Die grootste waagstuk van die oorlog

Britse reaksie op “Black week”
January 22, 2015
Wit vlag op Majubadag
January 22, 2015

Cronjé sou nog kon weggekom het as hy bereid was om sy laer agter te laat en net met sy perderuiters pad te gee. Toe Cronjé op 17 Februarie vlakby Paardeberg die Modderrivier wou oorsteek, moes hy ontdek dat die Britte hom aan alle kante omring. Cronjé se ongeveer 4000 burgers het hulle toe by die Modderrivier ingegraaf.

Op versoek van president Kruger is dag en nag in die republieke gebid dat God Hom oor Cronjé moet ontferm sodat hy weer kon loskom. Christiaan de Wet het intussen ’n plan gemaak wat ’n kans op welslae gehad het, mits hy dit vooraf aan Cronjé kon bekend maak. Hy kon egter geen heliografiese verbinding met Cronjé kry nie en tussen hulle twee was die haas ondeurdringbare Engelse kordon.

Terwyl De Wet gewonder het hoe hy die boodskap by Cronjé kon kry, het die dapper kommandant en spioen Danie Theron in die laer opgedaag. De Wet het die 27-jarige Theron gevra of hy kans sien om deur die Engelse kordon te dring en ’n mondelinge rapport aan Cronjé oor te dra. Theron was dadelik gewillig. De Wet het later verklaar: “Dit was ’n waagstuk wat ek hom voorgestel het om te doen soos wat nie oortref sou word in ons ganse bloedige stryd nie.” Die rapport aan Cronjé op 24 Februarie was dat hy sy laer in die steek moes laat en in die nag deurveg tot waar De Wet hom op sekere plekke sou tegemoetkom en waar De Wet dan die Engelse sou verhinder om hom te agtervolg.

Net ná skemer het hy na die Britse linies gekruip. “My hande en voete was rooi van die blare, want dit was stukkend gekrap deur die dorings en skerp klippe waardeur ek honderde treë moes kruip, en ek het ’n rukkie tussen groot klippe gaan lê om te rus en te oordink wat ek sou doen, want ek was toe so na aan die Engelse brandwagte dat ek hulle duidelik op en neer kon sien loop, dwarsoor die koers wat ek moes gaan.” Hy het verskeie planne oorweeg, en is na ’n punt waar die twee wagposte op ’n gegewe oomblik die verste van mekaar sou wees. Die wagte het mekaar ontmoet, regsomkeer gemaak en terugmarsjeer.

Toe die wag naby Theron kom, “staan ek skielik op en fluister hom hard en skerp toe: ‘As jy jou verroer, is jy ’n lyk’, terwyl ek tegelyk my rewolwer laat sien; ‘Laat my deurgaan na Cronjé se laer en jy sal niks oorkom nie.’ Die kêrel het ’n halwe oomblik geaarsel en sy geweer vervat, maar ek druk die tromp van my rewolwer in sy maagstreek en herhaal vinnig: ‘Marsjeer kalm na die end van jou pos en jy sal niks oorkom nie. Ek is haastig!’ Die Tommie het besef dat dit doodsake was. Sonder om ’n woord te sê, gooi hy sy geweer oor sy skouer en stap weg in die rigting waarin hy besig was om te loop.”

Blitsvinnig het Theron deurgeglip en in die donker verdwyn. Toe hy deur die voorste liniewagte was, het dit makliker gegaan. Dieper in was die Engelse nie so op hul hoede en die wagte nie so na aan mekaar nie. Dit was egter ’n ontsettende tog en toe Theron eindelik weer in De Wet se laer aankom, het hy daar gehawend uitgesien. Sy broek was aan flarde en die aanhoudende gekruip deur die bossie- en doringveld en oor die skerp gruisklippertjies het die vel van albei sy knieë afgestroop. Uit stukkende plekke aan sy hande en knieë het die bloed gedrup.