Irma Joubert en stories is sinoniem
July 27, 2018
Pinehurst, Oudtshoorn
July 27, 2018

Gelyktydig met die besetting van die kusstrook van Swellendam tot George is ook die Klein Karoo en sy verlenging, die Langkloof, anderkant die Lange- en Outeniekwaberge verken en deur die veeboere beset. Die deurbraak daarheen het plaasgevind agtereenvolgens deur die Kogmanskloof by Montagu, die Attakwaskloof (Robinsonpas) teenoor Mosselbaai, en die Cradockkloof by George waardeur tans die Outeniekwapas loop. Reeds in 1752 reis August F. Beutler deur die Attakwaskloof en met die Langkloof ooswaarts. Op sy hakke volg die veeboere en teen die jare sestig woon daar reeds talle boere langs die Bo- en Onder-Olifantsrivier en in die Kango, d.w.s. in die omstreke van die huidige Oudtshoorn. Onder andere word in 1760 aan Claas Grobbelaar die plaas “de Cango aan de Doorn Rivier” en aan Hermanus Steyn die “Combuis aan de Cango” toegeken. Na eersgenoemde is die Grobbelaarsrivier, waaraan Oudtshoorn geleë is, genoem en op laasgenoemde se plaas is die bekende Kangogrotte ontdek.

Op die plaas Hartebeestrivier “gelegen aan Grobbelaar rivier”, het daar met verloop van tyd ’n klein dorpie ontstaan en die naam Grobbelaarsrivier is taamlik algemeen gebruik om dié dorpie en die omgewing aan te dui. In 1838 is hier ’n kerk gebou en in 1843 gee E. Bergh, resident-magistraat van George, die dorpie die naam Oudtshoorn. Hy was getroud met Gesina Ernestina Johanna van Oudtshoorn, ’n kleindogter van baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, wat in 1772 tot goewerneur van die Kaap benoem is. Op dié wyse het Bergh die naam Van Oudtshoorn verewig.

Die dorpie het aan albei kante van die Grobbelaarsrivier ontwikkel. Gedurende droë seisoene was die rivier geen probleem vir die bewoners wat heen en weer daaroor moes gaan nie, maar gedurende die reënseisoen was dit dikwels ’n bruisende stroom wat alles met hom meegevoer het. Jare lank het die bewoners die ongerief verduur totdat die Stadsraad uiteindelik in 1913 die bou van ’n hangbrug in Kerkstraat reg teenoor die middedorp goedgekeur het. Die brug is deur ’n Skotse firma Edward Rowley en Seuns van Londen gebou en die raadgewende ingenieurs was Hitchers & Booth, ook uit Londen.

Hierdie hangbrug is een van die sierlikste van sy soort in Suid-Afrika. Dit het ’n enkele span van 91 m en is in die middel gewelf. Die 9 meter hoë torings aan weerskante is van getraliede staal.

(Geproklameer 1964)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 123.