. Na die oorlog is dié besondere meubelstukke aan die kommandant van die na-oorlogse Gelderland, ’n duikbootjaer van 2.765 ton, ’n bemanning van 247, en bewapen met vier kanonne van 12 cm, teen see- en lugdoelwitte, twee raketdieptebomwerpers en 2 dieptebomvakke, oorgedra.

In November 1970 is die gerestoureerde skryftafel en stoel deur die toenmalige Nederlandse vise-Eerste Minister Bakker aan Eerste Minister B.J. Vorster oorgedra. Dit is interessant om te weet dat die vorige eienaar die toenmalige Nederlandse Eerste Minister P.J.S. de Jonge was wat, as kaptein, die Gelderland se bevelvoerder was.

In 1975 sal hierdie Gelderland, net soos die ander skepe van hierdie reeks, deur ’n geleide-wapenfregat van 3.100 ton, weer eens ’n Gelderland, vervang word.

Die hut waarin Staatspresident Kruger tydens sy reis vertoef het, het nie bewaar gebly nie. Toe die Duitse besettingstyd in Mei 1940 aangebreek het, kon dit nie meer van die Gelderland verwyder word nie en is dit saam met die skip vernietig. Ons het verneem dat, behalwe deur ’n lid van die Nederlandse koninklike gesin, niemand dié hut aan boord van die Gelderland mag bewoon nie.

’n Paar jaar voor haar dood het Koningin Wilhelmina dit aan ’n Suid-Afrikaanse skilder opgedra om haar portret, haar laaste, te skilder.

In Suid-Afrika lewe die naam Gelderland in een van die Republiek se kusverdedigingskepe voort.

 

Bron: Botha, A. 1971. Lantern, Desember, 17.