Die Groot Trek
April 7, 2017
Die oorgawe van die Republiek Natalia onder die akasiaboom in Pietermaritzburg – 1842
April 7, 2017

(Geskryf deur T.V. Coetzee, Museumkurator Potchefstroom, soos verskyn in Historia Junior, November 1964)

Een van die interessantste brokkies Voortrekkerlewe wat ek nog teëgekom het, het ek ’n paar weke gelede ontdek by mnr. Paul Havemann van Standerton.

Hy het nog die dagboek van sy oupagrootjie, Johann Heinrich Carl Havemann, uit die jare 1851-1872 en daarby ’n klein boekie “My Mother a Voortrekker” (ook in Afrikaans). Die eerste is eintlik ou Heinrich se winkelkasboek en die tweede is saamgestel uit briewe, vertellings en verslae oor die ou Havemann en sy Voortrekkervrou, Johanna Magrieta Maré, ’n niggie van genl. Andries Pretorius.

Toe Heinrich die dag mondig geword het, 16 Augustus 1831, het sy pa hom begroet met die woorde: “Heinrich, hier is vir jou ’n nuwe pak klere en ’n bietjie geld. Gaan reis en besien die wêreld.”

Die jongman, wat toe ’n goed opgeleide kabinetmaker was, het hom nie twee keer laat nooi nie. Hy het sy geboortedorpie Grabow, Duitsland, verlaat, sewe jaar lank Europa deurkruis en toe saam met ’n paar maats koers gekry na Suid-Afrika, waarvan hulle nou al so baie geheimsinnigs gehoor het.

Op 15 Desember 1838, die dag voor die slag van Bloedrivier, het hulle in Kaapstad geland – na ’n seereis van 19 dae. Die “bloedige” nuus van die Voortrekkers het hulle so geïnteresseer dat hulle reeds op 5 Januarie 1839, na ’n stormagtige reis van 21 dae in Port Natal geland het en teen die einde van Januarie hulle reeds aangesluit het by ’n Voortrekkerkamp waar Pietermaritzburg tans is.

Die baie avonture van die Trekkers het hulle so geïnteresseer en deernis by hulle opgewek dat hy, J Hansmeyer, Creme, Meune, Heine en CWH Pistorius daar en dan hulle lot saam met die boere ingewerp het. Hulle het dadelik gehelp om die nuwe dorp uit te lê, huisies te bou en aan die handels- en avontuurlike jagtogte deel te neem.

Intussen het Heinrich o.a. kennis gemaak met die familie Wynand Maré en hul sestienjarige dogter, Hester. Wynand se vrou was ’n suster van genl. Andries Pretorius.

Hulle baie wedervarings op die Oosgrens, die trek oor die Drakensberge en veral die wrede Zoeloe-aanvalle by Bloukrans, Moordspruit en Boesmansrivier waar 41 mans, 56 vrouens, 185 kinders en byna 200 bediendes vermoor is, het diep indruk gemaak op Heinrich se gemoed.

Van hierdie moorde vertel Hester in lewendige kleure hoe hulle familie op ’n wonderbaarlike wyse aan die gewisse dood ontkom het, hoe hulle die volgende môre die verskillende moordtonele besoek het, hoe die wêreld wit was van die vere van die beddegoed wat die Zoeloes opgeskeur het; hoe die gras en vere aanmekaargekoek was met bloed; hoe die dooie liggame daar oopgesny gelê het en die ingewande verstrooid was, asof dit deur ongediertes verskeur was; hoe moeders met suigelinge in hulle arms deurboor was met assegaaisteke; hoe die bloed nog uit die waens getap het … hoe hulle onder ’n hoop dooie kinders onder ’n wa nog ’n lewende kaffermeidjie met sewe assegaaisteke gekry het … en verderweg nog 18 lewende kindertjies, maar dat almal die volgende dag beswyk het aan hulle wonde behalwe die meidjie. Hester vertel ook hoe haar moeder die meidjie verpleeg het tot sy gesond was en hoe sy in die gesin opgeneem is as een van hulle eie kinders. Sy vertel ook hoe die ou vader Sarel Cilliers met ’n gebroke hart uitgeroep het: “O, God, sal die bloed van die suigelinge nie gewreek word nie.”

Kleurryk skets Hester ook die rol wat die jong dogter moes speel met die trek. Sy vertel dat sy 13 jaar oud was, toe die trek in Grahamstad begin het, dat sy gedurende 3½ jaar geen dak oor haar hoof gehad het nie; omdat sy die oudste kind was en haar ouers geen bediendes gehad het nie, moes sy dikwels seunswerk doen; sy moes skape oppas en beeste aanja en ander swaar werk doen. By Oliviershoekpas oor die Drakensberge, het sy vir die eerste wa wat afgedaal het, tou gelei. Sy vertel dat toe die wa by die steilte afgedaal het, sy omgekyk het en dat dit vir haar was of dit sou kon oorslaan op die agterosse. Toe die wa onder was, het sy een van die remkettings die berg uitgesleep, sodat daarmee ’n ander wa kon gerem word.

Van die wild vertel sy: “Daar was seekoeie, troppe volstruise, duisende wildebeeste, blesbokke, oorbietjies, ietermago’s, tierboskatte, slange, wilde Boesmans…” Vleis was in oorvloed, maar koffie het later opgeraak, suiker het die kinders teen die end van die trek nie geken nie, somtyds was daar gebrek aan brood en dikwels het sy die kaf (doppe) van ander trekkers se gestampte mielies as pap gekook.

Daar haar moeder ook as vroedvrou opgetree het, moes Hester maar seker lelik bontstaan om kos te kook, klere te lap, haar pa te help en die gesin help versorg. Haar moeder moes ’n baie knap vroedvrou gewees het, want van die 2500 bevallings wat sy waargeneem het, het daar slegs een moeder beswyk.

Van al die interessante dinge wat in die dagboek en “My Mother a Voortrekker” aangeroer word, wil ek baie graag stilstaan by die volgende puntjies, nl. interhuwelike, die wonings en die Voortrekkerkleredrag.

Dikwels word die karige kleredrag van die Voortrekker en dan meeste van ’n outydse mode so oorbeklemtoon dat dit ’n skewe voorstelling gee. Dit is beslis nie die swierige kleredrag wat ons op ou foto’s en in ons Afrikana Museums te siene kry nie. Ek neem aan dat mens weer te ver sou gaan as jy laasgenoemde as ’n reël sou aanneem. Om hierdie gedagte verder te staaf, gee ek ’n lysie van die kledingstowwe soos deur ou oom Heinrich in sy kope en verkope aangegee. So was daar bafta, geruit, skots geruit, vlanette (moontlik die algemeen bekende flennie), molvel, ook “moleskin” genoem in swart, blou en geel, dril en nog ’n sterker stof bekend as “duivelssterk”, ook alpakka, wit en swart laken, corduroy (ferweel), verder vir die vrouens wat hy noem “chitz” of “voer Zitz” (voersis), winsey en print en dit al in die jare 1851. Nou moet ons onthou dit is net een handelaar uit Duitsland. Waar was nou nog die stowwe uit Holland, Engeland en Frankryk en die Ooste wat nog makliker bekombaar was.

Net so dikwels word voorgestel asof die Voortrekkers niks anders as hartbeeshuisies geken het nie. Dit is beslis waar van die trek-swerf-tydperk van 1830-1860. Maar toe hulle eers in vrede en met doelbewuste beplanning Maritzburg, Potchefstroom, Rustenburg en Pretoria aangelê het, is in baie gevalle deeglike, groot huise opgerig. Ons neem bv. Potchefstroom, die eerste gevestigde nedersetting noord van die Vaal. Dat die eerste huisies van Oudedorp en selfs Potchefstroom van ’n meer tydelike aard was, lei ons af uit wat Andersson sê, een van Swede wat in die sestiger jare saam met Chevalier Forssman hier aangekom het. Hy sê: “Die toestand in 1863 was so: hier was baie hartbeeshuisies en kleihuise. Hier en daar was ’n baksteengebou in die dorp.”

En tog sê hy van Hendrik Potgieter se huis, op Oudedorp, dat die mure 45 voet lank, 17 voet breed en 12 voet hoog en 3 voet dik was, gebou van klip. Van ’n ander een ook te Oudedorp sê hy: “Dit was gebou byna soos ’n Europese kasteel. Ons het minstens 10 bokvragte timmerhout daaruit gehaal. Sommige balke moes met ’n katrol gehys word. Dit was die huis van ’n sekere Jan Steyn. Die mure was 100 voet lank en 40 voet breed en 3 vt. dik van onder en bo ? duim breed. Die Olen’s se vader en ek het probeer om die mure, wat met wild velstroke aanmekaar verbind was om te trek met 3 spanosse. Maar dit was verniet. Ons moes kap en die klei mure was solied als ’n kasteel in Europa.” Dit kom ooreen met ’n paar tipiese ou Voortrekkerhuise wat in die laat vyftiger- en begin sestigerjare in Potchefstroom gebou is en nou nog net so staan. Hiervan is die oudste waarskynlik die residensie van pres. M.T. Pretorius. Uit verskillende gegewens wil dit voorkom of hy al in 1857 gebou was en eers ’n grasdak en rietsolder gehad het wat Iater vervang is deur ’n sinkdak en breë geelhout solder- en vloerplanke. Dan volg die drie Grimbeek-huise wat volgens die datums op klip bokant die deur in 1862 gebou is. Tot 1963 het een van die kleinseuns van die ou Grimbeek-stamvader nog in die ou familiehuis gebly. Hy en sy vrou het nog vir die Museum een van die plankvloere geskenk. Die ou huis is lank met breë en hoë klipstoepe en die mure is 15 vt. hoog. Die 1862-huis is waarskynlik die eerste huis wat ’n plankvloer in Potchefstroom gekry het. Die geelhoutvloere, ’n spog middeldeur met glasversierings, die datumklip en groot voordeurslot is deur die nuwe eienaar, mnr. Jurie Schoeman ook aan die Museum geskenk. So is daar ook die huis van oud-landdros Dirk Tom, by wie pres. Kruger dikwels tuisgegaan het as hy in Potchefstroom kom. Hy pronk nog ewe deftig in Potchefstroom, ek bedoel die ou huis! Dit is eintlik ’n dubbel strooidakhuis waarvan die lang mure 70 vt. en die gewelmure ongeveer 20 vt. is. Die huise met hul pragtige gewitte kleimure rondom die werf het baie gelyk soos die ou Bolandse gewelhuise. Dat hier ook baie van die kleiner huisies vir die armer ingesetenes was, sal ek nie betwis, nie, want daar staan nou nog ’n goeie halfdosyn van hulle.

Ook oom Heinrich maak melding van ’n spoghuis wat hy in 1866 vir hom in Greytown (Natal) gebou het wat hom aan boumateriaal en messelloon €138-12-6 gekos let. Hy en die seuns het waarskynlik self die timmer- en houtwerk gedoen. Hy sê wel nie dat hy plankvloere, glasrame en ’n sinkdak opgesit het nie, maar waar hy handeldryf in die dinge wat so pas hulle verskyning gemaak het en hy sy eie transportwaens gehad het en nie te ver van Durbanhawe was nie, is dit amper vanselfsprekend.

As mens die ou gegewens oor hulle interhuwelike tussen Afrikaners en uitlanders nagaan, tref dit jou hoeveel in die betreklik klein gemeenskappie opgeneem is en dat hulle soms binne een tot twee geslagte volbloed en waardige Afrikaners geword het. Die boekie gee o.a. die name van J Hansmeyer, Carl Pistorius; Paul Zietsman e.a. wat saam met Heinrich ’n paar jaar na hulle aankoms met Afrikanermeisies getroud is vooraanstaande Afrikaanse burgers geword het.

Soortgelyke gevalle is die van Forssmans,  Olens en Anderssens, almal Swede, of Duitsers soos die Fleischacks, Goetze, Grimbeeks, ens. in Potchefstroom.  Van Engelse kant is daar die uitstaande voorbeelde van Vader Kestell, die Bingles, ens., of Franse soos Poisats e.a. Ek praat nou nie eers van die Hugenote, die Duitsers e.a. in die Oostelike Provinsie wat al ’n paar eeue gelede die land ingekom het nie. Waar ons nou weer voor so ’n uitlandervraagstuk staan en ons net soos toe op ’n drastiese blanke-eenheidswording afstuur, lê dit nie op ons pad om ’n deeglike studie te maak van die verskillende krisismomente soos met die Hugenote, die Setlaars, die groepe Duitsers, Hollanders, ens. om te sien wat die beste maniere is om ons blanke eenheidsideaal te bereik nie? As die Australiërs, Kanadese en Amerikaners sulke volkseenhede kon opbou uit baie groter veelrassige elemente, behoort dit vir ons nog meer moontlik te wees waar die Afrikanerelement reeds in die meerderheid is.