Die Kasteel De Goede Hoop
December 12, 2017
Die Ou Hooggeregshof
December 12, 2017

Die Groote Kerk 1851 • Africana-museum, Johannesburg

In Suid-Afrika is daar waarskynlik geen gebou wat meer bekend is as die Groote Kerk nie. Daar is ook weinig geboue wat met soveel piëteit en agting bejeën word. Selfs die naam roep belangrike historiese, kerklike en godsdienstige herinneringe op.

Saam met hom het Jan van Riebeeck die Gereformeerde godsdiens gebring en die beoefening daarvan het ’n belangrike plek in die lewe van die klein pioniersgemeenskap ingeneem. Vanselfsprekend sou die voorsiening van ’n plek van aanbidding, ’n Godshuis, dan ook van die begin van die nedersetting die aandag van bewindhebbers, amptenare en vryliede geniet.

Van Riebeeck se skip, die Drommedaris, het as die eerste kerk diens gedoen. Die eerste Sondagdiens aan die Kaap is op 14 April 1652 op die skip gehou. Nadat die nedersetters op 24 April aan land gegaan het, het die “Christelycke vermaninghe” waarskynlik in een van die tydelike woonplekke plaasgevind. By die oprigting van die Fort de Goede Hoop is voorsiening gemaak vir ’n saal in die kompleks van geboue aan die oorkant van die ingangspoort. Die godsdiensoefeninge is voortaan daarin waargeneem. Hierdie saal het as gevolg van die groeiende bevolking as kerk weldra te klein geword. Toe in 1666 dus met die bou van die Kasteel begin is, is een van die houtskure in die binneplein van die toekomstige vesting in ’n kerk omgeskep deur dit van ’n klipvloer en ’n voorgewel te voorsien.

Intussen is moeisaam aan die Kasteel gebou. In die lang muur tussen die kasteelpunte Leerdam en Oranje is ’n “nieuwe kerkje” ingerig en dit is waarskynlik reeds in 1675 betrek. Nou het ’n nuwe probleem opgeduik wat die oprigting van ’n kerk op sy eie terrein noodsaaklik gemaak het. Van 1666 is mense in die binneplaas van die Kasteel begrawe. Die ruimte deur die kerkhof ingeneem, was nou egter vir ander doeleindes nodig. Die verskuiwing van die kerkhof was dus noodsaaklik. Daarom is daar op 16 Desember 1677 deur kommandeur Johan Bax en sy Raad ’n geskikte terrein “in’s Comps. verlaten thuyn gelegen” as begraafplaas gereserveer. Dit was die terrein waarop die Groote Kerk tans staan. Voorlopig sou dit alleen ommuur word en mettertyd sou “een behoorlyck en proper kerck” daarop gebou word. Die volgende jaar het kommandeur Bax en die lede van die Publieke Raad dan ook werklik die fondamente vir ’n kruiskerk hier gelê.

Dit het egter byna ’n kwarteeu geduur voordat daar tot die bou van die “proper kerckje” oorgegaan is. In 1685 het die bekende kommissaris Hendrik Adriaan van Rheede opdrag gegee dat ’n dwarsmuur of kat oor die plein van die Kasteel gebou word en dat daarin voorsiening gemaak word vir ’n nuwe goewerneurswoning en ’n paar sale. Hierdie kat is eers in 1695 voltooi en die kerk is na een van die sale verskuif. Op Pinksterdag, 22 Mei 1695, is die eerste “predikatie” daar gehou. In dieselfde jaar waarin die kerk na die kat verskuif is, het ds. Petrus Kalden as predikant in die Kaap aangekom. In 1699 het hy en sy kerkraad die besoekende kommissaris Daniel Heyns en die goewerneur om verlof genader om ’n nuwe kerk uit die armekas te bou. Toestemming is daartoe verleen. ’n Plan vir die kerk is ontwerp, ’n kontrak vir die bou is aangegaan, die ou fondamentstene deur Johan Bax gelê, is opgetrek en op 28 Desember 1700 het goewerneur WA van der Stel en enkele van sy raadslede die eerste stene vir die nuwe kerkgebou gelê.

Die onderneming is gekenmerk deur ’n gees van samewerking en welwillendheid aan die kant van lidmate, amptenare en regering, met die gevolg dat die werk nog voor die einde van 1702 voItooiing genader het. Die toring is eers in 1703 gebou. ’n Pragtige preekstoel is gemaak. Die ou reisiger ds. Francois Valentyn beskryf dit as “een zeer nette agtkantige predikstoel”, wat in die geheel rus op ’n “swarte ebbenhoute dikke fraei geslingerde enkelde styl”, terwyl die koperlessenaar, waarop die Bybel lê, so mooi is as wat hy nog selde gesien het.

Valentyn noem die kerk “een zeer fraai gebouw” en ds. HC Hopkins[1] beskryf dit in sy gesaghebbende werk Die Moeder van ons Almal as volg: “Die ou Kaapse kerk het nie die gewone kruisvorm gehad wat in ons Iand so gewild sou word nie, want in dié geval is die arms van die Griekse kruis deur skuins dwarsmure verbind wat ’n deel van die vier oop hoeke gevul het. Dit was op die plan van die 17de-eeuse ‘preekkerke’ gebou waarin sentraalbou toegepas en die grondplan om ’n middelpunt ontwerp is. In elk van die mure wat die arms van die kruis verbind het, was daar twee vensters van tussen 6 en 9 meter hoog wat feitlik van onder tot bo aan die mure gereik het. Die tuitgewels aan die kante van kerkplein en die Heerengracht was hoër en mooier as die puntgeweltjie aan die bergkant, terwyl die toring ’n deel van die gewel aan die seekant uitgemaak het.”[2]

Op 6 Januarie 1704 is die kerk plegtig en met groot seremonie ingewy.

Die nuwe kerk het geen orrel en ook geen konsistorie gehad nie. In 1737 het die gemeente sy eerste orrel van goewerneur Jan de la Fontaine gekoop. Teen 1853 het die orrel egter ingegee en moes ’n ander aangeskaf word. In 1744-45 het die kerkraad ook ’n konsistorie laat aanbou.

Terwyl die kerk in aanbou was, is die kerkhof, wat “een schandelyck spectakel” was, herstel. ’n Kontrak is met Abraham Hartog aangegaan om die muur daaromheen te bou. Binne in die kerk is plek ingeruim vir geveer 180 genommerde grafkelders en ’n aantal ongenommerde grafte. Aan weerskante van die preekstoel was daar ses elk, en voor die kansel het die kelders blykbaar tot by die orrel in rye van 15 elk gelê. Sommige van die kelders het vir ses tot nege lyke plek gehad.[3] Die kelders was te koop of te huur en byna alle bekende persone van die tyd is hier begrawe. So is o.m. die volgende goewerneurs alhier ter ruste gelê: Simon van der Stel (1712), Louis van Assenburgh (1712), MP de Chavonnes (1714), PG Noodt (1729), Adriaan van Kervel (1737), Ryk Tulbagh (1771), en Pieter Baron van Reede van Oudtshoorn (1773).

Teen die helfte van die 18de eeu was die kerk al weer te klein vir die groeiende gemeente. Eers het die kerkraad ruimte probeer wen deur galerye bokant die twee deure te bou en die preekstoel terug te skuif. Toe in 1779 herstelwerk aan die kerk gedoen moes word, is daar van die geleentheid gebruik gemaak om die kerk te vergroot deur die vier hoeke uit te bou. Daardeur het die kerk nou die vorm van ’n vierkant aangeneem, hoewel die kruisvorm van die skuins dak behoue gebly het.[4]

In 1779 is die ou preekstoeI deur die merkwaardige Anton Anreith-preekstoel, wat vandag nog daar pryk, vervang.

Die plat dakke van die uitgebreide hoeke van die kerk het voortdurend gelek en baie herstelkoste meegebring. Ook in ander opsigte het die toestand van die gebou sorg gebaar. Die kerkraad het dus in 1835 ondersoek laat instel deur die ou beproefde bouer Hermann Schutte en baastimmerman LF Anhuyser. Hulle het aanbeveel dat die dak vervang word, maar het ook die aandag daarop gevestig dat die fondamente vogtig was, hoofsaaklik weens die water wat in die grafkelders gestaan het.

Die kerkraad het die hoë koste ontsien en het die dak van binne laat stut. Dit het slegs die vrees vir ’n ongeluk by die gemeente versterk. Weer eens het Schutte en Anhuyser tesame met ander boukontrakteurs die gebou ondersoek. Hul verslae het die mening laat posvat dat dit die beste sou wees om die gebou te sloop en ’n nuwe te bou. Teen die einde van Augustus 1835 is die kerk dus ontruim en is die dienste in die Lutherse Kerk in Strandstraat gehou.

H.C. de Meillon • Die Groote Kerk van Kerkplein af c. 1825 • William Fehr-versameling

Nou het daar ongelukkig ’n bittere stryd binne die gemeente ontstaan tussen dié lede ten gunste van sloping en dié daarteen. In wanhoop het die kerkraad hom tot die regering gewend, wat hulle aangeraai het om die advies van. lt.-kol. Robert Thompson van die Royal Engineers in te win. Ook hy het verklaar dat die toestand van die dak onrusbarend is. Daarop besluit die kerkraad om dit te vervang, en op hul versoek stel Thompson ’n plan op waarvolgens nie slegs die dak vervang sou word nie, maar terselfdertyd vir meer sitplekke voorsiening gemaak sou word. Die werk sou onder toesig van Schutte gedoen word.

Voordat met die werk begin is, is die pragtige preekstoel teen beskadiging op sy plek toegebou. Daarna is die dak verwyder, maar nou het Schutte tot die ontsteltenis van die gemeente bevind dat die fondamente te swak was om die hoër mure en die nuwe dak te dra. Nou was daar geen keuse meer nie. Die ganse gebou, behalwe die toring en die konsistorie, is gesloop en ’n nuwe en groter kerk is ooreenkomstig ’n ontwerp van Schutte gebou. In die nuwe gebou is die grafkelders opgevul en baie van die grafstene het verlore geraak. Die boustyl was ’n eienaardige Grieks-Gotiese kombinasie, maar in die algemeen aangenaam en fors. Schutte se grootste prestasie was die sierlike gestukadoorde plafon met sy indrukwekkende gewelf.[5]

Die Groote Kerk 1851 • Africana-museum, Johannesburg

Op 31 Januarie 1841 is die nuwe gebou met groot blydskap ingewy. In die afgelope een en ’n kwart eeu is bykans geen veranderings aan die ou kerk aangebring nie en tog lyk dit geheel en al anders as ’n halfeeu gelede. Dit moet daaraan toegeskryf word dat die geboue aan twee kante van die kerk verdwyn het en aan ’n ander kant ’n veel hoër gebou opgerig is. Elkeen van hierdie geboue het sy eie geskiedenis. Die ou kostershuis aan die Heerengracht en gedeeltelik voor die kerkgebou is van ’n eenvoudige “huysje” omgebou tot een van die waardigste ou Kaapse geboue, om uiteindelik alleen maar ter verbreding van Adderleystraat afgebreek te word.

Die konsistorie in Burostraat is omgebou tot ’n dubbelverdieping en uiteindelik gesloop toe hierdie straat verbreed is. Aan die teenoorgestelde kant is in 1941 die Groote Kerk-gebou opgerig.

(Geproklameer 1962)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 7-10.

 

[1] Vgl. Hopkins, H. C., Die Moeder van ons Almal, Geskiedenis van die Gemeente Kaapstad, 1665-1965.

[2] Hopkins, H. C., Die Moeder van ons Almal, et seq., p. 59.

[3] Ibid., p. 133.

[4] Hopkins, H. C., Die Moeder van ons Almal, et seq., p. 63. 9

[5] 1 Hopkins, H. C., Die Moeder van ons Alrnal, et seq., p. 84.