Die Ned. Geref. Kerkgebou, Wynberg
December 13, 2017
Van Riebeeck se heining, Wynberg
December 13, 2017

Verby Nuweland is die voorstad Claremont geleë en hier op die voormalige eiendom Feldhausen in Grovelaan staan die Herschel-monument.

Sir John F.W. Herschel (1792-1871) was ’n beroemde Britse sterrekundige en enigste seun van ’n ewe beroemde sterrekundige, sir William Herschel. Op eie koste het hy in Januarie 1834 na die Kaap gekom om sterrekundige waarnemings te doen. Hy het hom te Claremont gevestig en tot Maart 1838 hier vertoef.

Hy het ’n spieëlteleskoop met hom saamgebring met ’n brandpuntafstand van 6 meter en hy het dit ondergebring in ’n klein geboutjie digby die huis Feldhausen, waar hy en sy gesin gewoon het. In sy waarnemings is hy bygestaan deur die werktuigkundige John Stone terwyl hy ook die onafgebroke samewerking van Haar Majesteit se Sterrekundige aan die Kaap, die welbekende sir Thomas Maclear, geniet het.

Gedurende sy verblyf het hy die Argo-newelvlek met 1 203 sterre in kaart gebring; ’n lys van meer as duisend voorwerpe in die Magellaanse sterrenewels opgestel; byna 2 000 ander newelvlekke en sterretroepe ontdek en getabelleer; 1 202 pare dubbelsterre ontdek en Halley se komeet vanaf 28 Oktober 1835 tot 5 Mei 1836 waargeneem.

Benewens sy astronomiese werk het hy saam met Fairbairn die Kaapse regering gehelp om ’n onderwysstelsel op te stel. Dit is ook bekend dat hy pionierswerk in verband met die fotografie gedoen het nog voordat hy na die Kaap gekom het, en in 1839 sonder kennis van Talbot en Daguerre se werk een van die mede-uitvinders van die fotografie was.

Toe hy in 1838 die Kaap verlaat het, het hy ’n klein granietsilinder geplaas op die plek waar sy teleskoop van 6 meter gestaan het en op 15 Februarie 1841 is ’n gedenknaald van Craigleithklip bo-oor hierdie silinder opgerig. Daarop staan te lees:

“Here stood from MDCCCXXXIV to MDCCCXXXVIII the reflecting telescope of Sir John F. W. Herschel, Baronet, who during a residence of four years in this colony contributed as largely by his benevolent exertions to the cause of education and humanity as by his eminent talents to the discovery of scientific truth.”

Die terrein van die gedenknaald is onlangs by die grond van Primêre Skool Grove ingelyf.

(Geproklameer 1936)

 

Sir John Herschel • Herschel se reflektor c. 1835 • William Fehr-versameling
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 48.

Foto: Sir John Herschel • Herschel se reflektor c. 1835 • William Fehr-versameling

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 48-49.