Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 6
March 9, 2021
Gerard Moerdijk (1890-1958)
March 30, 2021

Sarel Feldtmann

 

Die kommando’s – Die Wenkommando

 

Andries Pretorius kom by Sooilaer aan

Die oggend van 22 November 1838 was daar ’n groot oproer in die kampe toe sestig burgers met ’n bronskanon by Sooilaer aangekom het. Hulle is gelei deur ’n swaar gewapende man wat Erasmus Smit beskryf het as ’n “goed toegeruste, swaard en pistool draende draak.” Dit was Andries Pretorius.

Die Groot Trek was gelukkig om gereeld met nuwe leiers op ’n kritieke tyd te voorskyn te kom. Pretorius was een van hulle, en nou met sy aankoms in Natal was hy die laaste akteur in die geselskap van hierdie drama.

Andries Pretorius is op 25 November 1838 offisieel aangestel as die nuwe kommandant-generaal van die Voortrekkers, ’n dag nadat Joubert vertrek het met die vakleerlinge na die Kaapkolonie. Dadelik het hy en die kommando beplan om teen Dingaan uit te trek by Umgungundlovu en ’n lys met name van al die manne aan Smit gegee. Smit het hierna ’n diens gehou vir al 460 man wat op die kommando sou gaan, insluitende was die Engelsmanne Alexander Biggar en Edward Parker.

Vir die eerste keer moes die trekkers nou onder een bevelvoerder diens doen. Pretorius het die manne in vyf afdelings verdeel met Karel Landman, PD Jacobs, J Potgieter, J de Lange en S Erasmus as die onderskeidelike veldkommandante, met al vyf wat direk aan hom gerapporteer het.

Laat in November het Pretorius se kommando uit Sooilaer vertrek. Dit het toe verenig met Karel Landman se kontingent van ongeveer honderd man van Port Natal. Die gesamentlike kommando was nagenoeg vyfhonderd trekkers, en hulle was goed voorsien van kos en ammunisie en het vertrek in meer as sestig waens.

 

 

Inleiding tot die Slag van Bloedrivier

(Artikel geskryf deur Prof. dr. HB Thom – Bloedrivier)

Op Sondag, 16 Desember 1838, het die Slag van Bloedrivier plaasgevind. Die Sondagslag is een van die glanspunte in die Trek-geskiedenis; dis inderdaad onder al die treffende en hoogs belangwekkende gebeurtenisse van die Groot Trek die allerbelangrikste. Dit betaam ons om die Groot Trek insonderheid die Bloedrivierslag weer in herinnering te bring en op die betekenis daarvan te let. Hierdeur bring ons hulde aan die nagedagtenis van die moedige manne wat hulle daar onderskei het, en hierdeur sien ons opnuut hoe hul prestasie tegelyk ’n prestasie van die Afrikanerdom was, en hoe hulle ons tewens ’n skone, egte Afrikaanse kultuurbesitting gegee het, nl. Dingaansdag (Versoeningsdag).

Op 22 November 1838 het Andries Pretorius, die nuwe leier van die swaar geteisterde Voortrekkers, by die hooflaer in Natal aangekom. Doelbewus, deeglik en vlug van optrede, was hy die regte man op die regte plek. Slegs vyf dae vertoef hy in die hooflaer, en dan trek hy uit aan die hoof van die Wenkommando na Bloedrivier om Dingaan te gaan straf.

Hier het ons ongetwyfeld een van die interessantste en betekenisvolste veldtogte wat daar ooit in die Suid-Afrikaanse geskiedenis onderneem is, en dit is ’n gelukkige feit dat ons vandag al die vernaamste besonderhede daarvan ken. Verskeie Voortrekkers, soos Jan Gerritze Bantjes, Jacobus H. Hatting en Sarel Cilliers, wat almal self lede van die kommando was, het uitstekende skriftelike mededelings nagelaat, en ook dr. Gustav Preller se mooi lewensbeskrywing van Andries Pretorius, wat verskyn het en waarin ons ’n uitvoerige beskrywing van die optrede van die Wenkommando en veral van die Slag van Bloedrivier kry.

 

Pretorius vertrek na Umgungundlovu

Dinsdag, 27 November, het die kommando uitgetrek. Alles het stil en ordelik gegaan en iedereen het die verantwoordelikheid van die groot onderneming ten volle besef. Aanvanklik het die kommando uit sowat 340 man bestaan, wat altesame 57 waens by hulle gehad het; maar onderweg sluit kommandant Landman met ’n sterk geselskap aan, sodat Bantjes daarna kon vasstel dat daar, behalwe die kommandante, 464 man op die kommando was.

Behalwe die manskappe en waens, was daar drie kanonne, naamlik, Grietjie, Stelletjie en Weeskind. Weeskind was ’n kanon wat Pretorius saamgebring het vanaf Graaff-Reinet, en was ’n Bronskanon van 6.35 cm kaliber, met ’n loop van 1.21 m. Buiten hierdie was daar ook 60 helpers en bediendes en ongeveer 1000 osse en perde wat die tog meegemaak het.

’n Aantal Zoeloes onder Alexander Biggar van Port Natal, het by die kommando aangesluit, hoofsaaklik om na die osse en perde om te sien. As ’n mens dit alles in aanmerking neem, moet jy tot die gevolgtrekking kom dat die Wenkommando ook werklik ’n modelkommando was.

 

Pretorius stel ’n nuwe rangorde in

Die vegters is in vyf afsonderlike afdelings verdeel, elk met sy eie kommandant, en in plaas van die ou verdeeldheid het Pretorius met hulle almal oor die weg gekom. Pretorius het ’n nuwe rangorde geïmplementeer wat die ou metode vervang het waar trekkers net bevele uitgevoer het van die leiers van hul keuse, bv. Uys se mense rapporteer net aan hom, en Potgieter se mense net aan hom.

Offisiere is onderskei deur die dra van pistole in hul gordels. Dissipline is opgeknap en hoewel die trekkers dalk gemompel het dat hul bevelvoerder te streng was, het die moraal opvallend hoog gebly.

Wat ’n mens in verband met hierdie kommando besonder tref, is die takt en deeglikheid waarmee dit gelei en georganiseer is. Pretorius was geen outokraat nie, en hy het sy mense goed genoeg geken om te weet dat hulle selfstandige mense is wat geen outokrasie verdra nie. Vandaar dat hy steeds versigtig en taktvol te werk gaan.

Die kommando is nouliks op pad of die hoofkommandant roep sy kommandante byeen, raadpleeg uitvoerig met hulle en stel behoorlike reglemente en instruksies vir die handhawing van orde en tug op. Verder word daar gedurig patrollies uitgestuur wat die omgewing noukeurig opneem om vroegtydig die aanwesigheid van die vyand te rapporteer. Ook word elke aand sorgvuldig laer getrek, die veghekke tussen die wawiele vasgemaak en die wagte sistematies ingedeel en uitgesit.

 

Sarel Cilliers neem die leiding in die godsdiensoefeninge

Daarby was die kommando ook nog met groot erns besiel, soos o.a. uit die gereëlde godsdiensoefeninge blyk, waar die waardige lekeleraar, Sarel Cilliers, die leiding geneem het. Erasmus Smit, die selfaangestelde predikant van die trekkers was nie op hierdie kommando nie. Die voorlesings en gebed by die godsdienste is deur Sarel Cilliers waargeneem. Hy het in gedagte gehad dat hulle gesamentlik ’n gelofte aan God maak wat hy met Pretorius bespreek het. As ’n mens dit alles in aanmerking neem, moet jy tot die gevolgtrekking kom dat die Wenkommando ook werklik ’n modelkommando was.

 

Pretorius vertrek met die kommando na Umgungundlovu

Die strategie van Pretorius was eenvoudig. Hy wou direk na Umgungundlovu trek totdat sy patrollies met die Zoeloeleër kontak gemaak het. Dan sal hy ’n sterk verdedigingsposisie uitsoek en die aanval van agter ’n wa-laer verdedig. Daar moes nie ’n herhaling wees van die woeste aanval op die vyand soos die een by Italeni wat in ’n hinderlaag uitgeloop het nie.

Gedurende die eerste paar dae is wel nog niks van die vyand gewaar nie, maar almal het geweet dat elke dag se skof hulle nader na die toneel van die groot slag gebring het. Niemand het dit beter besef as Pretorius self nie, en diep onder die indruk van die erns van hul taak het hy op die verhewe gedagte gekom om die plegtige belofte te doen dat as die Here hulle die oorwinning oor hul barbaarse vyand gee, hulle vir Hom ’n huis sou oprig en die oorwinningsdag tot in die verre nageslag tot Sy eer sou gedenk.

By ’n plek in die omgewing van Ladysmith op die Sondagsrivier is die trekkers vermaak deur ’n vriendelike hoofman met Zoeloedanse, die plek is Danskraal genoem.

Sondagoggend, op 9 Desember voordat die godsdiens begin het, het Pretorius almal bymekaar geroep wat die diens moes waarneem en hulle versoek om aan die gemeente voor te stel dat hulle almal tot God moet bid vir sy hulp in hul stryd teen die Zoeloes.

 

Pretorius vra die gemeente om tot God te bid vir sy hulp met hul stryd

As almal gewillig was, wou Pretorius aan God ’n gelofte maak, dat as die Here hulle help om ’n oorwinning oor die Zoeloes te behaal, sou hulle ’n huis oprig ter herinnering aan sy groot naam, waar dit Hom ook al sou behaag.

Sowel die leiers as die gewone kommandolede het die pragtige wenk van die hoofkommandant met hartlike instemming ontvang. Sondagoggend, 9 Desember 1838, toe almal in die uur van aanbidding in stilte bymekaar is, tree Sarel Cilliers na vore en lê uit naam van al sy medeburgers die dure gelofte af – voorwaar ’n plegtige en gewigtige oomblik, toe die ongekunstelde Voortrekker uit die diepte van sy edele siel gespreek het.

 

Sarel Cilliers herhaal die Gelofte die volgende paar dae

Dit blyk dat die oorspronklike gelofte by Danskraal gemaak is en daarna herhaal is by Wasbank en dienste wat op die volgende paar dae gehou is. Cilliers het sy dienste in die opelug gehou en hy het op een van die kanonne gestaan tydens die diens.

Dit is interessant dat Alexander Biggar en die ander Engelsmanne in die kommando die gelofte aanvaar het, maar vyf trekkers het as voorsorg nie die gelofte aanvaar nie, weens vrees vir God se wraak op hul nageslag as hulle dalk die gelofte sou verbreek.

Op 9 Desember 1838 het die trekkers kamp opgeslaan op die oewer van die Wasbankrivier, so genoem weens die groot plat klippe in die rivier waar die trekkers hul klere gewas het.

 

Die kommando kom aan in die omgewing van Bloedrivier

Die volgende dae het die kommando voortgetrek, maar dit het maar langsaam gegaan, want die manne moes gedurig op hul hoede wees, en buitendien het dit ook soms sterk gereën. Saterdag, die 15de, gaan hulle die Buffelsrivier deur, om in die namiddag by ’n syrivier van die Buffelsrivier aan te kom – hier was hulle nou by die stroom wat weldra as Bloedrivier bekend sou staan, vanweë die bloedige slag wat aan die oewers daarvan gelewer sou word.

Die kommando gaan die rivier deur, maar pas was hulle anderkant of twee verkenners, Jan Robbertse en Hans Hatting, van die verkenningspatrollie van kommandant Hans de Lange, kom aangejaag: hulle het die groot strydmag van Dingaan vorentoe gewaar, besig om in erns op te ruk! Die oomblik wat almal al dae lank verwag het, het uiteindelik aangebreek. Die beslissende slag moes nou gelewer word en die lot van die Voortrekkers was nou op die spel – dit het iedereen geweet. Voorbereidsels moes dadelik getref word en elke minuut was kosbaar.

 

Pretorius kies ’n gunstige gevegsterrein om die laer te trek

Vir hoofkommandant Pretorius het die berig op ’n enigsins ongeleë tydstip gekom. Waar die kommando toe was, d.w.s. reeds deur die rivier, was die terrein nie geskik vir ’n laer nie. Dit kon noodlottig wees, want as die klompie Voortrekkers die oorwinning oor die duisende en nogmaals duisende van Dingaan se strydmagte wou behaal, moes hulle veral sorg dat die gevegsterrein in hul guns was. Maar ten spyte van die erns van die situasie, die gebrek aan tyd en die moeilikhede waarmee hy te kampe gehad het, was Pretorius nie die man om opgewonde of verbouereerd te raak nie.

Kalm en bedaard bestudeer hy die omgewing. Op die plek waar hulle toe was, en verder vorentoe, kon hy geen geskikte terrein sien nie; van die rivier kon hulle ook in elk geval nie weg gaan nie, want daar moes rekening gehou word met die moontlikheid dat die Zoeloes beleg om die laer kon slaan, en dan moes water byderhand wees.

Nietemin het dit die hoofkommandant tog nie lank geneem om die regte plek te kry nie. Hy vind dit ’n entjie links van die plek waar hulle die rivier kort tevore deurgegaan het: daar maak die rivier ’n diep kolk of seekoeigat, en buitendien loop daar ’n diep sloot van die ander kant af in die rivier in. Die militêre voordele van hierdie natuurlike faktore het Pretorius dadelik raakgesien, en dit is interessant om daarop te let hoe pragtig hy dit in sy hele krygsplan laat inpas het.

Hy gee bevel dat die kommando met waens en al dadelik deur die rivier moet teruggaan en dat die laer teenaan die seekoeigat en die sloot getrek moet word. Pretorius het self nog gehelp om die eerste paar waens in posisie te trek, maar daarna ry hy met 300 man die vyand tegemoet. Hier sien ons ’n interessante beginsel van die Voortrekkers se skitterende krygstaktiek: die vyand moes naamlik reeds op ’n hele afstand buite die laer aangeval word, want daardeur word die geveg aan die man gebring nog voordat die vyand behoorlik daarop voorberei is, en buitendien word die vyand dan, aangesien hy al vegtende moet voortbeweeg, aanmerklik in sy voortgang gestrem, sodat diegene wat die laer in orde bring soveel tyd moontlik gegee word.

 

Uitvoering van die laerplan word vir “Rooi” Piet Moolman gelos

Die verdere uitvoering van die laerplan het die hoofkommandant in die bekwame hande van laerkommandant “Rooi” Piet Moolman gelaat. Bygestaan deur ongeveer 150 man en ’n aantal bediendes het Moolman toe ywerig aan die werk gegaan. Teenaan die donga, met die rivier aan die kant, word die waens in ’n halfsirkel getrek. Met kettings en rieme word hulle stewig aan mekaar vasgemaak en ook op dieselfde manier die veghekke oor die openings tussen die wiele bevestig. Op ’n paar plekke is openinge gelaat, waardeur die vee en die kommando op die laaste oomblik kon binnekom, maar ’n paar waens en veghekke was byderhand wat maklik en gou in die openinge geplaas kan word. Hierdie openinge is egter nie heeltemal gesluit nie, want die kanonne sou hier in posisie gebring word. Die skeepskanon wat Pretorius na Natal gebring het, is in die noordooste geplaas; die tweede kanon dek die aansluiting van die donga by die rivier; en die derde, genaamd “ou Grietjie”, het aan die westekant gestaan.

Dit alles toon duidelik met watter deeglikheid Moolman sy taak volvoer het. Maar, wat meer is, dit toon ook met watter insig en oordeel die hoofkommandant sy terrein gekies het: die natuurlike beskerming wat die rivier en die diep sloot met sy loodregte walle meegebring het, was van onskatbare waarde, en daarby het die ligging van die laer aan die sloot beteken dat ’n halfsirkel van waens voldoende was, sodat daar veel meer binneruimte vir beeste en perde was as wanneer ’n volle sirkel getrek sou gewees het.

Hierdie getal kanonne kan eweneens nie as korrek aanvaar word nie, veral gesien in die lig van ’n artikel in die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch tydschrift van 1838 nie. In genoemde artikel word ’n brief van die Voortrekkers uit Natal aangehaal waarin beweer word dat die Voortrekkers sewe kanonne gehad het, nl. twee 8-ponders, twee 4-ponders en drie 2-ponders.

 

Pretorius gaan inspekteer die Zoeloeregimente in aantog

Op 15 Desember, na ’n kort skermutseling met Zoeloeverkenners, en tevrede dat alles wat aan die laer gedoen moes word, het Pretorius ’n sterk patrollie uitgestuur om met die vyand kontak te maak. Pretorius se patrollie het ’n donker wolk van 15 000 man teëgekom in die Nqutu-heuwels. Die impi het gevlug om hom na Italeni te trek, hulle het dieselfde taktiek herhaal wat die Vlugkommando van Potgieter en Uys voorheen verslaan het.

Die hoofkommandant met sy 300 man het intussen by die verkenners van kommandant De Lange aangekom. Op ’n afstand voor hulle kon hulle die Zoeloeregimente sien. Die Zoeloes toon egter geen neiging om tot ’n groot geveg oor te gaan nie; inteendeel, hulle bly binne sig van die Boere plat op die grond sit. Nadat Pretorius die posisie goed oorweeg het, kom hy tot die gevolgtrekking dat die Boere ook nie die geveg moes uitlok nie, want dit was reeds laat in die middag om nog voor donker ’n groot slag te lewer.

Buitendien sou dit die volgende dag Sondag wees, en as dit enigsins moontlik was, wou die Boere op die dag van die Here geen geveg hê nie. Daarom trek Pretorius sy manne stadigaan terug laer toe. Met sonsondergang kom hulle daar aan en vind alles volkome in gereedheid. Teen donker kom die agterhoede ook binne, met ’n rapport dat die Zoeloes hulle gevolg het en aan die oorkant van die rivier, dus digby die laer, geleër was.

 

Ndlela beplan nog ’n aanval daardie nag

Mens kan jou voorstel dat Ndlela sy bevelvoerders bymekaar geroep het toe hy sien dat Pretorius nie ’n aanval wou loods nie, en sy die plan om die trekkers in ’n lokval te lei, nie gaan werk nie. Ndlela het toe besluit dat hy die Voortrekkerlaer nog daardie nag wou aanval. Bevele het uitgegaan vir sy regimente om die trekkers te volg en hul laer voor dagbreek aan te val.

Die plan sou gewerk het as die tog nie so ver was, of die nag nie so donker en mistig was dat die regimente herhaaldelik verdwaal het nie. Die Ncomerivier was in vloed en Ndlela kon nie meer as 5000 man oor die rivier kry nie. Met dagbreek was dit nog mistig en die dag het Ndlela gevang met sy weermag verdeel in twee.

Terwyl die hoofmag na die oostelike oewer van die Ncome op pad was, het die impi se voorste linies die laaste ure van die nag naby die trekkerwaens deurgebring. Die Zoeloes was baie bygelowig en almal was bang vir die onheilspellende lig wat deur die lanterns afgegee is wat die trekkers aan sweepstokke gehang het vir lig. Nog meer vrees was ingeboesem deur die sang van die trekkers van psalms en liedere vanuit die laer wat onbekend was vir die Zoeloes.

 

Pretorius tref nog die laaste voorsorgmaatreël

’n Persoonlike inspeksie van die laer deur Pretorius het hom spoedig oortuig dat Rooi Piet Moolman sy werk goed en deeglik gedoen het. Die hoofkommandant tref egter nog ’n laaste voorsorgmaatreël: daar dit donkermaan was, het hy kerslanterns aan lang sweepstokke laat bind wat omtrent 50 tree buite die waens in die grond geplant is. Ook die vee is behoorlik versorg: in die binneruimte van die laer is die perde en trekosse sorgvuldig vasgemaak, en daarmee was alles gereed vir die nag.

 

Die Saterdagnag voor die slag in die kamp van die Gideonsbende

Na al hierdie reëlings het Sarel Cilliers weer ’n plegtige biduur gelei; saam met die manne tot eer van die Allerhoogste gesing en Sy hulp vurig afgesmeek; saam het hulle ook nogeens die Gelofte afgelê – die laaste keer voor die groot slag waarmee dit onafskeidbaar verbonde is. Daarna kon hulle ’n kort nagrus geniet, maar met geweer en skietgoed byderhand, en twee uur voor dagbreek moes iedereen op sy pos staan; slegs die wagte het op die uitkyk gebly. So het die Saterdagnag voor die Sondagslag van Bloedrivier vir die Gideonsbende in die laer aangebreek.

Dit spreek byna vanself dat die manne in die laer daardie nag nie veel geslaap het nie. Hoe kon hulle ook, want daar was gedurig die gedagte aan die môre – wat sou dit vir hulle bring? Daar anderkant die rivier, in die donker van die nag gehul, lê die ganse strydmag van Dingaan; en miskien het die Zoeloes hulle reeds omsingel – wie weet? Sulke gedagtes het gehinder en gekwel en die nagrus verstoor.

 

Die Saterdagnag voor die slag by die Zoeloemag

Net soos in die laer was alles daar oorkant die rivier ook doodstil. Maar waar daar by die Boere ’n diepe besef van die groot gevaar en ’n gees van stille vertroue bestaan het, het die Zoeloes hul teenparty jammerlik onderskat en met ’n mate van veragting op die klompie Boere neergesien. Hulle het net op die daglig gewag, dan sou dit mos hul kans wees en dan sou hul assegaaie, net soos voorheen, weer rooi van die bloed van die wit mense wees en dan sou die waens in vlamme en rook opgaan. Want wie was hierdie klompie wit manne wat dit gewaag het om na Dingaan se land te kom en die pronkregimente van die Groot Olifant so openlik uit te tart?

Dit kan wees dat die ervare ou ringkoppe, wat in menige bloedige slag hul spore verdien en reeds iets van die vernietigende uitwerking van die Boerewapens aanskou het, nie so gerus gevoel het nie, maar geen teken van twyfel of vrees durf hulle toon nie, want dit sou deur hul koning later sonder meer met die dood gestraf word. Die meerderheid, en insonderheid die jong krygers, het met ongeduld op die daglig gewag om nog ’n groot oorwinning vir die seun van Senzangakona te behaal. Dr. Preller deel treffend hoe dat ’n hoogbejaarde ou Zoeloe eenmaal aan hom as kind oor die kommando van Bloedrivier vertel het: “Hulle het gesing toe dit donker word net of hulle almal saamhuil, en ons jonges het geluister daarna, en gesê: ja, sing maar julle, want môre se son sal julle nie weer sien ondergaan nie.”

 

’n Digte mis trek oor die laer

Reeds vroeg die aand het daar ’n digte mis opgekom; dit het die alreeds donkere, maanlose nag nog donkerder gemaak, “zodat men geen hand voor de ogen zien kon” – so vertel JH Hatting. So ’n digte mis kon noodlottig wees, want dit kon die nadering van die Zoeloes bedek, wat ’n beslissende faktor in die geveg kon wees. Maar ook in hierdie geval het die Voorsienigheid uitkoms gegee.

Sondag, 16 Desember 1838, twee uur voor dagbreek, soos die hoofkommandant beveel het, het iedere man op sy pos gereed gestaan. Die mis hang nog swaar op die aarde en dit is nog stikdonker; in spanning wag die manne die daglig af, geweer in die hand en vinger aan die sneller. Sondag sou hulle liewer nie wou geveg het nie, maar dit was die uur van die krisis, en hulle het gevoel dat die Here met hulle was. Stadig sleep die tyd voort; twee lang ure gaan verby, en aan die oostelike gesigseinder neem hulle die eerste tekens van daglig waar. Juis toe begin die mis ook wegtrek. ’n Pragtige, helder dag breek aan – tot vreugde van almal. Kort en saaklik sê Bantjes: “Sondag, die 16de, was asof dit vir ons gemaak was”; meer uitvoerig en byna digterlik getuig Hatting: “dit het die mooiste weer geword wat ’n mens kon verlang; geen wolkie was daar aan die lug nie; geen windjie het daar gewaai nie; alles was stil.”

 

Die Zoeloes val die laer aan

Maar weldra word die stilte verstoor deur die geskreeu van die Zoeloes soos hulle by duisende en duisende naderkom. Spoedig het dit ligdag geword, sodat die Boere die vyand net mooi kon sien. Die laer is heeltemal omsingel, en oral was ’n swart massa krygers op die teken van hul aanvoerders, dan sou hulle op die wa-laertjie afstorm en die wit mense uitdelg.

Man teen man en ry aan ry sit hulle om die laer neergehurk, die naaste op omtrent veertig tree, die verste op vyftienhonderd tree, en van agter af kom nog altyd meer by. Dit was ’n onheilspellende maar ook ’n indrukwekkende gesig, en Bantjes kon nie nalaat om dit tegelyk aaklig en skoon te noem nie.

Plotseling gee die waldhorings die teken, en in ’n oogwenk is die hele Zoeloe-strydmag op die been: met oorverdowende lawaai en woeste vaart kom hulle op die laer aangestorm. Van Pretorius kom opeens die bevel: “Skiet!” Uit die voorlaaiers breek die eerste sarsie los; lopers versprei dood en verwoesting onder die voorste regimente en Zoeloes val en rol oormekaar. Dan volg ’n tweede sarsie, en ’n derde, terwyl die kanonne onder die Zoeloes maai. Kruitdamp en rook omhul die waens en dit is naderhand so donker dat die Boere niks van die vyand kan sien nie.

Met eerste lig is ’n groep Zoeloes gewaar net ’n paar honderd meter van die laer af wat besig was om die laer te bestorm. Meteens het die trekkers se voorlaaiers en kanonne begin vuur. Dit was onmoontlik vir enige skut om so ’n teiken te mis. Daar was geen hoop dat hierdie aanval kon slaag nie. Die skok van die gekonsentreerde vuur was verwoestend en byna meteens het die eerste golf van Zoeloes teruggeval in wanorde.

 

Die Zoeloes val die laer ’n tweede en derde keer aan

Vir twee ure het hierdie regimente wilde aanslae geloods op die noord- en westelike kant van die laer en telkens is dit afgeweer en het die Zoeloes teruggeval. Elke stormloop is gevolg deur ’n stilte met die kruitrook wat in die lug hang. Die Zoeloeregimente is telkens versterk deur ’n aantal krygers wat deur die driwwe gekom het. Die enigste geluid wat gehoor was, was die gekerm van die gewondes, die gerammel van spiese op hul skilde en die geskuif van voete op die grond soos die krygers hulself voorberei het vir die volgende stormloop.

Pretorius laat voorlopig halt roep, en stadig styg die rookdamp van die waens op. Toe het die Zoeloes tot op die 500 tree teruggeval; “slechts de doden en gekwetsten bedekten de aarde tussen ’t lager en de Zoeloes,” sê Hatting.

Vir ’n oomblik beraadslaag die Zoeloe-aanvoerders. Dan gee die waldhorings weer die aanvalsein, en doodsveragtend storm die Zoeloes weer op die laer aan. Sarsie na sarsie uit die ou voorlaaiers ontmoet hulle, sodat die meeste van die voorstes in die hardloop neerslaan, maar baie dring nogtans tot byna teen die waens deur, waar hulle neergeskiet word.

 

Die Zoeloes poog om die laer vanaf die donga aan te val

Die trekkers se hoofgevaar het uit die honderde beeste en perde gekom wat binne-in die laer was. Die geraas van die stryd het hulle ontstel; die diere het in paniek rondgemaal en gedreig om deur die wa-laer te breek na die donga en rivier se kant toe. Dit blyk dat Cilliers die eerste was om die gevaar daar te sien; hy het dadelik van die trekkers na die suidelike flank van die laer gelei en in die digte massa na Zoeloes in die donga begin vuur. Dit het soos bedoel was, die vee teruggejaag na die middel van die laer, maar die slagting wat gevolg het in die sloot was erger as die aanvalle van die Zoeloes aan die westekant.

 

Sarel Cilliers val die Zoeloes in die donga aan

Onder die geveg het ’n menigte Zoeloes in die diep sloot opgedam om van daar ’n aanval te maak, maar hulle kan die walle nie uit nie, en staan eintlik so vas teen mekaar dat hulle nie meer kan beweeg nie. Vir beskerming hou hulle hul skildvelle omhoog, maar hulle is so vas teen mekaar gedruk dat hulle die regterarms moeilik kan gebruik om hul assegaaie te gooi. Toe die geveg so ’n bietjie bedaar, word Sarel Cilliers deur Pretorius gelas om met omtrent tagtig man met die Zoeloes in die sloot af te reken. Van bo van die wal af het Cilliers en sy manne honderde Zoeloes in die sloot doodgeskiet, en na die geveg is vierhonderd lyke hier getel.

 

Pretorius bedink ’n plan om die Zoeloes te lok vir nog ’n aanval

Teruggedryf deur die verwoestende, goedgerigte Boerevuur het die Zoeloes intussen weer tot op ongeveer vyfhonderd tree van die laer af teruggeval. Die aanvoerders hou weer raad en boodskappers hardloop haastig van die een regiment na die ander. Pretorius was nog nie tevrede met die geveg nie. Hy sou graag gesien het dat die vyand nie terugtrek nie, maar nogeens aanval, want dan sou ’n groter en nog meer besliste oorwinning behaal kon word en die Zoeloegevaar vir die Voortrekkers in Natal verwyder wees.

Gou bedink hy ’n plan om hulle uit te tart en tot ’n nuwe aanval aan te spoor. Met sewe man en ’n tolk gaan sy broer, veldkornet Bart Pretorius, tussen die dooies en gewondes deur en roep regimente uitdagend toe: “Wat doen julle nou, manne van Dingaan? Ek het gekom om te veg, nie teen weerlose vroue en kinders nie, maar teen die manne. Hoekom val julle my nie aan nie?” Maar die trotse Zoeloes verdra die verkleinerende uitdaging stilswyend – ’n bewys dat hul moed reeds grotendeels gebreek was. Bart Pretorius en sy manne vuur daarna hul gewere op die vyand af en keer terug na die laer.

Pretorius rig toe kanonvuur op die groot Zoeloeregimente wat tot dan toe nie eintlik aan die geveg deelgeneem het nie, maar soos rustige toeskouers op die oorkantse wal van die rivier sit en toekyk het. Regs van die Witskilde, oorkant die rivier, is die Generale Staf van die Zoeloeleër, in ’n klein groepie bymekaar vanwaar boodskappers heen en weer na verskillende plekke op die slagveld hardloop om boodskappe te neem. “Maar steek hulle daar,” beveel Pretorius sy skeepskanon-operateur. Die kanon word herlaai, op die Generale Staf gerig en gevuur! Die skoot val tussen hulle, en dood ’n aantal, waaronder twee van Dingaan se seuns!

 

Die finale aanslag word gedoen deur die Swart- en Witskilde

Dit het die regte uitwerking gehad: hulle spring haastig op, trek die rivier ’n entjie bokant toe deur en sluit hulle by die reeds grotendeels gedemoraliseerde regimente aan. Hierdie aansluiting het die aanvallers blykbaar nuwe moed gegee, en onder die barbaarse geskreeu en geraas maak hulle weer ’n verwoede aanval op die laer.

Namate die aanvanklike Zoeloe-aanvalle swakker en swakker geword het, het Ndlela se hoofmag aan die oostelike oewer van die rivier die geveg betree. Toe is die gewere op hierdie nuwe teiken gerig en die slag wat hulle die Zoeloes toegedien het, het gelyk asof dit ’n aansporing was. Dit het ’n golf van krygers aangespoor wat deur die driwwe gehardloop het om by die stormlope aan te sluit. Die trekkers wat uit die laer gekom het, het op die rivieroewer stelling ingeneem en die Zoeloes met snelvuur teruggedryf.

Maar selfs nou het Ndlela 3000 van sy elite krygers, die Wit- en Swartskilde, teruggehou om ’n finale aanslag te doen op die trekkers toe dit blyk dat hul vuur begin afneem.

Hierdie derde aanval was die finale poging van die Zoeloes: dit was vir hulle nou of nooit, en byna ’n uur lank het hulle met vasberadenheid die laer bestorm. Soos dr. Preller sê: “Die dooies lê naderhand die een op die ander, maar die agterstes klim oor hul lyke heen, en trap hulle onder die voete of daar niks was nie.”

Die Swart- en Witskilde kon nie die situasie van die geveg beïnvloed nie, omdat hulle eenvoudig te moeg was om vinnig te hardloop. In ’n groot gedisorganiseerde deurmekaar spul het die krygers die aftog geblaas en het hulle in alle rigtings gevlug met die trekkers wat hulle agtervolg.

 

Pretorius gee die bevel dat die hekke oopgemaak word

Maar net soos met die eerste twee aanvalle staan Pretorius en sy manne weer vas en onwrikbaar, sodat geen enkele Zoeloe tot binne die laer deurdring nie. Die gewere raak naderhand warm, ja so warm, dat selfs gevrees is dat die kruit kan ontplof as dit in die lope afgegooi word.

Eindelik val die Zoeloes weer terug. Die geveg het, volgens Bantjes, nou reeds twee uur geduur, toe die hoofkommandant die bevel gee dat die hekke oopgesit moet word, sodat die manne die vyand te perd kan agtervolg. Aan die hoof van ’n paar honderd man jaag Bart Pretorius deur die hekke heen. Meesters in die saal en meesters met die geweer, kon hulle met sukses uit die saal veg, maar die vyand was nog nie heeltemal pootuit nie, want twee maal moes Bart Pretorius op die laer terugval en moes die mense in die laer weer met alle mag byspring om die Zoeloes terug te skiet.

 

Pretorius doen ’n teenaanval

Met die derde uitval was die vyand se weerstand gebreek, sodat Bart Pretorius en sy manne, met behulp van die kanonne, wat die hoofkommandant buite die laer laat trek het, die oorgeblewe Zoeloeleër in twee kon verdeel en verder verdryf. Hoofkommandant Pretorius kom self ook met meer ruiters by, en die vyand word in alle rigtings verjaag en agtervolg. Ure lank duur die agtervolging voort en in die loop daarvan is daar nog honderde Zoeloes dood.

Pretorius was bang dat sy ammunisie sou opraak. Hy het besluit om die probleem op te los deur in aanval oor te gaan. Pretorius het ’n berekende kans gewaag om ’n aanval vanaf die laer te loods, maar hy het geredeneer dat dit beter sou wees om nou ’n teenaanval te doen as om te wag totdat al sy ammunisie klaar was. Pretorius het vier hekke van die laer gelyktydig oopgemaak. ’n Aantal ruiters het die vyand bestorm en terselfdertyd aangehou om op hulle te vuur.

Die gevuur het in die verte weggeraak, en skielik was die drama van Bloedrivier verby. Dit was ’n merkwaardige demonstrasie van vuurkrag oor naakte dapperheid. Die aantal Zoeloes wat by Bloedrivier doodgemaak is, is deur Pretorius beraam op ongeveer 3000 enige honderde. Tog is nie ’n enkele Boer doodgemaak nie, slegs drie is tydens die agtervolging gewond, een van hulle was Pretorius self wat deur sy pols gesteek was met ’n assegaai wat sy slagaar afgesny het.

 

Pretorius doen nabetragting na die Slag van Bloedrivier

Die son het op middaghoogte gestaan toe van die Boere van die agtervolging terugkeer. In kalmte kon hulle die aaklige verwoesting van die slag aanskou; rondom die laer lê duisende lyke versprei, aan die wa-kant soms twee, drie op mekaar, en in die sloot tientalle, ja, honderde op- en bymekaar. In die rivier loop die water rooi van die bloed; die Zoeloes het dit voorheen die Ncome genoem, maar voortaan sou dit Bloedrivier heet.

Pretorius het toegelaat dat die agtervolging van die Zoeloes vir die res van die dag voortgesit word en teen tienuur die aand het die laaste moeë trekkers in die laer aangekom. Lank voor daardie tyd het Cilliers die dankseggingsdiens vir die dag gedoen. Die Voortrekkers het goeie rede gehad om tevrede te wees met die dag se werk. Dit blyk nou na die oorwinning dat Natal tog hulle s’n sou wees.

Rondom die laer het Pretorius en sy manne oor die 3000 dooies getel, d.w.s. behalwe nog talle ander wat in die agtervolging geval het en dus veel verder weg gelê het. Aan Boerekant was daar slegs drie gewond: Philip Fourie, wat tydens die aanval op die sloot ’n assegaai in die dy gekry het; hoofkommandant Pretorius self, wat gedurende die agtervolging met ’n Zoeloe in ’n worsteling geraak en ’n gevaarlike assegaaisteek deur die linkerhand gekry het; Gert Raath, wat na die agtervolging deur ’n gewonde Zoeloe ernstig in die rug gewond is. Hatting noem ’n vierde, nl. Christiaan van der Merwe, wat “in de arm licht gewond” is, maar hy was waarskynlik baie lig gewond, want die ander getuies noem hom nie.

So het Bloedrivier, die Sondagslag, dan in ’n skitterende oorwinning vir die wapens, die organisasie en bowenal die moed van die Voortrekkerkommando geëindig. Die manne het gevoel dat hul vurige smeekgebede verhoor is, want hulle het self nie een enkele man verloor nie. Hoef dit ons dan te verwonder dat Sarel Cilliers weer ’n plegtige diens gelei het en dat elke burger die Here uit die diepte van sy hart bedank het?

Daarna het die Wenkommando Zoeloeland verder binnegedring, maar sy grootste oorwinning het hy reeds behaal en sy naam het hy reeds verdien.

Bloedrivier is die grootste slag wat daar ooit tussen wit en swart mense in Suid-Afrika plaasgevind het en, uit die oogpunt van die getal slagoffers beskou, die grootste slag op Suid-Afrikaanse bodem. Dit is die treffendste bewys van die doeltreffendheid van die Voortrekkers se krygstaktiek en krygsvoering, en veral ook van hul vermoë om in die uur van nood skouer aan skouer te staan en met heilige oortuiging soos een man vir die reg en eer van volk te stry.

Pretorius en sy manne het nou gevoel dat hulle die wrede Zoeloes vir die onmenslike moorde op Retief en sy mense en op die honderde weerlose Voortrekkers, vroue en kinders aan Boesmansrivier, Moordspruit en Bloukransrivier gestraf het. Hulle het gevoel dat hulle nou hul regmatige aansprake op die land kon laat geld om met meer gerustheid hul eie republiek in Natal in te rig.

 

Bloedrivier was ’n oorwinning vir die beskawing

Maar Bloedrivier is nog veel meer; dit was nie net ’n oorwinning vir die Voortrekkers nie, maar inderdaad ook ’n oorwinning vir die beskawing in die algemeen. Nouliks was die Zoeloes verslaan of duisende ander swart mense, wat weens Dingaan se uitroeiingsoorloë ’n vreesbevange bestaan in ontoeganklike berge en bosse moes voer, het uit hul skuilplekke gekom om onder wet en orde, wat die Voortrekkerwapens hulle gebring het, ’n beter bestaan te vind. Dit is aan die Voortrekkers te danke dat Natal bewoonbaar gemaak en vir die beskawing oopgestel is.

Vir ons vandag is die Sondagslag ook van betekenis omdat dit iets groots in ons geskiedenis verteenwoordig. Dit beliggaam in die eerste plek die skone ideaal van ’n wit Suid-Afrika, en vervolgens ook die moed en volharding, die onwrikbare gees van die Voortrekker-geslag; die gees wat ’n mens in staat stel om ter wille van ’n ideaal gewillig op te offer en deur te druk, enduit, na die oorwinning toe. Daarby het Bloedrivier ons ’n skone kultuurbesitting gegee – Dingaansdag (Versoeningsdag). Mag ons hierdie egte Afrikaanse feesdag steeds in ere hou en die Gelofte getrou nakom. Daardeur dien ons onsself en voed ons ons nasiebewussyn, maar daardeur bring ons ook hulde aan die nagedagtenis van hulle wat ons hierdie erfenis nagelaat het.

Die wiel van vergelding het gedraai, Retief en die vrouens en kinders van die “Groot Moord” is gewreek. Dit is vreemd dat die verhaal van die trekkers se stryd op die Hoëveld amper woord vir woord dieselfde is as dié in Natal. Die trekkers se ontmoeting met ’n swart militêre ryk het begin met ’n bloedbad en dit het in wraak geëindig.

 

Die Engelse land in Durban en hys die Union Jack

Die trekkers het nie die vaagste benul gehad dat die Britse Rooibaadjies daardie dag (16 Desember 1838) in Port Natal (Durban) geland en die Union Jack daar gehys het nie. Die een vyand was nou net verslaan en nou kom daar ’n ander een te voorskyn oor die see. Die trekkers sou hierdie ontstellende nuus eers later ontvang.