Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 5
March 9, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 7
March 23, 2021

Sarel Feldtmann

 

Die kommando’s – ’n Nuwe leier

 

Voortrekkers is nie beroof van hul bekwame leiers nie

(Artikel geskryf deur prof. dr. I.D. Bosman – ’n Nuwe leier)

Nooit in die geskiedenis van die Groot Trek het die Voortrekkers meer behoefte gehad aan vertroude leierskap as toe Andries Pretorius in November 1838 kommandant-generaal van die Trekkers in Natal geword het nie. In die jaar 1838, wat met soveel blye verwagtings aangebreek het, word Retief en Uys deur ’n gewelddadige dood aan die Voortrekkers ontruk, Maritz het aan siekte beswyk en Potgieter het uit Natal na die Vetrivier teruggekeer.

Met die dood van die bekwame manne was die Voortrekkers nie beroof van al hul vooraanstaande persoonlikhede nie, maar daar was ’n man van die stempel van Piet Retief nodig. Dis selfs te betwyfel of Gerrit Maritz, as hy sou geleef het, die taak wat in die laaste maande van 1838 op uitvoering gewag het, sou kon volbring het. Maritz was meer sakeman, administrateur, en die tye het geroep om ’n krygsman. Selfs Piet Uys sou moeilik algemene bevrediging kon gegee het aan die verskillende groepe van die Natalse Trekkers, omdat hy nog tydens die lewe van Piet Retief die leier van ’n te uitgesproke party was. Trouens, by die verkiesing in die Vrystaat, toe al die manne ter beskikking was, het die keuse op Piet Retief geval, nieteenstaande Potgieter en Maritz se aanspraak op ansiënniteit.

 

Ander leiers wat uitgestaan het in Natal

Maar in Natal was daar nog etlike manne in die lewe wat ver bo die middelmatige uitgestaan het en tog nie vir die leierskap in aanmerking gekom het nie. Daar was Sarel Cilliers, wat in elke geveg van betekenis tussen Boer en barbaar tydens die Trek sy spore verdien het. In die slag van Vegkop in die Vrystaat het hy so ’n belangrike rol gespeel dat mense in ons tyd gaan twyfel het of Hendrik Potgieter by die geleentheid teenwoordig was. In Januarie 1837 help hy die Matabeles by Mosega verslaan, en in November daaropvolgende is hy teenwoordig as die gevreesde Silkaats vir goed oor die Limpopo gedryf word. In die Tugelavallei het hy in die Februarie waarin Retief vermoor is ’n vername aandeel in die behoud van die weerlose laers gehad, en by Italeni in April 1838 was sy plek onder die dapperstes. By sy groot hoedanigheid as vegsman skyn dit nie of hy beheer het om krygsowerste of president van ’n republiek te word nie. Hy was geestelike leier en in dié hoedanigheid het hy onder die Trekkers in ’n behoefte voorsien. Onder die Voortrekkers was hy die profeet. Maar Retief se plek kon hy nie inneem nie.

Een van die kragtigste figure onder die Voortrekkers in die tydstip in Natal was kommandant JH de Lange, bekend as “Hans Dons”. Hans Dons was altyd daar waar die gevaar die grootste was. Hy was ’n man met taaie uithoudingsvermoë en altyd in die weer. Wanneer die laer rus, het De Lange op verkenning uitgegaan, ook snags wanneer die ander slaap. As ’n wakker krygsman was hy gewild onder die Trekkers en het hul vertroue weggedra. Miskien was hy in tye van gevaar te ontstuimig dapper om met die verantwoordelikste krygsbetrekking vertrou te word. By al die dienste aan die Trek bewys, was sy vernaamste prestasie toe hy op 27 Desember 1838 drie honderd burgers aan die Wit-Umfolozi uit ’n valstrik wat die Zoeloes hulle gestel het, gered het. By dié geleentheid het hy teen die plan van sy veldowerste, kommandant Karel Landman, gehandel.

Landman was ’n besonder bruikbare man. Voor die Trek was hy lid van die kommissie wat Natal verken het. Na die noodlottige veldslag by Italeni het hy Piet Uys se plek gevul, en na Maritz se dood en tot die koms van Andries Pretorius was hy die leidende persoonlikheid in Voortrekker-Natal. Ook hy het geen bange haar op sy kop gehad nie. Karel Landman was egter nie net krygsman nie; hy kon ook ’n godsdiensoefening lei en was by tye voorsitter en lid van die Natalse Volksraad gewees. Dat kommandant Landman nie kommandant-generaal geword het nie, getuig van die besondere geskiktheid van Pretorius vir die betrekking.

 

Wie was Andries Pretorius?

Daar was dus etlike manne van betekenis in Natal by Pretorius se aankoms, manne wat reeds naam gemaak het tydens die trek. En wie was Andries Pretorius? Soos van haas ieder Voortrekker weet ons van Pretorius se loopbaan weinig voor 1837. Sy Afrikaanse voorvader het in die sewentiende eeu uit Holland na die Kaap gekom, waar hy in 1694 oorlede is. Hy was Johannes Pretorius, wie se vader Marthinus Wessel geheet het.

Andries Pretorius is in 1798 in Graaff-Reinet gebore. Op twintigjarige leeftyd is hy getroud, en die eerste seun uit hierdie huwelik, Marthinus Wessel, het later president van die Suid-Afrikaanse Republiek geword. Hy het te Graaff-Reinet skoolgegaan. Toe hy kon lees, skryf en ’n bietjie reken, was die opleiding in daardie ontstuimige grensdistrik voltooi. In dié opsig het hy dus nie meer voorregte geniet as die meeste van sy tydgenote nie. Maar hy moes begaafd gewees het met ’n goeie verstand, en dat hy redenaarstalent besit het, is bekend. Dapper was hy ook, soos sy loopbaan op die Trek getuig.

By hierdie gawes van verstand en hart was hy as persoon ’n indrukwekkende verskyning. Rysig en sterk van liggaamsbou, het hy die aandag getrek van wie hom die eerste keer gesien het. Al die gawes het meegewerk om hom die leidsman van sy volk te maak. Paul Kruger het dit van skaapwagter tot president gebring; Andries Pretorius van vrugteboer tot kommandant-generaal. In die Graaff-Reinet-distrik het hy hom op die saai- en veeboerdery toegelê. Twee keer ten minste moes sy boerderybedrywighede ernstig versteur geword het deur die onluste op die grense. In 1818 en weer in 1834-35 was daar oorlog. Wat sy aandeel in hierdie botsings tussen wit en swart was, kan ons nie te wete kom nie. Maar ons weet dat hy ten minste een van die burgeroffisiere was, eers veldkornet, en in die oorlog van 1835 kommandant. Aangesien so baie van die Trekkers uit Graaff-Reinet afkomstig was, kan ons aanneem dat hy in November 1838 geen onbekende onder hulle was nie.

 

Andries Pretorius verken die “Trekkerland”

Dit was ook nie die eerste besoek aan die Trekkerland nie. In Oktober van die vorige jaar was hy met ’n paar van sy broers op verkenning uit. Op die tog het hulle die Potgieter-mense in Transvaal ontmoet. Dit was juis in die dae van die tweede veldtog teen Silkaats by Kapayen (Kapain). In die laer by Suikerbosrant het hulle ’n tyd vertoef, waar Pretorius bevel gevoer het oor die laer in afwesigheid van Hendrik Potgieter. Hulle het met twee perdewaens gereis, waarmee hulle ook Natal besoek het. Op 15 Desember 1837 was hulle in die laer waarin Erasmus Smit was; ’n week later het die Pretoriusse na Port Natal gegaan, waar Nuwejaar met visvang en ander plesier deurgebring is. Na ’n reis van sewentien dae van Port Natal deur “Xhosaland” na Graaff-Reinet het hy die 18de Januarie tuisgekom.

Wat hy in die binneland gesien het, moes ’n gunstige indruk op hom gemaak het. Die eerste dae by die huis het hy druk besoek ontvang. Baie het natuurlik net eerstehandse nuus kom kry van die Trekkers en die land waar hulle was; ander het verlangend uitgesien na berigte van bloedverwante en vriende, en nog weer ander het goeie inligting verlang met die oog op trekplanne wat hulle lankal gekoester het. Pretorius was dan ook in staat om die bringer te wees van goeie tyding. Die Matabelemag was gebreek; langs die Vetrivier was alles rustig; die gebied oor die Vaalrivier word Trekkersland; skone Natal sal aan Retief afgestaan word, en Pretorius self het reeds vir hom ’n plaas naby die baai aangeskaf. Hy het besluit om te trek, en honderd hoofde van huisgesinne was bereid om binne die eerste maande saam met hom te gaan.

 

Pretorius se besluit om te trek is uitgevoer in die tyd van die swaarste nood

Maar klaarmaak vir die Trek was nie die werk van een dag nie. Nog in Januarie het hy maatreëls getref om sy boerdery van die hand te sit, en op 18 April het die verkoping plaasgevind. As Pretorius op hierdie datum goed ingelig was, sou dit ’n ander verhaal gewees het wat hy meegedeel het as dié van 18 Januarie en die dae daarop. Na sy terugkoms het een ramp op die ander die Trekkers oorval: 6 Februarie die moord op Retief en sewentig ander; in die Tugelavallei is honderde gedood in die nag van 16 op 17 Februarie, en op 11 April sneuwel Piet Uys en nog nege man. Hierdie ontstellende berigte het langsamerhand tot hom in Graaff-Reinet deurgedring. Dis moontlik dat die trekywer by sommige van die besoekers van na 18 Januarie afgekoel het. Andries Pretorius self was nog nie gereed nie, maar toe ’n deputasie uit Natal tydens die laaste helfte van Augustus by hom was, kon hy hulle terugstuur met die verblydende nuus dat hy hulle spoedig sou volg. En so verskyn hy in November 1838 in Natal. Sy besluit het hy geneem toe die toekoms vol skone beloftes was; hy het dit uitgevoer in tyd van swaarste nood.

 

Pretorius se besluit om te trek was uitgevoer in die tyd van die swaarste nood

“Al ons opperhoofde was omgebring, en ons was soos skape sonder ’n herder,” vertel ’n Voortrekkervrou in die dae in verband met die koms van Andries Pretorius. Was die blydskap groot toe die deputasie van Augustus op 12 September die tyding gebring het dat Pretorius sou kom, groter was dit toe hy self sy verskyning met ’n aantal manne maak. Sy trek het hy êrens in die Vrystaat agtergelaat ten einde spoediger in Natal te kon wees.

Pretorius was nie die man om gras onder sy voete te laat groei nie, en die omstandighede was van so ’n aard dat dit geen uitstel gedoog het nie. Daar is snel gehandel. Drie dae na sy aankoms het die Volksraad hom tot kommandant-generaal benoem. Onmiddellik daarna het die nuwe kommandant-generaal ’n krygsraad belê. Onder die manne wat hom onmiddellik in rang gevolg het, was krygsoffisiere van betekenis. Eers kom kommandant Karel Landman; op hom volg kommandant PD Jacobs, dan kommandant Koos Potgieter, en eindelik van gelyke rang, kommandant Erasmus en kommandant Hans de Lange. Karel Landman ken ons, en die feit dat Jacobs en Potgieter voorrang gekry het bo Hans Dons en dat Erasmus met hom gelyk gestel is, gee ons reg om aan te neem dat Pretorius se staf van hoofoffisier enige kommando eer sou aandoen, en dat Andries Pretorius nie rede sou hê om te kla oor die bekwaamheid van sy ondergeskiktes nie.

 

Al Pretorius se manskappe het al die vuurdoop deurgemaak

Almal het reeds in een of meer oorloë die vuurdoop deurgemaak, al was dit dan nie in Natal nie, dan seker in die grensoorloë van die ou Kolonie. En die manskappe? Ook van hulle sou dit waar wees. Die meeste van hulle was afkomstig uit die grensdistrik met hul oorloë. Daar was diegene wat die Kolonie in 1836 onder Potgieter verlaat en die Matebele-aanval by Vegkop afgeslaan het; ander het Silkaats twee keer met sukses in Transvaal beoorlog. In Februarie en Augustus 1838 het hulle Dingaan se impi’s teruggeslaan. In die April tussenin het 350 man by Italeni ’n nederlaag gely wat die kommando vir altyd in die geskiedenis bekend sal laat bly as die “Vlugkommando”. Onder die nuwe aanvoerder sou hulle egter as die “Wenkommando” te voorskyn tree.

Vyf dae na sy aankoms in Natal was Andries Pretorius op weg na Zoeloeland. Die doeltreffende militêre maatreëls van die kommandant-generaal op hierdie veldtog laat ons vermoed dat hy op die oosgrens van die Kaapkolonie meer ondervinding in die stryd met die Xhosas opgedoen het as waarvan ons weet. Of dit die geval is of nie, een ding het duidelik geblyk, en dit was dat Pretorius krygsmantalent in hoë mate besit het. Vir die kleinste besonderhede het hy oog gehad. Dissipline was die grondslag van sy sukses.

 

Pretorius se verskansing bestaan uit 64 waens

Uit die aanvalle van Dingaan se impi’s het die Trekkers geleer dat die geveg met ’n perdekommando teen die Zoeloes baie gevaarlik was. Dink maar aan die “Vlugkommando”. Dit was veiliger om met die waens ’n verskansing op te rig. Op die wyse is verwoede aanvalle reeds herhaalde male afgeslaan. En so trek Pretorius uit met nie minder as vier-en-sestig waens nie, behalwe die sewe van Karel Landman se groep, wat na 27 November bygekom het. Met die oog op die geweldige stormloop waarvoor die Zoeloeregimente bekend was, was dit noodsaaklik dat die waens aanmekaar geheg en die openinge tussen elke twee gesluit sou word. Dit kon gedoen word met doringtakke. Doringbome ontbreek soms, en daarom het Pretorius nog voor sy aankoms in Natal ’n boodskap vooruit gestuur om veghekke te maak, wat onder alle omstandighede vir die doel diens kon doen. Pretorius het egter aan meer as veghekke gedink. Daarom beveel hy ook in die boodskap aan dat die burgers hul perde so veel as moontlik moes spaar. ’n Harde veldtog het voorgelê, en met swak perde sou die kommando nie veel kon uitrig nie. Lendelam waens sou die tog bemoeilik, en dit moes ook in orde gebring word. Dan dink jy aan die veiligheid van die vroue en kinders en al diegene wat in die laer sou agterbly. ’n Mens weet nooit watter vyand sy kans sou waarneem as soveel van die vegmanne afwesig was nie. Om die laer te versterk, versoek hy dat ’n sooimuur daarom gebou word.

 

Pretorius se sekretaris was Jan Bantjes

Dit was dergelike maatreëls nog voor die aanvang van die veldtog wat die vertroue in Pretorius versterk het. Gedagtig aan die rampe van die verlede was versigtigheid gebode. Die versigtige beleid was die kenmerk van elke dag op pad na Bloedrivier. Eers is dit mondeling aan hulle gegee, maar Pretorius het sy sekretaris, JG Bantjes, die dinge laat neerskryf, en elke kommandant het ’n afskrif van die kommandant-generaal se bepalings ontvang. Gedurig is gehandel asof die vyand in die onmiddellike nabyheid was, en elke dag is daar behoorlik laer getrek. Dit was ’n veiligheidsmaatreël teen ’n onverwagte aanval, maar tegelykertyd het dit die manne geoefen in die kuns van laer trek. Behalwe hierdie voorsorg is die wagte uitgesit en toesig oor hulle gehou. Dit het geskied volgens orde en reël, sodat hulle op bepaalde tye vervang kon word deur ander. Snags veral was dit gevaarlik in die vreemde streke, maar ook bedags het perdepatrollies die omtrek opgeneem om die kommando te verseker teen oorrompeling, en spioene het die omgewing wyd en syd verken.

 

Voorbereiding word getref vir alle moontlikhede

’n Konvooi van vier en sestig waens in een lang streep agtermekaar op die veld was natuurlik gemaklik kwesbaar. Daarvoor is ’n plan bedink. Die waens is deur ’n voor- en agterhoede beskerm. Die voorste en agterste waens was egter so ver uitmekaar dat verdediging moeilik sou wees, en as daar plotseling laer getrek moes word, sou veel kosbare tyd verlore kon gaan voordat die punte mekaar bereik. Daarom het die waens in vier rye langs mekaar beweeg. Dit moes ’n sonderlinge skouspel gewees het daar in die woeste Zoeloeland.

En so het die kommando voortbeweeg – voorberei op alle moontlikhede. Die kommandant-generaal het weinig rus geniet. Baie dinge het sy aandag geverg in hierdie stryd om lewe en dood. So moes elkeen van genoeg ammunisie voorsien en ingelig word omtrent gebeurlikhede. In die paar weke voor die Slag van Bloedrivier het die burgers seker meer militêre dissipline geleer as in al die jare voor die tyd. Niemand sou ontken dat dit nodig was nie. Dit het eensgesindheid in die hand gewerk en almal onder die indruk van die erns van die onderneming gebring.

 

Sarel Cilliers lei die godsdiensoefeninge

In hierdie dae het Pretorius in direkte voeling gebly met die ander burgeroffisiere, planne beraam, sy en hul pligte bespreek en hulle bemoedig soveel as in sy vermoë was. Ook was hy nou verbonde met Sarel Cilliers. Die innig vrome Christen het daagliks geleentheid gehad om op treffende wyse die godsdiensoefeninge te lei en die geloof van die manne te versterk.

Pretorius was begerig dat die oorlog teen die barbare op ’n beskaafde wyse gevoer sou word. Hy het dit ten strengste verbied dat die burgers geweld sou gebruik teen vroue en kinders, en herhaaldelik het hy gevange spioene na Dingaan gestuur met die voorstel dat as hy skadevergoeding sou betaal, die Boere bereid sou wees om met hom vredesonderhandelings aan te knoop.

 

Bange dae vir diegene wat in die kamp agtergelaat is

Intussen het diegene wat in die kamp agtergelaat is, bange dae en nagte deurgebring, want as dit met die kommando sleg sou afloop, was dit met hulle gedaan. Die moontlikheid dat ’n Zoeloeleër die aandag van Pretorius kon ontsnap en langs ’n omweg die kamp bereik, was dat Sikonjella of Mosjesj ’n aanval op die kamp sou waag. Die vyand tussen Dingaan se stat en die kamp is voor die kommando uitgedryf ten einde ’n rugaanval te voorkom. Pretorius het niks aan die toeval oorgelaat nie.

Die skikkinge wat hy met soveel toewyding en verantwoordelikheidsbesef getref het, het die sukses verseker van die taak wat aan hom opgedra was. Dingaan se impi’s, sy groot erfenis uit die nalatenskap van Tsjaka, het hy verpletterend verslaan. ’n Nuwe koning van die magtige Zoeloenasie sou weldra sy kroon ontvang uit die hand van ’n man wat ’n jaar of twee gelede nog ’n onbekende grensboer was, en hy sou sy troon beklee onder garansie van die Boererepubliek in Natal. Andries Pretorius het ’n nuwe Suid-Afrikaanse orde geskep.

 

Andries Pretorius se roemryke loopbaan as krygs- en staatsman

Van Andries Pretorius op die drumpel van ’n roemryke loopbaan as krygs- en staatsman, moet ons hier afskeid neem. Die verdere lotgevalle van die “Wenkommando” word elders verhaal.

Vroeg in Januarie het die kommandomense groepsgewys tuisgekom. “Alle de in deze avond thuis gekomenen,” skryf Erasmus Smit in sy dagboek op die 7de, “getuigen lof en vreugde van de veldowerste, de Generaalkommandant, de WelEd. heer A.W.J. Pretorius.” Een van die vroue wat die bange dae in Natal deurgeleef het sê: “Ek was teenwoordig met sy uittrek en ook by sy blye tuiskoms. Hy het in ons laer voor op ’n wa gaan staan en self die traktaat wat Retief met Dingaan gesluit het, voorgelees. Die mense kon dit nie hou nie, toe hulle van die traktaat hoor, toe stroom die trane.”

Die Voortrekkers se aanspraak op Natal was dubbel verseker deur die traktaat van Retief en die oorwinning by Bloedrivier deur Andries Pretorius.